Nini Bennett. Kristal
Sunday, June 9th, 2019Kristal
Kristalsaad en aluin.
In my gloei die geometrie van blomme.
Ek skiet vuurpyle diep
uit ‘n berg se oermoer,
dóér uit kieselaarde.
Ek rig galaksies van klip,
ek stip sneeuvlokkies
in kantpatrone. Ek is die dood
wat lewe, die profeet by die fontein;
hulle streel my, ‘n huisgod
vir dié wat sterf, my
breeklig van sout en water.
Want hulle dae vergaan
soos spieëls agter mirages, herhalend
in ‘n kringlied
om ‘n nooitvolprese aarde.
(© Nini Bennett. 2019)