Posts Tagged ‘Metafiksionaliteit vryskutskrywers resensies’

Nini Bennett. R2 ‘n woord.

Thursday, November 10th, 2016

koerant-iii

Karakters en gebeure is fiktief. 

Sy het die beginstrook van die toiletrol gesoek; met fophale geskraap en geïrriteerd wakker geword met papierstringe tussen haar vingers. Haar eerste gedagte was die resensie wat moes in wees vir publikasie in die Sondagkoerant.

Sy het die radio aangeskakel en geduldig geluister na die predikant, betower deur die elokusie van sy eie stem. In die ketel het die koffiewater gekook: sy was gereed vir die dag. Die hooftrekke oor die nuus het berig dat president Zuma aan die slaap geraak het in die Parlement, en dat ’n hittegolf vir Pretoria voorspel word. Sy het agter haar lessenaar ingeskuif, gekyk na die talle halfvoltooide projekte waaruit sy ’n inkomste as vryskutskrywer moes genereer. Die vertaling van ’n gebruikershandleiding vir luukse stofsuiers. Die vertaling van voubiljette vir pynstillers. Die redigering van  Afrikanertragiek vir Solidariteit. Groetekaartjies (hoe sê ’n mens op 500 verskillende maniere “Geseënde kersfees (nie-religieus?))”. Sou sy weer in die CNA gaan rondsnoep om te improviseer op die konkurrente se cliché’s? Afrikaans is ’n ondankbare welsynstaal met 6.8 miljoen sprekers en dra swaar aan sy juk vryskutwerkers. Om te oorleef, moet jy innoverend wees; betyds van kleur of gedaante kan verander ― jy moet uitgeslape weet wánneer om te kamoefleer of te regenereer. En dan was daar die spookskryf, wat veel beter betaal het: erotiese fiksie (onder ’n skuilnaam), die mini-verhandeling in skoonheidsorg wat sy vir die dame in Silver Lakes gedoen het, en natuurlik die toesprake vir ontslape SANW-soldate, die preke wat sy vir die predikant, wat aan weltschmerz gely het, geskryf het…Later het sy bloot gevoel soos ’n woordwaaghals wat niks meer gehad het om te verloor nie. Sy het planmatig en roboties elke skryfstuk benader volgens  soort of genre, en dit verreken teen rand en sent. Ná S se dood het die eksekutrise haar versigtig gemaan dat daar waarskynlik ’n insolvente boedel sou wees ― maar met die versigtige vooruitsig van R20 000 borggeld wat by die boerpot gevoeg kon word. R20 000 borggeld: dít is wat sy sou erf van S, maar afkomstig van die korrupsiesaak hangende appèl wat nooit voor sy afsterwe afgehandel is nie. Sy het gewonder hoeveel ander weduwees ook bloot ’n borgkwitansie van hulle gades geërf het, en dan hees begin lag. Die onafgehandelde boedel het reeds vir agt maande gesloer; nog geen oproep van die eksekutrise nie. Maar eers moes sy die nuwe uitdaging die hoof bied: die resensie. Die enigste probleem was dat sy nie die digbundel wat sy moes resenseer, gehad het nie. Sy kon nie nee sê vir die boekredakteur se opdrag nie, en haar laat weet dat sy die bundel sou bekom; dat die duisend woorde teen Donderdag gereed sou wees. Die tarief was R2 ’n woord, dus R2 000.

Toe het die trane gekom, soos elke oggend hierdie tyd. Waarom, of oor wie sy gehuil het, het sy nie geweet nie. Dalk was dit net ’n goed gekondisioneerde depressie wat ’n uitlaat gesoek het, wat ’n bioritme van sy eie begin volg het. Maar dit was terapeuties en na ongeveer ’n kwartier het sy haar gesig gewas en verkoelde rooibossakkies (uit die yskas) op haar oë gesit; ’n serene gevoel oor haar voel spoel. Dit was elke oggend se ritueel. Hoe het sy nie die klein luukses, soos oogdruppels, gemis nie! Haar spaargeld het gevaarlik laag begin daal en sy moes ’n ysere greep op haarself herwin. Literêre kritiek: ’n joppie waarvoor ’n mens ’n strikdas moet aansit.

