Posts Tagged ‘mitologie’

Marlies Taljard. Die mitiese stad Kêr-Ys

Monday, July 22nd, 2013

In Marius Crous se bundel Vol Draadwerk (2012) kom daar ʼn groot aantal gedigte voor wat gebaseer is op mites en legendes – ek het onlangs ʼn blog geskryf oor die gedig Avalon wat, net soos die eerste drie gedigte in die bundel, sy stof put uit die mite van ʼn verlore stad. Hierdie verhaaltipe is in die mitologie nie onbekend nie – vergelyk byvoorbeeld die verhale oor Atlantis en Lyonesse wat byvoorbeeld breed uitgewerk word in die romans van Marion Zimmer Bradley. In hierdie en die volgende blogs, wil ek Crous se gedigte Gesonke Katedraal, Duiker by Ys-eiland, Kus van Bretagne en Messiaen (die eerste 3 gedigte in sy bundel Vol Draadwerk) van naderby beskou. Die eerste twee gedigte het, benewens die legende van die katedraal by Kêr-Ys, Debussy se  La Cathedrale Engloutie as addisionele interteks, terwyl die derde gedig verwys na Messiaen se bekende orrelwerk Apparition de L’eglise Eternelle (1932).

In hierdie blog konsentreer ek op die verhaal van die gesonke katerdraal wat ook die basis vorm van Claude Debussy se prelude vir klavier, La Cathedrale Engloutie (1910). Die verhaal het sy oorsprong waarskynlik iewers tussen die vyftiende en die sewentiende eeu gehad en vertoon groot ooreenkoms met ʼn middeleeuse Walliese gedig Seithennin oor die legende van Cantre’r Gwaelod waarin die stof van ʼn stad wat weens menslike vergrype onder die see verdwyn, eweneens voorkom. Soos die meeste mites, het ook hierdie een verskeie variante. Ek probeer in my bespreking konsentreer op dié narratiewe aspekte uit verskillende tekste wat belangrik is vir die latere interpretasie van die gedigte.

Volgens oorlewering was Gradlon die koning van die welvarende stad Ys wat geleë was in die suid-weste van Bretagne, waar die baai van Douarnenez vandag is. Die stad was een van die rykste stede in Europa, maar onder seespieël geleë. Om dit teen die see te beskerm, is ʼn geweldige dyk opgerig met reuse bronshekke wat tydens laagwater oopgemaak is om die vissermanne toegang tot die see te bied. Die koning alleen het die sleutels vir dié keerhekke om sy nek gedra. Koning Gradlon was ʼn wyse en godvresende man (alhoewel geskiedkundige bronne beweer dat hy goed bevriend was met die laaste Druid in Bretagne, dat hy hom voor sy dood vertroos het en eers die heidense doodsrituele vir hom laat voltrek het, voordat hy ʼn kerk in sy woud laat oprig het.) Volgens sommige variante van die verhaal was Gradlon vroeër, toe hy nog die heidense gode gedien het, getroud met ʼn wese wat half mens en half faerie was. (Ander bronne wil dit hê dat hy met die koningin van die Hiperborese getrou het nadat hulle twee haar ouerwordende man vermoor het.) Hoe dit ook al sy, die moeder het aan ʼn boosaardige dogter, Dahut, die lewe geskenk en daarna verdwyn. Getrou aan die faerie-aard van die moeder, het Dahut ʼn besondere voorliefde vir die ou Keltiese gode gehad en het sy, saam met die grootste deel van die inwoners van Ys, die aardmoeder aanbid. Sy het haarself in ʼn ou Keltiese rite aan die see verbind en haarself as die verloofde van die see beskou. Dit het haar die gramskap van die Christelike ab Guénolé (Winwaloe), stigter van die eerste klooster in Bretagne by Landévennec, op die hals gehaal. Hy het, soos ʼn Jeremia van ouds, gewaarsku dat God hom op die stad sal wreek weens Dahut en haar volgelinge se boosheid.

Dahut het geleef volgens die Keltiese tradisie en het aand vir aand flambojante orgies gereël. Omdat sy haarself sterk verbonde gevoel het aan die see, het sy daagliks offers aan die seegode gebring. Elke dag het sy vir haar ʼn nuwe minnaar vir die aand uitgesoek wat verplig was om ʼn swart masker te dra. Wanneer die fees verby was, het Dahut die versteekte vere in die masker geaktiveer wat die minnaar versmoor het. Die dooie mans is dan in die see gegooi as offers.

