Posts Tagged ‘miernes’

René Bohnen. In die miernes

Thursday, February 23rd, 2012

 

Een van die eienaardige dinge wat gebeur as mens die familielid is wat in Suid-Afrika agtergebly het tydens ons moderne diaspora-verskynsel (mag ek dit so noem?), is dat jy toerleier speel vir die jonger geslag wat ons land herbesoek. En dan gaan doen hulle dinge die hele Afrika vol – dinge waarvan jy maar net kan droom, want hulle geldeenheid is ongeveer tien keer sterker as joune! En agterna kyk jy na hulle vakansiefoto’s met ʼn heel nuwe perspektief. Húlle perspektief. Want hulle is nou Aussies.

 En tog is ek ook maar permanent ʼn toeris in die stad waar ek woon. Ek weet in elk geval nie hoe lank ek hier moet woon voor ek nie meer ʼn “inkommer” is nie (sê ek ook maar net hálf skertsend), ek ervaar Wespark en die Carlton Sentrum byvoorbeeld albei as plekke waarvan ek jare lank gehoor het voor ek dit gesien het. So vaar ek en vyf meisies onder twintig dus die stad in en ek dink ek kan met sekerheid verklaar dat die proses vir my net so opwindend was as vir hulle.  

Verskeie groepe mense in Johannesburg het heerlike oplossings gevind vir die feit dat mens nie meer orals alleen kan rondstap nie. “Safety in numbers” is dalk ʼn valse veiligheid, maar dis ook baie lekker!  

Die Joburg Photowalkers kom amper elke naweek bymekaar, enigeen is welkom, dis gewoonlik gratis en die uitstappies is baie uiteenlopend. Mark Straw is meesal die koördineerder en het in die laaste paar maande toegang verkry tot die gronde van ʼn privaatskool met lieflike ou geboue, tot ʼn gemeenskapssentrum en die strate van Soweto, tot die kleedkamers van die Staatsteater en die opening van die gerestoureerde biblioteek (waaroor Andries Bezuidenhout in sy blog https://versindaba.co.za/2012/02/16/andries-bezuidenhout-soms-goeie-nuus-ook/ geskryf het)

 Verder is daar twee ander groepe wat ek al meegemaak het. Die Ancient Secrets staptoere wat gelei (en gereël) word deur Ishvara Dhyan, besoek die Muti-mark (en dan blog van die stappers agterna http://2summers.net/2012/02/20/traditional-african-culture-in-a-modern-african-city/ ) of Fordsburg, Chinatown en Yeoville. Ishvara is ʼn veelberese sjef met ʼn diepe waardering vir elke kultuur se uniekheid. Hy ken die meeste van die gemeenskapsleiers en dikwels ook die hele gemeenskap (hy woon baie jare al in die middestad), dus word hy en sy groep met vertroue toegelaat by plekke wat nie eintlik aan buitestaanders bekend is nie. So het ons ʼn daktempel besoek in die middel van woonstelgeboue en daar het ʼn sewentigjarige man op antieke musiekinstrumente die mooiste klanke voortgebring. Ek het ook geleer dat al die sekuriteitskameras wat ek waargeneem het in daardie spesifieke buurt nie was om kriminele te vang nie, maar om die polisie te sien aankom. Baie mense is nog onwettig hier, sommige leef in haglike omstandighede hul drome uit om ʼn lewe te bou in ʼn vreemde land. 

