Posts Tagged ‘natuursimboliek.’

Nini Bennett. Die natuursimboliek in Valsrivier en Donkerberg van Dominique Botha

Wednesday, July 20th, 2022

Dominique Botha

 

 Valsrivier van Dominique Botha het in 2013 verskyn, ’n biografiese Bildungsroman wat bekroon is met die Eugène Maraisprys vir eerste of vroeë werk, die Jan Rabie-Rapportprys vir vernuwende fiksie, asook die UJ-prys vir debuutwerk. Die roman is aanvanklik in Engels geskryf en False River is eweneens telkemale bekroon. In 2021 verskyn Donkerberg / Bloodwood as digterlike addendum of begeleidingsbundel tot hierdie roman, alhoewel Donkerberg onafhanklik van die roman gelees kan word. Die subopskrif, “dwarsrivier” van hierdie digbundel skakel die roman en digbundel via verwysings na riviere met mekaar. Landskaps- en natuurtonele vorm die siklorama waarteen beide die roman en digbundel afspeel, byvoorbeeld die Noord-Vrystaat, die plaas Rietpan in die distrik Viljoenskroon, asook die gemelde “donkerberg” in die digbundel. In ’n onderhoud met Joan Hambidge op Versindaba noem Botha dat Pierneef vir haar die digter van landskap beliggaam. Die dubbeldooromslag van onderskeidelik Donkerberg, asook die Engelse weergawe van hierdie verse, Bloodwood, wat op die keersy verskyn, aktiveer met “donkerberg” ’n vroeë landskap van Pierneef, olie op bord. Die Engelse omslag Bloodwood teleskopeer ’n pasteltekening van ’n treurwilg langs ’n rivier, ’n natuurtoneel tekenend van die Vrystaatse platteland. Botha, wat woonagtig is in die Dwarsriviervallei in die Boland vertel voorts dat daar ’n donker berg agter haar huis is en dat die titel “donkerberg” gesetel is in die konkrete, maar wat metafories ontplooi in haar poësie en wat op sy beurt weer visueel vergestalt word in die skildery. In die onderhoud met Hambidge vertel sy meer: “Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ’n skilpop met lae van betekenis. Op ’n soortgelyke manier dien die treurwilg as leitmotief vir die elegiese verse.” Die gedig “voorbode” aktiveer die Afrikaanse titel, Donkerberg, maar ek keer later hierna terug. Dit is duidelik dat Botha se beelding van natuurruimtes ’n tipe superponering vorm van landskappe in die Noord-Vrystaat (Valsrivier), asook Donkerberg, (Dwarsriviervallei).

Die roman Valsrivier handel oor die hoofkarakter, Dominique, se verhouding met haar ouer broer, Paul. Alhoewel die Botha-kinders se ouers linkse politiek nastreef, is die wurggreep van apartheidspolitiek oral sigbaar. Dominique voltooi haar hoërskoolloopbaan aan ’n Engelse privaatskool in Natal, maar beide sy en Paul voel dat hulle nêrens inpas in die skommeltrein van Nasionale Afrikanerpolitiek nie. Paul, wat van kleins af kreatief en sensitief was, raak al meer rebels. Sy dwelmverslawing begin vinnig sy tol te eis: hy staak onder meer sy universiteitstudie en word oneervol uit die weermag ontslaan nadat hy sy polse sny. Hy verhuis na Engeland waar hy werksaam is as skrynwerker by ’n rolprentateljee, maar sterf op 27 aan ’n oordosis heroïen. Die onlosmaaklike verbondenheid van die karakters aan hul grond, die plaas Rietpan en die Vrystaatse milieu, blyk dwarsdeur die roman. Die natuur se skadukant word belig en die roman se ruimtelike inkleding jukstaponeer landelike en pastorale idilles met dié van vermolming, verwording en die verval van natuurlewe. Die natuur as dreigende, onheilspellende en destruktiewe krag word geskets. Reeds voor in die roman word ’n grafskrif, of elegiese skrywe deur Paul Botha sélf aangehaal. Hierdie motto bevestig die inwoners se lotsbestemming as gedeelde narratief met hulle grond en met die natuur: “Soos bome die onthougebeente is van vlees wat vergaan het, laat die gees sy eie grafskrif.” – Paul Botha (1970 – 1997). Valsrivier wemel van die mooi natuurbeskrywings, soos ook die kerkhof, waar die Botha-voorsate begrawe is, getuig. As oudste seun is Paul Botha deeglik bewus van sy posisie as erfgenaam van Rietpan:

“Paul spring met sy leersak vol moerbeiblare uit die boom en klim op die kerkhofmuur van waar ’n mens kan sien hoe die weer van plan verander. Ek weet dat wolke wat reën bring in die weste opstapel, want Pa vloek of bid vir hulle om daar te wees. […] “By gebrek aan berge,” sê Pa soms met ’n domineestem, “is die lug ons landskap.” ’n Molslang peul tussen die klippe onder Paul se voete uit en verdwyn in die gras. Paul Michiel Botha die Sesde het hy met ’n balpuntpen op sy sak se flap gekrap.” (p. 11)

 

 

Die dood van Paul aan die einde van die roman suggereer die dood van die apartheid-Suid-Afrika met sy wit bevoorregting, en dit belig ook knellende kwessies rondom (wit) grondbesit.

