Posts Tagged ‘met visse’

Digstring: Charl-Pierre Naudé. “Eergister en môre, met visse”

Thursday, December 4th, 2014

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 

***

 

Eergister en môre, met visse

 

Tyd

is die naam wat ons gee

aan die een wat in nat

beton getrap het,

lank gelede, en ons só nimmer verlaat

in die hede.

 

Om te begryp

is moeilik;

omhelsing nog swaarder.

 

Die wind fluit deur die peule,

soos die geheue

deur pieksels.

Dit roep herrysenis

soos ’n beeld by die naam,

’n hele dorpie bestaan

in ’n akwarel

– die treknet word gelig –

van diep uit die water.

 

Daar word ’n CD-opname

gegrif

op die bodem van ’n meer;

die konsentriese kringe

van maalkolke

 

sing

in my vingerafdruk.

 

(c) Charl-Pierre Naudé (Uit: Al die lieflike dade, 2014: Tafelberg)

 

***

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig een middag in 2013, ek dink dit was September of nog Augustus, geskryf. Dit was koud in Johannnesburg. Die gedig het in sy geheel na my gekom, binne een skryfsitting. Daarna het ek so ʼn bietjie daaraan verfyn. Ek het gedink dis die laaste gedig van my nuwe bundel en het dit agterna aan die uitgewer gestuur, maar dit was toe nie die laaste nie.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Meeste van my gedigte ontwikkel deur verskeie weergawes in die rigting van ʼn finale vorm. Maar hierdie bepaalde gedig se geval was anders. Die gedig was van die begin af daar.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

In hierdie geval was die agterna gewroeg en gesweet ʼn minimum. Maar kyk, in daardie eerste sitting wroeg ek wel baie. Wroeging is nooit minder as 50% van die aktiwiteit vir my nie.

Die gedig het ontstaan via die sement-beeld in die eerste strofe. Gedigte het duisend maal duisend verskillende maniere waarop dit kan ontstaan, via ʼn ingewing, ʼn idee, ʼn gevoel of ʼn beeld, of wat ook al. In hierdie geval was dit ʼn beeld. Gedigte kan ook ontstaan via hul afloop, of einde, ook. Daar is maniere waarop gedigte kan ontstaan wat nog nie uitgevind is nie. Ek dink ebnige digter wat gereeld dig vind dit vir hom- of haarself uit. Selfs vir een praktisyn is die maniere van ʼn gedig se ontstaan nie altyd dieselfde nie.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek dink hier is ʼn ordeningsbeginsel, ja. Dikwels voel ek tydens die skryf van ʼn gedig dat ek strofes moet omruil. Ordening is uiters belangrik. Of ʼn digter altyd weet wat presies daardie ordeningsbeginsels is – terwyl hy of sy in die intuïtiewe proses van die skryf gewikkel is, en selfs daarna – daarvan is glad nie seker nie. Ek dink die konspetualisering, die totstandkoming, van hierdie gedig het met ʼn wisselwerking tussen die idees van ontasbaar en tasbaar gewerk, as jy weet wat ek bedoel. (Daar is ʼn gedig in my tweede bundel, In die geheim van die dag, waarvan die titel “Tasbaar en ontasbaar” is.)

In die begin van my aangehaalde gedig werk ek met die gevoel van afwesigheid en verlies. In die daaropvolgende strofes werk die gedig met die idee van totstandbrenging uit niks. In die laaste strofes is die idee van “weergawe”/ afdruk/ geheue. Ek dink hierin is ʼn ordeningsbeginsel te bespeur.

