Posts Tagged ‘nasionalisme’

Andries Bezuidenhout. Die argitektuur van dorpsbanke

Wednesday, January 26th, 2011

Argitektuur verklap baie van ʼn samelewing se geskiedenis. Benewens kerkgeboue, kan die geboue wat deur banke in dorpe opgerig is werklik insiggewend wees. As ek deur landelike Suid-Afrika ry, stop ek gewoonlik by die kerk, maar ry ook in die hoofstraat af om te sien hoe die banke lyk. ʼn Onlangse verslag oor die verval van klein dorpies toon aan dat die finale nekslag toegedien word as banke besluit om hul deure op ʼn dorp te sluit. Boere besoek dan eerder ʼn ander, nabygeleë dorp waar daar wel ʼn bank is. Kort daarna sluit die winkels se deure. Die einde van ʼn formele ekonomiese sektor op ʼn dorp beteken ook die einde van ʼn belastingsbasis en die moontlikheid van plaaslike dienste. Die skole verval en heel laaste kom die kerk ook tot ʼn einde. As die bank eers gesluit het, volg die kerk dus – die einde van die instellings van koloniale moderniteit.

So gepraat van koloniale moderniteit en argitektuur. In Seepunt in Kaapstad is daar twee geboue wat twee van die hoofstrome van modernistiese argitektuur baie mooi illustreer. Die een is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se hoofkantoor in Kaapstad en die ander is die woonstelblok op linkerhand hier onder:

Art Deco en Corbusier in Seepunt

Die SAUK-gebou is ʼn pragtige voorbeeld van die ontwerpbeginsels van Le Corbusier. Die gebou staan op pilare (om stedelike ruimte te bespaar), simmetriese vorms bepaal die gebou se vloei, funksionele dele is in afsonderlike kompartemente (soos die trappe agter die vertikale suil wat deur glasstene verlig word, in hierdie geval beïnvloed deur Corbusier se Pavillon Suisse in Parys) en buitelewe vind op die dak plaas (die solarium met die golwende dak regs bo). Lees gerus meer hieroor in ʼn vorige blog. Afrikanernasionalistiese argitektuur is sterk deur hierdie Franse modernistiese skool beïnvloed, dalk ook weens die Franse republikeinse reaksie teen die tierlantyntjies van bourgeois argitektuur.

Die woonstelblok aan die linkerkant is ʼn tipiese art deco gebou. Teenoor Corbusier se strakker modernisme, is art deco, soos die naam sê, nogal dekoratief. Die styl kom uit die laat-1920s, maar het veral in die dertigs en veertigs ʼn hoogty in Suid-Afrika (en elders) beleef. Wat styl betref, het die onstaan van groot passasierskepe ʼn invloed gehad. Baie art deco-geboue het ronde patryspoorte, vlagmaste, en ronde lyne soos groot skepe. ʼn Ander invloed is die ontdekking van piramides in beide Egipte en suid- en sentraal-Amerika. Baie art deco-geboue het palmbome, maar ook dekorasies wat aan Egiptiese en Asteekse piramides herinner. Die styl het natuurlik ook ʼn invloed gehad op die argitektuur van Afrikanernasionalisme, met die Voortrekkermonument as een van die beste voorbeelde van die sogenaamde Aztec deco uit die veertigs. Old Mutual se gebou in Kaapstad is ʼn ander goeie voorbeeld van Aztec deco, met reliëfwerk wat verskillende stamme uit Afrika uitbeeld.

Hierdie is egter voorbeelde uit Kaapstad. Wat kleiner dorpe betref, waar ekonomiese groei en bouwerk eers later gekom het, het Suid-Afrika se bankgroepe verskillende argitektoniese style. Histories was daar twee uiterstes: Barclays en Volkskas. Vele dorpe se argitektoniese styl is deur hierdie twee banke se voorkeure bepaal. Die ouer Barclays Bank, ʼn Britse familiebesigheid, het tradisioneel koloniale, neo-klassieke geboue verkies. Die gebou moes getuig van betroubaarheid en Europese tradisie. Volkskas, wat veel later kantoorruimte gesoek het, was by uitstek ʼn Afrikanerbank. Hul geboue moes in die gees van hul leuse “arbeidsaamheid” moderniteit na die land bring. Barclays se koloniale geboue was die Britse verlede, terwyl Volkskas se modernistiese geboue die Afrikaners se toekoms moes simboliseer.

ʼn Probleem met baie modernistiese geboue is natuurlik dat hulle so sleg oudword. ʼn Gebou wat onbeskaamd na die verlede teruggryp, behou ʼn mate van nostalgie. ʼn Gebou wat egter na die toekoms verwys, lyk nogal heel absurd as daardie toekoms iets uit die verlede word. Tog is daar sekere modernistiese bankgeboue wat vir my mooi bly, soos die ou Volkskasbebou op Piketberg. (Dis deesdae natuurlik deel van ABSA, wat weens die geskiedenis se sin vir ironie ʼn paar jaar gelede deur Barclays gekoop is, nadat die Britse groep lank gelede uit Suid-Afrika onttrek het weens sanksies teen apartheid.)

