Posts Tagged ‘Mustafa Atatürk’

Desmond Painter. Bouvalle en murasies

Thursday, July 14th, 2011

Terug in Stellenbosch na drie weke in Thessaloniki en Istanboel. Die een stad is in Griekeland, die ander een in Turkye. Deesdae. In beide stede word jy egter heeldag gekonfronteer met geskiedenisse en lewende praktyke wat hierdie genasionaliseerde onderskeid, en dalk die idee van die nasie-staat as sodanig, amper ‘quaint’ laat lyk. ‘n Onlangse politieke affektasie. ‘n Verbygaande aanwensel.

Thessaloniki

En in elk geval, Thessaloniki is maar eers in 1913 deur moderne Griekeland geannekseer. Vir baie eeue voor dit was Thessaloniki naas Istanboel (voorheen Konstantinopel) een van die belangrikste stede van eers die Bisantynse en daarna die Ottomaanse ryk. Twee van die twintigste eeu se mees ikoniese Turke, die staatsman Mustafa Atatürk en die digter Nazim Hikmet, was boonop in Thessaloniki gebore.

Beide hierdie stede weerspreek (dikwels teen die sin van hulle heersende elites!) die idee dat homogeniteit, monotaligheid en ander vorme van ‘suiwerheid’ ‘n natuurlike en standhoudende kulturele en politieke staat is; en dat hibriditeit net ‘n modieuse, verbygaande slagspreuk is.

In Thessaloniki bestaan die ou moskees immers nog steeds soos paddastoele in die skaduwee van die woonstelblokke — die Arabiese inskripsies op die mure is verbleik maar nogtans sigbaar. In Istanboel kan jy Christelike ikone en muuskilderye bewonder in kerke wat later moskees geword het. En so kan ‘n mens aangaan: suiwerheid is ‘n illusie, en boonop een wat die werklikheid van kruisbestuiwing en beweging net vir ‘n paar dekades lank kon fnuik.

Bisantynse ikoon, Istanboel

Beide stede word vandag opnuut gediversifiseer en verander deur nuwe aankomelinge — migrante en vlugtelinge uit die Midde-Ooste, uit Afrika, uit Oos-Europa. Deur besigheidsmense en toeriste. Ons ervaar iets van die glorie van hierdie stede in hulle bouvalle en murasies. Waarom dan die tyd wil stol?