Posts Tagged ‘Nadine Gordimer’

Nini Bennett. Olga Kirsch se Engelse poësie: ’n ballingskap van swye

Thursday, January 27th, 2022

 

“We are all los inmigrantes, the Soul is the first Immigrant: The Soul cannot be held back by any imaginary boundary drawn against it; not by mountain ranges, not by rivers, nor by human scorn. – Clarissa Pinkola Estés, The Dangerous Old Woman: Myths and Stories of the Wise Woman Archetype, Volume 1 (2010) (mp3s/CDs)

Olga Kirsch het onder meer bekendheid verwerf as die tweede Afrikaanse vrouedigter om ná Elisabeth Eybers te publiseer. Sy het op die ouderdom van 20 (1944) gedebuteer met Die soeklig; haar poësie lewer ’n belangrike bydrae om die Joodse belewenis in Afrikaans te verwoord. Kirsch se oeuvre bestaan uit sewe Afrikaanse digbundels, met slegs enkele verwysings na haar Engelse poësie.

In 2018 verskyn Egonne Roth se biografie, Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte (Naledi) en as addendum tot dié werk word ’n bloemlesing van Kirsch se Engelse poësie uitgegee. Olga Kirsch: Her English poetry is saamgestel deur Roth, vergesel van ’n inleiding deur Antjie Krog (2020, Naledi). Kirsch se oeuvre, wat oor 50 jaar en drie tale strek word op verrassende wyse aangevul deur hierdie nagelate Engelse verse. In die samesteller se notas agter in die bundel vermeld Roth: “This largely, unknown oeuvre of English poems was the stuff that dreams are made of for a biographer. I used as many as I could in the biography but that was not nearly enough. It has been a privilege to be a part of the publication of these poems that need to be in the public domain.”

Dit was egter ’n uitdagende – en sensitiewe – proses om persoonlike dokumente van Kirsch se familie te bekom. Na die digter se afsterwe in 1997 is haar verse in bokse verpak en geberg by haar oudste dogter, Michal, se woonplek in Londen. Dit was eers met die hulp van Kirsch se jonger dogter, Ada Zohar dat daar ná maande besluit is op ’n datum om die inhoud van die bokse uit te pak. En dit was inderdaad ’n vonds. Daar was byvoorbeeld verse wat Kirsch in 1984 tydens Zohar se egskeiding geskryf het – gedigte waarvan niemand kennis gedra het nie. Ada Zohar het voorts 79 gedigte wat Kirsch na die afsterwe van haar man, Joseph Gillis, geskryf het, uit die bokse gehaal, asook 60 gedigte wat oor alledaagse verskynsels handel. Dit is veral die rougedigte na haar geliefde eggenoot se dood wat Krog uitsonder vir hul elegiese skoonheid. Maar daar het nóg ’n verrassing gewag: die lang epiese gedig, “Nevertheless” wat in ’n verkorte weergawe in Jewish Frontier (1966) verskyn het, se volledige kopie was weggepak in die boks. Egonne Roth was die eerste persoon buite die Kirsch-familie om dié volledige gedig onder oë te kry. Bygesê; Olga Kirsch se gesin het nooit haar geesdrif vir haar poësie gedeel nie, waarskynlik omdat sy allereers as Afrikaanse digter beskou is en omdat haar huisgenote se huistale Engels en Hebreeus was.

Kirsch het van kleins af die gevoel van buitestaanderskap ervaar – en as latere immigrant met ’n komplekse, selfs versplinterde identiteit geworstel. As voorbeeld haal ek ’n fragment uit deel V in “Nevertheless” aan:

 

V

Strange to be an immigrant.

To wander through the centre of the town

Watching the people pass, not a face known

Everyone going somewhere, you alone

A nobody going nowhere.

Strange to be an immigrant

To wander through the suburbs of the town

Ringing at doors, asking for odd chores,

Pitied, invited in and given a drink

Making it last to let your eyes take in

The table with its starched and glossy cloth,

The ancestors enlarged in oval frames:

Grandmother neckless, hefty, grandfather mild

And bearded to the eyes; the heavy chairs

The sideboard tiered and windowed, all that attests

To settleness.

