Posts Tagged ‘Mellet Moll’

Nini Bennett. Die opbloei van vampirisme.

Monday, March 7th, 2016

dracula ii

Die afgelope aantal dekades is deur ’n ongekende oplewing in vampierfiksie gekenmerk, en films soos Interview with the vampire (1994), Tarantino se eksperimentele From dusk till dawn (1996) en Twilight (2008) het miljoene mense na teaters gelok en bygedra tot die verromantisering van vampiere. Televisiereekse soos The vampire dairies is gewild, terwyl vampirisme vir ’n nuwe impetus in die Neo-Gotiese subkultuur gesorg het. Goth-musiekgroepe soos Blutengel het musiekvideos vervaardig waarin vampirisme verestetiseer word deur aangrypende liriekkuns en skouspelagtige kunsgrepe uit die verhoogwêreld.

Die uitbeelding van vampiere in literêre werk, ontvlugtingsfiksie of rolprente het hulle oorsprong in Suidoos-Europese volksverhale. Die vampierlegendes het ontstaan in Roemenië (Transilwanië), waarna dit na Bulgarye, Serwië en Griekeland versprei het.

Volgens oorlewering was die verwysing na die eerste vampier in Europese letterkunde ’n boer met die naam Jure Grando. Hy het geleef in die klein Kroatiese dorp Kringa, maar ná sy afsterwe in 1652 het gerugte die rondte begin doen dat hy uit sy graf opgestaan en die dorpenaars begin treiter het. ’n Vampier (afgelei van die Serwiese “vampir”) is volgens mitologie en folklore nokturniese wesens wat die bloed van mense uitsuig en daarop teer. Hulle is ontsterflik, en beskik oor magiese en bonatuurlike kragte. Vampiere laat ook geen beeld of weerkaatsing op ’n spieël agter nie. Vampiere kan van gedaante verwissel en verander in spinnekoppe, wolwe, vlermuise of selfs ’n laag mis, soos die bekende Dracula in Bram Stoker se Dracula (1897), wat allereers as die meesternarratief van vampierfiksie beskou word. Wanneer ’n vampier ’n mens byt, sterf dié persoon – of transformeer self na ’n ontsterflike vampier. Binne die dualisme: ’n ‘goddelike’ (ontsterflike) wese enersyds en ’n diaboliese (bloedsuiende) wese andersyds word ’n unieke Buitestaander geskep. Vampiere kan gesien word as die mens se projeksies van Angst teen die dood. ’n Vampier is in die eerste plek ’n antropomorfiese monster, en vervul dieselfde funksies as ander monsters in sprokies en legendes. Die protagonis moet eindelik die vrees/uitdaging/monster/of antagonis kan oorwin. Vampiere is ook klassieke sondebokke. Baie rampe is in die ou dae voor vampiere se deur gelê. So het die mediese wetenskap eeue gelede in gebreke gebly om aan gewone, meesal ongeletterde mense antwoorde te gee op kwelvrae soos die dood en doodsoorsake; die prosesse van kliniese ontbinding; en siektes soos porfirie, tuberkulose, sifilis, hondsdolheid, die uitbreek van epidemies en natuurrampe, soos misoeste, is toegedig aan die bose werk van vampiere. Sulke rasionalisasies was gebaseer op gebrekkige kennis, vrees en bygeloof – en vampiere was nou die Ander, of sondebok.

Monsters evoleer ook. Die eerste toetrede van ’n charismatiese vampier in moderne vampierfiksie was in 1819 met The Vampyre van John Polidori. Die vampiere van vandag is baie menslik, soos die Edward Cullen-figuur (en Cullen-gesin) in Stephenie Meyer se Twilight Saga. In sy oorspronklike gedaante was ’n vampier, volgens volksverhale, rooi van kleur, opgeblase, en skreeulelik, met ’n onwelriekende asem. Die slagoffers van vampiere was weer bleek en tenger as gevolg van bloedverlies. Hoe meer gesofistikeerd ’n samelewing raak, hoe sagter raak sy monsters. Rolle begin ruil en vampiere word die protagoniste, soos in die geval van Meyer se werk. Ongelukkig beweeg vampierfiksie al meer in die rigting van chic lit – en die vampiere het minder tande as hulle vaders, Dracula, of graaf Orlok in Nosferatu, waar gruverhale nog die pas aangegee het vir  volbloedvampiere.

dracula i

En van monsters na die psigologiese dryfvere onderliggend aan die vampierlegendes: dood en seksualiteit, asook die donker kant van erotiek kom aan die bod. Die Walliese psigoanalis, Ernest Jones beweer dat vampiere op ’n onbewustelike vlak die rol van begeertes en verdedigingsmeganismes oorneem. Tydens die rouproses kan die vampiermite ’n ontsnaproete bied aan die persoon wat treur, soos dat ’n liefdevolle reünie tussen die lewendes en oorledenes kan plaasvind. Freud verwys na vampirisme as ’n repressie van die onaanvaarbare. Hy bring dit vervolgens verband met die afskei van liggaamsvloeistowwe tydens seks, asook onderliggende orale sadisme.

