Posts Tagged ‘Mozart’

Philip de Vos: Goodbye and Hello

Friday, October 5th, 2012

Vanoggend vroeg het ek skielik aan Athol Fugard gedink, maar nie dat ek eintlik veel van hom of sy werk weet nie, maar dit is ook maar net ’n bietjie om ander mense te beïndruk met my formidabele kennis wat eintlik maar ’n bietjie vlak lê. En hierdie opening-sin is maar net daar omdat ek op skool geleer het dat opstelle ’n begin en ’n middel en ’n einde moet hê. En die joos alleen weet waarom hierdie goeters uit ons kinderjare opstelle genoem is. En die Engelse woord compositions klink nog meer belaglik, want Beethoven se 5de is moontlik ’n composition, maar ek twyfel of My dag op die Plaas, waarvoor mens in elk geval 4 uit 10 gaan kry, die woord gestand kan doen.

En al klaar kom ek agter dat ek aan die afdwaal is, maar vir iemand soos ek met AADD (Adult Attention Deficit Disorder) vir die oningeligtes wat dalk nie weet wat hierdie afkorting beteken nie, het ek ook sommer ’n paar minute bespaar en hoef hulle nie sommer die woordeboeke nader te sleep nie.

O ja, Athol Fugard. Ek het darem al ’n paar van sy titels gehoor al het ek nie die toneelstukke gesien nie. En dis alles te danke aan Kaapstad se destydse Space-teater in Langstraat. Ek onthou nog Boesman en Lena en natuurlik Hello and Goodbye, maar in vandag se geval is dit miskien liewers ’n geval van Goodbye and another Hello na my stilte van die afgelope paar maande. Tog voel ek ook vandag half en half soos die Bybelse Lasarus en ek weet nie of hierdie Nuwe Testamentiese skepsel werklik iets te sê gehad nadat hy weer opgewarm is nie.

In my geval, gaan dit seker baie min wees. Baie min oor die letterkunde, maar oor ander dinge miskien so ’n bietjie. En sommer om te wys hoe slim ek is, kan ek sommer so dan en wan ’n versie aan die einde van die blog indruk, met die hulp van die internet natuurlik.

Ek twyfel of ek vandag verder as hierdie inleiding gaan kom, want ek het my die afgelope vier maande kapot gewerk aan ’n radio-reeks Mozart – die Musiek en die Mens. En hierdie eerste inskrywing is dan ook sommer onbeskaamde advertensie vir dié reeks wat op Sondae vanaf 7 Oktober tussen 10:00 en 11:00 soggens op die RSG-sender 100 – 104fm) vir 13 weke uitgesaai gaan word.

 

 

Dit was my eerste paragraaf. Die middel en die einde, plus ’n versie aan die einde kom hopelik eendag later.

 

 

Philip de Vos. Op die dood van Thomas Linley

Monday, June 28th, 2010

 

 

(Gainsborough-skildery van Elizabeth Linley
en haar broer Thomas op ouderdom 12)
Hierdie inskrywing is maar slegs ’n toevoeging van dit wat ek alreeds oor Thomas Linley op hierdie blog geskryf het.

Sien ook:

 

 

 

en

 

Terwyl hy en sy vader Leopold in 1770 op reis was in Italië, ontmoet Wolfgang, die wonderkind van Salzburg, vir Thomas Linley, die wonderkind van Bath in Engeland; beide seuns slegs 14 jaar oud.

Dit gebeur op 2 April 1770 by die huis van die digteres Maddalena Morelli wat bekend was onder die skrywersnaam Corilla Olimpica. Vandag is sy vergete, maar Casanova het wel in sy memoirs geskrywe: “Dit word gesê dat as Corilla Olimpica met haar skeel oë na enige man in die geselskap kyk, sal hy sekerlik op haar verlief raak.”

 

 

Mozart het alreeds op ouderdom vyf sy eerste musiekstukke geskryf en selfs ’n opera op ouderdom 12.

