Posts Tagged ‘Michael Ende’

Jelleke Wierenga. Woorde soos kitskos

Sunday, September 5th, 2010

Ek sit my kind vandag in die groot wit koevert (volgende keer sal ek ’n bruine gebruik, ter wille van Desmond), lek die flap, plak dit toe en stuur haar die bose wêreld in. Ek neem swaar en verlig van haar afskeid.

Die weemoed oorval my. Weemoed getint met moedeloosheid. Dit het my tydens die swangerskap en bloedige bevalling ook telkens oorval. Soveel kinders, soveel kinders is daar, soveel geïgnoreerdes, afgeskeeptes en verwaarloostes, soveel verskoptes – en nou stuur ek nog een die wêreld in.

Wat is die nut? Die sin? Die doel? Maar dié vrae is die N1 na Depressieville. The road well traveled. Dus voorwaarts mars, plak jou voor die rekenaar neer en maak nog ’n paar kindertjies sit-sit so. Om verslind te word sonder om regtig geproe te word. Sodat nog, nog, nog ingestop kan word. Vinniger en vinniger. Want daar is nie tyd nie. En daar is nie nog ’n Momo om ons van die Manne in Grys te red nie.

Ons is mense met pense. Vol woorde.

Die internet voer die kitskosmanie. ’n Onophoudelike stroom woorde wat gelees moet word, inligting wat ge-in moet word, gebeure waarvan kennis geneem moet word, menings wat gehoor moet word.

’n Korrespondent laat weet dat hy die naweek tyd gehad het om te lees: drie boeke. Drie! En twee daarvan swaargewigte, menere van kwaliteitskrywes, blyk uit die beskrywings. Ek wil die hand aan eie keel slaan.

Wat is fout met my, Here, dat ek so ’n agtergeblewene is? Dat ek elke woord wil proe? Dat ek onderstreep en dele in my joernaal aanhaal? Dat ek bietjie wil lees en baie wil dink? Rian Malan (‘South Africa’s Hunter S Thompson.’ London Times) se geleende Resident alien lê al langer as ’n maand op my bedkassie. Tesame met Practical guide to creative visualization: Manifest your desires deur Denning & Phillips (Over 100 000 sold!). Saam met Marthinus Versfeld se Die neukery met die appelboom en ander essays (ingelei deur André P Brink) en Hans Pienaar se Notas uit die empire. Die ander is teruggepak op die boekrak in die gang omdat die stapel omgeval en my feetjie en wekker verpletter het. Durf ek dit sê: ongelees.

Ek het wenslysies op boekwinkel-webwerwe. Ek hou boeklyste op my rekenaar by. Ek het ’n lêer met nuusbriewe oor boeke. Ek het rakke vol boeke vir eendag. Ek het boekrakke vol boeke vir die wensdenkery van miskien eendag weer, liewe vriend.

Stadig en deeglik is ’n anachronisme. Nie net met lees nie, maar ook met skryf. Om elke woord te oorweeg en te poleer, getuig van dinosouriese agterlikheid. Om om te gee vir korrekte punktuasie, is pateties. Om jou e-posse deur te lees en te korrigeer voor jy stuur, is Victoriaanse vertraagdheid.

Omtrent almal is deesdae op Facebook. Dat ek nie daarvoor kans sien nie, veroorsaak ’n erge minderwaardigheidskompleks. Wat’s fout met my dat ek nie tyd het om met ’n wêreld se vrinne te kommunikeer nie? Almal Twitter en Tweet – ikke luister eerder na Janfrederik in die tuin.

Kwaliteit bo kwantiteit? In watter eeu het jy uit die bus geval, meisie?

Daar’s ’n beweging vir stadige kos. Ek sal nie verbaas wees as dit al ontaard het in stadige kos op ’n drafstap nie. Is die tyd dalk ryp vir ’n beweging vir stadige lees en stadige skryf?

Eintlik wil ek net op die sypaadjie gaan sit en met die woorde speel wat ek en ander mense langs die pad verloor het.

  •