Bloed  is ’n baie gelaaide simbool. Op mediese vlak is bloed die belangrikste lewegewende vloeistof, en word geassosieer met siklusse van geboorte, lewe en dood. Maar bloed hou ook verband met genealogie. Tydens esoteriese rituele word diere geoffer, en bloed speel ook ’n rol in magiese praktyke en towery. Bloed is ’n vername kode in die Christelike religie. Verder het bloed konnotasies met vaderlandsliefde, vergelding, verlies, banvloeke, selfopoffering en ander antropologiese simboliek. Deur die byt en uitsuig van bloed uit die halsslagaar, wat ’n erogene sone is, ontstaan ’n tipe doodserotiek waarin uiting gegee word aan libidinale drifte.

Op sosio-politiese vlak open die vampier verdere simboliese betekenis. Graaf Dracula, ‘n ryk aristokraat wat net snags sy opwagting maak in sy kasteel om op die bloed van ander te teer, is dubbelsinnig. Voltaire het opgemerk dat die einde van die agtiende eeu ’n ‘nuwe’ tipe vampier na die oppervlak laat tree het, naamlik sakemanne en makelaars wat helder oordag (en nie snags nie) hulself op korrupte (of parasitiese) wyse uit die werkersklas begin verryk het.

Met die koms en herlewing van vampiere het die grense tussen werklikheid, mite, bygeloof en vrees begin vervaag. Omring deur soveel magiese denke is dit dan nie vreemd dat die kerkvaders ook op ’n stadium kopgekrap het nie. Katolieke het besweringsmiddele soos kruise, heilige water en rosekranse gebruik om vampiere af te weer – of buite te hou. Die liggame van vampiere, wat na bewering nie ontbind het nie, was in stryd met die onverganklikheid van die heiliges van die Rooms-katolieke kerk. In 1749 is ‘n paragraaf oor vampirisme bygevoeg in die gesaghebbende De servorum Dei beautificatione et sanctorum canonizatione, geskryf deur Pous Benedictus XIV. Hy was van mening dat net die heiliges ontsterflik is, en dat vampiere teer op goedgelowige mense se verbeelding, gevoed deur afgryse en vrees – ’n fiksie, dus.

En van godsdiens na die wetenskap. ’n Fisikaprofessor verbonde aan die Universiteit van Sentraal-Florida het self ondersoek ingestel en ’n akademiese artikel oor vampiere geskryf, waarin hy aangevoer het dat dit onmoontlik is dat hulle kan bestaan. Sy navorsing was gebaseer op ’n model van eksponensiële groei. Hy het gepostuleer dat indien die eerste vampier op 1 Januarie 1600 gefigureer het, en laasgenoemde vampier een maal ’n maand ’n mens gebyt (geïnfekteer) het, en elke slagoffer op sy beurt dan sélf in ’n vampier verander het, die hele menslike bevolking op ’n gegewe tydstip wat reeds verby is, uit vampiere moes bestaan!

Vampiere het uiteraard ook die verbeelding van skrywers en digters aangegryp. Bram Stoker se Dracula (1897) staan steeds as die belangrikste vampiernarratief,  terwyl Stephen King met Salem’s Lot (1975) ook vir welkome vernuwing gesorg het. Stephenie Meyer se Twilight-reeks is in meer as 37 tale vertaal en ongeveer 100 miljoen kopieë het verkoop. Die toetrede van vampiere  in die filmkuns met die grufilm, Nosferatu (1922) het vampiere op die silwerdoek begin populariseer. Digters het op ’n veel kleiner skaal omgegaan met vampiertematiek. Die eerste vampiergedig is in 1748 geskryf deur Heinrich August Ossenfelder. Ander digters wat gevolg het, was onder meer Johann Wolfgang von Goethe, Percy Bysshe Shelley, Samual Taylor Coleridge en Lord Byron. Binne die Afrikaanse literatuur verwys Kannemeyer na die rol van die vampier as sondebok/Buitestaander in Etienne Leroux se Een vir Azazel. Dit lyk egter of vampiere in Afrikaanse fiksie oorwegend ’n tuiste gevind het in jeugliteratuur.

