Posts Tagged ‘“Môre en gistraand en die einde van die maand” deur Philip de Vos’

Resensie: Môre en gistraand en die einde van die maand (Philip de Vos)

Tuesday, June 7th, 2022

 

 

 

Resensie: “Môre en gistraand en die einde van die maand” deur Philip de Vos. Human & Rousseau, 2022.  ISBN: 9780798182713 Prys: R250.00. Sagteband. 96 bladsye

Resensent: Joan Hambidge

I

Philip de Vos is die meester van stuitige, speelse ryme. Soos Ronnie Belcher, laat hy dit moeiteloos en maklik lyk, maar die sogenaamde nonsense verse – soos Ogden Nash ons geleer het – is ‘n vers wat eise stel aan ritme, metrum en rym.

Frederic Ogden Nash (1902 – 1971) was ‘n produktiewe Amerikaanse digter wat meer as 500 humoristiese verse geskryf het. Soos:

 

The Cow

The cow is of the bovine ilk;

One end is moo, the other, milk.

 

En:

 

Reflections on Ice-Breaking

Candy

Is Dandy

But liquor

Is quicker.

 

https://web.cs.dal.ca/~johnston/poetry/cow.html Besoek 1 Junie 2022

 

Daar is natuurlik ook Dorothy Parker (1893 – 1967) wat speelse én aserbiese verse kon skep soos “Resumé”:

 

Razors pain you;

Rivers are damp;

Acids stain you;

And drugs cause cramp.

Guns aren’t lawful;

Nooses give;

Gas smells awful;

You might as well live.

 

https://www.poemotopia.com/best-poems/dorothy-parker/#10-resum Besoek 5 Junie 2022

 

En beroemde aanhalings:

 

“If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to.” …

“The first thing I do in the morning is brush my teeth and sharpen my tongue.”

 

Die digter Daniel Hugo het ‘n bloemlesing Speelse verse in 1988 saamgestel wat by Tafelberg verskyn het. In sy bundel Die panorama in my truspieël (Protea, 2009) staan hierdie spulse een:

 

“Verdubbeling”

snags terwyl die naakslakke

op die sitkamer se mat

blink spore maak

 

doen ons op die dubbelbed

(ná ‘n paar doppe)

ons eie slakding: naak.

(45)

 

II

De Vos se Môre en gistraand en die einde van die maand, uitgegee deur Human & Rousseau, is nie swaar, gewigtige gedigte nie, maar vir die lekkerlees en lekkerlag. Daar is kopknikke na Nash, Boerneef, Hugo, die reeds genoemde Ronnie Belcher (1932 – 2006) wat ons vermaak het met die volgende juwele:

 

Dis die juk dis die skei
ek is hier om te bly
as my besie vannag
in jou klofie kan wei

*

Die rooihaarflerrie
met ‘n kop van kerrie
vir almal sê sy
I love you very.

*

Die graf is toegegooi
jou plek is leeg in die kooi
die suster wat die kranse pak
hoe buk sy dan so mooi

 

https://www.litnet.co.za/ronnie-belcher-se-speelse-bekoring-leef-voort-in-van-heidebos/  Besoek 31 Mei 2022

 

De Vos se verse is stuitig, soms seer en navrant. Daar is ‘n satiriese blik op die taal wat ou woorde wegstoot en woorde soos “stunning” inspan (70):

 

Boksemdaais en pakkerasie

kaggelkakkies denudasie

lanterfanter poelpetater

oulap en kasaterwater

tierelier en verfomfaai

pampelmoes en nagkabaai

sapperloot en bullebak

koekerasie skobbejak,

maar nou moet oupawoorde wyk

as ons van vooraf als bekyk

en kan ons lekker asemhaal

met ‘n nuwe

awesome

stunning taal (70).

 

Die afdelings beweeg van Soetlemoen tot suurlemoen tot Tussen son en tussen maan na Vlytig en soms stuitig tot Freneties alfabeties na Bondig soms sondig.

Hier is ook verse wat jou laat skater:

 

‘n Lyk met ‘n pruik

klink dalk ietsie aardig

maar tog is hy heen

ordentlik en waardig.

(78)

 

Wat doen ‘n ou

as hy styfsiekte kry

en dis nie van Viagra

of Take One A Day?

Dis maar net die jare

en plaak in die are.

Dis iets uit die bose:

Osteoporose.

(42)

 

Tussen die suur en die soet. Die stout en ootmoed. Die lag met die traan.

Hierdie soort vernufsvers is uiteraard stout en politiek-inkorrek.

 

Dis ‘n gore

roesemoes

as jy vir woorde

duik en koes:

Poespas

proos

en piëlitis

kakkerlakke en mastitis

snotterbel en koekeloer

gatvol, goor en perlemoer

tonteldoos en ook koerasie

poësie en wiesiewasie.

Voel jy besmet

en half ontklee?

Blameer gerus die HAT.

(66)

 

Die inlees van woorde se verhulde, stout betekenisse kom na vore. Die twee belangrike woorde met deeltekens is op die e in hoërskool en poësie. Val dit af, word dit iets anders …

En ryme word benut. Kyk maar weer na hoe geestige digters dit benut soos Nash, Parker, Belcher …

Die geestige vers neem jou terug na die woord as woord. As klank, met dansende woordspel, assosiasies en ryme.

By geleentheid het Hennie Aucamp gewaarsku:

 

Die geestige vers en die vernufvers het hulle eie ingeboude gevare. ’n Leser kyk, om beeldspraak by te haal, hoe ’n digter in sy vers klippiehink oor ’n rivier; van klip tot klip, tot aan die anderkant van die rivier. Hy kyk met “sympathetic suspense”, soos Elizabeth Bowen op ’n keer gesê het; en dan, op nommer laaste, by die laaste klip, val die digter in die water. Kortom, die slot van die gedig is iets van ’n antiklimaks; geforseerd of flou of gemeenplasig.

https://versindaba.co.za/2009/04/28/die-panorama-in-my-truspieel/ Besoek 5 Junie 2022

 

Ek dink Philip de Vos pypkan dit netjies.

 

Die son kom op.

Die son die sak.

Ek hang my droom

aan ‘n boom se tak.

(90)

 

III

 

Dis gedigte vir die lekker-lag en lekker-huil.  Dit sluit aan by die bundels Die deng van Gauteng (1995) en Limericke vir die lekkerte (2003).  En die heerlike Die Worcester Asporcester en ander lustige limericke (1989). De Vos, terloops, is een van die meesters van die limerick in Afrikaans.