Die verwysing “By gebrek aan berge” – myns insiens die plat en uitgestrekte Vrystaatse landskap – word in die bundel, Donkerberg gejukstaponeer met ’n berg wat dien as voorafskaduwing van die vader se dood:

 

voorbode

my pa word al hoe kleiner

wanneer hy uitstap om my die maanlig

op die werf te wys

soos ’n grys ster bo donkerberg

krimp hy tot

’n tuindwerg ongeverf

tussen die kannas op die werf    (p.15)

 

In die afwesigheid van Vrystaatse berge verrys hier dus ’n berg, Donkerberg, wat ruig is aan simboliek. Een voorbeeld hiervan is die juk of die gewig wat die spreker se vader gedra het – by wyse van sy seun se afsterwe, die teleurstelling in die Nuwe Suid-Afrika, of by wyse van intergeneratiewe skuld. In haar onderhoud met Marcel Spaumer op Klyntji vertel Botha meer van dié berg:

“Hierdie berg is letterlik ’n goddelike landskap, soos aangedui deur die benaming van die dorpie Pniël (wat in Hebreeus aangesig van God beteken). Die berg is vol blomme, soms vol watervalle, teen sononder in roosgoud gedoop, die duiwel woon ook daar in ’n diep kloof.”

 

 

Die byvoeglike potensiaal van “vals”-rivier en “donker”-berg as suggesties vir die natuur wat soms boos, onheilspellend en destruktief is, word ten volle ontgin in die roman én digbundel. Uiteindelik veronderstel die ontluistering van pastorale natuurtonele in beide Valsrivier en Donkerberg ’n verlore Eden: ’n verlies aan onskuld en gepaardgaande verwonding as die vernietigende keersy van die natuur.

Die sentrale simbool in Valsrivier is die rivier self. Die rivier is ’n stil stroompie in die winter, maar in die somer omvorm dit tot ’n geweldige watermassa wat alles wegsleur wat in die rivier se pad mog kom. Die rivier is vals, bedrieglik, omdat dit troebel en gevaarlik is. ’n Mens dink ook aan Marais se “Diep rivier” wat simbolies met dwelmverslawing verbind word. Die geliefde broer is deur die donker stroom van dwelmverslawing verswelg, nes Marais. Die “vals” rivier dui andersyds op die verwronge en stormagtige tydperk van die tagtiger- en negentigerjare in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die bedrieglike en gevaarlike aard van die Valsrivier word onder meer op p. 151 van die roman geskets:

“Boomstompe maal soos groot tolbosse in die ruisende rivierstroom. Ek loop dieper die water in, en Paul trek my na hom toe. Dan gryp die stroom ons en sleur ons in sy draaikolk in. Ek probeer wal toe swem, maar dit is tevergeefs. […] Die rivier gooi ons heelwat verder af uit op die ander wal en ons skarrel uit op die sandbank.”

Die afwaartse spiraal van Paul se selfvernietigende leefstyl, wat ook vir Dominique affekteer, word aan die hand van die rivier verbeeld.

Die skakeling van Valsrivier met Donkerberg is reeds in die heel eerste gedig, “alles is stuifmeel selfs die bitter blomme” (p.11) teenwoordig: “ek reis met die witduif van my oë / terug na die mooiweer en warm koninkryk.” ’n Elegiese reis, dus. Die “mooiweer en warm koninkryk” dui op ’n verwysing na die spreker (en broer) se verlore jeug, met die witduif van herinnering wat vredig terugkyk na ’n verdwene idille. Die bundel bevat voorts treursange oor familie, bure en vriende en uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word in die afdeling, “die kind wat geen perke geken het nie.”

Kritici was vol lof vir die liriese, poëtiese stem waarin Valsrivier geskryf is. Dít, asook die lang roudig agter in die roman het die verwagting geskep vir Botha se digdebuut. In haar onderhoud met Marcel Spaumer beweer die digter dat Joan Hambidge haar aangemoedig het om te dig: “Jy moet ’n bundel skryf. Gaan in tot by die argetipe waar die wond van jou broer se dood is, en dit is waar jou digterskap lê.”