Sy kon die bestaande resensies oor die bundel, Ekolibrium, opspoor en aflaai. Daar was vier aangehaalde gedigte, versprei tussen die onderskeie resensies waarmee sy kon werk, asook ’n kort biografie oor die digter, Saayman J. Potgieter. Dit was die digter se tweede bundel, en sy onthou die debuutbundel genadiglik nog goed. Sy het gevroetel na ’n sigaret (sy moes haarself rantsoeneer tot tien ‘n dag), en op haar bed gaan lê om te dink.

Om ’n bundel te resenseer sónder om die teks te lees, is seker onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, afhangend van die tematiek. Wat het sy tot haar beskikking gehad? Sy het haarself hoër teen die kontinentale kussing opgehys. Haar oë toegemaak; gespeel met teorieë in haar kop.

Alle menslike gedrag word normaalverdeel. Die gemiddeld na beide kante toe skep ’n klokvormige kurwe, en die tendenslyn is simmetries rondom die gemiddeld. Alle menslike narratiewe toon onderliggend ooreenkomste, en die patrone daarin stem ooreen. Ook die wetenskappe en letterkunde boots hierdie patrone en narratiewe na.

Sy het opgespring en sterk, swart koffie gemaak; op en af in die klein tuinwoonstel begin loop. Sy het nie die aswurms op die teëls sien val nie. Vier gedigte het sy gehad, die bio, die verwysingsraamwerk van die debuut, en drie bestaande resensies oor die tweede bundel. Die tematiek stem in beide bundels ooreen ― geografiese reise en plekke met ’n spirituele inslag, asook natuurpoësie. Sy het vermoed dat sy ‘n resensie van ’n duisend woorde sou kon konstrueer uit die minimum data.

Sy het vinnig begin huis opruim om haar gedagtes aan die vloei te kry. ‘n Skerf groenseep gerasper vir haar wasgoed, en met haar reënboogstoffer deur die klein plekkie geslof. Emmers water oor ou prof Hugo, by wie sy die tuinwoonstel gehuur het, se potplante uitgegiet. Die waterdruk was laag. Voortdurend het sy gepeins en geprojekteer, die rofwerk in haar gedagtes aangestip. In die agtergrond, in die omgewing van Tuks, stééds die voortslepende #FeesMustFall-veldtog, die dreunsang en die fluitjies. Sketterende toeters. Daar is dringende nuwe brandpunte op Suid-Afrika se agenda…Sy het haar hande gewas en voor die deurmekaar lessenaar ingeskuif, die Word-lêer met die vier gekopieerde gedigte uit Ekolibrium oopgemaak, en met haar ken in haar hande gelees.

Loper

Die beendere, die bloudrukke

van sterflikes, slaap

in ’n ander rots. Amaru Muru

loop deur die Poort

van die Sewe Strale,

die vlees asketies om sy skelet.

In sy hand hou hy die sleutel;

dis hier waar stilte klip

tot in die hemelwyke slyp.

Hy loop deur die Portaal

van Hayu Marca, hy dra

die loper van ewigleef

en word lig, styg bó

die gewig

van ’n lyf tot in

die laaste opgaaf stof.

***

Skaal

My ma is die rus

van die Dooie See, die gewiglose

skelf. Sy dra waterdig

aan gedisintegreerde dop,

skaal, en skulp; sy het my

die verlossing van swaartekrag

geleer. My ma is getyloos,

in haar adem die afset

van sediment, die vlugsout

van leef. Die bodem,

die kurator van skat en been

neem ek met my mee:

my ma het my die neerslag

van leef geleer.