 

For they promise you things will improve but home is a hut

And work is a few days a month breaking stones for the roads

And you cannot go back or elsewhere and you dare not look

   forward:

Grim to be an immigrant.   (26 – 7)

 

Olga Kirsch se pa was ’n Jiddisj-spreker wat uit Litaue na Suid-Afrika geïmigreer het. Haar moeder, Eva was ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse Jodin. Kirsch het op Koppies in die Oranje-Vrystaat grootgeword. Alhoewel Engels haar huistaal was, het Afrikaans haar denke, leefwêreld en jong vriendekring as jong kind oorheers. Aan die sinagogeskool op Koppies leer sy ook om Hebreeus te lees en skryf, maar ontvang haar hoërskoolopleiding in Engels aan die Eunice Girls High School in Bloemfontein. Die gesin verhuis later na Johannesburg waar Kirsch haar B.A.-Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands onder leiding van C.M. van den Heever behaal. Die jong digter was deurentyd bewus van die anti-Semitiese venyn teenoor haar Joodse gesin, ’n antagonisme aangevuur deur die opkoms van die Nazi-gesinde Ossewabrandwag in die dertiger- en veertigerjare. In 1948 het die Nasionale party na die Joodse stem gevry, maar die Joodse immigrante het die onderdrukkende beleid van apartheid verwerp – dit het herinner aan die Duitse Nuremberg-wette van 1935. Die vervulling van die Sionistiese droom in Israel (1948) beweeg in tandem met die implementering van die Nasionale Party se apartheidsideologie in Suid-Afrika, en teen dié agtergrond vestig Kirsch haar identiteit as Joodsgebore Afrikaanse digter. Sy het in 1948 op aliyah gegaan, oftewel na Israel verhuis. Kirsch het haar toekomstige man, Joseph Gillis, ’n professor in Wiskunde aan die Weizman Instituut in Rehovot ontmoet: ’n lang pad van daardie Afrikaanssprekende dogtertjie wat haar verlustig het in die natuurskoon van Koppies in die Vrystaat. Kirsch het ’n M.A.-graad in Engels aan die Universiteit van Jerusalem verwerf en was sedert 1959 werksaam, eers as Engelse onderwyseres en later as universiteitsdosent by die Weizman Instituut.

Daar het 24 jaar verloop sedert die digter se volgende vyf Afrikaanse bundels relatief kort op mekaar gevolg het. Die Afrikaanse poësiegemeenskap het waarskynlik aanvaar dat sy nie meer skryf nie. Gedurende dié periode het Kirsch basies verleer om Afrikaans te praat: haar huistale was nou Engels en Hebreeus, maar ten spyte van ’n toenemende vervreemding teenoor die Afrikaans van haar jeug en van haar eerste twee digbundels, was dit ’n wonder in die kleine toe Negentien gedigte in 1972 verskyn. Inderwaarheid het die digter ’n fyn balanseertruuk uitgevoer om in drie tale te dig – sy het later opgehou om in Hebreeus te skryf nadat kritici van mening was dat haar verse soos vertalings lees. Volgens Antjie Krog het Kirsch waarskynlik méér Engelse as Afrikaanse gedigte geskryf, poësie wat uiteindelik in bokse sou beland. Dit het vir Kirsch al moeiliker geword om in Afrikaans te dig aangesien sy min kontak en omgang met die taal gehad het. Kritici het haar styl en woordeskat as argaïes beskryf en na ’n louwarm – selfs ongunstige – ontvangs van Ruie Tuin (1983) het sy aan vriende erken dat sy opgehou dig het in Afrikaans. “My home language and my intimate language is English, but I don’t want to write in it. I am stranded at a busstop. To tell the honest truth, I don’t want to write any more”.

In die laat jare tagtig dig Kirsch weer met mening in Engels en gee ’n selfpublikasie, The book of Sitrya in 1992 uit. Hierdie bundel bevat gedigte oor haar kleindogter, Sitrya wat met ’n ongeneeslike siekte gebore is en op tienjarige ouderdom oorlede is. Kirsch het betrokke geraak by Joodse literêre verenigings soos die Israel Association of Writers in English. Om haar lesersmark vir haar Engelse poësie te vergroot, stuur sy in 1996 haar gedigte vir publikasie na forums in die VSA en Engeland. Sy was gekonfyt in die skryf van Engelse poësie en was in 1948 reeds medevertaler van Elisabeth Eybers se verse in The quiet adventure. Kirsch se oorspronklike Engelse gedigte oor die Eerste Israeliese Onafhanklikheidsoorlog het dan in 1966 hul weg tot publikasie gevind in die New Yorkse Sionistiese tydskrif, Jewish Frontier.

