Posts Tagged ‘NP van Wyk Louw huldiging’

N.P. van Wyk Louw 50. Wium van Zyl

Monday, September 7th, 2020

 

 

 

Die wit pad

Vir NPvWL

 

Al met ’n wit pad langs die bruin

Romeinse legioene het ook hier gedraf

Belge, Bataviërs, Friese gestraf, gesnoei

blonde vrouevlees deurgedraf

saad in die modder gelaat waaruit

soms Boergondies uitspattig maar styf

’n deftigheid, ’n hoflikheid

van jas, hoed en sjaal sou spruit

tot waar jy nou moet twyfel tussen wit of swart

vir die stropdas by jou toga

vir die eregraad in die stip skadu van ’n domtoring,

’n du nader aan professorale weledelgeleerdheid.

Ná die carrilon beier ’n verhewe U,

hoë koue paaie, ’n aristokratiese ideaal.

Buite op ’n plein loop son-blink duiwe onversteurd,

oor ’n oude gracht skeer ’n windvlaag:

uitgelate stalhings wat verkwik rimpeltjies blaas

áánblaas aan ’n óú vermoede

alles tesame is net een Groot Vertelsel

die wit pad vurk ewegoed na Gunsfontein

of áf met Verlatekloof na winterweiding

onder Jafta, Josef en September se velskoensole

onder die moftrop se swartblink drollie-tjies:

voetpad en klipsweet, spekbos wat spou – o!

die bloubos het die goue pit.

 

© Wium van Zyl, 2020

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Johann Lodewyk Marais

Friday, August 14th, 2020

 

 

 

 

Vlugteling

 

Met my drome wil ek die oseaan

leegdrink, die winddonker see ingaan,

maar kan ek ongewete in die blikskuit dryf

tot ek gered aan die ander kant staan?

 

© Johann Lodewyk Marais, 2020 (verskyn eersdaags in Ondertussen, Naledi)

 

N.P. van Wyk Louw 50. Alfred Schaffer

Friday, August 7th, 2020

 

 

 

 

 

ik had de auto langs de weg geparkeerd

“hoe slaat U en slaat U op my deure”

(“paniese angs”, n.p. van wyk louw)

 

net was ik ingestapt om te vertrekken, eindelijk

na veel gedoe, toen ik vanuit mijn ooghoek

in de achteruitkijkspiegel zag hoe ik kwam aangerend.

of ik kon meerijden, ik moest dezelfde richting op.

in geen velden of wegen herkende ik mij, het late

daglicht schminkte mijn gezicht bloedrood

want het was hartje winter in drieankerbaai.

ik had iets willen zeggen, nu en dan keek ik opzij

en zag mij star het raam uit kijken of verkrampt

achter het stuur, mijn grote witte ogen

op de weg gericht die zich leek uit te strekken

als aanzwellende muziek, de handrem los, de autodeuren

op het kinderslot, die gure snelheid tot ik weer

tot stilstand was gekomen en bleef zitten

waar ik naast mij zat.

 

© Alfred Schaffer, 2020

 

N.P. van Wyk Louw 50. Daniel Hugo

Tuesday, July 28th, 2020

 

Oh wide and sad land: Adam Small vertaal N.P. van Wyk Louw

(Praatjie gehou by die Adam Small-fees op Pniel, 24 Februarie 2017)

 

In 1975 verskyn Adam Small se vertalings van ’n keuse uit N.P. van Wyk Louw se gedigte as Oh wide and sad land. Dit is nog steeds die omvattendste versameling gepubliseerde vertalings uit Louw se oeuvre. In 1962 het Afrikaans Poems with English Translations, saamgestel deur A.P. Grové en C.J.D. Harvey, die lig gesien. Daarin is 15 gedigte van N.P. van Wyk Louw opgeneem, vertaal deur vier vertalers. In Small se bloemlesing staan 47 verse, met 12 gedigte uit Tristia – Louw se laaste bundel wat nie in Grové en Harvey se bloemlesing kon figureer nie, aangesien dit in dieselfde jaar – 1962 – verskyn het.

 

In sy voorwoord tot dié tweetalige bundel verklaar Small dat sy doel met die vertalings is om egte kulturele kommunikasie tussen die Afrikaanse en Engelse mense van die land te bevorder: “This book is intended to be more than merely a book of Afrikaans verse in translation. It wishes more than anything else to be a contribution towards alleviating what I consider to be one of the outstanding maladies of our South African condition: a lack of truly cultural – I stress truly cultural – communication between English and Afrikaans in the country.”

