Posts Tagged ‘Nasionale Boekeredakteur’

Vat vyf, Elmari Rautenbach: Media24 se Nasionale Boekeredakteur

Tuesday, August 16th, 2011

Elmari, jy is sedert begin Junie aangestel in die invloedryke pos van Nasionale Boekeredakteur vir Media24 se dagblaaie; uiteraard met ‘n omvattende mandaat. Wat behels hierdie opdrag wat aan jou gegee is, presies?

Om die wêreld van boeke en skrywers, op soveel maniere en op soveel platforms moontlik onder die oë van Afrikaanse lesers te bring. Dit sluit in om so kreatief en oorspronklik moontlik te dink oor aanbieding – beide visueel en wat formaat betref, die keuse van resensente en skrywers, die inhoud, uitleg en ritme van die boekeblad, maar veral ook waar anders boeke- en skrywerstories gebruik kan word.

Die boekeblad is bloot die grondslag. Daarna volg plaaslike en internasionale boekenuusstories vir die hoofkoerant, waarvoor ook eksklusiewe uittreksels uit internasionale of plaaslike publikasies beding kan word; voorstelle aan en boekstories vir die drie kunsblaaie en BY; en laastens die vestiging en voortdurende opdatering van ‘n boekewebblad waar boek- en skrywerstories en resensies uit alle oorde  bymekaar getrek kan word met ‘n meegaande facebookblad vir vinnige kommunikasie. (Ek moet nog net Twitter baasraak!)

Synde ‘n ervare en bedrewe joernalis het jy na alle waarskynlikheid heelwat idees oor hoe jy hierdie enorme taak gaan aanpak; trouens, heelwat daarvan is reeds in die onderskeie boekblaaie waarneembaar … Na watter ontwikkelinge kan ons as boekliefhebbers in die toekoms uitsien? Watter rol gaan die webblad byvoorbeeld speel?

Die webblad is nog in sy kinderskoene. Ek het webmeesters by die onderskeie dagblaaie wat help laai, maar ek moet al die inhoud soek, redigeer en stuur. Die subs moet dit dan as ekstra kopie bo en behalwe hulle gewone werklading sub. Maar dit werk redelik goed in dié stadium. Ek begin al hoe meer oorspronklike kopie vir die webblad genereer waarvoor daar eenvoudig nie plek is op die boekeblad nie: nuwe resensies, maar ook onderhoude – van ‘n kort “vyf minute met” tot lekker, lang uitvoerige gesprekke. Ek het so pas besluit om van nou af ‘n nuwe gedig van die week in te sluit!

Die webkopie kos ekstra geld, ek kan daarom nie te uitspattig raak nie. Maar ek dink dit is die wonder van die webblad – daar is nie ‘n beperking aan ruimte nie.

Op die oomblik word al die boekenuusstories daarop byeengebring, al die BY-boekestories en boekenuusstories van die kunsblaaie en -hoofkoerantblaaie. Ek het pas die eerste Slipnet-resensie ook ingesluit. Die webwerf bied baie geleenthede en jy kan redelik gou reageer in die geval van nuus. Daar is ‘n literêre dagboek en topverkoperlyste, en ek het speelkans met die hooffoto. Onlangs het ‘n dieetboekstorie met ‘n deurklik na ‘n weggeeaanbod meer as 350 e-posse in twee dae genereer.

Die webblad kan agtergrond tot die boekeblad gee, meer verskeidenheid; ‘n hele wêreld oopmaak vir verskillende smake en ouderdomme. Baie belangrik, dit bied ook die platform vir daardie broodnodige ander mening wat meestal op dieselfde tyd op die webblad as die een op die papierblad verskyn.

Die meeste koerantlesers het nie voorheen hierdie voorreg gehad nie. Bittermin lesers het in koerante gaan soek wat die ander dagblad oor ‘n boek geskryf het. Resensies het selde terselfdertyd in die verskillende koerante verskyn. Boonop het die koerante elk  ‘n heel ander benadering tot ‘n boekewebblad gehad: Volksblad het Boeke onder spesiale verslae gehad, Beeld onder kuns en vermaak, en Die Burger het ‘n boekeblog heel apart van sy webblad gehad. Nou is daar ‘n Boeke-hofie op die hoofnavigasielyn van elke koerant.