Thomas Linley daarinteen het sy eerste vertoning op die verhoog as Puck in The Fairy Favour op ouderdom elf gemaak. Op 1768 toe Gainsborough ’n skildery van hom en sy suster Elizabeth. ’n skoonheid en uitstekende sopraan gemaak het, het hy alreeds 6 vioolsonatas geskryf waarvan net een vandag nog bestaan en in Florence het hy, onder die beroemde vioolmeester, Nardini, gestudeer.

Wolfgang Mozart se vriendskap met Thomas Linley het slegs vyf dae geduur en in in hierdie vyf dae het hulle saam musiek gemaak – nie soos seuns nie, maar soos mans, volgens sy vader se beskrywing in een van sy briewe.

Op 7 April het die Mozarts Rome toe vertrek en Thomas het bitter trane geween toe hy van hierdie vroeë afskeid verneem het en op die oggend van hulle vertrek, het hy vir Wolfgang ’n sonnet oorhandig wat hy namens hom die vorige aand deur Corilla Olimpica laat skryf het:

 

 

Merkwaardige oomblik, geseënd is die dag:

Ek het jou hoor speel, en het gode aanskou.

Vir my het geluk en die waarheid bly wag.

Toe kom die besef dat ek lief is vir jou.

Die dag was vol blydskap,vol vreugdes en lag.

O, mag ek dié oomblik vir ewig onthou..

 

Alhoewel die Mozarts van plan was om weereens Florence te besoek, het dit nie gebeur nie en het die twee seuns mekaar nooit weer gesien nie.

Vandag bestaan daar nog net een brief wat Wolfgang op 10 September 1770 aan Thomas geskryf het:

 

My liewe vriend,

Hier is uiteindelik ’n brief! Ek is wel laat met my antwoord na jou sjarmante brief wat ek in Napels ontvang het, wat ek eers gekry het twee maande nadat jy dit geskryf het … My vader se plan was om na Loreto te reis via Bologna en dan na Milan via Florence. Dan sou ons jou met ’n besoek verras het. Maar daar was ’n ongeluk met die koets. Een van die koetsperde het geval en my vader het sy been só beseer en hierdie ongeluk het ons geforseer om ons reisplanne te verander …

… Hou my in jou vriendskap en glo daarin dat my toegeneentheid vir jou vir ewig sal duur.

Jou liefdevolle vriend

AMADEO WOLFGANG MOZART

 

Agt jaar na die ontmoeting, op ouderdom 22 verdrink Thomas in die meer by Grimsthorpe Castle en word hy begrawe in die grafkelder van die Hertog van Ancaster in die nabye dorpie Edenham.

En in daardie agt jaar tussen 1770 1n 1778 skryf Mozart onder andere sy vroeë operas, sy Salzburg simfonieë en sy vyf vioolkonserte.

In daardie jare na sy terugkeer uit Italië word Thomas die eerste violis in sy pa (Thomas Linley snr) se orkes en gaan woon hulle later in Londen waar die vader ’n mede-eienaar word van die Drury Lane Teater. En hierdie was ook die tydperk van een van die groot skandale van die laat agtiende eeu met Thomas se suster se wegloophuwelik met die dramaturg Richard Sheridan.

 

 

Gainsborough-skildery van Elizabeth en Mary Linley)

In hierdie agt jaar skryf Thomas grootste werke vir koor en orkes. Werke soos sy Lyric Ode on the Fairies, Aerial beings and Witches of Shakespeare. Ook musiek vir The Tempest, drie kantates en sy laaste werk The song of Moses wat ’n jaar voor sy dood geskryf het.

Dan was daar musiek vir The Duenna, ’n opera waaraan hy met sy vader saam gewerk het. Ook 20 vioolkonserte. In ’n teaterbrand, iets wat algemeen was in die agtiende eeu, is negentien van hierdie konserte deur vlamme vernietig en vandag is daar maar ’n enkele vioolkonsert wat oorgebly het.

In Augustus 1778 het Thomas en sy jonger suster Mary Grimsthorpe Castle in Lincolnshire besoek, hy, as violis, en sy as sopraan.

Op 7 Augustus het Thomas en twee jong mansvriende op die meer gaan vaar.