Ek kon die hele gebou nie op een foto inpas nie, so hier is die vooraansig in twee dele:

Bankgebou in Piketberg, regterkant van vooraansig

Bankgebou in Piketberg, linkerkant van vooraansig

Ek het ook ʼn foto van die stoep geneem, nadat ek die plaaslike polisie moes oortuig dat ek nie ʼn voornemende bankrower is nie, maar “ʼn amateurentoesias van landelike modernistiese argitektuur”:

Bankgebou in Piketberg, stoep

Ek sukkel om aan myself te verduidelik hoekom ek so van hierdie gebou hou. Dalk is dit omdat die argitek die uitdaging van die afwaartse helling gebruik het om mooi lyne te trek – die trappe byvoorbeeld. Ek hou ook baie van die pilare en die stoepteëls se patrone.

Die Volkskasgebou op Piketberg is vir my ʼn voorbeeld van modernistiese argitektuur wat mooi verouder. Op Kimberley is daar egter ʼn ander geval wat werklik skrikwekkend is. Dis egter ook baie interessant, veral omdat die gebou in gesprek tree met die Kimberley Club. Dalk tree dit nie in gesprek nie, dit poog om die klub se koloniale gebou te oordonder. Hierdie is die klub se vooraansig:

Kimberley Club, vooraansig

Die meeste van die klub se slaapkamers loop op die voorste balkon uit:

Kimberley Club, balkon

Kimberley se klub is deur Cecil John Rhodes gestig en die gebou is ʼn voorbeeld van die neo-klassieke styl waarvan die Randlords in Johannesburg so gehou het. Daar is gekleurde loodglasvensters wat die houttrappe belig en fyn hout- en steenwerk in die tradisie van die arts and crafts-beweging. Slegs klublede is daarin toegelaat en drie geslagte Oppenheimers dien die afgelope paar dekades as president van die klub. Met die verskuiwing van Suid-Afrika se ekonomiese pols na Johannesburg, het die klub meer simboliese waarde as werklike mag, in so ʼn mate dat hulle onlangs besluit het om die akkommodasie en eetsaal as boetiekhotel aan die publiek oop te stel nadat die gebou met geldelike steun van De Beers gerestoureer is. Die gevolg is dat mense uit die petite bourgeois soos ek en vroue soos Irma daar kan oorbly, alhoewel sekere dele van die klub steeds slegs vir lede gereserveer word.

Maar in vorige dekades was toegang tot die klub uitsluitlik vir manlike lede. Die een ding wat ʼn mens van die klub opval is hoe Engels dit is; koloniaal Engels, imperiaal Engels. ʼn Bladsy uit die gasteboek waarin Prins Philip (die eggenoot van die Britte se tradisionele leier, Elizabeth II) heel onlangs sy naam geteken het, is geraam teen ʼn muur. Daar word steeds met ontsag verwys na die feit dat Cecil John Rhodes sy eie kwartiere hier had. Benewens ʼn staking op die diamantmyne in die laat-1800s, speel die “Siege of Kimberley” tydens die Anglo-Boereoorlog ʼn groot rol in foto’s en skilderye teen die mure. Die enigste Afrikaner wat in sig is, is Jan Smuts. Dan is daar ook ʼn foto van die Franse militaris De Villebois-Mareuil (volle naam: George Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil), wat deur die foto se onderskrif beskryf word as “military advisor to the Boers”. Hoekom sou die Engelse ʼn foto van hul vyand se raadgewer ophang? Die enigste verklaring wat ek kan vind is die feit dat die Fransman ʼn sekere respektabelheid aan hul vyand gee – die Britte se nederlae word verklaar deur die beskaafde Fransman se teenwoordigheid, nie die ungentlemanly, vuil, onderduimse Boere se vaardigheid as guerrillastryders nie.

Dis waarskynlik hierdie verkleinering deur Britse imperiale pretensie waarteen Volkskasbank, die Afrikaners se bank, reageer het toe hulle die gebou oorkant die klub laat oprig het. Die ander ding wat ʼn mens dus van die klub opval is die bank oorkant die pad:

Kimberley, bankgebou

As jy in die klub se eetsaal of op die stoep sit, takseer die bankgebou se twee rye vensters jou soos oë wat op skrefies getrek is, met ʼn donker, panoptiese staar:

Bankgebou vanaf die Kimberley Club se stoep

Die vertikale blindings voor die vensters maak dat jy nie kan sien wat in die bank aangaan nie. Jy weet nie of iemand daar binne besig is om jou dop te hou nie. Die woord “monolities” word baie gebruik om modernistiese argitektuur te beskryf en ek skat die woord is in hierdie geval toepaslik.

