Posts Tagged ‘Mont Pelaan’

Johann Lodewyk Marais. Dwaalspruit

Tuesday, August 18th, 2009

My vriend Frik Steyn van die plaas Venus naby Mont Pelaan in die distrik Harrismith sê nou eendag:

“Jy weet, Dwaalspruit het die regte naam.”

Die vorige jaar se goeie reën het naamlik daartoe gelei dat hierdie spruit, wat rondom Pelaan ontspring en later in die Meulrivier invloei, sy loop op ‘n hele paar plekke verander het.

Op die plaas Groothoek loop die spruit nou skaars nog onderdeur die bruggie in die grootpad – daar waar hy altyd geloop het. Daar het die spruit nou byna heeltemal toegeslik en oral staan die riet hoër en weelderiger as wat ek dit nog ooit gesien het.

‘n Entjie verder af met die spruit se loop lê ook ‘n groot stuk vlei waar selfs in die winter nog baie water was. Vir watervoëls behoort dit hierdie somer ‘n ideale kuierplek te wees. (Ek het my nou die dag by die bruggie aan ‘n hamerkop verkyk.)

Dat Dwaalspruit vol verrassings kan wees, het ek al geweet toe ek nog op Mont Pelaan op skool was. Moes ons dan nie meer as een keer op ‘n Maandag ‘n draai ry om by die skool uit te kom omdat die spruit oor sy walle geloop het nie? En was die spruit dan nie vol geelvis nadat dit goed gereën het nie?

Dwaalspruit is inderdaad ‘n spruit vol kronkels. Op ‘n topografiese kaart kan hierdie kronkels mooi gesien word. Langs die spruit is daar ook nog heelwat ou lope van die spruit te siene. Of osbogte – daardie mooi woord waarmee die geograwe ‘n ou loop van ‘n rivier of spruit benoem.

Ja, my vriend Frik het Dwaalspruit al goed bekyk. Daarom weet hy dat die spruit se naam so gepas is.

En natuurlik het ook daardie digter dit geweet wat lank, lank gelede aan hierdie onrustige, hebbelike spruit sy naam gegee het.

Johann Lodewyk Marais. Die berge se geheue

Saturday, August 8th, 2009

Op 5 Desember 1997 is oom Jan Fourie van die plaas Cecilia naby Skeurklip uit die NG Moedergemeente op Harrismith begrawe. Hy was 80 jaar en sterk, het dominee De Jager gesê, maar daar is nie nog 80 jaar nie. Dit het tyd geword.

Ek het in Pretoria eers om vyfuur die oggend op die dag van sy begrafnis van sy dood gehoor, maar het dadelik besluit om die diens om elfuur op Harrismith te gaan bywoon. Ek het immers onder sy oë grootgeword en by hom baie oor die berge en sy mense geleer.

Oom Jan het “windpompe opgesit” en sy eie grond verhuur. Met sy groen, en later grys, Volkswagen-bakkie het hy die wêreld platgery en ingery waar die meeste mense dit deesdae verkieslik met ‘n 4×4 sal waag. Op dié manier, en omdat hy ‘n paar keer as sensusbeampte opgetree het, het hy die distrik soos die palm van sy hand leer ken.

Boere het hom graag gevra om te kom help om water aan te lê en ander take te verrig. Oom Jan, met sy bruin weermagstewels en groot, growwe hande, was ‘n bekende gesig by ‘n windpomp: besig om met ‘n bobbejaanspenner aan die pype te werk of, vreesloos bo-op die platform, besig om aan die kop te vroetel.

Niemand het oor sy werk gekla nie. Hy was ook ‘n welkome gas, want hy kon lekker gesels. Iemand met ‘n aansteeklike jovialiteit. Ek het graag geluister (en tande getel!) as hy iets vertel en beduie, en kon my as kind verkyk aan die koperarmband wat hy altyd gedra het teen die rumatiek.

Maar ek het hom ook op ‘n ander manier leer ken. Sy kinders het, soos ek, by mnr. Gert Olivier op Mont Pelaan skoolgegaan. Elke week het ons ouers beurte gemaak om ons skool toe te neem, sodat ek gereeld saam met oom Jan gery het.

Hy het geweet wie op watter plaas bly én wie vroeër daar gebly het. Hy kon ook vir jou sê waar Groothoek se eerste winkel gestaan het, en dat daar ‘n ou kerkhof aan die oorkant was.

Hy het geweet waar en wanneer die vliegtuig teen die Witkoppe vasgevlieg het. Wanneer Barry Swarts die laaste bruinhiëna geskiet het. Waar daar ‘n vergete pas in die Drakensberge is. Wanneer die Steyns op Santiago (waar daar voorheen ook ‘n polisiepos was) die laaste keer hulle beroemde appels verkoop het.

Waar jy geelhoutbome kry. Waar die witkruisarende broei. Waaraan ‘n geelvis die graagste byt. Wanneer dit laas behóórlik gekapok het.

Vir my was hy ‘n bron van kennis en wysheid. Sonder hom sou ek kwalik ‘n digbundel soos Palimpses (1987), waarin ek my plaasherinneringe opgeteken het, kon skryf. My gesprekke met hom in later jare is van my kosbaarste herinneringe.

Ek het voorgestel dat die volgende woorde op oom Jan se grafsteen in die Harrismith-begraafplaas moet staan: Hy was die berge se geheue. Dit is daarop aangebring.

  •