Op die 11de Augustus het die Morning Chronicle in Bath berig “Thomas Linley at the tender age of 22 fell into a lake belonging to his Grace the Duke of Ancaster and was unfortunately drowned: he remained under water full forty minutes, so that every effort made use to restore him to life proved ineffectual.”

 

 

Kort daarna is Thomas in die grafkelder van die Hertog van Ancaster in Edenham begrawe

Mary moes na Londen toe reis om die verskriklike nuus aan haar ouers oor te dra. Die skok was so groot dat sy vir weke lank siek was. En die nuus van sy seun se dood was iets waarvan die vader nooit herstel het nie. ’n Paar maande daarna het een van sy leerlinge die volgende geskryf:

Mr. Linley was at the harpsichord during a rehearsal of a play. when Mr. Aicken gave an impressive description of a promising young man, Mr. Linley’s feelings could not be repressed, the tears of mental agony rolled down his cheeks; nor did he weep alone, the cause of his distress was too well known not to obtain the tears of sympathy from many who beheld his flow so fast.”

’n Paar maande daarna is sy agttienjarige seun Samuel wat die hobo bespeel het, aan koors oorlede, maar niks het hom soveel geraak as die dood van sy geliefde, talentvolle seun Thomas nie.

Thomas se dood het ook ander diep aangeraak. Sy suster, Elizabeth, het ’n broer verloor en die volgende reëls neergepen:

 

 

ON MY BROTHER’S VIOLIN

Sweet instrument of him for whom I mourn,

Tuneful companion of my Lycid’s hours,

How liest thou now neglected and forlorn.

What skilful hand shall now call forth thy powers?

Ah! none like his can reach those liquid notes,

So soft, so sweet, so eloquently clear,

To live beyond the touch, and gently float

In dying modulations of the ear.

 

En ’n anonieme persoon het A Monody geskryf – ’n epiese dertien bladsye gedig wat begin met Milton se woorde.

 

He must not float upon his watery bier

Unwept, and welter in the parching wind

Without the meed of some melodious tear.

 

Ek haal maar enkele reëls aan uit hierdie gedig van 13 bladsye met sy talle Mitologiese verwysings; na die Muse en eoliese winde, en waternimfe

 

 

MONODY

on the Death

of Mr. Linley

Ah me! What means these melancholy strains?

Why thus depressive sounds Apollo’s lyre?

Why from Caliope’s once cheerful brow

Is fled her wonted fire?

Why in that pensive posture does she sit,

Her lute, the source of melody thrown by?

And ev’ry Muse, through sympathetic woe,

Her pleasing talk forego?

Ah why?

…. Say, aged shepherd, say

What dire event has happened since this morn?

… Hast thou not heard? replied the hoary Sage,

Hast thou not heard the tidings Fame has brought

From sea-girt Britain’s shore?

The unsparing Fates cut short his vital thread,

And breathless he now lies on a cold wat’ry bed

 

In agtiende eeuse Engels word die verdrinking beskrywe toe Thomas met sy vriende op die meer gaan vaar het:

 

This morn, so Fame reports, the ill-fated youth,

Sported upon the glassy lake which lies

Within the extensive boundaries

of noble Ancaster’s paternal seat,

In a gay boat but ah! how void of truth!

For tho’ she looked so gay, so trim so neat,

Unfaithful to her trust, she yielded soon

to the rough blast of Aelous and e’er noon

Betrayed her treasure to his unseen foe,

 

In dié gedig is Thomas Linley die jong man wat met sy lier wat die waternimfe met sy spel kombetower.

 

As the young swain, the cause of our late woe

Skimmed over the lake, in the gay, faithless boat,

A band of beauteous Naiades gathered round

Enraptured by the music of his lyre,

But when they saw his fatal overthrow,

And on the waves his breathless body float,

They ceased their sport, and in their snowy arms

Conveyed him to their marble-paven hall

Beneath the lake; where free from further harms

They gently laid him on a mossy bed,

and with aquatic flowers raised high his languid head.