Vervolgens hierdie vampiergedig deur Charl-Pierre Naudé, soos dit verskyn het op die aanlynwebjoernaal, LitNet:

Vampiere*

Vampiere in Malawi, berig die koerant.
Die president reik selfs ’n verklaring uit:
“Wys my ’n vampier, dan stop ons hom in die tronk.”
Maar wie behoef bewyse, as die lyke daar is?
’n Meisie van so agttien, léég gesuig en styf
soos ’n stok, twee slagmerke in haar nek;
haar hande onnatuurlik groot en benerig
soos valkvlerke op haar wydogige borste.
En die hoofman se seun in sy kruis geknak
teen ’n ploegskaar, toe niemand gekyk het nie –
bene wat invou óm die uier van sy fallus,
en nie ’n druppel bloed oor in die res van sy lyf nie!

Drie weermagjeeps van Lilongwe haas dié kant toe
na ’n dorp, nog drie sóóntoe na ’n noodgebied:
om wag te hou in die nagte, maar tevergeefs.
Die vampiere sluip deur, altyd nog ’n lyk in die môre;
soms nie eers merke nie, net ’n pubis wat bult
soos nuwe piesangs; of ’n buik wat staan soos ’n dier se skrik.

“Waar is die lyke?” vra die rondgaande kommissaris.
“Onmiddellik begrawe … as beswering,”
fluister die priester en kriskras sy bors.
Die soldate bevestig dit; van hulle sterf ook,
een het so op sy stewels ineengesak,
arms om sy R1 soos ’n wingerdstok gevleg
of ’n slang, om die Hermesstaf van die geneeskunde.
Selfs die VN se vigs-kliniek word oornag ’n teiken.
“Dit slaap in my bloed, die vol lengte van my lyf!”
sê een – om deure te grendel of toe te spyker
help ook nie, die vampiere loop deur mure.

Vampiere: sonder tande van hulle, met spuitnaalde;
hulle trek bloed en loop weg daarmee in sakkies.
Die hulpwerker sê die mense aanvaar dit al,
sien selfs daarna uit met ’n groeiende begeerte.
Snags land sy op my dak en hurk daar naak, sê ’n man;
van onder af sien ek die tiervelbeursie
van haar mik … deur die sink.
“Sy wag haar oomblik af en ek wag vir haar.”
’n Kerkhoffie met kerse flakker soos ’n verjaardagkoek.
’n Troue, maar net een staan voor die kansel:
’n visgraat van ’n meisie wat smoorverlief is
op háár vampier, ’n bruidegom in absentia.

Al hoe meer lanterns dwaal sonder mense,
’n stat het net ’n hond, maar iémand voer hom snags.

Fluisterings dryf: “kan nie wag nie” en “waarom môre …”
terwyl jonges glimmend dans in ’n dorpsaal
soos maskers op stokke in ’n ou, ou karnaval.

En, soos in verre noorderstreke
waar die mense lang seisoene van donkerte ingaan,
gaan die lewe voort,
in die ryk van die skimme.

* Gedurende 2003 het berigte in koerante verskyn oor gemeenskappe in Malawi wat deur vampiere aangeval word. Een van die teikens was ’n vigs-hulpkliniek van die VN. Die vampiere se modus operandi het soms ooreengekom met dié van mediese personeel: hulle sou “met spuitnaalde bloed trek uit hul slagoffers”, en daarmee “wegloop in sakkies”.

Die volgende vampiergedig, geskryf deur Mellet Moll, verskyn in sy bundel Swanesange (2014:55):

Nosferatum

Ek het myself geklee in skaduwees
van onvolmaakte nagte sonder rus
vir die verlorenes wat onverlig
deur die gebroke land se gange dwaal.
Ons is die Stokers van die vagevuur;
die bleek lakeie van die onheilspel
wat jag maak op die pasgebore lam
se halfgedempte hulpkreet in die heim.
My vesting is die verre grafheuwels
van Transilwanië se donkermaan
wat soos die velde van Moldawië
bly wagstaan oor die offerandes van
’n ongestorwe burggraaf onderweg.
Want hier is ek die gasheer van die maal
wat bloeddors tussen vlermuise bly hang
wanneer die oggendlig die luike breek
en sterloos neersien oor die sondeval
van die onsienbaarheid van my bedryf:
’n minnaar wat die halflewe verstaan.