Onder skrywers bestaan daar uiteraard heelwat kommer oor die sentralisering van die voormalige drie aparte boekblaaie in die hand van een nasionale redakteur. Is dit moontlik om dié vrese te besweer? Gaan daar inderdaad minder resensies oor ‘n bepaalde boek verskyn, soos die meeste beswaarmakers vrees?

Ek kan eenvoudig nie al daardie vrese besweer nie, want ja, in hierdie stadium gaan daar nie sommer drie resensies van ‘n boek verskyn nie. Maar van alle belangrike boeke onderneem ek – en het ek al twee resensies gekry wat meestal terselfdertyd verskyn, een op die papierblad met ‘n verwysing na die ander mening onderaan, en dan altwee tesame op die webblad. Ek het ook al ‘n tweede mening ‘n bietjie later op die webblad gebruik. Dis ook ‘n moontlikheid. Ek glo ook in die afwisseling van spasie sodat meer boeke blootstelling kry – vir skrywers nie altyd so bevredigend nie, maar ek glo dat enige blootstelling (en daarby sluit ek in ‘n kort onderhoud, of ‘n mening in Wat lees jy? of selfs die hoofboekfoto en bekendstelling op die webblad) is beter as niks nie. Die vorige redakteurs het ook maar gesukkel om reg te laat geskied aan die enorme aanbod van goeie boeke te oordeel aan al die ongebruikte resensies wat ná die tyd na my aangestuur is. Dit is nou maar die hemel en die hel van enige boekeredakteur: wat gebruik jy hoe, wanneer en waar, en hoe pas jy als in.

Uiteraard is die digkuns vir ons by Versindaba van besondere belang. Etlike jare gelede het die digkuns haar in ‘n ietwat benarde posisie  bevind danksy uiters beperkte blootstelling ten opsigte van resensies en nuusgebeure. Is ‘n soortgelyke marginalisering die digkuns se voorland, of is jy van voorneme om gelyke beregtiging aan alle genrès te bied? Anders gestel: gaan gehalte die publikasieruimte bepaal of populariteit?

Hier dink ek die blad spreek hopelik vir homself. Gehalte bepaal publikasieruimte. (Maar, dit beteken nie noodwendig dat ‘n boek sleg is omdat dit ‘n kort resensie kry nie – sien my opmerking oor blootstelling hierbo.) Ek het onlangs twee goeie debuutbundels saam – altwee redelik kort – deur twee resensente laat resenseer en terselfdertyd van elke bundel ‘n veel langer “ander mening” deur die alternatiewe resensent op die webblad gebruik.

Ek dink wel die boekeblad moet ‘n fyn balans handhaaf tussen gehalte en gewildheid. Daar is iets te sê vir verskeidenheid, vir die afwisseling van byvoorbeeld  ‘n resensie van ‘n goeie literêre werk een week met dié van ‘n goeie kunsboek die volgende. Dis verskriklik belangrik om lesers voortdurend te boei.

Elmari, hierdie ineenskakeling van drie afsonderlike inisiatiewe tot één projek is sekerlik ‘n moeisame (en dikwels frustrerende?) proses. Watter frustrasies was daar tot dusver, en daarmee verbandhoudend: watter vreugdes?

Dis eensame werk. En baie, baie administrasie. Ek sit dikwels vir ure in ‘n kantoor en my enigste kommunikasie met mense is via e-pos – en dit nadat ek op  ‘n plek was waar ek ‘n span van dertig, veertig mense bestuur het, met die klem op bestuur.

Vreugdes? Niks kom by die vashou van die eerste uitdruk van ‘n voltooide blad nie! En om ‘n uitstekende stuk skryfwerk te ontvang nie …

 

 

 

 

http://www.beeld.com/boeke

 

 

 

 

Vrye Woord: Ope brief aan bestuur van Media24

Monday, March 14th, 2011

VW

Vrye Woord

 

E-pos/Email: hermes@absamail.co.za

Posadres/Postal address: Berglaan 717, Florauna 01

 

Vrye Woord is ‘n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes. LitNet is die gasheer vir die nuusbrief (http://www.litnet.co.za/). Ons hoofdoel is om spraak- en meningsvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm en die belange van alle skrywers en ander woordwerkers in ‘n ope demokrasie te bevorder. Ons is aan geen politieke of belangegroep verbonde nie. Deur die sytak WikiLigni beoog ons om enige vorm van magsmisbruik, korrupsie en verswyging aan die kaak te stel nadat dit vertroulik aan ons onthul is.