 

En na sy verdrinking neem die waternimfe hom na hulle onderwater-ryk en verrys hy in ’n nuwe vorm om steeds die mens met sy musiek te verryk

 

 

No less young Linlaeus joy’d to find his fate thus chang’d

Awhile in wonder lost around he gazed;

The fretted crystal roof he viewed amazed,

And o’er each sparkling gem his eyballs ranged.

But when his head he reared,

and saw of lovely nymphs, so fair a herd,

Transported he arose, and snatched his lyre,

which from his grasp no wind nor waves had torn;

Inflamed with all his radiant father’s fire,

And on the wings of fancy, tow’ring borne,

He raised such heavenly sounds as ne’er before …

 

In 1826 skryf die Engelse tenoor Michael Kelly wat oorpronklik die rol van Don Basilio in Die Huwelik van Figaro gesing het die volgende oor ’n latere ontmoeting met Mozart:

He (Mozart) conversed with me a good time about Thomas Linley, the first Mrs. Sheridan’s brother with whom he was intimate in Florence, and spoke of him with great affection. He said that Linley was a true genius; and he felt that, had he lived he would have been one of the greatesty ornaments of the musical world.

In 1791 het Mozart gesterf en in ’n arm-mansgraf begrawe. Waar, presies, weet niemand meer nie.

In 1909 is die kerker by Edenham, waar Linley begrawe is, oopgemaak en van die oorskot van Thomas Linley, die wonderseun van Bath was daar geen teken nie.

Toe ek in 1990 my novelle TRAZOM oor die Mozart/Linley-vriendskap geskryf het, het ek ’n plaket laat maak vir hierdie byna vergete komponis wat eenkeer saam met Mozart musiek gemaak het en vir vyf dae vriendskap kon ervaar.

 

 

Philip de Vos. ‘n Sonnet vir Mozart

Saturday, June 19th, 2010

Op 13 Desember 1769 vertrek Leopold Mozart en sy seun Wolfgang uit Salzburg op pad na Italië toe. Anders as met hulle vorige reise sou Wolfgang se moeder en sy suster Nannerl alleen agterbly.

Op 14 Desember skryf Leopold reeds huis toe en Wolfgang met spelfoute en skryf ’n kort boodskappie vir sy ma:

My liefste Mamma,

My hart is vol plesier want dit is so lekker op hierdie reis, en dit is so heerlik warm in die koets, en omdat die koetsier so vinnig jaag as wat hy kan wanneer die pad dit toelaat … Pappa het seker al al die nuus vertel, maar die rede waarom ek skryf, is omdat ek weet wat my plig as ’n gehoorsame kind is.

Met diepste respek

Wolfgang Mozart.

 

Die persoon wat hier skryf is ’n seun van 13 wat reeds twee operas Bastien und Bastienne en La finta semplice gekomponeer het; ’n seun wat reeds vanaf ouderdom ses saam met sy suster dwars oor Europa gereis het om die adel met hulle talente te beïndruk. Altesaam 5 en ’n half jaar weg van die huis af en nou weereens op pad.

Wolfgang Mozart en lewe is só goed gedokumenteer dat ons vandag 219 jaar na sy dood selfs weet wat hy op ’n sekere dag gedoen het, danksy briewe wat bewaar gebly het, en danksy Otto Erich Deutsch se Mozart a Documentary Biography, waarin hy alle bestaande dokumente en koerantberigte kon versamel sodat ons self weet dat hulle byvoorbeeld op 15 Desember Schwaz teen die middaguur bereik het en Innsbruck om 17h30 waar hulle toe by die Herberg van die Wit Kruis tuisgegaan het!

Vir my persoonlik het hierdie reis belangrik geword omdat dit deel van my navorsing geword het toe ek destyds TRAZOM geskryf het en wat later as Tot siens, Tommasino heruitgegee is.

Wat vir my eintlik interesseer is al die lofuitinge wat die jong seun op pad ontvang het na sy konserte voor die Italianers. En dikwels was hierdie lofuitinge slegs ’n paar versreëls, of sonnette om die wonderkind te besing.