Die digter Charles Baudelaire het ook oor vampiere gedig. Hier volg my Afrikaanse vertaling van die vers “Le Vampire”, soos dit oorspronklik verskyn het in sy bundel Les Fleurs du Mal (1857) en wat later vertaal is as The Flowers of Evil.

Die vampier

Jy, wat met die flik van ’n swaard
die hart se bloeiknop deurdring;
jy, geklee in wellus en krag
soos ’n trop duiwels, bruut en kwaad

jy beset my binneste, betree my bed
en neem my gees gyselaar
soos ’n straatvrou ’n niksvermoedende man
soos ’n veroordeelde geketting aan sy lot

soos ’n dobbelaar, verslaaf aan sy spel,
soos ’n bottel ’n dronkaard gevange hou,
of soos maaiers gierig ’n kadawer vreet –
ek verdoem jou tot in die diepste hel!

Ek smeek vir vryheid; om te val
in die swaard van lafhartigheid,
of om die dodelike toe-gif
van vernedering te sluk.

Maar die swaard en gif smaal:
“Jy is onwaardig om onthef te word
van die banvloek. Dis jóú serwituut –
en dit is absoluut.

Dwaas! Al sou ons jou uit die mag
van haar bedwelming kon red,
is dit klaar te laat – want jou kus
is die asem van die lewenddood.

baudelaire

Vampiere skuil lankal nie meer teen sonlig nie, en word ook nie met knoffel verdryf nie. Van folklore, na fiksie en fantasie: of dit die populêre kultuur, rekenaarspeletjies, literatuur, musiek of seepsages op televisie is – vampiere is oral. Daar word al meer kompromieë aangegaan met dié minlike, diaboliese anti-helde, en dit sal interessant wees om hulle  metamorfoses verder te volg. Want om legendes en mites te laat herleef, bied na alles ’n welkome ontvlugting in die huidige Zeitgeist van Golden Age-nostalgie.

Bibliografie

http://www.litnet.co.za/die-ongekende-oplewing-van-vampierfiksie/.(Besoek 4 Maart 2016).

https://en.wikipedia.org/wiki/Vampire. (Besoek 4 Maart 2016).

https://www.ziedaar.nl/article.php?id=281.(Besoek 4 Maart 2016).

http://fleursdumal.org/poem/128. (Besoek 5 Maart 2016).

http://oulitnet.co.za/poesie/naude03.asp. (Besoek 5 Maart 2016).

Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. 2005. Kaapstad: Human & Rousseau.

Moll, M. Swanesange. 2014. Pretoria  : Cordis Trust-Publikasies.

Louis Esterhuizen. Inderdaad reën dit digters en gedigte …

Monday, September 17th, 2012

 

Verlede week het ek oor Charles Simic se ietwat tong-in-die-kies-besinning oor die blomtyd waarin die digkuns haar tans wêreldwyd bevind, geskryf. In aansluiting daarby lees ek toe enkele dae later ‘n blog deur ene Leo van der Sterren raak op die weblog Uitpost Kephala. In wese huldig van Van der Sterren dieselfde menining as Simic, maar in sy geval fokus hy tog ook op ander kwessies; soos die probleem ten opsigte van gehaltebeheer, byvoorbeeld.

Volgens Van der Sterren se inleidingstoespraak skryf hy sy blog in reaksie op die siening dat die digkuns tot niet is: “De poëzie is alles behalve dood,” skryf hy. “De poëzie is als god: eenmaal in het bestaan geroepen, krijgt niets of niemand haar nog weg […] De poëzie is niet dood. Integendeel, de poëzie leeft en springt meer dan zij ooit gedaan heeft […] Tegenwoordig kan iedere dichter, beroemd of niet, zelfbenoemd of niet, publiceren dat het een lieve aard heeft. En dat gebeurt ook. Het aantal dichters dat publiceert, op welke manier dan ook, is nog nooit zo groot geweest als nu. Dat met die nivellering de kwaliteit geen pas houdt, dat moge duidelijk zijn, maar zo werkt nivellering nu eenmaal – dat er zich bijkomende schade voordoet. Het koren gaat verloren in het kaf. “