Een aand kom daar egter ʼn ridder aan wat heeltemal in rooi geklee was en dadelik Dahut se belangstelling geprikkel het. Sy het hom onverwyld na haar bed genooi. Wat Dahut nie geweet het nie, is dat hy die duiwel in persoon was. Hy het haar in haar laataand dronkenskap oorreed om die sleutel vir die stadshekke by haar slapende vader te steel. Ondanks ʼn ontsaglike storm wat op see gewoed het, het hy die hekke oopgesluit en die see het die stad oorstroom. St. Guémolé het Gradlon net betyds wakker gemaak om op sy geliefde perd Morvarc’h te spring, voordat die golwe die kasteel verswelg het. In die straat het Gradlon sy dogter Dahut sien spartel en haar agter op sy perd getel. Morvarc’h, wat op golwe kon galop soos op land, het egter gestruikel onder die swaar las. Skielik, terwyl oorverdowende donderslae en weerlig woed, verrys daar ʼn doodsbleek gedaante geklee in ʼn bruin monnikekleed uit die see. Dit was St. Guénolé wat Gradlon beveel om die demoon van sy perd af te gooi. Gradlon wou eers nie gehoor gee nie, maar toe die perd steier en onder die water verdwyn, moes hy sy dogter, wat volgens St. Guénolé verantwoordelik was vir die ramp, teruggee aan die see wat sy so lief gehad het. Onmiddellik het die storm bedaar en Gradlon kon veilig aan wal gaan. Spoedig het hy die stad Quimper bereik wat hy sy nuwe vesting gemaak het, aangesien Ys heeltemal onder die water weggesink het. Vandag kan die standbeeld van Gradlon wat tussen die twee torings van die katedraal van St. Corentin by Quimper opgerig is, steeds gesien word. Dit is in 1793 beskadig, maar in 1859 weer herstel.

Dahut, wat die see so lief gehad het, het verander in die meermin Marie-Morgane. Soms kan sy nog gesien word waar sy op ʼn rots sit en haar goue hare kam. Soos sy vantevore gewoond was om haar minnaars in die see te gooi wanneer sy met hulle klaar is, so verlei sy steeds die vissermanne sodat hulle bote op die rotse loop. Daar word ook beweer dat die torings van die stad soms tydens laagwater direk onder die wateroppervlak gesien kan word en dat die klokke van die katedraal Ys soms nog gehoor kan word vanuit die dieptes van die see.

Die mite van die versonke stad Ys hou op talle maniere verband met ander verhale. Net soos Sodom en Gomorra, was Ys ook ʼn welvarende stad, waarin daar egter slegs een verdienstelike siel te vinde was, naamlik die koning Gradlon. Ys word ook vernietig as gevolg van die heidense gebruike van sy inwoners. Dahut is ʼn soort Jessebel wat die leier is van mense wat die ou gebruike aanhang. Die ooreenkoms tussen Dahut en die bekende Loreley wat die vissermanne verlei sodat hulle verdrink, is voor die hand liggend: “Die schönste Jungfrau sitzet / Dort oben wunderbar, / Ihr gold’nes Geschmeide blitzet, / Sie kämmt ihr goldenes Haar, / Sie kämmt es mit goldenem Kamme, / Und singt ein Lied dabei; / Das hat eine wundersame, / Gewaltige Melodei. // Den Schiffer im kleinen Schiffe, / Ergreift es mit wildem Weh; / Er schaut nicht die Felsenriffe, / Er schaut nur hinauf in die Höh’. / Ich glaube, die Wellen verschlingen / Am Ende Schiffer und Kahn, / Und das hat mit ihrem Singen, / Die Loreley getan.” [Die mooiste jong vrou sit op die rotse en kam haar goue hare met ʼn goue kam terwyl sy ʼn aangrypende lied sing. Dit is vir die skipper so mooi dat hy na haar bly kyk en nie die rotsriwwe sien nie. Uiteindelik loop sy skip op die rotse en hy verdrink. Dit het die Loreley met haar singery gedoen.]

