Posts Tagged ‘Nerina Bosman’

 N.P. van Wyk Louw-herdenking 18/19 Junie 2020

Thursday, February 20th, 2020

N.P. van Wyk Louw vir vandag (2020)

 

Plek: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in samewerking met Afrikaans-departemente van verskeie universiteite in Suid-Afrika reël ‘n Louw-herdenking op bogenoemde datum. Louw is ‘n halwe eeu gelede in Johannesburg oorlede.  Die program vir die geleentheid wat oor twee dae aangebied word, sluit in die gebruiklike jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing (18 Junie) onder beskerming van die Departement Afrikaans van die Universiteit van Johannesburg wat die keer by die Akademie in Pretoria aangebied word. Die spreker is Jeremy Vearey, outeur van Jeremy vannie Elsies met ‘n lesing onder die opskrif “Kaantie wies NP van Wyk Louw?”

Nagenoeg 20 bydraes is ontvang vir ‘n spesiale Louw-gedenkuitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, onder gasredaksie van Ronél Johl van die Departement Afrikaans, wat by die gedenkgeleentheid bekendgestel word. Deelnemers aan die spesiale gedenkuitgawe sal genooi word om op 19 Junie by die Louw-dagsimposium op te tree. Bydraes is ontvang van Jaap Steyn, Hein Viljoen, Heilna du Plooy, Joan Hambidge, Jac Conradie, Willem J. Botha, Nerina Bosman, Marisa Keuris, Anastasia de Vries, Derek van der Merwe, Louise du Toit, Benda Hofmeyr, Andries Visagie, Johann L. Marais, Hennie van Coller en Hermann Giliomee.  ‘n Publikasie oor NP van Louw, onder redaksie van Ampie Muller en sy eggenote Beverley Roos-Muller, wat nou by Hemel en See-boeke voorberei word, sal moontlik ook by die Louw-funksie bekendgestel word. Ampie Muller, skoonseun van Louw, is verlede jaar oorlede.

Nader besonderhede van die dagprogram (Vrydag 19 Junie) sal later aangekondig word. Belangstellendes kan aanmeld by Melanie Rens (melanie@akademie.co.za <mailto:melanie@akademie.co.za>).

Registrasie: R250

Studente: R100

  •