Redaksionele raadgewers: Jeanette Ferreira, Pieter Haasbroek, John Miles en Charl-Pierre Naudé. Redakteur: Charles Malan (hermes@absamail.co.za).

__________________________________________________________________________________________________

 

Soos onderneem is, is aanbevelings oor die ope brief in ag geneem en die volgende brief aan die bestuur gestuur.

OPE BRIEF AAN DIE BESTUUR VAN MEDIA24

Aan: mnr. Francois Groepe

CC: mnre. Abraham van Zyl, Peet Kruger, Tim du Plessis

 

Beste mnr. Groepe en ander bestuurslede

Vrye Woord is ‘n drukgroep skrywers wat die vrymoedigheid het om u vrae oor die enkele beoogde nasionale boekeredakteur vir u streekskoerante te vra nadat mnr. Tim du Plessis reeds ‘n basiese verduideliking vir die besluit gegee het en ons dit aan woordwerkers help deurstuur het.

U is bewus van die wydverspreide ontevredenheid oor die stap onder skrywers, uitgewers en ander woordwerkers. Sommige van ons oorweeg selfs ‘n boikot indien dit die enigste alternatief is. Die nasionale bylaag word oorwegend gesien as ‘n verskraling van die literêre diskoers en nie ‘n verbreding nie. Die kritiek is reeds uitvoerig beredeneer op webwerwe soos LitNet en Versindaba, asook interne e-poskorrespondensie soos hierdie een wat wyd uitgestuur word.

DIE VRAE

Na raadpleging op al hierdie kuberplatforms oor die aard van ons korrespondensie met u wil ons dus graag die volgende vrae stel:

1  Wat is die basiese motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Is dit werklik slegs “beter gehalte” in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?

2  Waarom sou ‘n enkele nasionale boekeredakteur die redaksionele werk beter kon doen nadat drie streekredakteurs van boekeblaaie en (aanvanklik) By volgens Media24 ‘n onvoldoende/ondoelmatige diens gelewer het? Gaan so ‘n superredakteur dus onbeperkte bladruimte tot sy/haar beskikking hê om alles te dek wat in die verlede oorgeslaan is?

3  Is meerstemmigheid in literêre en verwante besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies oor ‘n bepaalde boek gaan publiseer nie?

4  Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming oor boekverwante sake in die drie streke van die dagblaaie belangrik en wat gaan nou daarvan word?

5  Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ‘n publikasie deur ‘n bepaalde resensent kan skuil in die lig van verskillende onderstrominge in die literêre wêreld?

6  Gaan daar naas die superredakteur ook nou ‘n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus in die posisie wees om ‘n publikasie te kan “maak of breek”?

7  Gaan die verskeidenheid huidige literêre blaaie en bylaes (met die uitsondering van Rapport en Huisgenoot) nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe oor alles van alle  boekesake vanoor die land en veral ook in die streke verslag sal doen?

8  Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?

DIE VERHOUDING MET MEDIA24

Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ‘n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels. Ons glo dus u sal verstaan as ons antwoorde op die vrae hierbo versoek.

Ons het geensins ‘n “vete” met u nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.

Ons maak staat op u besinning oor soveel gedeelde belange. Dankie vir die aandag wat u, en in die besonder mnr. Du Plessis, reeds aan die aangeleentheid gegee het. Vrye Woord sal almal op hierdie groter forum op die hoogte hou van die korrespondensie oor die saak met Media24 en noukeurig nagaan wat met die beoogde superpublikasie gebeur.

Ons hoop egter dit is nog nie te laat vir herbesinning daaroor nie. Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in ‘n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit ‘n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers “moet kyk hoe dit werk” – maar waarom wag totdat dit klaablyklik volgens soveel kundiges en ‘n reeks argumente nie gaan werk nie?

Miskien moet ons bloot wag totdat u na die aansoeke vind dat ‘n alwetende en dapper superredakteur nie daaronder tel nie!

