Posts Tagged ‘Nkomazi’

Johann Lodewyk Marais. Die navorser skryf gedigte

Thursday, June 18th, 2009

 Die sameloop van omstandighede kan wél onverwagte gevolge hê. In die herfs van 1992 was ek in ’n gesprek betrokke wat terugskouend boeiende gevolge gehad het en vir my van groot betekenis was. Die gesprek het oor die middaguur in ’n restaurant iewers in die noordelike voorstede van Johannesburg plaasgevind. Dit was in die dae toe uitgewers nog hulle skrywers ruim kon onthaal en dikwels gesprekke oor nuwe manuskripte in een of ander restaurant gevoer het.

            Tydens dié gesprek wou my uitgewer, Ampie van Straaten, weet met watter navorsing ek besig was. My vertellings oor my werk die voorafgaande jaar in die Laeveld het hom duidelik geboei. Hy het uitgevra oor die omgewingsimpakstudie vir die bou van die Driekoppiesdam waarby ek en enkele ander kollegas betrokke was. Vir hom het die kennismaking met mense in ander vakdissiplines en die Swazi’s rondom die beoogde Driekoppiesdam in die Nkomazi-streek klaarblyklik na boeiende ervarings geklink. Nadat die uitgewer lank na my vertelling oor ons wedervaringe geluister het, het hy vorentoe geleun: “Jy moet ’n roman daaroor skryf.”

Aangesien my oorskakeling na navorsing in landelike gebiede nie uit eie keuse gekom het nie en die werk dikwels met allerlei persoonlike opofferings gepaard gegaan het, het ek heftig geprotesteer: “Nee, ek wil nie daaroor skryf nie. Baie beslis nie.” Hy het egter aangehou en my daarop gewys dat ek gelukkig was om al dié dinge te kan ervaar. Nie alle skrywers het die geleentheid om in landelike gebiede te kom en dit eerstehands te ervaar nie; skrywers beland immers meermale in lessenaarberoepe of verkies om die meeste van hul tyd in hulle studeerkamers naby hul rekenaars en boeke (vir al die intertekstuele verwysings!) deur te bring.

My ervaring as navorser in die Nkomazi-streek van Mpumalanga het weliswaar uiteindelik ’n hand vol produkte opgelewer. Ek was skrywer of medeskrywer (hoofsaaklik met my kollega Martjie Bosman) van altesaam 5 navorsingsverslae en 11 artikels in hoofsaaklik vakkundige tydskrifte. Bowendien was daar nie alleen die impakstudie nie. Daar was ook ’n grondregister van al die boere wat hul grond as gevolg van die bou van die dam sou verloor, werk oor kommunale grondgebruik, die rol van plaaslike kennissisteme en die reproduktiewe gesondheidsorg van Mosambiekse en Swazilandse vroue wat hulle onwettig in Suid-Afrika bevind.

Met verloop van tyd het ek egter ook enkele gedigte en aantekeninge vir gedigte gehad. Dié het ek saans in die hotel op Malelane of die buiteklub buite die dorp teen die Krokodilriviergrens van die Nasionale Krugerwildtuin geskryf terwyl ek na die geluide in die subtropiese nag geluister het

In die verslag Social impact assessment of the Driekoppies Dam (1992) word natuurlik niks oor hierdie ervaring weergegee nie. So ook rep die Arable land register for Schoemansdal and Middelplaas: Section one (1992) en Arable land register for Schoemansdal, Middelplaas and Schulzendal: Section two (1993), met die lyste name van die kleinboere wat hulle grond kwyt was en die grootte en ligging van die grond, niks van dit waaroor die volgende gedig handel nie:

 

            GRONDREGISTER

 

            Waar tyd, die groot siviele ingenieur,

            die Lomati aaneen laat klippe maal,

            word die gedoemde damkom ’n yl boord

            maroela, groenklapper en wildevy

            gestippel oor die swart-wit lugfoto.

            Ons skuif die film bo-oor en teken

            en nommer die kleinboere se lande

            klein tussen die dik, swart lyne, vinnig

            deur ’n hoër hand in die stad getrek,

            want hier word grond gevat, mense verskuif,

            spoelklippe tot rus gedwing, dam gebou.

 

Of van Thomas Shabangu met die blou Ford-trekker, wat vir die ander boere hulle lande geploeg het, en wie se eie lappies lande tussen die kiaat-, maroela en botterklapperbome gelê het:

 

            KLEINBOER

 

            Thomas Shabangu met die mooi mielies

            moes ná die bou van die Driekoppiesdam

            al sy lande prysgee, teruggaan huis toe

            en okra in sy groentetuin sien stoel.

 

Uit die voorafgaande kan die leser sien dat die skryf van gedigte oor ons sogenaamde Nkomazi-ervaring en ander gedigte in Plaaslike kennis (2004) wat daarby aansluit, moontlik iets van die eiesoortige aard van die poësie na vore bring. Oor die “nutteloosheid” of “geringe waarde” van dié bedryf het ek nie enige illusies nie. Van my destydse voorneme en selfs dreigement aan “my kollegas, die antropoloë” Nic Boersema en Eddie Barendse om ’n digbundel te skryf wat die bou van die Driekoppiesdam sou keer, het niks gekom nie. Gedigte sou in elk geval moeilik die geel masjiene kon verhoed om voort te gaan; of die mense in Louisville of by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afria anders laat besluit; of die gedagte tuisbring dat groot tegnologiese ontwikkeling kan seermaak. Ek het dit immers meermale in my gedigte oor die onmag van die woord, soos ’n skerpsinnige leser my daarop gewys het.

En tog, veral in sy later werk skryf die groot Duitse filosoof Martin Heidegger verhelderend oor die aard van die kunswerk. Hy stel dit soos volg:

 

Het kunstwerk opent op zijn manier het Zijn van het zijnde. In het kunstwerk geschiedt deze openstelling, dat wil zeggen het ontbergen, dat wil zeggen de waarheid van het zijnde. In het kunstwerk heeft de waarheid van het zijnde zich in het werk gesteld. De kunst is het-zich-in-het-werk-stellen van het waarheid.

 

[Die kunswerk maak op sy eie manier die Syn van die synde bekend. Hierdie oopstelling, dit wil sê die ontbloting, dit wil sê die waarheid van die synde, vind in die kunswerk plaas. In die kunswerk het die waarheid van die synde homself in werking gestel. Die kuns is die in-werking-stel-van-die-waarheid.]

 

Vir my gevoel moes my gedigte ’n soort antwoord wees op die jargon van “my kollegas, die antropoloë” en die ontwikkelingswêreld. Een van my kollegas het byvoorbeeld sleutelwoorde en frases in sy kopieë van die tersaaklike literatuur (bv. van die Wêreldbank) ge-“highlight” en op sy rekenaar ingesleutel, sodat dit maklik in ’n navorsingsverslag ingetrek kon word. Sodoende praat ’n mens mos die “regte taal” en kan jy kontrakte losslaan om navorsingswerk te onderneem. Met sy taalgebruik en werkwyse probeer die digter egter om woorde anders aan te wend en met die taal ander betekenisse (o.m. deur suggestie) bloot te lê. Sodoende hoop ek dat ek ten minste spanning tussen die wetenskaplike teks en die gedig bewerkstellig.

 

 Johann Lodewyk Marais

  •