***

Seder

Die oudste bome groei alleen.

In die keerkring van tyd

raak jare gering. Die laatbloei

kweek ’n donsbaard van mos

en die grysaard sterf,

herleef die Edengeheue

met die oerwete van weet.

Soms het die skepper vergeet

om die lei skoon te vee.

***

Singularis

Eensaamheid lê in ruimte,

nie mense nie.

Dit is die druipsteen

en antieke kennis van kerse en grotte,

fossiele in die praal

van hars en amulet,

die arabeske hale as

‘n skilder die see se branding kwas.

Die eensaamheid besit ons,

vermenigvuldig die enkelvoud van wees

en kyk met ’n duisend oë uit

piramides van basalt.

***

Die digter Saayman J. Potgieter is ’n pedagoog en amateur-botanis, kon sy elders op die internet aflei. (En ’n Google-ekoloog, maar dít sou sy nie noem nie). Die uitgewer is Strelitzia Boekhuis en die bundel kos R170.

Sy het losgeskrik uit haar stilte toe haar selfoon piep. ’n Nuusberig op Media24. Terwyl die water gekook het vir nog sterk, swart koffie, het sy gelees: ‘n jong dosent by Wits het ’n retoriese relaas oor #FeesMustFall gepubliseer. Die rondstrooi van menslike afval het kwansuis die afbraak van post-koloniale, post-apartheid woede simboliseer…en in die slotparagraaf lewer hy dan die uitknikker: ’n Derridiaanse ontsluiting van die gebeure by UCT.

Sy het haar slimfoon verbaas laat sak; gekyk hoe die skerm terugdoof. En gewonder of die dosent weet wat die heersende tarief van dié emmers is ― R20 stuks, en dat dit vanaf rioolplase bestel kan word? Dat intelligensie die sekuriteit se WhatsApp’s onderskep en dus hiérdie dinge weet? So ontstaan ’n nuwe wisselkoers van kampusgeweld, het sy wrang gedink. Na elke hernude aanslag vergader akademici en intellektualiseer, ontleed die gebeure tot op die been. Hulle mymer blinkoog oor hulle nuwe afrosentriese kurrikula en groeiende toekomstige navorsingsuitsette. #MustFall-veldtogte lei tot gevallestudies in die linguistiek en gedragswetenskappe (gevalle studies?) Ivoortorings ontwaak met ’n geheime binnelewe van hulle eie…

Die elfuur-nuus het dan ook bevestig: ’n sterk polisieteenwoordigheid heers tans op die kampus van die Universiteit van Pretoria.

En elfuur het beteken dat dit tyd was vir ontbyt (en middagete: een maal) ― twee gebakte eiers wat sy op die tweeplaatstofie berei het saam met ’n sny bruinbrood. Haar volgende ete vir die dag sou soja op roosterbrood om ses wees. Sy het die groot gaping tussen haar skerp heupbene en denimnaat tussen haar vingers vasgevat; geweet hoe vinnig die skaal kon daal, ook finansieel. Hoe sy sonder gemoedsbuffers (eufemisme vir die gees) al vir ’n driekwartjaar oorleef; hoe die paniek by tye dreig om haar te oorweldig. Na S se onverwagse dood, met die verlies aan bates en inkomste, het sy haarself op ’n ironiese afstand beskou, soos een wat haarself in die kollig betrag. Die kalklig skyn kaal met verlies as die enigste gehoor. Maar sy was te koppig en trots om kop te gee. Sy het daagliks almal hoflik bedank vir die teksverse en bemoedigende boodskappies wat bly SMS het op haar foon, maar reëele hulp het niemand aangebied nie. Die lewe beur meedoënloos voort. Eers het sy haar meubels deur privaat transaksies probeer verkoop; láter, al haar duur elektroniese toerusting aan Cash Crusaders verkwansel. Hier was sy ’n gereelde, geliefde customer, weliswaar een aan die verloorkant. Cash in your pocket. Smile on your face, en sý met ’n suur glimlag, haar oë op die pen wat uit die dak aan ’n nylontou gulsig naderdans. Om te oorleef, moet jy vinnig op jou voete kan dink en kreatief wees. Sy het soms krag gespaar deur kerse te brand, of sy het in die skemer lig van haar skootrekenaar films gekyk en musiek geluister. Ou prof Hugo het die ‘New Age-weduwee’ maar laat begaan. Haar enigste weelde was tyd, en lugtyd ― op data het sy nie bespaar nie. Kennis en virtuele skatte was net ’n muisklik ver en deel van haar primêre behoeftes. Sy sou sonder kos gaan, maar nie sonder sigarette of lugtyd nie. Maslow 2016. Sy het verkies om aan haarself te dink as ontwapen en nie weerloos nie: daar was ’n troosbare verskil.

