Posts Tagged ‘Nini Bennet gedig’

Nini Bennett. Grendeltyd

Saturday, March 20th, 2021

 

Grendeltyd

 

Kyk die versluierde stilte

in die gordyn. Stofsuile,

bundels lig. ‘n Vrou

se omlyning in die skaduwees,

‘n skaars silhoeët,

‘n astrale self.

 

Eensaamheid kyk beendiep uit ‘n verloopte steeg.

 

 

© Nini Bennet, 2021

 

Nini Bennett. Hiraeth

Tuesday, March 16th, 2021

 

Hiraeth

 

In die kánon van drome

is daar baie kamers.

Daardie huis met die kreosoot

in die dakkappe, die balke óóp,

die geheim van geitjies

en krakende duisternis;

pensioendag loop sy

kraanvoëltreë

deur haar tuin, doop steggies

in hormoonpoeier, droom

van nagwater in die Klein-Karoo;

maar ‘n leibeurt

raak eensaam, die verloopte rugkant

van ‘n sterrekyker.

Januarie roep bloedmaan,

roep wolwe en onrus,

die lig is te skerp

as die tuinslang fluister, kantelkop

onder ‘n klip bly sis.

Sy droom van daardie huis

met die blackout-gordyn,

die naamlose voetstappe

oor die gruis

want toentertyd se straatlampe

brand soos geeste teen die dyns.

In die kánon van drome trek sy terug

na daardie kamer, die krimpende

duisternis,

die versigtige gesigte

 

gebare in wit

 

vir een wat verwerping

vrees soos dae in kwarantyn.

 

© Nini Bennet, 2021

 

Nini Bennet. Covid-gedagtes

Sunday, December 27th, 2020

 

Covid-gedagtes

 

om mekaar weer oopgesig te mag ken

te soen, die warmte van ’n omarmdruk

duskant hierdie maskerade

van vrees

stroefgesig gemuilband

teen bevelsraad

en reëls

op TV roofkyk ek

tweedehands

die ou normaal

vóór die skaduteater van politiek

en dood

ek is so moeg en die lewe

’n heruitsending

 

vertel my van jou post-Covid-bucket-list

waar gaan ons heen van hier

geld syfer weg

soos bloed

bedags stap ek

dieselfde pad

die waste pickers myn

die asblikke

hoe recycle jy ’n lewe

en wat’s die lewensiklus

van rommel

die uitskot die genade

 

stap ek

dieselfde pad

tot ek wegraak

’n stokman word die virus

mals om my

vervlees

 

© Nini Bennet, 2020

 

Nini Bennet. 21/8/2020

Wednesday, December 23rd, 2020

 

21/8/2020

 

my god, is u ook eensaam

dié dat u aanhou skep

of is u een van ’n panteon gode

of sal ek sê

gotte –

is u ’n verhewe luggod soos zeus

selfgeldend met offers met geweld

– jesus, odin –

of is u die buierige kunstenaar

wat parallelle heelalle

skep, fok dogma en vrees

 

here, vandag het ek ’n man sien sterf

hy’t langs ’n stormwatersloot

gaan lê, ’n sakkie niks langs sy kop

weggedwaal uit plastic view-plakkerskamp

dood aan covid of honger,

dieselfde verskil

 

suikerbekkies om die aalwyne

die viooltjies blom vroeg vanjaar

ly plante ook aan SAD

of het hy bloot

die dood se voordroom gepluk

 

in pretoria se melkerige winterson

is hy weg – here, ek stuur vir u ’n location pin

miskien was u daar en brand

die glorie van u eensaamheid

voort in dié nagelate woord

 

 

Nini Bennet. Incognito

Saturday, December 19th, 2020

 

 

incognito

 

intieme kameraad

ek versteek jou aan my lyf

’n mes of dwelm

die note tussen my borste

langs die taxi’s van die dood

jy’s nie liefde nie, jy’s vrees

jy soek asiel

in ’n Bybel

lees die gekaapte tyd

op ’n foto

speur deur juwele en gewere

in ’n kluis

 

die kissie as wat vra vir wind

 

© Nini Bennet, 2020

 

Nini Bennet. nagdier

Tuesday, December 8th, 2020

 

nagdier

 

god van die leeus

en die vleisvreters

ek dra die donker soos ’n vag

die wind asem onrustig, daar’s niks

meer oor

my verweer is dun

die jagters maak vuur en ek snuif

aan die wit skaduwees

ek soek my geliefde,

ek soek hom bloots

– verdwyn tussen takke

en ritsels vol vrees

 

ek vlug in my klein duisternis

 

o nag, waak oor my

maak my die geringste in die bos