Philip de Vos. miere is diere
Friday, August 7th, 2009
Ek was nog maar altyd sensitief. Ja, van kleintyd tot vandag toe en dit is ook seker die rede waarom ek so lief is vir miere en spinnekoppe en ander gediertes.
Nou dink ek sommer 60 jaar terug (Ja, hulle sê mos met ‘n mens se ouer word, word jou verlede al hoe helderder en jou hede al hoe duisterder en kort daarna volg seniliteit).
Ewenwel, daar in Cricketstraat in Bloemfontein het ek buite in die wintersonnetjie gesit met ‘n oop kondensmelkblikkie waarin 378 miere geval en rondgespartel het.
Daar het ek met ‘n teelepel vir ure lank gesit en miere uithaal; dan met water afgespoel en eenkant neergesit om droog te word. Dat daar darem ‘n paar lewend daar uitgekom het, (ongelukkig minus ‘n paar ledemate) was slegs aan my goeie hart te danke.
In my hele lewe het ek nog nooit ‘n mier doodgetrap nie behalwe in een van my vroeë versies. En ek is vandag nog spyt dat ek dit geskryf het en daardeur jongmense miskien tot dieremishandeling aangepor het:
Gomverdorie
poetoepap.
‘n Mier
het op
my toon
kom trap.
Toe slaat
ek hom
‘n pappery
oor sy toon-kom-trappery.
Ek het die volgende gedig op die internet opgespoor geskryf deur iemand met slegs die skuilnaam Moods. En anders as my lawwigheid is daar tog iets in hierdie paar woorde wat my effens weemoedig laat voel:
I find it so
satisfactory
to Step
on ant hills
to Step
and crush tiny
fortresses
to Step
and destroy
entire Kingdoms
and all
flee from me
having Power
sparing no one
playing God
Maar dan is daar natuurlik die teenpool in die bekende Ogden Nash se pittighede:
THE ANT
The ant has made himself illustrious
Through constant industry industrious.
So what?
Would you be calm and placid
If you were full of formic acid?
As ‘n goed-opgevoede mens wat selfs in my jeug twee Bybelkennis-eksamens geskryf het, was koning Salomo se wyshede my insprirasie vir die volgende juweeltjie:
Miertjies is diertjies
met weinig plesiertjies
en kry wel gewis nie
‘n oomblikkie rus nie.
Hul werk glo vir weke
by wyse van Spreuke.
En dan – ja sowaar
is hul lewetjies klaar.
En dan my baie sad limerick oor iemand se verhouding met ‘n mier:
Die eensame Rut Olivier
Was innig verlief op ‘n mier,
Maar toe het tant Rut
Op die gogga gaan sit
En geween vir ‘n hele kwartier.
Na my onlangse filosofiese gesprek met my geleerde vriend wou ek presies weet wat die internet te sê het oor ons Formikofiloë. En dis wat ek gekry het:
Phormicophilia – the love of ants. This includes having insects walk over your body as a way to turn you on. The best way to practise phormicophilia (if you are male) is to take a pot of honey to the woods, undress, lie down and smear your willy in honey. Then you wait.
En na ek hierdie ontstellende woorde gelees het, wil ek dit asseblief baie duidelik stel:
Ek is DEFINITIEF NIE ‘n Formikofiloog nie!