Ek dink die idee wat ʼn progressie in die gedig ondergaan is die idee van “afdruk”: In die begin is dit ʼn afwesigheid. Aan die einde van die gedig is dit ʼn áánwesigheid.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het dit vir Nicky gewys. Sy was dadelik gaande daaroor, iets wat my bly gemaak het, want die kombuis was nog nog opgeruim nie. En toe besluit ek later om die gedig bietjie te verfyn. Ek hou sommige van my weergawes van gedigte, of ek probeer hulle hou. Soms vergeet ek. As ek na hierdie gedig se wordingslegger gaan kyk, is daar slegs drie vorige weergawes wat ek gehou het. Sommige ander gedigte het elf of sestien weergawes. En dis maar die wat ek gehou het.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Hierdie vers het nêrens voorheen verskyn nie, Louis, behalwe in die bundel waaruit dit kom, Al die lieflike dade. Die publikasie daarvan in die bundel vind sowat ʼn jaar na die skryf van die gedig plaas.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dis nie ʼn liriese vers oor die “ek” nie, so daar is min “feit” of herskrewe feit daarin wat lesers sal boei. My vorige bundel bevat gedigte wat eers as private gedigte, joernaalagtige goeters, geskryf was.

Al wat ek kan sê is dat ek al voorheen sulke mere gesien het, eindelose, plat gewaters wat mens bang maak as jy daarna kyk, en die gefluit in die peule is seker “feitelik” gesproke ʼn klein bietjie tinnitus. J Ek hou baie van die maniere waarop wind met mens raat. Wind is my vriend. Laat daar wind wees, altyd. In elk geval, die sementbeeld kom van Godfrey, ʼn Malawiër wat vir my vrou werk. Hy het sement by haar gastehuis gegooi, en sy voete daarin verewig.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Lekker vraag. Die gedig handel oor geheue, sou ek meen, geheue van die indiwidu, maar ook die historiese geheue van ʼn kollektief soos die menslike spesie. Ek dink al hierdie vorms van geheue bestaan in die indiwidu. Dwarsdeur die gedig is daar sprake van ʼn “afdruk” wat gemaak word: die voetspore in die sement en die persoon wat dit gelaat het wat nou weg is; pieksels (die klein grinterige kolletjies waaruit ʼn beeld op papier dikwels opgebou is); ʼn CD; die merke of sleepsels van takke of iets dergeliks op ʼn bodemmeer; en ʼn vingerafdruk.

Baie belangrik in die gedig is die partikeltjie-motief: pieksels (van ʼn gereproduseerde prent), peule (van bome), voetspore (van ʼn mens of dier), die ringe (van ʼn vingerafdruk) en – allerbelangrik – die visse van die titel (wat ʼn skool visse opmaak). Die visse is ook “partikeltjies”. In die gedig word die visse by verstek vergelyk met die pieksels van ʼn beeld (die woord “herrysenis” vervat dit). Daar is ook sprake van ʼn akwarel, net ná die verwysing na pieksels. Nou ʼn akwarel gaan waarskynlik nie uit pieksels bestaan nie, nie in sy oorspronklike vorm nie, wel as jy ʼn afdruk daarvan maak. So die beeld in sy onthoude fase is soos ʼn treknet vol visse (wat die herinnering opmaak).

Daar is verdere “motiewe” in die gedig: van bevatting (“omhelsing”, “treknet”, “konsentriese kringe” in hul meervoud, ʼn “maalkolk”, ʼn “vingerafdruk” in sy volledigheid van ringe, die boom wat die peule bevat, ensovoorts); van verdwyning; van hersamestelling; van “klein” en “groot”.

Daar is drie “vektore” in die betekenissamestelling: vertikaal na “bo” (die man wat deur sement geloop het); vertikaal na onder (die treknet wat visse te voorskyn haal); en die “sirkel” (konsentriese kringe, die CD, omhelsing, maalkolk, “hele dorpie”, en miskien enkele meer).

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Ek wonder. Nie seker nie. Ja! ʼn Waterverfskildery uit my jeug, van my ma (oorlede), wat aan haar ma (oorlede) behoort het. Die akwarel beeld ʼn meer uit met riete omsoom iewers in Ohio, VSA, waar daardie ouma vandaan gekom het.