Dan is daar ook nog Past Experiences, gelei deur Jo Buitendach. Haar staptoere was onlangs na Newtown en die middestad, waar sy gefokus het op die kwessie van public art.  Sy neem mense op inkopietogte na die middestad, na die Kwai Mai-Mai Mark, die spore van ou Sophiatown en die opelugmark in Fordsburg (dis nie die Oosterse Plaza nie). Mense blog en berig oor hulle ervarings hiervan ook, soos bv hier http://www.smh.com.au/travel/joburg–for-an-urban-jungle-full-of-surprises-20120119-1q810.html   Jo reël ook jogasessies op die dakke van sekere geboue in die middestad en mens kan deelneem aan vroegoggend 5km fiksblystappe deur (ek hou van die woord) “downtown”.  Mense daag op met yslike groot kameras of met selfoonkameras, hulle kom met tattoos of met spierwit hare en stapkieries – ons is oral nog net met ope arms en vriendelikheid begroet – al het ek maar van die manne wat in Joubert Park lê en “slaap” goed sien rondloer onder hulle kepsies deur. 

So far so good, ons dra al ons toerusting oop en bloot saam. Liefdadigheid en uitreikaksies vorm deel van die aktiwiteite en sommige uitstappies is spesifiek na skooltjies of ouetehuise waar portrette geneem word en aan die persone geskenk word. Baie van hulle het nog nooit foto’s van hulself gehad nie. 

Ek het in 2009 begin om gedigte oor Johannesburg te versamel, net vir die interessantheid. En omdat ek nou al ʼn uitgebreide graffiti-reeks in my foto-album het.  

Luister hier http://www.youtube.com/watch?v=YH7O-Q7tQds na Ian Gregory Robinson (aka Ewok) se 2009 Berlyn Poësiefees-voordrag van die gedig “That’s Joburg.” 

Twee ander gedigte oor Johannesburg het my hierdie week weer vir verskillende redes opgeval:

PALOMAR PLACE, OBSERVATORY

         Now the wind, once in our sails, blows the washing dry

          Matthew van der Want

 

hoe verduidelik ek hoe populierblare tril voor hulle tuimel

sal ek sê die takke is heksekloue wat brandend na wolke gryp?

          troos die ketter die winter kom om die geknetter te blus –

hoe beskryf ek hoe wit die skemer agter bome blink

hoe kan ek jou vertel van marmer wat die maan oor blare skink?

 

ag wat weet hierdie uitkykpunt van hekse sterre die maan?

 

nou gee die aarde die son ʼn koue skouer

hou die wasmasjien uiteindelik op tuimel

buite stap ʼn vrou met ʼn sak op haar kop

hark ʼn man gedwee nog blare op

 

25 April 2009                   (Andries Bezuidenhout)

 

En dan die (vir my) hartverskeurende Wopko Jensma-gedig:

 

MY TA SE TA

 

my ta se ta het lank gelede ook

in die miernes, joburg gejob

hy was ʼn klein mier

en hy’t gebewe as die baas met hom praat

hy was die kleinste mier

wat in die carlton centre se kantore

vloere en vensters gewas het

en onder in die kelder

het hy vir homself lê-plek gemaak

klein-lê want hy was klein

 

toe die fighters of freedom nes semels

saam met die wind deur die ou sif geloop het

het hy gesê : – nee, hy loop nie saam nie

hy’s bang vir die baasdaarbo

(miskien het hy sy baas chris gemeen)

Maar die fighter-miere het vir hom gesê:

          nou toe, jy’s klein, jy kan spaai…

maar hy was bang vir die baasdaarbo

en hy’t in sy lê gaan wegkruip

maar die miere wat vir die freedom fight

het hom daar gekry en gelag:

          jy’s klein en bang, of treiter jy?

en omdat hy so klein en niks was

het die freedom miere hom gegaffel

en toe, snaaks genoeg, my ta se ta

hy’t toe nes sy baas chris

sy arms oopgegooi tot water uit sy sy

die kruis in die fighters se oë gespyker het

al was hy so klein, was hulle nou bang…

het hulle verstaan toe die donker val?

en toe die ingevoerde bokhaarkombers –

reg voor in die carlton se vertoonvenster

in twee stukke geskeur het

en toe sjaka se stat nes brood gerys het

op dieselfde ou miernes, joburg

                              (uit Sing for our execution)

 

  •