So byvoorbeeld besing die Veronese digter Meschini hom in Italiaans in vroeg-Januarie:

 

VIR AMADEO MOZART

LIEFSTE KIND

EN MEES ELEGANTE

VERTOLKER

VAN ANTONIO MARIA MESCHINI

VAN VERONA

If Orpheus enraptured the forests.

if Tartarus he moved

Now thou stealest men’s hearts, child

and movest the stars

(Engelse vertaling uit Otto Deutsch)

 

En ’n paar dae daarna weereens ’n lofgedig van ’n Veronese digter, hierdie keer ’n sonnet van Zaccaria Betti

 

’N SONNET

VIR SIG AMADEO MOZART,

DIE BEWONDERINGSWAARDIGE

JONG SEUN:

If with his lyre from celestial heights

Cupid divine awakens lovely strains,

Then how can we on earth, with all our pains

And errors ever set our songs to rights?

Well may we, charming boy, accord thee praise,

If thou reformest music with thy art;

May nature shape for better in thy heart

The strains the god’s inspired plectrum plays.

You, who for years have struggled to attain

The blessing and the flavour of your art,

And hoped harmonious mastery to gain,

I am not wrong, you know it in your heart,

If I declare that his enchanting strain

Alone is godlike in its ev’ry part.

(Engelse vertaling uit Otto Deutsch)

 

 

En kort daarna ’n lang gedig van Signora Sartoretti, weereens met woorde om te sê hoe wonderlik hy is, tesame met pommade vir sy hande en ’n paar muntstukke:

See how his fingers move,

Here with what art

He makes the keys respond

In ev’ry part;

How he to you imparts

All his accomplished arts.

 

Na al die jare het hierdie gedigte seker alleenlik waarde vir die interessantheid daarvan.

Tog is daar een wat my ontroer en wat deel van my novelle geword het.

Mozart het tot sy dood ’n kind gebly. sy suster Nannerl het dit wel gesê. Tog was hy nooit werklik kind met kans vir kindervriendskappe nie.

En tog – op hierdie reis het hy vir Thomas Linley ontmoet – ’n 14 jarige wonderkind uit Engeland.

In Florence het die twee seuns ontmoet. Trouens in Otto Deutsch se biografie kan ons lees:

Op 2 April het die vader en seun die digteres Signora Morelli wat onder die naam Corilla Olimpica besoek waar hulle die jong violis Thomas Linley ontmoet het.

Op 4 April het Mozart en Linley duette gespeel by Herberg van die Arend.

Op 5 April het Mozart en Linley duette gespeel by die huis van Gavard.

Op 7 April het Linley vir Mozart ter afskeid ’n sonnet gebring wat namens hom deur Corilla Olimpica geskryf is.

In ’n brief aan sy vrou skryf Leopold oor hierdie sonnet:

Klein Tommasino (Thomas Linley) het ons huis toe vergesel en het bitterlik gehuil omdat ons die volgende dag sou vertrek… Hy het ons om negeuur die oggend besoek en het vir Wolfgang omhels en ’n sonnet gegee wat signora Corilla die vorige aand vir hom geskryf het:

 

OP DIE VERTREK VAN SIGNOR WOLFGANGO

AMADEO MOZART UIT FLORENCE

 

Die Noodlot bepaal dat ons twee nou moet skei

in drome alleen mag ek saam met jou reis.

Ons lag en ons blydskap word trane wat bly

en Hoop staan verslae in die ou Paradys.

Dis jóú melodieë wat harte so raak

en Eden vertoon deur die soet Harmonie.

In Hemelse sale sal ons dan ontwaak

dié skoonheid en vreugdes ken sterflinge nie.

Merkwaardige oomblik, geseënd is die dag:

ek het jou hoor speel en het gode aanskou.

Vir my het geluk en die waarheid bly wag.

Toe kom die besef dat ek lief is vir jou.

Die dag was vol blydskap en vreugdes en lag,

O, mag ek dié oomblik vir ewig onthou.

 

As teken van my agting en toegeneentheid

       – Thomas Linley

 

(my eie Afrikaanse vertaling uit TRAZOM/Tot siens, Tommasino)

 

Wolfgang en Thomas Linley het mekaar nooit weer gesien nie en 8 jaar daarna het Thomas op ouderdom 22 verdrink.

 

 

  •