Hierdie mite word dikwels beskou as die oorwinning van die Christendom oor die ou Keltiese Druïdisme wat nog tot diep in die eerste millennium in Bretagne beoefen is.

Marlies Taljard. Marlies en Cas praat oor die bekoring van antieke tekste

Thursday, March 17th, 2011
Cas Vos

Cas Vos

Cas Vos is tans een van die produktiefste Afrikaanse digters. Een van die mees kenmerkende eienskappe van sy poësie is die fyn vormbeheer wat dikwels invloede van antieke poëtiese tegnieke toon. Hy maak ook veelvuldig gebruik van temas en motiewe uit antieke mites. In sy nuutste bundel, Duskant die Donker / Before it Darkens skryf Johann de Lange: “Cas Vos se gedigte word gevoed uit die antieke wêreld, die religieuse sowel as mitologiese, maar reik terselfdertyd ook uit na die moderne.”

 

Ek het met Cas gesels oor sy voorliefde vir mitologiese stof, maar ook oor die meer subtiele integrering van dié invloede op sy werk en sy menswees.

Marlies:

Cas, waar kom jou belangstelling in antieke tekste vandaan?

 

Cas:

Om predikant te word, is dit noodsaaklik om tekste uit die antieke wêreld te leer lees. Dit was nogal `n vreemde ervaring. Ek moes die Hebreeuse en Griekse alfabet  onder die knie kry. `n Heel nuwe grammatika was my voorland. Maar ek het dit met soveel plesier gedoen. Een van die groot redes was dat ek uitmuntende dosente gehad het. Prof A van Selms was seker die mees erudiete mens wat ek ooit ontmoet het. Hy het my geleer om `n teks noukeurig te lees, my aan die Semitiese wêreld voorgestel – stel jou voor, ek as jong 17-jarige leer ken met verwondering `n droomwêreld waarvan ek nooit geweet het nie. Prof van Selms kon byna alle Semities verwante tale praat, en dan ook nog Grieks en Latyn en alle ander tale wat by Babel ontstaan het. Hy kon spontaan passasies van Homeros uit sy kop opsê. By die merkwaardige en eksentrieke prof PV Pistorius het ek Grieks geleer. Ek het hierdie eerste liefde nooit verwaarloos nie, maar steeds bly lees. 

 

Marlies:

Dink jy ou Sumeriese mites kan vir moderne mense nog iets sê?

 

Cas:

Die Hebreeuse taal behoort tot die taalstam of –familie van die Semitiese tale, een van die grootste taalgroepe van die wêreld, naas byvoorbeeld die Indo-Germaanse (waaronder Grieks, Latyn, Frans, Engels, Duits, Nederlands en Afrikaans gereken word), die Hamitiese en die tale van Swartmense. Die Semitiese tale bestaan uit `n groot familie. Daar is die Oos-Semitiese of Akkadies wat die tale van Babilonië en Assirië bevat, waarvan die verskille meer van dialektiese aard is. Dan is daar die Noordwes-Semitiese groep wat uit die Kanaänities-Hebreeuse groep bestaan, waarvan die oudste en bekendste taalvorm Oegarities is. Oud-Egipties vertoon ook talle kenmerke van die Semitiese tale. Kopties, die kerktaal van die Egiptiese Christene, is die jongste loot van Egipties.

 

Hierdie kort oorsig oor die taalfamilie waarbinne die antieke wêreld gewortel is, maak dit duidelik dat sekere familietrekke in die taalfamilie voorkom. Een hiervan is mites. Met reg het Etienne le Roux geskryf: Die mens kan eerder sterf van honger, maar sonder sy mites kan hy nie klaarkom nie … sonder `n mite kan `n volk (en die individu) alle belange in die lewe verloor.

 

Die antieke wêreld wemel van mites: oor die gode, die kosmos, die hemelliggame. `n Mite is `n manier om na die wêreld te kyk, daaroor na te dink en dit te probeer verstaan. Dit is `n manier om die onsêbare te verwoord, om sin te maak van die onbegryplike dinge van die lewe. En hoe min begryp ons tog nie van die groot wêreld om en bo ons nie! Hoe praat `n mens oor God, die gode, die hemel, die oerbegin, die hiernamaals, of oor lyding, dood en onreg anders as deur taal?