Olga Kirsch: her English poetry bundel die digter se nagelate verse wat geskryf is tussen 1965 en 1996. Egonne Roth belig op die agterflap die temas, byvoorbeeld die digter se liefde vir Israel asook haar sensitiewe beelding van die natuur en die bewoording van gevoelens van pyn, eensaamheid en verlies. Soos in die geval van Kirsch se Afrikaanse werk dig sy oor die belewenis van immigrasie, ballingskap, ontheemding en die mens se soeke na identiteit. Die bundel onder bespreking bevat ook mededelings vir en oor haar dogter Ada en haar man Joe. Om ’n immigrant en digter, werksaam in drie tale te wees het haar deurlopend meer vervreem van haar vaderland, Suid-Afrika met sy apartheidsideologie van menseregteskendings. As ’n vrou van Joodse herkoms het sy haar nooit werklik tuis gevoel in die heimat van haar geboorte nie en Krog verwys in die voorwoord dan ook na Kirsch se gefragmenteerde identiteit. Die versameling Engelse gedigte bevat hoogs persoonlike poësie oor die lotgevalle van die geliefdes die naaste aan haar. Volgens die samesteller lê die skoonheid van die verse juis in die pretensielose eenvoud en in die afwesigheid van enige megalomanie. As voorbeeld: in die afdeling, “Poems to Life” lees ’n mens hierdie treffende vers raak:

 

Catullus

Poems in a dead language –

butterflies pinned to the page.

Till the mouth’s moist cavern

resuscitates the syllables,

the springboard of the uttering tongue

flings them

into iridescent flight.    (124)

 

Antjie Krog beweer dat Kirsch se Engelse poësie nooit gekanoniseer is binne die Suid-Afrikaanse kanon nie; haar werk is ook nooit vergelyk met dié van Suid-Afrikaanse skrywers van Joodse herkoms soos Nadine Gordimer of Dan Jacobson nie. Danksy Kirsch se biograaf, wat kuratorskap geneem het van hierdie belangrike projek is ’n versameling nagelate verse dertien jaar na die digter se afsterwe noukeurig byeen gebring en uitgegee.  Kirsch se ballingskap was in vele opsigte een van swye ten opsigte van haar Afrikaanse poësie – ’n swye wat ironies gesproke verrykend ingewerk het op haar Engelse poësie. Die poësiegemeenskap is inderdaad die uitgewer, Naledi, heelwat dank verskuldig vir ’n seminale publikasie soos dié.

 

Verwysings

Roth, Egonne. Olga Kirsch: ’n Lewe in gedigte. Naledi. Kaapstad. 2018.

Kirsch, Olga. Olga Kirsch: Her English poetry. Naledi. Kaapstad. 2020.

Nini Bennett. Van afstand en verbintenis

Thursday, June 7th, 2018

 

Ons almal herken die prototipe: hy is ’n Suid-Afrikaanse man, waarkynlik nie meer te jonk nie; en hy lig sy vergrootglas en gesels geesdriftig oor sy eerstedagkoeverte, vastereekse en herdenkingseëls. Hy beduie hoe kosbaar die Kaapse Driehoek of die Penny Black is, en sy gedagtes dwaal na Eeufeesvieringe. Hy kan jou pa, oupa, broer of oom wees: ’n filatelis, of versamelaar van seëls. Dit is ’n stokperdjie wat stadigaan besig is om uit te sterf.

*

Ek lees nou die dag ’n artikel op Literary Hub oor internasionale skrywers en digters wat vereer word op posseëls. In 2011 het die Amerikaanse Posdiens die reël dat ’n skrywer slegs ná sy afsterwe verewig mag word op ’n posseël, gewysig. Hierdie eer val nou lewende digters en skrywers ook te beurt. Die 2016-Nobelpryswenner vir Letterkunde, Bob Dylan, loop al vir dekades onder die posstempel deur, eers as sanger, nou as literêre figuur. Daar sirkuleer meer as 50 seëls met dié legende se gesig op.

Hierdie seël is deur die Sweedse Akademie in 1993 uitgereik, dieselfde jaar wat Toni Morrison die Nobelprys vir Letterkunde verower het.

Wole Soyinka, een van Nigerië se grootste skrywers, is in 2006 vereer. Die Nigeriese Posdiens het ’n nuwe huldigingsreeks bekendgestel as deel van ’n projek om die publiek bewus te maak van hul landsburgers se buitengewone bydraes in die wetenskappe en kunste.

