Posts Tagged ‘neponimiese poësie’

De Waal Venter. Neponimiese poësie

Monday, March 30th, 2020

 

 

ons dwarrel vliesvlerkig1

deur bome en die wind

na poele waar ons water drink

’n albatros en engelkind”

.

“’n Poel2

– water in die skadu’s – jou liggaam.

Stilte. Enorme namiddag klop

byna onopsigtelik.

Tussen jou bene vloei die koppige tyd.”

 

Hierbo is twee fragmente uit twee gedigte. Die een is in Afrikaans geskryf en die ander een oorspronklik in Spaans en in Afrikaans vertaal.

Hoewel die twee gedigte uit verskillende literature, tale en tydperke kom, is daar groot ooreenkomste tussen hulle. Albei is liriese liefdesgedigte en maak gebruik van waterbeelde. In die eerste gedig is die “poele” water ’n metafoor van die minnaars se gesamentlike genot. In die tweede gedig is die “water in die skadu’s” die geliefde se liggaam, en hier ook ’n metafoor van gedeelde liefdesgenot.

Hierdie twee gedigte is neponieme van mekaar.

Die volgende word bedoel met “neponieme” in hierdie konteks.

Eenvoudig gestel beteken die term die volgende: dit dui op poësie wat deur verskillende digters geskryf is (in dieselfde of in verskillende tale) en wat grootliks ooreenkom wat betref styl, inhoud, ritme, beeldspraak en al die ander dinge wat verband hou met die aard van poësie. Dit is duidelik te onderskei van navolging of plagiaat. Dit is poësie wat ‘n noue verwantskap toon met poësie geskryf deur ‘n ander digter.

Digters wat neponimiese gedigte skryf, kan bewus wees van mekaar se oeuvres, soos Bernlef en Tranströmer. Bernlef was ’n hoogaangeskrewe Nederlandse digter wat feitlik die hele oeuvre van Tranströmer in Nederlands vertaal het. Maar digters kan ook neponimiese gedigte skryf en volkome onbewus wees van mekaar se werk. Ek het ’n sterk vermoede dat dit die geval mag wees wat die twee aangehaalde digters hierbo betref.

Ek wil dit sterk beklemtoon dat neponimie heeltemal nie gesien moet word as enige vorm van naskrywing of plagiaat nie. Ons het in die Afrikaanse letterkunde die ongelukkige voorval van die digter DPM Botes wat daarvan beskuldig is dat hy ’n gedig van Tomas Tranströmer nageskryf het. En dit is moeilik om hierdie bewering te ontken. Dit was waarskynlik nie ’n neponimiese proses nie.

Neponimiese gedigte is egter werke wat ooreenkomste vertoon, “verwant” is aan mekaar. Daar is idees en begrippe wat deur die eeue deur digters in metafore aangebied is en nog stees aangebied word. Daar is style en benadeings in die poësie wat eeue lank al bestaan en wat vandag nog suksesvol en genietlik beoefen word, soos byvoorbeeld die liriese liefdesvers.

Die term “neponimie” is opgebou uit die voorvoegsel “nepote” of “nepos” met verskeie betekenisse deur die eeue en wat in die middeleeue die betekenis van “neef” gekry het (dikwels die buite-huwelikse seun van ’n pous wat op allerhande maniere deur die pous bevoordeel is). Hier word dit bedoel as iets soos “verwant aan”.

’n Woord wat dikwels in die letterkunde voorkom, “heteroniem” word soos volg deur etymonline.com verduidelik.

heteronym (n.)

“word having the same spelling as another but with a different sound and meaning,” 1889, also “a thing’s name in one language that is an exact translation of its name in another” (1885); from hetero- “other, different” + -onym “name” (from PIE root *no-men- “name”).

Die “-niem” agtervoegsel word hier dus bedoel, nie letterlik as “naam” nie, maar as duidend op die “identiteit” van die gedig.

“Neponimiese” gedigte is dus gedigte wat verwant aan mekaar is op grond van die eienskappoe soos hierbo uiteengesit.

In ander tale sal “neponimies” gevolglik wees:

Frans: néponymique

Duits: neponymisch

Engels: neponymic

Nou kan ons verder kyk na voorbeelde van neponimie in die poësie. Hier is dan die eerste vier dele van Octavio Paz se gedig en Carina Stander se volledige gedig.

