Posts Tagged ‘Nairobi’

Die Karen Blixen-museum, Nairobi

Sunday, February 21st, 2010

Baie besoekers aan Kenia is bekend met die Karen Blixen-museum buite die hoofstad Nairobi waar die beroemde Deense skrywer van onder meer Out of Africa (1937) van 1917 tot 1931 gewoon en met koffie geboer het. Die huis is reeds sedert 1985 oop vir die publiek en bykans 50 000 Keniane en besoekers van dwarsoor die wêreld gaan jaarliks daarheen. Buitelanders word waarskynlik aangetrek deur die intellektuele charisma van dié skrywer en die mite wat die rolprent Out of Africa, met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofrolle, van die skryfster en haar minnaar Denys Finch Hatton help skep het. Toe ek tydens ‘n besoek aan dié huismuseum aan die gids, Rosemary Agutu, vra of en hoeveel Keniane die huis besoek, het sy soos volg geantwoord: “There are many, because she was good for the people who worked for her.” Karen Blixen se nagedagtenis as ‘n simpatieke werkgewer vir sowat 600 werkers op haar koffieplaas het bly voortbestaan.

Die Karen Blixen-museum het oor die jare baie ondersteuning van die Deense regering gekry, wat die huis en die grond waarop dit staan aan die regering en mense van Kenia geskenk het. Die Deense regering het ook bygedra tot die publikasie van ‘n uitstekende handleiding deur Tove Hussein getiteld The Karen Blixen Museum: Nairobi (2005).

Johann Lodewyk Marais. Op pad na Addis Abeba

Tuesday, September 22nd, 2009

Ek stap begeesterd in die rigting van die middestad, want die besoek aan die Ethiopiese restaurant is iets om te onthou. Nairobi is klaarblyklik op ‘n kruispad van verskillende kulture. Dit sien ‘n mens aan die verskillende uitlandse restaurante en word bevestig deur die lewenskragtigheid van die Keniase ekonomie. 

Op die ingewing van die oomblik stap ek by Ethiopian Airlines in Bruce House in Muindi Mbingustraat in om te hoor wat ‘n vlug na Addis Abeba, die hoofstad van Ethiopiё, sal kos, want ek stel nou baie in dié buurland van Kenia belang.

Terwyl ek wag om met die vroulike beampte agter die lessenaar te praat, knoop ek ‘n geselsie aan met die meisie wat twee sitplekke van my af gewag het en nou haar beurt by die toonbank gehad het.

“Are you on your way to Ethiopia?” vra ek net voordat sy wil uitstap.

“I have to leave the country because my visa for six months has expired,” sê sy en kom sit weer.

“What are you doing in Kenia?”

“I work for the church and try to help the people.”

“Which church?” vra ek.

“Coming from Italy, it is of course the Catholic Church. I have studied anthropology in Modena where Ferraris come from, but currently I am doing social work. I have recently been able to work in the jail in Nairobi.”

“How do you find it in this city?”

“I want to get out of Nairobi and work elsewhere. People here find it difficult to escape their problems.”

“It is very much the same in my country,” antwoord ek. “There is a huge gap between those who can get jobs and those who cannot.”

“The people here have stopped dreaming.”

My gespreksgenoot se naam is Daniela Botti. Sy is sedert 2001 in Afrika en het vroeër in Zambiё en Tanzaniё gewerk.         

“The colonial borders that were drawn many years ago make it difficult to create national identities. In Zambia, for example, you have for some distance a straight line as a border and then it turns ninety degrees in another direction,” gaan sy voort.

“However, in Kenya I find that there is a lot of emphasis on the existence of different groups,” antwoord ek. “For example, quite often you see drawings of them. Ethnicity obviously also plays an important role in the current election campaign.”

Tydens die presidentsverkiesing in 2007 was dit opvallend hoe groot die drie hoofkandidate se steun in die gebiede is waar hulle oorspronklik vandaan kom: Mwai Kibaki s’n in die Skeurvallei waar die meeste Kikuyu’s voorkom, Raila Odinga s’n in en om Kisumu langs die Victoria-meer wat die tuiste van die Luo is en Kalonzo Musyoka in die ooste van Kenia waar die Kamba sterk is.

“How is crime in this country?” vra ek, besorgde Suid-Afrikaner wat ek is. “I do not see many street children and beggars here on the streets.”

