Nini Bennett. My Octopus Teacher
Friday, March 11th, 2022
My Octopus Teacher
daar waar die naakslakke blom,
kelpwoude wuif
en jellievisse
se valskerms sweef –
daar was jou den
dag 1 het jy jou mantel vir my
geswaai en verander
in ’n altaar
molluske en skulpe
my koppotige geliefde, klein
swendelaar van die see
elke dag het ek gaan duik – ’n marienejaar
is lank en ’n seekat se vertroue
broos; ek het jou gesoek in die skemerland deur
koraalriwwe en sponse, seekastaiings
en -sterre, sakpype en pylsterte
meer as 300 dae jou
kulkunsies om te oorleef,
aanskou
2000 suiers: jou vingers oor my bors,
8 arms wat ’n menselyf omhels
en wanneer jy droom, verander jy van kleur
laat hulle dit weet,
die anemone en die weekdiere,
die seelelies en die rogge
jy’t vinnig geleef en jonk gesterf jy’t alles
oorleef
maar die volgende siklus
het aangebreek: duisende eiers
en jý, weerloos in jou den –
die pajamahaaie het gekom
in ’n vorteks visse het jy
verdwyn
nou duik ek alleen, maar oral om my
sweef jou gees
koppotig, oergees van die see
© Nini Bennett, 2022
* Na die bekroonde dokumentêre film, My Octopus Teacher (2020).