Met die herlees van Valsrivier, begelei van die lang verwagte Donkerberg is landskapstaferele en natuursimbole verwerk tot argetipes wat die siklusse van lewe en dood voorstel. Die roudig aan die gestorwe broer, soos dit verskyn aan die einde van Valsrivier, kom weer voor in Donkerberg. In sy resensie op LitNet het Reinhardt Fourie lof vir die landelike, plattelandse natuurbeelding in Donkerberg – in analoog met Valsrivier – en die leser kan die resensent se slotwoorde beaam wanneer hy sy resensie afsluit: “Donkerberg is ’n knap poësiedebuut.”

roudig  

 

[…]

 

hier is ’n padkaart

 

volg die laatmiddagwatervoëls oor schoemansdrif

soms is daar blomkranse teen kragpale

as jy nou sou kom verbleik ’n mooi pers onkruid

padlangs in yl grond en klokkiesang

versilwer die populiermoeras

 

verby vredefort mantel ’n perskeboord

die draai in die pad en sagte bedrieglike dorinkies

bewaar die turksvy

duskant makvoël se eikelaning

tussen grashalms van verpande veld

is ’n esel

’n trekkerpalm

 

’n skuur vol implemente

wat stadig sterf

’n grou soutpan

met flaminkkraag as lafenis

sanglyne wat futloos lê

tussen pale sonder wind

 

teen skemer sal die aandster

’n gedienstige nefie in haar omhelsing vou

as bakenvuur vir jou

 

draai links op pa se nuwe pad

afgeskuins teen die reën

 

die rooioogduif sal spoorsny

met asbevlekte pootjies

deur die komende brandwolk

jy sal sien

sani bou ’n baksteenhuis

daar is poue in sy hoenderhok

en ’n kode tien op sy rybewys

hy het trots by die agterdeur

vir pa kom wys

 

ek roep jou

 

boomkore laat reën psalms

op die vertrapte grasperk neer

 

die nag klop teen die mure van nawete

 

[…]

 

oestye kom en gaan

 

’n skepper plant rooi appelliefie en klapperbos

in die uitspansel se nagtuin

wat beurtelings blom en vrot

 

die vlammende wind suiker jou woorde weg

 

ek roep jou

 

ek wag onder die peperboom

ek sal jou stem ken

moet jou houvas nie verloor nie

ek het al die sterre gesoebat

op hulle brandende voetpaadjies

dralend deur rook

van nagte vol onthou

hemele kniel en wieg

oor die dreunsang van gras

rou vleis hang soos verlange

in keldergrotte wat skeef trek

soos die aarde draai

 

my kinders sal jou nie ken nie

 

ek wou jou so graag

aan ons plek van herkoms

bind met woorde

om weer te begin

met ’n skildwag teen toeval

met ’n ompad

met ’n lang potloodstreep

wat vervaag oor blou heuwels

in my vergeelde tekenboek

 

tyd rol en sloer

soos ’n muntstukkie gegooi

op die kim van die naderende dag

 

jy het my altyd vooruit geloop

 

(Donkerberg / Bloodwood: pp. 77 – 81)

 

Verwysings:

Botha, D. 2021. Donkerberg/Bloodwood. Johannesdal: Dwarsrivier-Uitgewers.

Botha, D. 2013. Valsrivier. Kaapstad: Umuzi.

Hambidge, J en Botha, D. 2021. Onderhoud met Dominique Botha (Donkerberg / Bloodwood): Versindaba.  https://versindaba.co.za/2021/08/28/onderhoud-met-dominique-botha-donkerberg-bloodwood/?fbclid=IwAR1YQ1XnhBIM8Q_usF_xCrgRHxb-GDU5LN6cqOy1S4ArwDHDgHDSvYmVFnY (18 Julie 2022 geraadpleeg)

Spaumer, M. 2021. In gesprek met Dominique Botha oor Donkerberg: Klyntji. https://klyntji.com/joernaal/2021/10/22/dominique-botha-donkerberg?fbclid=IwAR0kP5c7jHSvNknAIhSVP1gbmEIEltuTxTIWXQa3Cj9KbrOzOqyL_HcUMU8 (17 Julie 2022 geraadpleeg)

Fourie, R. 2022. Donkerberg/Bloodwood deur Dominique Botha: ’n resensie: LitNet. https://www.litnet.co.za/donkerberg-bloodwood-deur-dominique-botha-n-resensie/?fbclid=IwAR0sSd32bLvCOmX0QCpkKjEwzJS_iV-zJjZeHqTXdEZsmw4ReeCmF3SnWyk (18 Julie 2022 geraadpleeg)