 

Die woord mite het ook maar onder die skerp tong deurgeloop. Sedert die tyd van die digter Pindaros (5de eeu vC) word die woord as fiksie verstaan. Die Sofiste (`n groep denkers uit die 5de eeu vC) het `n onderskeid gemaak tussen logos (woord) en mythos (gesproke word). Hulle het beweer dat logos die “feitelike” weergawe van `n saak is, terwyl mythos na iets “onhistories” verwys. In die Nuwe Testament (1 Tim 1:4; 4:7; 2 Tim 4:4; Tit 1:14) word mites vereenselwig met stories of leerstellings wat onwaar is, met sinlose verdigsels, of met boodskappe wat mense mislei.

 

Maar daar is ook `n ander perspektief op mites. Die moderne mens is nie so modern as wat daar soms gedink word nie. Daar is niks nuuts onder die son nie. Die tyd waarin ons leef wortel in die antieke wêreld. 

 

Oor die hele wêreld heen vertel volke en individue mites. Dit sluit die skriflose kulture, byvoorbeeld in Afrika, Suid-Amerika, Indië, China en Australië in. Daar het mense hulle stories deur middel van mondelinge oorlewering vertel. Talle mites van die hoogkulture in Egipte, Mesopotamië, Persië, Griekeland en die Romeinse Ryk is oorbekend, asook die mites van oor-Asië, Japan en Mongolië, en die van die Kelte en volke uit Middel- en Noord Europa. Daar is ook mitiese elemente in die Jodedom en Christendom.

 

Verskillende soorte mites kan onderskei word: skeppingsmites – die skepping van die kosmos, mense en gode. Dan is daar die oertyd-mites. Dit is mites wat die huidige wêreldorde probeer verklaar. Gewoonlik vind daar `n transformasie plaas van `n vernietigde na `n nuutgemaakte wêreld; natuur- en kosmologiese mites (die son, maan en sterre word gepersonifieer as hoogste wesens of gode). In dié verband is die bekende voorstelling van die Egiptiese Songod. Die oggendson se naam is Kephre/Chepre, die middagson dra die naam Re en Atum is die son in die aandskemering. Wat hier opval, soos by talle godsdienste, is die volmaakte getal, drie. Met dié gegewe in gedagte, verkry Ps 19 vir die moderne mens ‘n heel nuwe betekenis. Verder is daar ook nog rituele mites, kultiese mites en prestige-mites waar die geboorte en dade van helde figure besing word (hiervan is die Gilgamesj-epos `n voorbeeld).

 

Sophokles, die Atheense digter, het oor die 120 dramas geskryf. Daarvan het net 7 volledig oorgebly. Maar dit is van die invloedrykste dramas waaronder Antigone, Elektra en Koning Oedipus. Die drama was die invloedrykste medium om van mites gebruik te maak (Buxton).  

 

Is mites nog vir ons vandag van betekenis? Natuurlik! Sonder om die funksies en aard van mites te verstaan, bly talle dele van die Ou en Nuwe Testament duister. En ook insig in die geheimenisse van die menslike psige. 

 

In die Ou Testament is daar die verhaal van die huwelik tussen godeseuns en mensedogters (Gen 6:1-4); voorstellings van die hemel of hemelvergadering (Job 1-2; Ps 89:6-8). Skeppings-motiewe, klaagliedere, himnes, wêreldbeeldvoorstellings, die godepanteon of hemelse hofstaat, die funksie van die son, sterre en maan in tekste van die Ou Testament weerklink in die mitiese verhale van Egipte, Oegarit, Ebla en Mesopotamië. Ek gee `n voorbeeld van die vis in die Jona verhaal (vgl DJ Human). Hoewel die see en die vis albei `n bedreiging vir Jona ingehou het, is al twee speelse voorwerpe in God se hande. Binne die antieke mitologieë is die see en die vis as sinspeling op die draakagtige seemonster, of Jam, in die godestryd van die Kanaänitiese skeppingsmitologie, uitruilbare voorstellings. Soos die vis die helde in antieke mitologieë ingesluk en uitgespoeg het, so het die antieke mense deur hulle sonmites uitdrukking gegee aan hoe die see saans die son insluk om dit die volgende dag weer uit te spoeg. Dan verskyn hy weer soos `n held om lig te gee. Daarom kan die vis (seemonster) ook `n verteenwoordiger van die see as `n vernietigende chaosmag wees.      