“They are not here. You find many of them at the bus ranks further away. My Kenyan boyfriend and I live among the locals and I think I have been accepted because I have the same needs they have. Sometimes, however, I can feel that there is a negative feeling towards me, because of what has been done to them in the past.”

“When are you going to Ethiopia?” vra ek.

“I do not know, but I have to go, either by bus or even with a lorry because I do not have the money to pay for the air ticket.”

Daniela vra hoe ek die integrasie tussen Europa en Afrika sien en ek weet nie onmiddellik wat sy met die vraag bedoel nie.

“I am an Italian,” verduidelik sy, “but my boyfriend tries to convince me that I have become an African because I have been living here so long.”

“Well,” antwoord ek, “I have a long line of descent in my country and as a child I learned to speak an African language together with my mother language. I feel that I am an African.”

“I will never be anything but an Italian and continue to wear my Western clothes. I won’t be able to become a white Maasai and wear their clothes like Corinne Hofmann who wrote The white Masai, but I will not live in Italy again. My mother cries and says I am mad. She wants me to go back.”

Daniela bied aan om vrae te beantwoord wat met my navorsing verband hou as ek dit vir haar per e-pos stuur. Ons groet en ek loop verwonderd en dink aan die jong vrou met die blou oё uit Modena, die tuisstad van Ferrari, wat haar met Afrika kom vereenselwig het. Ons het so lank gepraat dat ek weer die volgende dag moet terugkom om vir my ‘n vlug na Addis Abeba te bespreek.

Johann Lodewyk Marais. Habesha II Ethiopian Restaurant, Nairobi

Monday, September 14th, 2009

Wanneer ek met die hysbak uit Utalii House kom, kyk ek eers gou na die winkels op die grondvloer voor ek teruggaan na Joel wat buite wag om my in die stad te gaan aflaai. Aan die einde van die onderste deurloop sien ek die Habesha II Ethiopian Restaurant, Down Town Nairobi (daar is ‘n ander Habesha-restaurant buite die stad in Hurlingham). Ek loop ‘n draai in die restaurant en besluit onmiddellik om middagete daar te kom eet. Die restaurant is beskeie, maar die kruiegeure maak my nuuskierig oor hoe die kos smaak. Buite in Utaliistraat vra ek Joel om maar te ry en betaal hom die KShs 400 wat ek hom belowe het vir my hele rit, wat ook die Ministerie van Toerisme, die Utalii Training College and Hotel in Thikaweg en die Nasionale Biblioteek by Upper Hill sou insluit.

Die dekor van die restaurant is eenvoudig, maar vol verwysings na die Ethiopiese geskiedenis. Teen die muur hang ‘n groot skildery van keiser Haile Selassie, van 1930 tot 1974 vir sy volgelinge “sy keiserlike majesteit Haile Selassie – koning van konings, uitverkorene van God, seёvierende leeu uit die stam van Juda, en afstammeling van koning Salomo en die koningin van Skeba”. Sedert die 1930’s is hy boonop vir die Rastafariёrbeweging in Jamaika die vleesgeworde God.

Daar is ook portrette van St. George, Ethiopiё se nasionale heilige, die negentiende-eeuse keiser Theodorus II en ‘n kehs (of priester) van die Ethiopiese Ortodokse Kerk. Volgens die eienaar, mnr. Engedu Feleke, wat saam met my van die een portret na die ander loop, is dié kehs die patriarg van die kerk. Aangesien mnr. Feleke nie goed Engels praat nie gee ek op om uit te vind wat die patriarg se naam is.

Ek gaan sit by een van die tafels met ‘n rooi tafeldoek waaroor deurskynende plastiek gegooi is. Ek kyk na die spyskaart. Heel eerste wil ek Tej in Brill of Ethiopiese heuningbier bestel, maar volgens mnr. Feleke se seun, wat my gaan bedien, het hulle nie meer daarvan nie. In die plek daarvan bestel ek Ethiopiese koffie en na lang wik en weeg Shirow Tegamino as hoofgereg. Die spyskaart verskaf in krom Engels die volgende inligting oor die gereg: “Shirow, which is made of powdered legumes or dried peas and chick peas with tradition spices prepared in Ethopian way served with the silver dish, a taste you will never forget.”

Voor my bestelling kom, bestudeer ek die spyskaart en maak aantekeninge oor die Shirow Tegamino in my notaboek. Die restaurant het van die sonderlingste geregte wat ek al onder oё gehad het en die name van die geregte is vreemd: Injera (soortgelyk aan chapati), Doro Wot (hoendersous), Key Wot (kerriebief met rissie) en Minchat Abish (kerriebief sonder rissie). Die kos is duidelik sterk gekrui. Terwyl ek versigtig afskryf, hou mnr. Feleke, ‘n korterige man met ‘n swart broek en ‘n wit langmouhemp, my dop en kom later na my toe.

