Posts Tagged ‘mitiese representasies van diere’

Nini Bennett. Die psigodrama van diere.

Sunday, December 11th, 2016

snow-leopard-17I.

Reeds as jong seun het die digter Ted Hughes gejag of visgevang, maar dit was veel méér as ‘n blote tydverdryf of die tienerfase wat man word voorafgaan: dit was ‘n diepgewortelde begeerte om diere in al hulle digterlike fasette te eien en te verstaan. Maar eintlik was dit lewendige diere wat Hughes wou besit. In sy jassak se voering het daar dikwels ‘n paar muise gekriewel. Volgens oorlewering het hy ‘n dooie dassie opgetel en op ‘n houtbalk in die tuin neergelê om die verskillende fases van ontbinding noukeurig te bestudeer. En nee — ‘n makabere stokperdjie was dit nie. Die jong Hughes het die opvoedkundige en genesende waarde van diere binne ‘n groter ekologiese verband besef. Ook het hy begin om diervelle en -pelse te versamel, en dit selfs in die stilligheid gedra om te ervaar hoe dit voel om onder ‘n dier se ‘vel in te kruip.’

Hierdie projeksies van die Ego in die strewe na self-realisering sou eindelik vir uitgebreide diertematiek binne Hughes se oeuvre sorg. Die algemene sjamanistiese idee dat diere suiwerder en meer spiritueel as mense is, word voorgehou. In die digter se dierpoësie signalleer diere die gode van lewe en dood; staan hulle volledig as mitiese verteenwoordigers van die skeppende en destruktiewe kragte van lewe en dood. Hughes se werk is onder meer geïnspireer deur die natuurpoësie van D.H. Lawrence; maar waar Lawrence met ‘n sagter oog diere se wysheid jukstaponeer teenoor die onkunde van die mensdom, ontwikkel Hughes se diere tot bonatuurlike wesens — diere wat reageer op ongebreidelde lewensdrif en eg, 100% in voeling met hulself, deur die lewe gaan. Hierteenoor staan die mens as swak mededinger, onvry en ingeperk deur sy eie sosiale konvensies en sofistikasie.

Hughes se bundels, byvoorbeeld “The Hawk in the Rain” (1957), asook “Crow: From the Life and the Songs of the Crow” (1970) is bevolk met diere wat getuig van die digter se merkwaardige antropologiese geheue. In alle gevalle word hierdie diere geskets met brute krag, impuls, asook hulle unieke verbintenisse met die natuur. Hughes se verse beweeg binne ‘n konstante speelveld van opposisies, byvoorbeeld geweld teenoor kwesbaarheid, en die mens se dwingende begeertes en vrese word só allegories verbeeld as die stryd om die oorlewing van die sterkste. Die diergedigte word komplekse komposisies, byvoorbeeld in die bekende “Hawk Roosting” wys sommige kritici dan ook op die allegoriese betekenis daarvan, naamlik die opbloei van fascisme.

 Hughes het erken dat die selfdood van sy vrou, Sylvia Plath, en later ook Assia Wevill die mees traumatiese gebeurtenisse was wat hy moes verwerk. Beïnvloed deur T.S. Elliot, het hy hom selde aan outobiografiese skryfwerk skuldig gemaak — hy het, soos Auden, geglo dat groot kuns eerder onpersoonlik as belydenisagtig behoort te wees. In stede hiervan het hy ‘n psigodrama van diere in sy poësie geskep, en via simbole en metafore met emosies soos pyn en aggressie gedeel. Hughes kon die gees van diere ‘vasvang’ in sy verse; by tye het hy volledig verdwyn in dié camouflage en gepraat en gehandel vanuit die diere se verskeie fokaliseringsperspektiewe. Ongelukkig het die digter se werk ook sterk kontroversie uitgelok en is hy daarvan beskuldig dat sy eie destruktiwiteit afwys in die brutaliteit van sommige van sy verse.

Sonder selfbewustheid en vrees, en sonder die edenletsel van siekte en sonde, vry van inhibisies, en altyd vol moed — dít is die diere in Hughes se poësie. Totems wat gefokusde en onskuldige lewens lei sonder die beletsel van menslike korrupsie. Met hierdie waarnemings van landskap en dier, sónder onnodige digterlike sentiment, het Hughes vir hom ‘n unieke plek in die wêreldletterkunde losgeskryf.

Dit was nog altyd ‘n begeerte van my om onder ‘n sneeuluiperd se vel in te klim. Maar nodeloos om te sê: dit bly ‘n ontwykende droom om dié kat en haar landskap te koreografeer.

II.