Vriendelike groete

 

Charles Malan

Koördineerder, Vrye Woord

hermes@absamail.co.za

Berglaan 717, Florauna 0182

Vrye Woord: http://www.litnet.co.za

 

 

In reaksie op Tim du Plessis

Tuesday, March 1st, 2011
Tim du Plessis

Tim du Plessis

Beste mnr. Du Plessis – baie dankie vir u verduideliking aangaande die geadverteerde pos vir ‘n Nasionale Boekeredakteur wat ons via Jo Prins, u boekeredakteur by Beeld, ontvang het vir plasing op hierdie webblad. Graag reageer ek daarop in my hoedanigheid as boekhandelaar; iemand met ‘n passie vir die letterkunde in die breë en boeke in die besonder. Ook weet ek nie of u deel vorm van die keurpaneel wat oor hierdie aanstelling gaan besluit nie, maar aangesien u in u verduideliking dié besluit probeer regverdig, rig ek hierdie skrywe tot u.

Eerstens, met die finansiële oorwegings wat u argument onderlê, het ek as amper-besigheidsman volle begrip. Maar die oplossing waarop besluit is (naamlik die aanstelling van ‘n Nasionale Boekeredakteur), is myns insiens kortsigtig en iets wat op die lange duur meer skade gaan berokken as goed; nie net aan Media24 se eie nuusblaaie nie, maar ook aan die boekbedryf. Hoekom? Omrede ‘n koerant as openbare nuusforum dit ten doel behoort te hê om sy totale leserskorps tot diens te wees. (En ja, binne ‘n demokratiese bestel is die oordrag van inligting enersyds ‘n plig, maar andersyds ook ‘n diens. Dit gaan immers daaroor om u lesers in staat te stel om onder andere ingeligte standpunte in te neem of keuses te maak.) Hiertoe dien u eie rubrieke en u program Sondagaande op KykNet as toepaslike voorbeelde.

Maar hoe gemaak wanneer dit kom by boeke?

Graag hou ek die volgende uitspraak aan u voor. Dit is iets wat dr. Nicol Stassen, hoofbestuurder van Protea Boekhuis, enkele jare gelede tydens Die Burger-lesingsreeks by die KKNK onder die gesprekstema Die laaste (Afrikaanse) boek gesê het. ” ‘n Geestelike, intellektuele wêreld sonder boeke bestaan nie – nie vir die mensdom nie, en ook nie vir Afrikaanssprekendes nie. Boeke is die basis van alle intellektuele vooruitgang […] Benewens Afrikaanse uitgewerye en boekwinkels is die belangrikste manier waarop Afrikaanse intellektuele kommunikeer, die gedrukte en elektroniese media. Die boekeblaaie van veral Beeld, Die Burger, Die Volksblad, Rapport en Insig moet hier uitgesonder word vir die feit dat hulle standhoudend, oor dekades heen, die Afrikaanse intellektuele wêreld in stand gehou en uitgebrei het.”

Sedertdien het Insig getransformeer na Boeke-Insig en saliger. Verdermeer is die beskikbare publikasieruimte aan boekenuus en -resensies in die ander publikasies drasties ingekort. En nou wil Media24 die drie bestaande boekeblaaie, wat hierbo genoem is, afskaal tot één landswye boekeblad? Hoe gaan hierdie besluit byvoorbeeld daarin slaag om aan die volgende uitspraak, wat in 2002 deur ú gemaak is as ‘n kopknik na u voorgangers Schalk Pienaar en Piet Cillié, gestand te doen? “Hulle het dus op hul manier hul lesersgemeenskappe nader gebring aan Karl Popper se ‘oop gemeenskap’, waar daar maksimale vryheid is vir die individu, waar idees vryelik sirkuleer en meeding sonder die dwingelandy van ideologie en onverdraagsaamheid. Die soort samelewing wat ons vandag in Suid-Afrika moet vestig.” (Rapport, 10/11/2002) Terloops, u kon hier ook net sowel verwys het na ‘waar idees vryelik sirkuleer en meeding sonder die dwingelandy van rand en sent’.

Nietemin, die punt is dat die onderskeie boekbylaes deel vorm van die intellektuele inhoud van die betrokke koerante. En deur die verskillende stempels wat die drie boekeredakteurs onafhanklik van mekaar daarop plaas, vorm dit sekerlik deel van die ‘oop gemeenskap’ waarna u verwys het. Soos Breyten Breytenbach dit in sy griefskrif stel: “Vir die literatuur is ‘n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ‘n verstarring. Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.”