 

Noche, día, noche”

Octavio Paz

(Fragment)

1.

 

Chorro de luz: un pájaro

cantando en la terraza.

 

Nag, dag, nag”

.

Stroom lig: ’n voël

singend op die terras.

In die valleie en berge

van jou liggaam ontwaak dit.

 

2.

 

Vuur slaap in die nag,

water wat laggend wakker word.

 

3.

 

Onder die blaredak

van jou hare

jou voorkop:

bome,

helderheid tussen die takke.

Ek dink aan tuine:

om ’n wind te wees wat ritsel deur jou herinneringe,

om die son te wees wat tussen jou fyn takkies deurbeweeg!

 

4.

 

Aan die voet van die palm,

lank soos ’n barbaar

golwend groen teen die aanvallende son

rus jy.

 

5.

 

’n Poel

– water in die skadu’s – jou liggaam.

Stilte. Enorme namiddag klop

byna onopsigtelik.

Tussen jou bene vloei die koppige tyd.

 

By herhaling:

Albei digters gebruik waterbeelde om die geliefde te beskryf. By Paz is dit “’n Poel – water in die skadu’s van jou liggaam”. Die minnaars deel die liefdesgenot in die liggaam van die geliefde.

By Carina Stander is dit “poele waar ons water drink”, weer eens, gedeelde liefdesgenot.

 

Gevleueld”

 

Carina Stander 2006

 

afstand is ’n roofvoël, sê jy

en skuur jou stoppelbaard teen my

lag en huil sit albei

vlak-vlak in ons oog en keel

jy sê huil is vir die voëls

voëls het nie hoogtevrees nie

ons dwarrel vliesvlerkig

deur bome en die wind

na poele waar ons water drink

’n albatros en engelkind

wie benodg vlerke

om te vlieg?

dank aan die lugredery

daar’s x-straalfoto’s van jou arms

in die reistas aan my sy

 

Die volgende twee gedigte handel ook oor die liefde, maar die toonaard is heel anders. Hier vind ons onstuimige hartstog en amper ongebreidelde emosie. In “die eed” voel die digter so sterk oor sy geliefde dat hy homself ’n wrede lot toewens indien hy haar sou vergeet. Hy is betower deur die geliefde se “warm gladde vel” terwyl die digter van “Lyf van ’n vrou” haar liggaam ervaar as “van vel, van mos”. Hierdie digter se hartstog wil hom deur sy geliefde laat ploeg met sy “wilde boerelyf”.

 

die eed3

 

(Fragment)

as my hande ooit die ronding

van jou lyf sou vergeet

die kurwes en die holtes

van jou warm gladde vel –

mag hulle opswel soos spanspekke en bars

mag die miere hulle opvreet

in die nag wanneer ek onder die lakens lê

mag hulle afvrot in die donkerte van die aarde

 

Lyf van ʼn vrou4

Lyf van ʼn vrou, wit heuwels, wit dye,

jy is soos die aarde in jou oorgawe.

My wilde boerelyf ploeg deur jou

en laat ʼn seun opspring uit die aarde se diepte.

 

Ek was eensaam soos ʼn tonnel. Voëls het gevlug vir my. En die mag van die nag het my binnegedring.

Vir oorlewing het ek jou in ʼn wapen omgesmee,

soos ʼn pyl in my boog, ʼn klip in my slinger.

 

Maar die uur van vergelding sak neer, en ek het jou lief. Liggaam van vel, van mos, van gretige, stewige melk. O, die vase van die bors! O, die oë vol afwesigheid!

O, die pubis-rose! O, jou stem, stadig en treurig!

 

Lyf van my vrou, ek sal voortbestaan deur jou guns. My dors, my oneindige verlange, my besluiteloosheid! Donker rivierbeddings waar die oneindige dors vloei, en vermoeienis volg, en oneindige smart.

 

Mens moet nogal deeglik soek om ’n gedig te kry wat neponimies is met die koel, anderse werklikhede van Tomas Tranströmer se poësiewêreld. In “Agter die gordyn” kry mens so ’n gedig deur die eietydse Meksikaanse digter, Coral Bracho (gebore 1951). Haar “ander wêreld” en “ander werklikheid” klop baie goed met Tranströmer se omkerende werklikhede en deurbreking van werklikheidsgrense.