Dan wonder ’n mens onwillekeurig: hoeveel Suid-Afrikaanse skrywers se gesigte pryk op posseëls? Ek kon enkele voorbeelde op die internet opspoor.

Langenhoven

Totius

Nadine Gordimer

…En die gewaarwording dat skrywers ter plaatse veel minder as hulle eweknieë in die buiteland vereer word.

Die literêre studieveld wat hom bemoei met die brief as subgenre word “epistolografie” genoem. Die skryf van briewe is helaas so oud soos die letterkunde self; en die skryf van briewe as literêre medium dateer so ver terug as die Hellenistiese periode in Griekeland. Onder die Romeinse briefskrywers was Cicero waarskynlik die belangrikste eksponent.

In ’n artikel verwys Meghan Forbes na die materialiteit van ’n handgekrewe brief, of na alles wat die kommunikasieproses omring: die tipe skryfpapier en koevert, die sender se handskrif, die noukeurige toevou van die brief binne-in die koevert, die natlek van die seël…In ons moderne tyd waarin elektroniese kommunikasie hoogty vier, raak die brief, die outentieke dokument, weer belangrik. Dit is eklekties. ’n Handgeskrewe brief maak aanspraak op ’n enkelvoudige hier en nou en dit is gestempel deur die geskiedenis self. E-poskommunikasie bestaan in meervoudige rekords: in konsepkopieë of in die inmandjie, of in lêers wat reeds versend is – en die gehoor is nie duidelik gedefinieer nie, byvoorbeeld ’n deurslagkopie van ’n brief kan ook aan ander mense gestuur word (die Cc-funksie), om van die blinde kopie (of Bcc) nie te praat nie – die gesiglose gehoor. Voorts kan ’n e-pos afgelaai, uitgedruk of verder versprei word. E-posse kan geredigeer word en is uitgelewer aan meganiese reproduksie. Handgeskrewe briewe verklap onbetwisbaar die vlek van menswees, soos byvoorbeeld koffiekolle, vingermerke en die moeë skiflyne waar die brief herhaaldelik oop- en toegevou is. Forbes beskryf hoe sy dertig jaar ná ‘n ou skoolkys die Tipp-Ex in ’n ou liefdesbriefie afkrap. En wat sal sy sien? I ♥ U. Jesse Taylor. Die seun, Jesse, het homself kennelik bedink en weer die hartjie toegeverf. Sy moed het hom begewe. En drie dekades later sit die middeljarige blogger en wonder nostalgies: wat het van Jesse geword? Was Jesse regtig lief vir haar? Is Jesse lief vir haar? Dit is moeilik om gekonfronteer te word met jou jonger self. En die ironiese gewaarwording: die hartjie is seker die oudste emoji wat bestaan.

’n Handgeskrewe brief is ’n tydsdokument. ’n Egodokument. Uit die gapings, foute en verlore letters probeer ons ’n narratief saamstel van dit wat behoue gebly het. En binne hierdie narratiewe gapings – of dít wat foutiewelik onthou word – word daar ruimte geskep vir verbeelding. ’n Handgeskrewe brief maak van sekondêre lesers voyeurs: beide die briefskrywer en aangesprokene raak kwesbaar. ’n Posstempel, op sy beurt, is die tussenganger, ’n noodsaaklike hindernis in die kommunikasieproses. Dit dateer die vertraging tussen die versending en die ontvangs van die brief. In sy kortverhaal, The Empties kyk die skrywer Jess Row nostalgies terug:

She had never perfected the trick of moistening the envelope flap with the tip of her tongue so it would stick and lie perfectly flat. In those days, perfect meant as if untouched by hands. Her flaps were always overwet and lumpy; when she pressed them down, she made them worse. Still, she loved folding the paper twice over, into three equal parts; she loved writing addresses, but especially her name and address in the upper-left corner. J. Seiden. 29 Portnock Road. The dignity, the businesslike efficiency of these slim objects, asking nothing, never disclosing more than they needed to. An envelope with only a check inside flapped like a flag, but an envelope containing a two-page letter had a solid integrity on every plane. A writer only in the sense that she loved having written. She slid the envelopes under the metal lid of the mailbox on her parents’ porch and stared at them for a few moments. Proof of her existence in the world. Proof the world existed. You could count on it: someone was coming to take them away. Proof you would be sent, proof you would arrive.