Die lesers van ‘n boekeblad mag min wees, soos u beweer, maar hulle vorm heel waarskynlik deel van daardie groep wat meningvormers is; daardie groep wat lojaal aan u publikasie is en ander sal vertel en debateer oor wat hulle daar te lese vind. Nie dat dit u noodwendig direk sal baat nie; maar hulle sal boeke koop en op dié manier ‘n ander koffer in die arsenaal van Media24-bagasie vul. As sulks dien dit tóg die korporasie, is dit nie? Of staan die onderlinge vertakkings van die Media24-konglomeraat in kompetisie tot mekaar?

‘n Gerespekteerde (Poolse) digter het by geleentheid gesê dat ‘n volk die digters verdien wat hy kry. Waarskynlik is dit ook waar ten opsigte van die nuusblaaie wat vir daardie volk beskikbaar is. En u “volk” van lesers verdien beter as wat u tans beoog om aan hulle op te dis, want hoe u dit ook al probeer versuiker: dié besluit gáán weens praktiese oorwegings ten opsigte van tyd én publikasie-ruimte tot ‘n verskraling van boekfokus en -nuus aanleiding gee; iets wat direk verband sal hou met die openbare ontvangs en uiteindelike verkope van nuwe literêre werke. ‘n Boekeblad is immers ook die vertoonkas van ‘n letterkunde se prestasie al dan nie.

Maar terug na besigheidsbeginsels. Soos u na alle waarskynlikheid weet, is die belangrikste oogmerk in ‘n kompeterende mark die kwessie van kliënte-lojaliteit. Met hierdie afwatering aan intellektuele inhoud gaan u juis aan dié lojaliteit inboet, want watter lojaleit sal daar jeens Media24 se nuusblaaie bestaan indien hulle soos enige volgende sensasiebeluste publikasie uitsluitlik ter wille van verkope funksioneer? (Trouens, ek wonder hoeveel Afrikaanssprekendes lees eerder Engelse koerante juis omrede hulle tans meer intellektuele inhoud bevat as hul Afrikaanse ekwivalente?) Daardie groepie lesers van u boekbladsye waarna u verwys, is waarskynlik die laaste lojale lesers waaroor u beskik aangesien daar geen dekking aan Afrikaanse boekenuus of besprekings in Engelse nuusblaaie te vinde is nie. U behoort hulle daarom eerder te bemagtig en nie te ontmoedig by wyse van hierdie beoogde geringskatting nie.

Nee. Indien Media24 wil bespaar, is daar sekerlik ander plekke waar daar besnoei kan word; net nie aan dit wat bydrae tot  die statuur van ‘n publikasie wat “standhoudend, oor dekades heen, die Afrikaanse intellektuele wêreld in stand gehou” en uitgebrei het nie. Myns insiens moet Media24 eerder die pligstaat van hul bestaande boekeredakteurs sodanig aanpas dat hulle in staat gestel word om dit wat hulle reeds doen – te midde van moeilike, onsimpatieke omstandighede – meer effektief te bedryf.

Laat hulle eerder onder mekaar meeding om die beste boekeblad in die land tot stand te bring, as om alles af te water tot ‘n gesentraliseerde niks-vir-niemand. Want, indien daar maar één resensie per boek landswyd in ons vernaamste nuusblaaie gaan verskyn, is dit die dood in die pot. Ons letterkunde is immers dinamies en geskakeerd.

Die media behoort juis dít met ‘n soortgelyke ingesteldheid te reflekteer.

Met waarderende groete,

Louis Esterhuizen

***

Maar terug na die webblad. Graag fokus ek die aandag op twee nuwe bydraes in Wisselkaarten. Luuk Gruwez skryf oor Lieke Marsman se debuutbundel wat die afgelope maande heelwat vreugde in die Lae Lande ontketen het, terwyl Vrouwkje Tuinman vertel van die bondel vrae wat sy as digter telkens mee gekonfronteer word. En dan is Bernard Odendaal se resensie van Onder die appelboom ontvang en geplaas. (Dit is die keur uit Rutger Kopland se gedigte wat deur Daniel Hugo vertaal en einde verlede jaar gepubliseer is.)

Gepraat van Daniel Hugo – vanaand om 20:30 kan jy op RSG na Leeskring luister wanneer hy met Joan Hambidge oor haar nuutste bundel, Visums by verstek, gaan gesels. Lees sommer die onderhoud wat met Joan oor dié bundel gevoer was, indien jy dit gemis het. (So ook die onderhoud wat met Daniel Hugo gevoer was oor Onder die appelboom.)

