Posts Tagged ‘Nelson Freire’

Desmond Painter. Franz Liszt: Die Jimi Hendrix van klassieke musiek

Wednesday, December 14th, 2011
Liszt

Liszt

Kyk, Franz Liszt word dikwels onderskat: ‘n vertonerige virtuoos wat oppervlakkige musiek geskryf het bloot om sy pianistiese vernuf ten toon te stel. Koos Human sê so in sy Die A tot Z van Klassieke Musiek. Ek het selfs al vir Lina Spies tydens ‘n boekbekendstelling so hoor sê, en sy het al ‘n mooi gedig oor Liszt geskryf… Ja, hy was ‘n superster, ‘n virtuose pianis, glo ‘n live performer soos min ander; en hy het natuurlik wel ook ‘n groot aantal werk van mindere gehalte geskep. Musiek vir die oomblik; crowd pleasers kan ons dit seker noem.

Maar dit is beslis nie al wat daar oor Franz Liszt te sê is nie. Sy latere klavierwerke en sy toondigte was vernuwend, selfs visionêr: hy het die eksperimente in atonaliteit van Schoenberg en sy volgelinge vooruitgeloop. So beskou is Liszt beslis een van die vaders van die twintigste-eeuse musiek, en ‘n komponis wat nou eers werklik na waarde geskat begin word. Kom ek stel dit so: Liszt was die Jimi Hendrix van klassieke musiek, iemand wat by nabetragting veel meer as blote instrumentalis was; iemand wat selfs ‘n cover in ‘n selfstandige kunswerk kon omskep (vergelyk Hendrix se opnames van Dylan se All Along the Watchtower en van die Amerikaanse volkslied; vergelyk Liszt se menige transkripsies van Schubert, Beethoven en ander…)  

Benewens vernuwing het Liszt natuurlik gewoon ook ure se pragtige musiek geskep, insluitende sy monumentale klaviersonate. En omdat 2011 die 200ste herdenking van sy geboorte is, is daar hierdie jaar ‘n magdom nuwe opnames van sy werk vrygestel. Die een wat die meeste aandag trek, maar wat myns insiens maar flouerig is, is Lang Lang se Liszt: My Piano Hero. Ek het dit gekoop omdat ek wou hoor waarom almal so gaande is oor hierdie jong Chinese pianis. Lang Lang is nie swak nie, en daar is hoogtepunte ook op die album, maar hy doen self te dikwels juis dit waarvan mense Liszt beskuldig: vertonerige virtuositeit wat aan subtiliteit en ‘n sekere “innerlikheid” inboet.

Hierdie kritiek geld beslis nie vir Nelson Freire se Liszt: Harmonies du Soir nie. Freire is ‘n deurwinterde veteraan, met tien keer die talent van Lang Lang, maar veel minder tyd in die kollig. Hierdie nuwe Liszt-opname van hom is beslis een van my albums van die jaar; ek het op ‘n stadium kompulsief in die kar en by die huis daarna geluister. Freire bring die meer sensitiewe, meer huiwerige, meer brose, meer digterlike kwaliteite van Liszt se werk na vore; maar sonder dat Liszt se speelsheid agterwee bly. Tegnies is Freire verbluffend, maar dit is tegniek wat nie onnodig aandag trek nie. Freire dien deurgans die musiek, nie sy eie sterstatus nie. Dit is ‘n album wat selfs Liszt-sinici sal stilmaak.

Die jong Franse pianis Lisa de la Salle het ook in 2011 ‘n Liszt-CD uitgereik. Haar opname is nie heeltemal so subliem soos die van Nelson Freire nie, maar sy is beslis iemand om dop te hou. Sy speel met groter vuur as die meer subtiele Freire, en dit is juis daarom lekker om die twee CD’s afwisselend te luister. Moet jou dus nie deur die bemarkers laat mislei nie: vergeet van Lang Lang, en koop eerder De la Salle en, veral, Freire. Jy gaan nie spyt wees nie!

  •