Deesdae is hierdie kopstampe tussen Afrikanernasionaliste en Britse imperialiste iets van die verlede. Albei geboue is so half pateties. Die klub word minder eksklusief, net om aan die gang te kan bly, en ek verneem by een van die kelners daar dat die bank ook nou hul gebou wil verlaat. Ek sou ook wou. Dis seker een van die lelikste geboue in Suid-Afrika. Dis ʼn monument vir die kinderagtigheid en minderwaardigheid wat nasionalisme onderlê.

Aan die ander kant; dis maklik vir my, ʼn produk van Volkskasbank, my pa se bank, se arbeidsaamheid om met afgryse na die bankgebou in Kimberley te kyk. Die bankgebou in Piketberg is tog ook ʼn produk van daardie strewe na moderniteit. Hoekom is die een vir my mooi en die ander een so lelik? Ek sukkel om ʼn antwoord te vind.

Desmond Painter. Afrikaans, ras en nasionaliteit: Deel 2

Tuesday, May 11th, 2010
Filologie

Filologie

So ‘n rukkie terug het ek met groot gewigtigdoenery aangekondig dat ek elke nou en dan hier notas sou plaas oor ‘n referaat wat ek moet skryf oor taal, ras en nasionaliteit in Suid-Afrika. Intussen het ek die stroomversnelling van eksamens, merkwerk en puntelyste getref, en ek kon my klein kajak skaars regop hou…

In plaas van akademiese notas het ek inmiddels toe dus maar ‘n paar versies geplaas, goed wat ek so tussen die werk deur opgemaak of gesteel het — meestal met stilswye begroet, natuurlik… Ugge-um! (As jy nou sleg voel oor jy nie voldoende op my digterlike keelskoonmake gereageer het nie, gaan lees gerus weer hier en hier en hier!)

Maar terug na my referaat. Een van die kwessies wat ek wil aanspreek is die verband tussen taal en ras, veral die ideologiese verstrengeling van Afrikaans met verskillende projekte (en projeksies) van “witheid”, “bruinheid” en “swartheid”.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek wil nie probeer aanvoer Afrikaans is “eintlik wit” of “eintlik bruin” nie. Ek wil juis agterkom hoe dit moontlik geword het (en hoe dit moontlik bly/onmoontlik word) vir Afrikaans om betrek te word by prosesse en diskoerse van “rassisifikasie” — en met “rassifikasie” verwys ek spesifiek na die ideologiese konseptualisering van menslike verskille in terme van “ras”.

Wat dus duidelik moet wees, is dat ek ook nie veronderstel dat verskillende “rasse” bloot onproblematies as entiteite bestaan nie. In hierdie sin is ek “konstruksionisties”: ek beskou “ras” (die spesifieke verbeelding van menslike verskille in terme van “ras”) as ‘n sosiale konstruk, die produk (en dikwels korrelaat) van historiese prosesse. Anders gestel: ‘n mens sou ook anders kon dink oor menslike verskille, en in ander terme as die wat deur ras-diskoerse aan ons verskaf word…

Gevolglik stel ek ook belang in die spesifieke wyse waarop ‘n bepaalde samelewing sigself in terme van ras (en in rasse-terme) verbeel. Dit is tog duidelik dat, selfs al blyk dit asof diskoerse oor ras nou universeel is, nie alle samelewings op presies dieselfde manier in rasse-terme verbeel word nie. (Omdat ek dit glo, glo ek natuurlik ook dat dit, ten minste teoreties, moontlik is om ‘n samelewing nie-rassig te verbeel… En, moet ek byvoeg, ek sal dit aanhou glo selfs al is ek uiteindelik die laaste nie-rassige Suid-Afrikaner!)

As verskillende samelewings verskillend in terme van ras, en in verskillende rasse-terme, verbeel word, kan ‘n mens jouself afvra: wat is die rol wat taal (taal as ‘n merker van verskil of ook ‘n spesifieke taal soos Afrikaans) gespeel het of steeds speel in die spesifieke manier waarop hierdie samelewing of gemeenskap in terme van ras tot stand gekom het en funksioneer? 

“Ras” (as begrip) het natuurlik self ook deels ‘n talige geskiedenis. Daar word dikwels van “kulturele” rassismes gepraat asof dit ‘n “nuwe” rassisme is, een wat die retoriek van biologiese verskille vervang met verwysings na “kulturele” verskille. ‘n Geneologie van die rasbegrip maak dit egter duidelik dat dit, voordat dit nog biologies geartikuleer is, reeds in die filologie in terme van taalverskille en “taalfamilies” betekenis verkry het en ‘n fundamentele impak gehad het op hoe verskille tussen mense verbeel en bedink is. Die “nuwe” kulturele rassisme is dus in ‘n sekere sin eintlik die “ouer” vorm van rassisme; en die konseptualisering van taal as sodanig het van meet af aan ‘n rol gespeel in die ontwikkeling van rasse-denke…

Volgende keer meer.

  •