“You are not allowed to write it down,” sê hy streng.

“I am just making a few notes to remember what I am eating,” antwoord ek. “I am not copying the menu.”

“Oh,” antwoord hy en gaan dadelik voort met sy werk in die restaurant.

Eers bring mnr. Feleke se seun vir my ‘n wierookbrander van keramiek met smeulende stukkies wierookhars waarvan die rook oor die tafel trek. Die pikante geur van die rookwalms is stelend. Dan word die Shirow Tegamino ingebring. Die silwer bord waarop die groot Injera, wat soos ‘n pannekoek lyk, uitgesprei is, lyk kompleet soos ‘n skinkbord met ‘n kleedjie op. In ‘n afsonderlike bak is die oranje sous (of Wot) wat ek op die pannekoek moet skep en met die regterhand moet eet met stukkies wat ek van die kant af moet breek. Omdat ek met die hand gaan eet, is daar nie eetgerei nie. Vir KShs 250 is die Shirow Tegamino ‘n allemintige gereg.

Ek staar lank in ongeloof na die gereg voor my. Mnr. Feleke moet dit as onkunde vertolk oor hoe om die gereg te eet en kom sit later by my om te wys hoe ek dit volgens tradisionele gebruik met die hand moet doen. Hy breek ‘n stuk van die Injera af, vee van die sous daarmee op en los dit in die bak vir my om te eet. So ‘n groot dis sal ek veral ná vanoggend se reuse-ontbyt in die Meridian-hotel nie alleen kan baasraak nie, maar ek val nietemin weg. Eintlik is dit nie die soort restaurant wat ‘n mens alleen moet besoek nie. Gewoonlik eet meer as een mens saam aan die dis.

Dit is ‘n besondere gereg en die smake buitengewoon: iets wat ek nog nie vantevore geproe het nie. Die sous is romerig met enkele stukkies groenrissie in. Volgens mnr. Feleke se seun, wat my die heeltyd bedien, is daar ook uie in. Die soort kruie en speserye wat gebruik word, herken ek glad nie. Ek sal hierna êrens in die stad ‘n Ethiopiese resepteboek moet gaan soek om meer oor hierdie vreemde kookkuns uit te vind.

Dat hierdie een van Nairobi se gewildste restaurante is, blyk uit sy tiende plek op die lys van “Top Ten Restaurants” wat in die “Lifestyle”-bylae van Nairobi Star verskyn het. Die berig is netjies uitgeknip en teen ‘n muur naby die skildery van Haile Selassie aangebring.

“Do you belong to the Ethiopian Orthodox Church?” vra ek mnr. Feleke wanneer hy weer na my tafel toe kom.

“You know about these things,” sê hy. “I am a member of the Orthodox Church.”

“Is it a big church?” vra ek.

“Yes,” antwoord hy. “If you are here on Sunday you can come to the church with me.”

Voor ek loop, wys mnr. Feleke my die koffiepoeier waarmee die Ethiopiese koffie met die “wilde” eksotiese smaak gemaak word. Hy skep ‘n lepel gemaalde koffie uit ‘n groot, bruin papiersak en laat my daaraan ruik. Die geur is bekend, maar die smaak is baie anders as dié waaraan ek gewoond is. G’n wonder nie, want volgens oorlewering is Ethiopiё se inheemse koffiebome die voorloper van al die arabica-koffies wat in die wêreld verbou word. In Ethiopiё word koffie nog van bome in die natuur geoes en baie daarvan op primitiewe wyse verwerk (byvoorbeeld met ‘n houtstamper en -vysel).

“When I visit you again next week, I will bring you rooibos tea from my country,” sê ek.

“Then I will give you some of our coffee,” antwoord mnr. Feleke en stap saam my tot by die oop deel van die restaurant waar nog mense aan groot disse sit en eet.

“By the way, Mr Feleke, what does ‘Habesha’, the name of your restaurant, mean?” vra ek.

“In the broadest sense, the name may refer to anyone from Ethiopia or Eritrea,” antwoord die Ethiopiese restauranteienaar en gee my ‘n stywe handdruk voor hy vinnig omdraai en in sy restaurant verdwyn.

  •