 

Detrás de la cortina

 

Coral Bracho

Detrás de la cortina hay un mundo de calma,

detrás del verde espeso

Agter die gordyn5

 

Agter die gordyn is ’n wêreld van kalmte,

agter daardie groen

’n skuilplek,

’n diep stilte.

Dit is ’n onaangetaste koninkryk, met sy stilte.

Vanuit die vloeiende verskyning

van ’n ander wêreld,

vanuit daardie ander werklikheid van verstrooide geluide;

vanuit daardie ander tyd

vasgevang, roep hulle my.

 

Elegi

 

Jag öppnar den första dörren.

Det är ett stort solbelyst rum.

Tomas Tranströmer

 

 

Elegie6

Ek maak die eerste deur op.

Dit is ‘n groot sonverligte kamer.

‘n Swaar motor ry verby in die straat

en laat die porselein rittel.

Ek maak die tweede deur oop.

Vriende! Julle het die donker gedrink

en sigbaar geword.

Die derde deur. ‘n Smal hotelkamer.

Uitsig op ‘n agterstraat.

‘n Lamp wat glinster op die teer.

Pragtige klomp uitgebrande ervaringe.

 

Vir die meeste lesers van Afikaanse poësie is Boerneef seker ’n geliefde digter. Sy heerlik boerse taal en vertellinge uit die idilliese plaaslewe bied ’n nogal nostalgiese genot. Dit is ook ietwat van ’n verrassing as mens NP van Wyk Louw se Klipwerk oopslaan en ontdek of herontdek hoe neponimies hierdie gedigte is met Boerneef se verse.

Kyk gerus ook na Helize van Vuuren se onlangse essay “Osip Mandelstam. Vertaling in Afrikaans” in Versindaba. In een van haar kommentare wys sy op ooreenkomste tussen Mandelstam en Van Wyk Louw se werk. Mandelstam het onder andere die titel “Tristia” gebruik.

 

Boerneef

 

Twee torras van torresvedras

krap mekaar se nekke

vier laatvye van adamsedras

kruie en kruie en kruie

met die slingerwielkar

teen Gydo se pas

honou kandas

hanou malgas

hookha kandas en malgas

in Gydo se pas

los die moordasie van adamsedras

en krap mekaar se nekke

soos die twee torras van torresvedras.

 

Klipwerk

 

dat akkers op die sinkdak val

en vye op die ringmuur breek

*

die katstert en die angelier

verlede jaar was die kind nog hier

die swart rapuis en die besembos

hoe’t jy my dan nou gelos

*

die esel staan met sy gat teen die wind

ai, hoe het ek my hart gebind

lank verloor en nooit gevind

máár ek bly haar wel-gesind

onder in die vlei staan ’n botterblom

lank verwag en nooit gekom

swaar is die berg en die hart is dom

hy vir haar en sy vir hom

Hier is ook ’n vers, opgeteken uit die volksmond wat sy neponimiese kleur toon met die ander twee gedigte.

 

Opgeteken uit die volksmond”

 

Staan troei, staan troei

want die bulkalf

wil kom by die koei.

Wie bulk so daar

by die tollies?

Kyk hoe groen is die mielies,

water loop handeviervoet

in die vore.

Daar wei die ooie tussen die hamels

maar die jongmanne is bra skamels.

Die meisie se rooi hakskene,

nee hoe lam voel my bene.

So breek dit, breek die dag,

rooi druk stadig aan die swart.

So breek dit, breek my hart.

Bronne

 

  1. Uit: “Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”

Saamgestel deur Fanie Olivier

Vyfde, uitgebreide uitgawe – Human & Rousseau

“gevleueld”

Carina Stander.

  1. Uit: “Arbol adentro”

“Die boom hierbinne”

Octavio Paz

Noche, día, noche”

“Nag, dag, nag”

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

  1. Uit: “Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”

Saamgestel deur Fanie Olivier

Vyfde, uitgebreide uitgawe – Human & Rousseau

die eed

Breyten Breytenbach

  1. Uit: “Vandag is Boordensvol”

Pablo Neruda in Afrikaans.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter.

Naledi 2019

  1. Detrás de la cortina”

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

  1. Uit: “Stigar” (1973

Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter

  •