Die res van die middag het sy die woonstel se ruite gewas, ’n ou Beeld se blaaie uitgeskeur en in vierkante gevou, die spuitkan vol spiritus in die ander hand. By tye het sy eers die ou berigte herlees. Dit was terapeuties en het ’n verhelderende uitwerking op die gees gehad. Gedagtelose sleurwerkies, soos kreukels uitdryf met ‘n strykyster, of onkruid verwyder ― (as sy op haar sitvlak aangeseil het met ‘n tuinvurkie in ou prof Hugo se agtertuin) ― was ’n elikser vir nuwe idees.

Haar hand het gebeur teen die versteende blertse op die kombuisvenster, en sy het gedink: net ’n hadida kan só skuins teen ’n helling mis. En skielik het die resensie begin vorm aanneem. Sy het die geskifte stuk koerant neergegooi en na haar rekenaar gehaas. In die agtergrond het die kakafonie steeds gewoed, gevolg deur knallende klappers. Gille. Fluitjies, toeters, gille. En een verlate vuvuzela.

Waar Potgieter se debuutbundel, Fraktaal ’n elegiese onderbou het, is Ekolibrium inkantatief en speel besinning en stilte ’n belangrike rol. Ruimtelikheid word benut as die boustof vir poësie, en geografiese milieukleding word op sy beurt poëtikas van ruimte. Soms word die ruimte geïmpliseer, byvoorbeeld “Seder” (10) roep Libanon voor die gees; en soms word die ruimte digterlik ruitverwys, soos in “Loper” (18), wat handel oor die Portaal van Hayu Marca in Peru. Hierdie ruimtelikheid, wat enersyds meditatiewe taferele is, dien as projeksies van en vertrekpunte na spirituele reise. Die stoffering van die ‘spirit of place’ oortuig in sommige van die verse, maar “Wilg” (26) bly vassteek in die fasiele. Die digter se bemoeienis met uitgebreide metafore (…)

Aanvanklik het sy die resensie in fragmente geskryf, asof sy in ’n beswyming verkeer het. Nie té spesifiek nie, nie té vaag nie. Waak teen detail: gebruik die gedigte tot jou beskikking. Die gemeenskaplike deler tussen die gedigte is geïmpliseerde lokaliteit. En lewer kritiek, dit moet, al voel dit vir jou of jy soos ’n papegaai oor en oor dieselfde vloekwoorde swets.

Sy het geluister na die stem van rede wat diep haar uit haar onderbewussyn gefluister het.

Sy het die resensie voltooi en tam haar naam onder aan getik: Trix van Blommenstein. Die woordtelling het sy presies op ’n duisend woorde gebalanseer. Net toe sy wou stuur, het sy opgevlieg van ’n oorverdowende slag en buite gaan staan en rook.

Sy het oopmond opgekyk na die hemel, wat vinnig in vuilgrys en swart wolke vertroebel het.

Tien minute later het die berig op haar selfoon deurgekom: ‘n gebou op UP se kampus was aan die brand. Maar ― haar R2-‘n-woord-transaksie was beklink; nou het sy gewag vir rondte twee, en dit was of sy ’n kopknik van LitNet se resensie-resensent, Crito, sou kry.