En daarmee eers weer groet; in die woorde van die Portugese grensvegter: A luta continua.

Inderdaad, die stryd duur voort.

Mooi bly.

LE

 

 

 

Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur

Monday, February 28th, 2011
Protesteer!

Protesteer!

Op Facebook noem iemand dit “die lekkerste job in die wêreld”, maar in wese kan dit ‘n verdere knou vir die boekbedryf, en veral die letterkunde, wees. Dit is nou Media24 se pos vir ‘n Nasionale Boekeredakteur wat in gister se Rapport geadverteer is.

Breyten Breytenbach het sy ontsteltenis soos volg in ‘n persoonlike skrywe aan ‘n aantal skrywers geformuleer: “Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur – oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By – met ‘voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe’, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ‘n dom rede […] Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.”

Die sluitingsdatum vir aansoeke is reeds eerskomende Vrydag, 4 Maart.

Maar waarom is hierdie ontstellende nuus? Soos almal weet het die boekeredakteur van ‘n bepaalde publikasie volle seggenskap oor watter boeke geresenseer gaan word; watter resensente betrek word en hoeveel woorde aan sodanige resensie toegestaan word. Ten slotte ook oor die uitleg en waar op die blad die resensie geplaas word. En binne die raamwerk van ‘n klein letterkunde soos ons s’n kan dit katastrofiese gevolge inhou indien dié mag in die oordeel van één persoon geplaas word. Verdermeer is dit ‘n feit dat ‘n digter, byvoorbeeld, kan hoop op ongeveer ses resensies: op die vier reeds genoemde nuusblaaie van Media24, plus resensies op webtuistes soos LitNet en Versindaba. Hoe nou gemaak indien die boekeblad vir ‘ekonomiese redes’ gedupliseer word vir die Media24-publikasies? En, soos ons almal weet, is die mening van ‘n resensent gewoon net ‘n leesverslag … ‘n Negatiewe (of minder entoesiastiese) resensie kan dus verdoemend vir ‘n boek wees aangesien daar nie genoegsaam ‘korrektiewe’ ingebou is in só ‘n bestel nie.

Myns insiens is verskeidenheid die sterkpunt van ons klein bedryf; as sulks iets wat jaloers beskerm moet word. Hierdie verskraling van aanbod in die hand van ‘n Nasionale Boekeredakteur is daarom iets wat ten sterkste beveg moet word, want dit maak nie saak hoe bekwaam die persoon is wat uit ‘die aangewese groepe’ aangestel gaan word nie: dit gáán die fondasie waarop ons letterkunde en verwante boekbedryf reeds wankelend staan, verder uitkalwer.

Goeie nuus is darem dat daar tans ‘n protesaksie hierteen van stapel gestuur word. Indien jy dus teen dié beoogde aanstelling beswaar wil maak, kan jy gewoon die protes-formulering onderaan hierdie Nuuswekker in ‘n e-pos kopieër en dit stuur na: aansoeke@rapport.co.za En onthou – die sluitingsdatum is 4 Maart 2011. Hou ook gerus vir LitNet dop; volgens ‘n ingeligte bron gaan hulle via ‘n mini-seminaar kapsie maak.

***

Maar terug na die webblad. Sedert Vrydag is Cas Vos se bundel Duskant die donker / Before it darkens by boekwinkels afgelewer. Ter viering hiervan plaas ons graag die onderhoud wat met die digter hieroor gevoer was. Nog ‘n besonderse onderhoud is die gesprek wat Carina van der Walt met Joke van Leeuwen gevoer het. Joke is die voormalige stadsdigter vir Antwerpen en vorm deel van vanjaar se Woordfees-program. Terselfdertyd kan jy ook in Buiteblik Carina van der Walt se stuk oor die belang van stadsdigters in Nederland en België lees.

Ten slotte – in Joan Hambidge se verskamer is daar ‘n nuwe gedig van haar om te geniet.

Mag dié week ‘n plesierige affêre wees.

Mooi bly.

LE

 

Beswaarskrif

 

As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ‘n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ‘n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ‘n verstarring. Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.

@ aansoeke@rapport.co.za

 

 

 

 

  •