Alexei Navalny*
Die Moederland sal eendag weer bevry wees
en Moskou sal sy plek as wêreldstad inneem.
Die gees van Poesjkin, Tolstoi en Majakofski
sal oor die water van die Moskva sweef en in
die bome van die Khimki-woude resoneer as
die Alexandrov Ensemble ’n loflied aan haar,
die Moederland, se uitgestrekte Steppe bring.
En in Sint Petersburg sal Sjostakowitsj speel:
’n wals aan almal wat die vryheidsideaal van
hierdie somber land nog ken, die droom wat
steeds ontwyk, in die e-demokrasie wat kom.
Ons sal die Requiem van Anna Akhmatowa
weer onthou, waar sy afsluit deur só te skryf:
Die uur van die dooies het weer aangebreek.
Ek sien elkeen, hoor elkeen, en voel elkeen:
Die een wat die sleur van ’n oop venster ken;
Die een wat nie die bekende grond voel nie;
Die een wat die tuiskoms kopskuddend soek.
Ek het ’n kleed uit my woorde vir jou geweef.
Ek sal jou nooit vergeet nie, orals en vir ewig.
En al klamp hulle my gewonde mond dig toe
waardeur ‘n honderdmiljoen mense gesmeek
het, wil ek só onthou word wanneer ek sterf.
So as iemand eendag ’n gedenkteken vir my
wil bou, moet dit nie hier by die see bou nie.
Bou dit waar ek vir driehonderd uur gestaan
het en niemand die deur oopgemaak het nie.
Vergeet hoe haatlik hulle dit toegeslaan het;
hoe hierdie vrou soos ’n gewonde dier gehuil
het, en hoe die ys soos trane uit my ooglede
se onwrikbare brons gevloei het.
En laat die tronkduif in die verte koer as die
skepe ongestoord in hierdie rivier wegvaar.
’n Lig sal skyn uit Pokrof Strafkolonie No. 2
en Yulia, Dasha en Zakhar sal hom herken.
Один за всех и все за одного!
© Mellet Moll, 2022
* Strofes 5 – 8 is geparafraseer uit die Engelse vertaling van die slot van Anna Akhmatowa se Requiem.