Posts Tagged ‘Meer as woorde Rina Cascione’

Joan Hambidge. Kanonisering

Sunday, January 23rd, 2022

 

 

 

I

Deur die jare is daar baie geskryf oor kanonisering en die kanoniseringsproses. Oor hekwagters. Oor standaarde. Oor sogenaamde gehaltebeheer. Toenemend binne die Afrikaanse letterkunde word hierdie prosesse uitgedaag deur klein uitgewers wat bundels publiseer wat nie heeltemal op standaard is nie of Facebook-toejuigings wat gedigte aanprys. Die gevoel behoort te wees dat die tyd mistastings sal uitwys.

Hoe resenseer ‘n mens ‘n debuutbundel byvoorbeeld? Sekerlik moet ‘n debuut gemeet word aan belangrike debute in Afrikaans. En hier sou ‘n mens ‘n hele handvol belangrike tekste kon uitsonder en digters in die Nuwe stemme-reeks o.a. Waarom, vra ‘n mens jouself af, bly Plektrum (1970) steeds so ‘n uitsonderlike bundel? Deurgekomponeer en deurleef. Teruggehou deur die mentor DJ Opperman en eers na ‘n lang reis (en ander belewenisse) het hierdie bundel sy staanplek onder die sterre gekry. Waarom word Eybers, Breytenbach en Krog (o.a) nou onlangs met ‘n keuse uit hul verse vereer?

Krog se ‘n Vry vrou in 2020 by H&R (deur Karen de Wet saamgestel) kyk op ‘n nuwe manier na Krog se tekste en gedigte kry nuwe betekenisse. Ena Jansen kyk inderdaad in Immigrant (H&R, 2021) na Eybers as die ewige buitestaander, die digter van die tussentaal.

Breytenbach ook as woordsmid lees ons netjies verpak deur Charl-Pierre Naudé. Hierdie een het verskyn in 2019 by H&R.

Opperman se Groot verseboek was deur die jare ‘n “barometer van gehalte” met vele antologieë wat rondom temas ander keuses uitgebring het. Deur die jare was ons bekend met die resensies van HJ Snyman in Standpunte wat kort en kragtig ‘n bundel kon inskat. Daar was Brink se Rapport-resensies wat eweneens korte mette kon maak van pretensie of vertoon. Dit was Brink wat by geleentheid ‘n debuut afgeransel het in een paragraaf, omdat daar te min blyke, volgens hom,  van poësie was in die bundel.

Daar was gesiene en gesoute resensente soos Merwe Scholtz, A.P. Grové, TT Cloete en Rena Pretorius (o.a.) wat bakens bly.

 

II

 

In Beeld van 17 Januarie 2022 verskyn ‘n resensie van Meer as woorde deur Rina Cascione (Naledi) deur Johan Myburg. Hy verwys na die verskuilde betekenisse en dubbelbetekenisse wat deurgaans knap hanteer word. Die digter dig met ‘n helder stem en hy verwys na die deurgekomponeerdheid.

Ek gaan akkoord met die resensent se siening dat die losse vertalings van Cesare Pavese, Jorge Luis Borges en Robert Frost goed is.

Of die bundel as geheel sy man (of vrou) kan staan teen debute soos Angelliera of Akwarelle van die dors, val te betwyfel.

Die “gestalte van taal” is altyd deel van die betekenis van ‘n gedig. Trouens, dis waaroor alle goeie gedigte uiteindelik handel. Nie oor iets nie, maar oor die hermeneutiese spel wat met die leser gespeel word. In hierdie opsig is Henning Snyman se Mirakel en muse (Perskor, 1983) steeds ‘n belangwekkende handleiding. Goeie poësie werk met implikasie en implikasie-verskynsels.

In hierdie verband is Camille Paglia se bloemlesing van 2005, Break blow burn ‘n belangrike versameling oor wat klassieke gedigte onthoubaar en goed maak. Hieroor het ek destyds op my blog geskryf:

In hierdie studie stel sy dit haar ten doel om die belangrikheid van “close reading” weer te beklemtoon en volgens haar is die definsie van ‘n goeie gedig die volgende: “A good poem is iridescent and incandescent, catching the light at unexpected angles and illuminating human universals – whose very existence is denied by today’s parochial theorists. Among those looming universals are time and mortality, to which we all are subject. Like philosophy, poetry is a contemplative form, but unlike philsophy, poetry sublimanlly manipulates the body and triggers its nerve impulses, the muscle tremors of sensation and speech”(. p. xiv). Om gedigte boonop reg te lees, beteken vir Paglia dat jy perseptief moet wees en ook ‘n flinke intuisie moet hê. Die leesaktiwiteit word iets van ‘n waarseggery en die leser word ‘n orakel, ‘n sibille, ‘n interpreteerder van drome…

Rochelle Kraut se bekende gedig lees Paglia as “tough, blunt, pragmatic”.

 

“My make-up”:

on my cheeks I wear

the flush of two beers

on my eyes I use

the dark circles of sleepless nights

to great advantage

for lipstick

I wear my lips

 

Met min woorde word alkoholisme en aanranding weergegee.

 

Ezra Pound (1885 – 1972) se beroemde gedig:

 

In a Station of the Metro

    The apparition of these faces in the crowd:

    Petals on a wet, black bough.

 

is al gelees as 14 woorde wat speel asof dit ‘n sonnet wou wees.

Of is dit dalk ‘n haikoe met die spanning tussen natuur en kultuur?

Kyk hoe het TT Cloete hierdie gedig van Louw gelees:

 

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 23 Januarie 2022

 

III

 

Teen Helderberg is die debuut van Louis du Plessis, gepubliseer deur Naledi, met ‘n mooi omslag van Christelle Cronjé.