Een ding doen ek nooit nie, ek luister nie na musiek terwyl ek skryf nie, ook nie selfs in die geval van prosa skryf nie. Ook nie wanneer ek lees nie. Mens moet die ritme van ʼn sin kan “hoor”, prosa is ook maar net poësie wat bietjie talm. En musiek meng in met hierdie dinge se “gehoor”.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Ja, ek het. Ek sal myself soms  van ʼn gedig distansieer, en dit probeer lees soos wat ek dink ʼn leser sou as die gedig sê nou maar deur iemand anders geskryf was. So ja, op so ʼn kunsmatige manier werk ek met ʼn denkbeeldige leser. Werklike mense? Nie eintlik nie. Soms Nicky. Een van die vroegste verse van die bundel is “Skelet van ʼn lente”. Ek het dit vir Rachelle Greeff gewys en haar kommentaar was baie positief. Dit het my tot die res van die bundel se vergrype geïnspireer.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit gaan afhang watter ander gedigte jy in gedagte het. Ek het genoeg geëksperimenteer met die langer gedig. (Amper sê ek “vers”, maar akademies gesproke is die vers mos ʼn versreël nie waar nie? Is ek reg?) (Hierdie woord skep nogal verwarring soos wat dit tans uiteenlopend gebruik word. Ek dink ons moet hou by die akademiese gebruik en dit eens en vir altyd so ook in resensies gebruik.) Ek wil voortaan met die korter gedig eksperimenteer. En hierdie gedig is so iets. Baie van my gedigte het bewegende tyd in (soos in “verhaaltyd” van ʼn storie, as ek die regte term beet het). Hierdie gedig se “tyd” is egter alles op dieselfde oomblik, wat baie herkenbaar liries is. (Gedigte wat aspekte uit die prosa inspan, soos baie dikwels deesdae gebeur, is minder onmiddelik herkenbaar as liries.)

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die meer, wat uit Ohio kom, herinner aan iets uit die Vrystaat, sê maar. Ohio en sommige plekke in RSA lyk op mekaar. Dis waarom my ouma in hierdie land so gelukkig was (volgens my ma, daardie ouma nooit self geken nie.)

En mere en lagunes is tekenend van die Suid-Afrikaanse kus. Dis die mooiste kus in die wêreld. Verruklik. Ek hou veral van die lagunes van die Oos-Kaap, waar ek grootgeword het. Die Europese en noordelike halfrond se mere is groter, definitief dieper. Iewers tydens die skryf van die gedig het ek ook aan van hulle gedink.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek versaak nooit ʼn gedig wat ek laat publiseer het nie. Selfs ná die publikasie daarvan sal ek iets sien wat ek skielik anders sal wil hê.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Op hierdie bepaalde gedig het ek vanuit Afrikaanse geledere nog nie juis terugvoer ontvang nie, nie in sy spesifieke, losstaande hoedanigheid nie. Die gedig is wel deur Sylvia Geist in Duits vertaal, en die terugvoer daarop hier in Duitsland is sover baie positief. Ek verbeel my die gedig is ook in Nederlands vertaal.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, die naam was “Twee wêrelde”. Ek hoop die NALN-argiewe in Bloemfontein het dit nog. (Ek is baie bekommmerd oor my materiaal wat ek lank gelede na hulle gestuur het, voordat daar probleme daar gekom het, en ek kan niks nuuts aan hulle stuur nie voordat ek nie verneem dat dit wat hulle van my gekry het, nog veilig is. So ek hoop dat hulle my hieroor kan kontak, of anders sal ek hulle kontak.)

In elk geval, daardie was die gedig se naam. Ek het dit vir my ma geskryf. Ek het dit op ʼn tikmasjien uitgetik en ook mooi vir haar “gestensil” (daardie snaakse gebruikie van die vroeg-sewentigerjare). Daar was ossewaens in (ou wêreld ) en moderne goed (nuwe wêreld). Ha ha. Nou ja.

 

***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

  •