 

In Matt 14:22-23 bely die dissipels dat Jesus die Seun van God is omdat Hy mag oor die wind en die see het (vgl E van Eck). In die Ou Nabye Ooste (wat Israel ingesluit het) is die see as simbool van die chaos gesien. In die Babiloniese skeppingsverhaal (bekend as die Enuma Elisj) word vertel dat Mardoek die aarde geskep het deur vir Tiamat, die godin van die see, te oorwin. In die Oegaritiese Baälgodsdiens word die skepping op dieselfde wyse beskryf: Baäl skep deurdat hy vir Jam, die god van die see, verslaan. `n Verdere ooreenkoms tussen die Bybelse skeppingsverhale met die Babiloniese en Oegaritiese verhale is dat Tiamat middeldeur geskeur word, en Jam uitmekaar geskeur word wanneer hulle oorwin word. Só word die waters (seegod) van mekaar geskei, met bewoonbare droë grond tussenin.

 

Die antieke mites is anders as ons moderne mites – dit is meer óóp, maar laat ons anders na hierdie werklikheid kyk: Die Gilgamesj epos vertel in wese die eietydse verhaal van `n soeke na liefde, hebsug, seks, erotiek, geweld en die gode met maskers. Wie gister vergeet, kan vandag nie luister nie.

 

Marlies:

Hoe beïnvloed jou kennis van dié tekste jou wêreldbeskouing?

 

Cas:

Die lees van antieke tekste leer my om ruimer te dink. Die wêreld is groter as hier en nou. Die wêreld is vol groot (groter) geeste as ons. Die psalmdigters, Jesaja, Gilgamesj, Aristoteles, Plato, Sokrates, Homeros. Aristoteles se telos-begrip het `n stempel op die Christendom afgedruk. Alles het `n doel, `n telos. Daar is die Romeinse wêreld met sy literêre skatte. Wie Virgilius se werke nie gelees het nie, is nog arm.

 

Antieke tekste leer my ook veral om ander mense se sienings te respekteer en krities oor jou eie na te dink. Juis hierom het ek die ander nodig (Levinas). Die werklikheid is veel groter as wat ek my kan indink of verbeel(d).

 

Ek besef ook dat ek in `n lang ry van tradisies staan, die tradisies van die mensdom. Ek is maar soos die gode – die gode het voete van klei.

 

Marlies:

Dink jy dat kennis van antieke tekste jou in staat stel om die menslike kondisie beter te verstaan, m.a.w. gee dit jou insig in die psige en handelingspatroon van die mens as sodanig?

 

Cas:

Ongetwyfeld, ja. Tye verander, maar mense in baie opsigte nie. Nog steeds is daar gode in nuwe gedaantes. Gode het mense nodig en mense laat gode nie met rus nie. Die Gilgamesj epos gaan juis om die menslike kondisie: hebsug, erotiek, wellus, mag, stryd, liefde, lyding, droefheid. Al het die tye verander, bly die mens se hart nog dieselfde. Ek het die antieke gegewe probeer interpreteer en vir die mense van nou toeganklik en toepaslik probeer maak.

 

Marlies:

Hoe beïnvloed antieke mites en verhale jou poësie?

 

Cas:

Ek het een vakansie in `n myn gewerk. As skagwagter. Daar het ek gesien hoe dinamiet rotse oopskiet. Gedigte maak is om met dinamiet rotse oop te skiet en na die fyngoud te soek. Die antieke tekste is ryk aan satire, paradokse, metafore, vergelykings. In die Psalms kom talle poëtiese strategieë voor. Ek noem net enkeles: metafore, vergelykings, parallelismes membrorum( antitetiese en sintetiese parallelismes), klank- en woordspel, alliterasie, anafore, rym en assonansie. Inclusio kom voor waar `n gedig deur dieselfde gedagte ingelei en afgesluit word. Dit is juis die chiastiese opbou wat dikwels in die psalms voorkom, wat tot `n klimaktiese opbou lei. Anadiplose is `n tegniek waar `n woord in die laaste deel van die versreël weer opgeneem word in die eerste deel van die daaropvolgende versreël (vgl Ps 121: 1b en 2).