Hierdie digter, volgens die lewensskets, is ook ‘n ouer persoon soos Cascione. Die digter is opgelei in politieke filosofie en politieke wetenskap. Hy is o.a. redaksielid van die Verklarende politieke woordeboek.

Hy was o.a. dosent in politieke wetenskap aan die Fakulteit Krygskunde aan die US.

Die gedigte waaier uit tussen die persoonlike ervarings, ontnugteringe en die wyer politieke en historiese landskap. Die digter het ‘n besondere kennis van die geskiedenis en die wêreld. Op die binneflap wys hy op die kontraste wat hy beleef (het), soos byvoorbeeld natuur versus stad; jeug versus ouderdom; lojaliteit versus vryheid; verstening versus herlewing; konflik versus vrede; werklikheid versus verbeelding; slagofferskap versus veerkragtigheid; kosmos versus enkeling …

Die afdelings heet Enkelpad, Dubbelpad, Kruispad, Kronkelpad, Grondpad.

Effens oordrewe titels om die gedigte te begelei of te verpak. Daar is ‘n handvol mooi en onthoubare gedigte in hierdie bundel, soos die openingsvers “Simpel ploegperd” (11).

Waak egter teen die uitroepteken en die gebruik van name wat die gedig in die hier-en-nou plaas, skryf hierdie leser in die kantlyn.

 Al wil die gedig die menslike kondisie van Jan en Sonja in die nou opvang (“Met oorvloed gevul”, 113), moet dit verder beweeg.

Dieselfde geld “Boesemvriende” (27) wat te veel van ‘n “local habitation and a name” word.

Menslike universaliteite word deur gedigte bewys en uitgewys, aldus Paglia, maar die goeie gedig is die een wat jou onverwags betrap. Die digter het wyd gelees, in die filosofie, die teologie en die natuurwetenskap, maar dit werk ondermynend in (dikwels), omdat dit te kontemplatief raak. Ek dink hier aan “Hy wéét hy weet” (127) oor empirisme en apriorisme, o.a.

Kortom: hierdie bundel het te veel gedigte (142 bladsye) sodat goeie gedigte verdwyn. Soos “Brander” (136), ‘n oktet. “Kliptafels” (108), “Tuinroete” (86) met sy sterk poëtiese oomblikke wat egter ondermyn word deur die duidelike opdrag aan Leon en Lana in die gedig. ‘n Gedig is helaas nie ‘n getuigskrif nie; ook nie ‘n plek vir dankie-sê nie …

Hierom is die afdelings “Uur” en “Onsekerheid” sterk as gedigte.

“Wene” (85) oortuig as gedig in die pakkende slot.

“Gewildheid” (39) is sterk-satiries oor die onafhanklike kandidaat se illusie(s). “Reisigers” (30) is navrant en pynlik oor ‘n spreker wat meer word as herkenbare een.

Opperman het in ‘n lesing in my Honneursjaar (1979) opgemerk dat vyf onthoubare gedigte die publikasie van ‘n bundel regverdig.

 

IV

 

Naledi bring soms goeie bundels uit en veral die vertalings staan uit.

Natuurlik moet daar nuwe stemme wees, maar resensies moet ‘n soort Janus-aanslag openbaar. Wat het reeds verskyn en hoe is hierdie nuwe bundel tersaaklik?

‘n Terugblik en vorentoe-kyk.

Is daar iets soos die universele, goeie gedig? Tog is daar. Hierom lees ons steeds die klassieke meesters in alle tale; iets wat Harold Bloom uitwys in sy studie van 1994 The Western Canon.

Min digters debuteer met ‘n bliksemslag. Party verdwyn en keer terug (Olga Kirsch, onder andere) en die kanon word deur bloemlesings aangevul en “ondermyn”, soos Karen de Wet se Vers & vrou – 258 gedigte (NB, 2020).

Bloemlesings is tematies gerig; algemene verseboeke fokus op die tegniese kwaliteite en hierom bly Opperman se Groot verseboek ‘n barometer van gehalte. HP van Coller se Perspektief & Profiel (JL van Schaik, 1999) gee profiele van skrywers. En die verskillende benaderings ten spyt, bring ons telkens terug by die belangrikste kwessies in die letterkunde: daar is bakens, daar is nuwelinge, daar is ‘n gesprek.

En debutante moet kennisneem van die voorgangers. Net soos resensente moet weet watter belangrike debute het die kanon verander. Opperman, Blum, Breytenbach, Cloete …

Te veel om  op te noem.

En kundige resensente?

Hulle bestaan wel. Hulle skryf deesdae dalk net te versigtig.

Politiek-korrektheid? Te veel bekendheid met mekaar? Vrees vir ongewildheid?

‘n Goeie gedig dra ons deur moeilike tye en ‘n kritiese resensie ook.

 

Bronne:

 

Oor Louw

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/139/457  Besoek 23 Januarie 2022

 

 

Oor kanonisering

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=kanonisering Besoek 20 Januarie 2022

Oor Meer as woorde

https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/deurleefde-ervaring-met-n-fyn-aanvoeling-verwoord-20220116 Besoek 20 Januarie 2022

 

Oor Paglia

 

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=break+blow+burn Besoek 23 Januarie 2022

 

Oor local habitation

The poet’s eye, in a fine frenzy rolling,
Doth glance from heaven to Earth, from Earth to
heaven,
And as imagination bodies forth
The forms of things unknown, the poet’s pen
Turns them to shapes and gives to airy nothing
A local habitation and a name.

—Spoken by Theseus in Shakespeare’s A Midsummer Night’s Dream
Act 5, scene 1, lines 12–18

https://shakespeare.folger.edu/shakespeares-works/a-midsummer-nights-dream/quotes/5-1-18-a-local-habitation-and-a-name/ Besoek 23 Januarie 2022