Kan epistolografie elektronies wees? Skryfpapier is in ’n sekere sin ’n bewys van ons realiteit, of dit nou duur Smythson-produkte met ’n watermark is, of die CNA-skryfpapier met prentjies van die Grensoorlog wat skoolmeisies in die tagtigerjare so graag uitgeruil het. Die dialoog tussen posstempels, seëls en ander hanteermerke van possorteerders lewer ’n konkrete bewys dat die brief inderdaad plaasgevind het. Vandag se WhatsApps is die telegramme en poskaarte van gister. Maar virtuele pos is gewigloos, sonder die risiko’s, romantiek of gravitas van handgeskrewe briewe.

So bestel ek vir my Griffen and Sabine: An extraordinary correspondence, die 1991-topverkoper deur Nick Bantock. Dit is méér as ’n briefroman of mooi koffietafelboek: dit is ’n aangrypende werk. Die kunstenaar Griffen Moss woon in Londen en illustreer poskaarte vir ’n lewe. Op ’n dag ontvang hy ’n kriptiese poskaart van Sabine Strohem, ’n kunstenaar wat op haar beurt posseëls ontwerp en illustreer om ‘n inkomste te genereer. Sy woon op ’n fiktiewe eiland iewers suid van die Stille Oseaan, en die twee kunstenaars begin te korrespondeer. Spoedig vind Griffen uit dat Sabine alles van hom weet – selfs wat hy dink. Is dit telepatie? Bestaan sy ooit werklik? Of het hy haar opgetower uit sy eensaamheid? Is Sabine sy alter-ego, of is dit die sielsbeminde waarop hy sy lewe lank nog wag? Stadigaan ontvou die verhaal, ’n narratief wat viervoudig sin maak met kuns, mitologie, moderne filosofie en Jungiaanse sielkunde as onderbou. Hierdie boek is nie net ’n triomf vir die skrywer en kunstenaars betrokke by die projek nie; dit is ook ’n triomf vir die uitgewersbedryf. Die leserskontrak is ’n ouwêreldse een, en die leser volg die verhaal deur die getikte en handgeskrewe briewe versigtig uit die lugposkoeverte te trek, te lees, en weer terug te skuif in die koeverte. Elke koevert en seël is met die grootste sorg en in detail met die hand geïllustreer om epistolografie te laat herleef tot visuele kuns.

Dink mens aan briewe en Afrikaanse digters, dan kom Elisabeth Eybers se naam dadelik op.

*

Blare per pos

Twee herfsblare – gewebde paar

aan één pols vas, doodsbleek deuraar –

het vroeg hul tak tot siens gewenk,

die wind ontwyk met ’n kort swenk,

die suiderkruis gekies tot skyf,

daglank, naglank ’n boog beskryf.

Dor soos die blad waaraan hul kleef

reik hul te voorskyn uit die skreef.

Aan die motief wat ingegrif

bly – vae stempel op die skrif –

mag mens jou weer eens vergewis

van afstand, van verbintenis.

Elisabeth Eybers. Uit: Balans. 1962.

*

Ek gaan maak vir laas ’n draai by ’n internetveiling. “My seëlversameling is baie werd. Kyk hierdie skaars een…” My hart krimp ineen, want ’n bejaarde man plaas met trots ’n foto van sy boekie, Die Filatelieburo. Maar die bod wat toegestaan word, is nie hoog nie. Inteendeel; dit is terleurstellend laag. Die valuta van posseëls verhandel nie goed teen elektroniese briewe nie.

Verwysings

 

https://en.wikipedia.org/wiki/Griffin_and_Sabine

http://users.telenet.be/gaston.d.haese/eybers.html

Bantock, N. 1991, 2016. Griffen & Sabine. San Francisco: Chronicle Books.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Desmond Painter. Damon Galgut en die vervlietende reis

Wednesday, September 8th, 2010

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made” — Damon Galgut, In a Strange Room.

Ek is terug uit die buiteland — en Victoriastraat is of groen van jaloesie, of dit is inderdaad lente in Stellenbosch! Ek wou meer gereeld uit Engeland blog, maar eers het die kongres (in Southampton) my aandag opgeneem en daarna (nog twee dae in Londen) het ek probleme met my skootrekenaar se webkonneksie ondervind. Ek sal wel nog af en toe hier na my reis terugverwys: ek wil byvoorbeeld graag ‘n paar bloginskrywings maak oor jong Britse digters.