Inderdaad. Kwantiteit was immers nog nooit ‘n waarborg vir kwaliteit nie. Van der Sterren stel dit soos volg: “Het streven van de dichter om door en met zijn gedichten de status van onsterfelijkheid te bereiken is vervangen door de zucht om zoveel mogelijk teksten de openbare ruimte in te plempen. De kwaliteit van die teksten, niemand maalt er nog om. Maar het lot van onsterfelijkheid is slechts een miniem groepje van uitverkoren dichters beschoren. En dan nog maar met één of enkele gevleugelde woorden die tot algemene zegswijzen zijn uitgegroeid. “

En natuurlik plaas die klem op produksie eerder as gehalte die digkuns vierkantig binne die raamwerk van ons verbruikerskultuur waar “kits”  en lighartige “entertainment” die wagwoorde is. Of dit ‘n probleem is? Ek weet nie … Dalk mag die poësie van veer verander, maar dat dit ‘n gevogelte is wat gaan (kan) oorleef te midde van snelveranderende tegnologie en lesersvoorkeure, is nie te betwyfel nie: “Niettemin, dergelijke groepjes zullen altijd blijven bestaan. Gezelschapjes van mensen die zich aan de poëzie – wat voor andere dooie poëzie is – wijden. Lezers. En zo lang de poëzie nog lezers kent, is zij dooi noch gaat zij dood.”

Solank daar lesers vir die digkuns bestaan. Wat ‘n gedagte! En tog wonder ek soms in my meer siniese oomblikke of ons ons nie tans in die situasie bevind waar daar meer skrywers van gedigte is as lesers nie …

Nietemin, vanoggend sluit ek af met ‘n gedig deur Mellet Moll; ‘n persoon wat vanweë sy posisie as hoofman by Carpe Noctem deur vele gesien word as ons vernaamste internetdigter en as sulks verteenwoordigend van die nuwe era in ons digkuns.

Vir diegene wat nie weet nie: Op hul FaceBook-profiel word Carpe Noctem soos volg aangekondig: “(Carpe Noctem is) ‘n Faceboekgroep vir middernagsiele, die donker digters wat uitkom as die gewone mense slaap, wat die paaie loop wat hulle harte na hunker, wat nie omgee of skaam is vir wie hulle is nie. Wat huil, wat lei, wat soek, wat vind, wat gee, wat neem, wat woorde laat vlieg op die Afrikawind. Die groep is oop na middernag. Elke nag. En kom bymekaar as dit volmaan is. Wanneer hulle verlang na die vreemde romantiek van hulle vorige lewens in ou kastele, kelders en torings, waar die mensdom hulle heen verban het omdat hulle misverstane uitgeworpenes was.”

Carpe Noctum het 1,296 lede wat gereeld hul gedigte op dié blad plaas. Hul webblad is hier te vinde; met die volgende uitsprake as deel van hul hoofbanier: “Carpe Noctem – Vir die ernstige digters” en “Welkom by die grootste Afrikaanse woordkunsblad op die internet.”

Ook is dit belangrik om daarop te wys dat Carpe Noctem maar één van vele soortgelyke ruimtes op die internet is.

Om meer van Mellet Moll te wete te kom, kan jy gerus sy naam goegeloer. Op LitNet het ek wel die volgende biografie gevind: “Mellet Moll is ‘n digter-skrywer wat in 2011 die letterkundewêreld aan die brand geskryf het. Hy is die eerste Afrikaanse digter wat onbeskaamd ‘n volledige en omvattende digbundel interaktief op die sosiale media skryf, publiseer en laat resenseer. Dit skep ongekende belangstelling in sy unieke en kenmerkende benadering vanuit alle oorde in die woordkunswêreld aangesien die populariteit van sy werk tot ‘n lesertal lei waarop die meeste hoogaangekrewe skrywers jaloers sal wees. Dit veroorsaak ook ‘n groot verwagting in die mark vir die vrystelling van sy debuutbundel, Terug in die Hoogland, wat in Januarie 2012 plaasvind. Hy doen iets wat die omgekeerde is van al sy tydgenote: hy skryf tradisionele, byna middeleeuse verse, maar hy spreek die donker en dikwels taboe temas van die moderne wêreld op skokkende en soms vertroostende wyse daarmee aan. Dit word ‘n vars bries in ‘n wêreld van andersins middelmatige maar sogenaamd moderne werk wat steeds in dieselfde clichés verval. Hy volg hierdie bundel dadelik op met ‘n opvolgwerk, Testament wat in April 2012 vrygestel word, en ‘n e-hoogtepunte-bundel met die titel Lacrimosa.”

***

  •