AS DIE SNEEULUIPERD KOM

Ek het haar nog nooit ontmoet nie. Sy het my soms snags in my drome besoek as ek gereis het na landskappe ver hiervandaan. Teen die kranse, hoog op teen die Himalajas kon ek haar gewaar waar sy haar welpies pleeg — en dit was genoeg, bitter min mense het die voorreg gehad om haar in lewende lywe te aanskou, die sneeuluiperd, die geheimsinnigste wese op aarde. Sy het haarself deliberaat sigbaar gemaak aan my tydens my nagwake, want as wispelturige noodlotskarakter was sy vir die meeste sterflinge net ’n gerug, of legende, soos ’n gesiglose mafioso…dalk het die gedagte dat ek haar nie gevrees het nie, bygedra tot die feit dat sy aan my wou verskyn; aanvanklik as ’n donker en bedwelmende infiltrasie van fragmenterende drome; later het ek helder oordag flitse van haar gesien in vreemde, dog alledaagse situasies. Sy sou deur my gedagtes blits tydens die stormverkeer op die N3 verby Van Reenen, of sy sou geluidloos nader skadu wanneer ek met ’n bejaarde persoon — of énige iemand — gesels het, dan het ek geweet. Maar geswyg. Ek het ’n godvresende ontsag vir haar en haar besoeke gehad, en dit het sy deeglik besef. Dalk het sy my bloot vertrou, want hoe dikwels het ek nie oor haar gepeins nie — en dit sou net sy alleen kon raai. Eintlik was sy in wese baie saggeaard, en ek het met ’n morbiede fassinasie gevolg hoe die kleur van haar oë verander, eers liggroen, dan weer grys. Haar oë was meesal droef.

Sy was ’n mediumgrootte roofkat en kon in spronge van tot 15 meter teen die steil kranse sweef. En altyd, altyd was sy teruggetrokke, sy het daardie groot ruimtes om haar gehad wat ’n mens intuïtief tydens die ontmoeting met ’n alleenloper kan aanvoel. In my drome wou ek aan haar raak, maar sy het afsydig teruggetrek, my met kil oë gewaarsku: sy laat haar nie voorskryf nie. Ten spyte van haar arrogante afstand, het ek geweet sy was ook deel van my — sy is onafwendbaar. Tog was sy altyd daar, soos ’n deelgenoot aan die lewe, die medepligtigheid aan ’n skaduwee, of ’n slapende vennoot. As my bewussyn by tye te fel gepols en ek haar naam hardop uitgeroep het, het sy eindeloos empaties na my gekyk, haar kop skuins gedraai. Die sneeuluiperd was lief vir my, het ek gaandeweg vermoed, daarom het sy my toegelaat om so baie van haar te glimp.

By tye was sy weg, en kon ek bloot haar spore in die sneeu sien. Sy het die ys plavei met syagtige blomme. Dan, weer, het ek haar gewaar waar sy vir kort rukkies slaap, haar lang en pluimagtige stert diggedraai om haar lyf vir hitte. Dit is hierdie einste stert wat haar gehelp het met balans tussen die steierende afgronde — as godin van die eensaamheid, was sy ook die meester van hoogtes en dieptes.

Een nag droom ek dit word lente. Ek het opgekyk na die berge, na die geil pieke en verskrik besef: hier kom ’n avalanche. Die bergspitse het hulle enorme las afgeskud, dit het in amberwolke grond toe gebruis. Ek kon die kruine hoor kreun, die reuse geomorfes het gekreukel en kleur het deur die glooiings gesplyt. Gletsers het die berge teer gebeitel…dan was daar iets soos ‘n vulkaan in die sneeu, die geborrel en stuif van ys. Die inploffing was geweldig. Wit is die kleur van verlorenheid, dit is geen ander kleur nie, dit is geen kleur nie — dis ’n delusie in wit. Uit die hemele het die vortex van sneeu sy werwelwind na onder gevind. ’n Beswyming; die natuur het aan kristalverdowing gely. Die kranse het vermurwe en die lig was hoog, maar skugter. Ek het die berge sien beur soos uit ‘n blanko canvas en tru gestaan, ’n skilder, verwilderd voor ’n manjifieke skepping.

Nou het die gewasse manies groen begin groei en die son sou konsentreer in ’n brandpunt soos ’n verblindende vergrootglas wat die skril strale pylwaarts vuur. Hoe klein moes alles nie deur God se loergat gewees het nie: die bonsai-woude, die mikrografiese lewe waarmee hy speel…Ook die bloeisels het uit hulle skyndood ontwaak.

Ek het my oë oopgemaak want ek het te helder gesien, die beelde het gedreig om my te oorweldig. Maar, seëvierend het sy gestaan, bo alles uitgetroon, 4500 meter bo seespieël. Soos ’n lieflike noodlotsgodin was sy, die bewaker van ’n oeroue Sanhedrin. Sy was primitief sneeuluiperd en kon betyds vlug vóór die stortings kom, sy wat kon ligloop oor die kranse, die geluidlose sneeuvoet.

Sy het haar oë lank en peinsend geskreef en skielik dringend na my gekyk. Ons het albei ons koppe gedraai na die meer en dieselfde ding gedink. Ek kon my hartslag voel versnel. As daar sneeustof in die water skif, dan skyn dit as sterrehemel in die donker water. Minder. Minder as fraktale is ons.

 

Erkennings

http://www.shigeku.org/xlib/lingshidao/waiwen/hughes.htm

http://www.telegraph.co.uk/culture/books/ways-with-words/8623527/Ways-With-Words-Ted-Hughes-catches-the-animal-within.html

http://worldlitonline.net/the-cohesive-anupama.pdf

http://www.universeofsymbolism.com/snow-leopard-symbolism.html

  •