Maar eers iets anders (of dalk ook nie…). My resensie van Damon Galgut se uitstekende In a Strange Room het eergister in Die Burger verskyn. Moenie dat hierdie boek by jou verby gaan nie. Galgut is ‘n uitstekende skrywer, en hierdie is een van die beste prosawerke uit Suid-Afrika tot dusver hierdie jaar. Myns insiens. Dit is ‘n fynbesnaarde, subtiele teks en ‘n diepgaande meditasie oor reis, eensaamheid en die ‘enigma van tuiskoms’ — om Naipaul aan te haal. Ek plaas dit hier vir diegene wat nie Die Burger te lese kry nie:

Damon Galgut op reis

Damon Galgut op reis

As jy onder die indruk verkeer dat Engelstalige prosa in Suid-Afrika altyd in die skadu van die Nobelpryswenners Nadine ­Gordimer en J.M. Coetzee sal staan, of dat dinamiese hedendaagse prosa hier te lande slegs in Afrikaans geskryf word, maak jy ’n baie groot fout.

Skrywers soos Ivan Vladislavic en Damon Galgut, om maar twee persoonlike gunstelinge uit te ­sonder, lewer werk van wêreld­formaat. Albei is meesters van ’n soort afstandelike, maar altyd deernisvolle perspektief op die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Albei ontgin en strek die estetiese moontlikhede van Engels om ’n Suid-Afrikaanse werklikheid ná apartheid onder woorde te bring.

Boeke soos Vladislavic se ­Portrait with Keys, seker een van die skitterendste Suid-Afrikaanse prosawerke van die afgelope ­dekade, en Galgut se roman The Good Doctor hoort op enige ­ernstige ­leser se boekrak.

Dit kom dus nie as ’n verrassing dat Galgut hom met sy jongste boek, In A Strange Room, weer ­binne trefafstand van die gesogte Man-Bookerprys bevind nie. Met The Good Doctor het hy in 2003 reeds die kortlys gehaal, en sy jongste is onlangs tot die langlys van 13 boeke benoem.

In A Strange Room het as sub­titel “Three Journeys”. Die werk word op die flapteks getipeer as ’n ­roman, maar die drie verhale het oorspronklik as afsonderlike ­tekste in die tydskrif Paris Review verskyn. Hulle kan gelees word as outobiografiese reissketse, as ­lange­­rige kortverhale, en inderdaad ook as ’n novelle of roman in drie episodes.

Maar hoe jy hierdie boek ook al benader, Galgut verbluf met subtiele maar trefseker karak­teri­sering, en met die onder­­beklem­toonde, maar psigologies baie ­presiese oopskryf van inter­­per­soon­like verhoudings. Dit is ’n boek vir herlees, waarin die ­­­eint­like dramas onder die oppervlak speel. Dit is ’n boek vol een­saam­heid en verlange, maar ­sonder ­melo­drama of onnodige ­effusie.

Galgut vertel drie verhale. In elk is die verteller op reis –- in ­Griekeland, Afrika en Indië. In elk bevind die verteller hom in ’n ­komplekse, soms aftakelende ­verhouding met ’n reisgenoot. In die proses skryf Galgut eintlik ’n reeks meditasies oor die sielkunde van die reis, die soeke na immer ontwykende ­liefde en tuiskoms, en die aard van vriendskap en gemeenskap.

In die hand van ’n mindere ­skrywer kon die gegewens van die reis en gedoemde verhoudings maklik geyk geword het, maar by Galgut is dit nie die geval nie. Dit is verhale wat ’n mens bybly en, by tye, lank by ’n mens spook. Die laaste verhaal, “The Guardian”, het my katswink geslaan. Dit is een van die aangrypendste, hartseerste verhale wat ek in ’n lang tyd ­gelees het; en die siel­kundige ­profiel wat daarin ter sprake kom word absoluut outentiek ver­gestalt.

Galgut se evokasie van landskappe is deurgaans meer as bloot romantiese verfraaiing. Die vreemde landskap, en die in­heemse bevolkings, is ook nie bloot ’n skerm waarteen ’n uit­eindelik egosentriese, eksisten­siële ­proble­matiek geprojekteer word nie. Soos in Albert Camus se briljante verhaal, “Die Owerspelige Vrou”, word landskap en reis by Galgut bemiddelend vir die interpersoonlike en psigologiese ver­stol­pings en verskuiwings waaroor die ­verhale eintlik ­handel.

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made”. Só skryf Galgut aan die ­einde van ’n boek waarin hy die ­gebaar of beweging wat ons “reis” noem met bedrieglike eenvoud verken. In die proses lewer hy ’n teks wat die vervlietende aard van daardie reis beslis sal oorleef.