Sy het futloos op die bed gaan lê, haar skootrekenaar op haar bobene oopgevou en na ’n animasiefilm begin kyk. Haar enigste bederf vir die week was ‘n quart Milk Stout wat sy ná ’n lang gesukkel met ’n sleutel oopgeknak het. Sy het die donker, bitter bier stadig afgesluk. Dit was voedsaam.

En dan onrustig aan die slaap geraak, die koddige karakters met hulle heliumstemme in die agtergrond.

… Gedroom van Tuks soos sy dit kon onthou in die vroeë negentigerjare. In haar droom het sy deur die lettere-gedeelte van die Merensky-biblioteek geloop, reguit na die naslaanafdeling met die tydskrifte en die rooi ringband-lêers met die knipsels resensies. Sy het die besoekersboek geteken, opgewonde om die Sanhedrin van die Afrikaanse letterkunde te mog betree. Die bibliotekaresses het noukeurig boek gehou van alle resensies, soos dit verskyn het in koerante en tydskrifte, dit versigtig uitgesny en alfabeties geliasseer. Elke skrywer het sy eie korpus resensies gehad, volledig en chronologies bewaar. Soms het sy daar gesit en gelees tot die dag se ure opraak. Sou dié oorspronklike argiewe nog bestaan, of het dit reeds gereïnkarneer tot mikrofiche? Het sy treurig gewonder.

Die Sondagmiddag laat het sy vir ou prof Hugo gevra of hy asseblief die koerant vir haar sou hou, en hy het bevestig dat die resensie verskyn het. Hy het vir haar twee tjoppies en ’n stuk wors op ’n papierbord geskep ― “dis te ryk vir my”, was sy verskoning ― en sy het die ongemaklike stilte gevul deur die eerste kwinkslag waaraan sy kon dink, te vertel. “Academic politics is the most vicious and bitter form of politics, because the stakes are so low”.

Die Maandagmiddag laat het Crito se kommentaar op haar resensie oor Ekolibrium verskyn.

’n Mens kan van Blommenstein die hardlywige resensie van Ekolibrium vergewe, want sy takseer die bundel nietemin deeglik en met gedetailleerde verwysings. Sy kon waarskynlik ‘n langer resensie geskryf het, maar weet dat ’n aptytwekker vir die voornemende leser nie té groot hoef te wees nie.

Sy het ekstaties opgespring, net om in haar spore vas te steek toe haar selfoon dringend begin lui. Haar hande het gesweet. Sy kon die liefdes- en noodlotslyne diep in die palms sien kerf. Dit was die eksekutrise.

“Mevrou van Blommenstein..?” Huiwerig.

“Middag, mevrou; dis ek, ja”.

“Ek skakel van Botha & Vennote. Hartjie…” Nou heelwat sagter. “Ek is jammer, maar ons kon nie die R20 000 in meneer van Blommenstein se boedel red nie. Die skuldeisers…”

Sy het nie verder geluister nie en toonloos geantwoord. “Ek verstaan dit volkome”. In haar geestesoog het ’n gemanikuurde hand geklik op die R20 000 en dit gedeponeer in ‘n ánder kolom op die Excel-spreiblad, die ontslape jakkals se erfporsie finaal in sy maai. Maar sy sou nie môre-oggend, tydens haar oggendkatarsis dáároor huil nie. Vir eers was sy dankbaar oor Crito se reaksie. Want elke dag bring sy eie leftovers van verdriet; elke dag se trane kom varsgesout. Môre-oggend sal sy huil oor haar alma mater wat in vlamme opgaan. En oor die bundel wat sy so begeer het om te lees, die een wat sy moes resenseer.

Verwysings:

 © Nini Bennett “Skaal”, “Singularis”, “Loper” en “Seder”.

 

 

  •