 

`n Digter bly lewenslank `n leerling. Ek het in die poëtiese leerskool van die antieke wêreld bly skoolgaan en die tegnieke vir my gedigte benut. Onthou, `n mens is nooit te oud om te leer nie! Die mites en verhale, hoop ek, het my digwerk verryk.     

 

In die Afrikaanse tradisie is dit nie vreemd nie dat die antieke wêreld inspeel op gedigte. Ek dink aan Van Wyk Louw wat die Griekse wêreld meesterlik ontgin het (Tristia), só ook DJ Opperman. Ek verwys verder na Opperman se pragtige gedig Jona. Daar is die invloei van die Zen-Boeddhisme en spore van die Christelike tradisie in Breyten Breytenbach se werke, die sterk Ou-Testamentiese onderstoom in TT Cloete se Job gedigte en die verwondering oor die kosmos, die invloed van die Christelike mistiek op Sheila Cussons se gedigte. IL de Villiers staan m.i. ook naby die mistieke tradisie van Sheila Cussons.

 

Dis ook waarom ek so aanklank vind by Anne Carson. Sy is `n klassikus wat van oerstof gebruik maak en dit digtend omtaal (vgl haar Nox). Al is Loftus Marais se  gedig, Wederkoms, `n satire, maak hy ook gebruik van `n voorstelling van die hel as plek van vuur. By die vuurpoort sal hy verduidelik dat sy catsuit “fire-resistant` is. Jan Willem Schulte Nordholt het talle gedigte met `n Christelike inslag geskryf (vgl sy Verzamelde Gedichten).

 

Marlies:

Dink jy moderne lesers verstaan die verwysings in jou gedigte – is dit regverdig teenoor die moderne leser om dié verwysings in jou gedigte te sit?

 

Cas:

Om gedigte te lees, beteken om tot verstaan te kom. `n Mens is nooit klaar met `n teks nie of anders gesê: `n teks is nooit klaar met jou nie. Daarom vra poësie nogal iets van die leser. Hy/sy mag/moet in die wêreld van die digter inkom. Die leser moet na sleutels soek om die deure oop te sluit, maar die digter moet ook sleutels gee. Dit word dan opwindend om die vele woonkamers van die poësie te betree. Natuurlik moet poësie nie so duister wees dat net die nag dit kan sien nie.

 

Hooglied (lied van liedere) is die mooiste lied oor die lyf en die liefde. Dit laat die liefdesvuur vandag nog vonk. Ongelukkig het die Afrikaanse vertaling fyn erotiese aanrakings verlore laat gaan. Maar dit staan nog in die Hebreeus. Gaan lees asseblief van die ou Egiptiese gedigte. Uit die liedere van Papirus Harris 500 kan jy `n Duitse vertaling lees:

 

Bin ich nicht hier bei dir,

und dein Sinn steht danach, (schon zu geben)?

(Willst du mich) nicht umarmen?

… das Vergnügen,

Wenn du danach strebst, meine Schenkel zu liebkosen …

 

Die Gilgamesj epos van 5000 jaar gelede is geskryf om Gilgamesj se pogings om onsterflikheid te bekom en sy avonture op die reis. Ek het die epos omdig (nie vertaal nie!), want ek staan voor `n spieël. Dis ek! Dis my hebsug, magslus, erotiek, liefde, verlange, verdriet, stryd en hoop wat hier afspeel. Die verlede blaai my hede en toekoms soos `n boek oop, al is dit in ander tye geskryf.

 

Die meesterlike gedig van CP Cavafy, Ithaca, is gegrond op Homeros se Odusseia. Dit is `n gedig wat in elke hart behoort te leef.

 

Ek besef ek is `n mens. En soos in die antieke tye troetel ek ook my gode. En tog leef ek vandag met verwondering en verwonding. 

 

Om gedigte uit die antieke wêreld te voed, beteken om die woorde van die Griekse digter George Seferis wat `n ander oogmerk met sy gedig het, hier toe te pas:

 

Just a little more

And we shall see the

Almond blossom

The marbles shining in the sun

The sea, the curling waves.

Just a little more

Let us rise just a little higher. 

 

Dit is die avontuur en opwinding wat die invloei van die antieke wêreld in eietydse gedigte moontlik maak.