Desmond Painter. Uit my ou droedelsak
Sunday, May 2nd, 2010Sondag
(vry na ‘n gedig van Necati Cumali)
Vir drie dae lank sien ek nou al uit na Sondag –
want Sondag, sien, is die dag waarop sy my sou laat weet!
Glo my, vir drie dae nou al eet ek skaars my kos,
is my werk kapot, staar ek my blind, begeer ek dáárdie dag bo alle ander.
“Tot Sondag!” – so het ek dit beaam, en so mos begin te wag…
Maar ag, o aarde! Hoe skielik is dit dan weer
Sondag! My onbedaarde hart kom sit koggel in my keel:
Wat as sy nie die een is vir wie ek lief is nie?
Wat as sy nie is wat ek begeer?!
By die dood van ‘n kind
(vry na ‘n gedig van Oktay Rifat)
Hy het gesterf, maar van sy dood is hy helaas
onbewus. Hulle plaas hom in ‘n kis, ry met hom weg –
hy kan nie eers meer protesteer: ‘Nee, ek sal nie gaan nie!’
Sy legkaart het onvoltooid gebly, en van melk
en koekies is daar met sy aanland
ook geen sprake.
Hy het gesterf. Hy sal sy ooms nooit kan bedank
vir die dra van die kis, sy tannies vir die gerf aronskelke
op sy graf. Ag, die dood van ‘n kind…
Tog so anders as dié van ek en jy!
Necati Cumali (1921-2001) en Oktay Rifat (1914-1988) was beide Turkse digters.