 

Hy wil die “breuk” wat daar tussen dié twee taalgroepe bestaan, probeer heel. Verder moet sy vertalings ook getuig van sy groot bewondering vir die digter-filosoof Louw: “… an introduction to Van Wyk Louw is an introduction to the noblest spirit of Afrikaans.”

 

In ’n kolofon agterin die boek word hierdie doelstelling deur die finansiële borg van die bundel bevestig: “As huldeblyk aan die Afrikaanse Kultuur en een van haar grootste seuns N.P. van Wyk Louw en om agting en toegeneentheid tussen Die Engelse en Afrikaanse Erfenisse te versterk, word hierdie boek opgedra deur sy borg Mobil-Olie Suidelike Afrika (Edms) Bpk.”

 

Dit is insiggewend dat die klem sowel deur Small as die borg gelê word op die erkenning van Afrikaans as ’n taal met hoë kulturele funksies. Die graad van gesofistikeerdheid wat die Afrikaanse digkuns bereik het, skryf Small uitsluitlik en ongenuanseerd toe aan Louw se teenwoordigheid in die Afrikaanse kultuurlewe sedert die 1930’s: “This probing mind fashioned Afrikaans into a language of expression so fine, that its poetry can now stand with the highest achievements of the human spirit in Time.” Dan beweer hy nogal stellig dat as Louw in ’n groter wêreldtaal geskryf het, hy ongetwyfeld die Nobel Prys sou gekry het.

 

Small erken verder in sy voorwoord dat Louw ’n Afrikaner-nasionalis was, hoewel ’n verdraagsame en liberale een sonder vooropgestelde, vaste idees – ’n filosofiese nasionalis wat probeer om “met ’n skoon oog” na die wêreld en die menslike bestaan te kyk.

 

Agterin die bundel staan daar as ’n nawoord Small se essay “Towards Cultural Understanding”. Hy begin deur te sê daar bestaan’n groot misverstand in die veelrassige en multikulturele Suid-Afrika dat kultuur ’n beperkende faktor is wat mense binne die vaste grense van ’n bepaalde volk vaskeer. Hierdie siening van kultuur skei mense van mekaar, in plaas daarvan dat dit as ’n kommunikasiemiddel tussen groepe dien. Dit bevorder nie begrip nie, maar misverstand.

 

Dit was die jaar 1975. Die volgende jaar sou skoliere Soweto en die res van die land aan die brand steek uit verset teen Afrikaans as taal van onderrig in swart en bruin skole. Dit lyk asof Small ’n voorgevoel daaroor gehad het, want hy sê: “… the future of human relations in our country culturally lies with our youth, and it is therefore necessary that the concept of culture be brought home to them as one oriented towards the understanding of men by men, rather than towards human misunderstanding.” Daar moet begrip, verdraagsaamheid en meegevoel tussen mense wees “… so that the country will not explode in our faces.” Dit was toe ongelukkig presies wat gebeur het.

 

En, gaan Small voort, vir die eerste keer word daar buite intellektuele en literêre kringe aandag gegee aan Van Wyk Louw se kultuurfilosofiese denke. Die verligte Afrikaners begin naamlik kennis neem van hom: “… this taking to Van Wyk Louw, this hesitating acknowledgement of the man, implies the promise of an opening up of the attitudes of the Afrikaner, a promise of accomodation, in this world, of things he could not accommodate before, of things he irrationally feared.”

 

Die essensie van Louw se kulturele denke is dat dit verskillende mense en volke bind eerder as verdeel, omdat die hoër uitings daarvan – soos in die kunste – soveel bevat wat ons onderling kan verryk. ’n Haastige toeris stel net belang in die tipiese, onderskeidende kenmerke van ’n ander kultuur; die ware kultuurmens sien raak wat algemeen-menslik is. Nie die tulpe nie, maar Rembrandt verteenwoordig vir Louw die Nederlandse kultuur. Rembrandt, wat in ’n spesifieke tyd en plek geleef en gewerk het, spreek universeel tot mense van ander tye en plekke.

 

Small voeg hieraan toe dat, hoewel ’n mens in ’n kultuur gebore word, jy nie met kultuur in die wêreld kom nie. Dit is iets wat verwerf moet word: “Becoming cultured is a matter of communication all the time, with the past, with the present, with what is near, with what is far away. The idea that one’s culture is exclusive is being denied all the time in the process of one’s becoming cultured … There is nothing quite so ‘mixed’ as one’s culture, so ‘coloured’, so ‘inter-racial’ or ‘multi-racial’!”

 

Een van die slagbome om ’n ander kultuur te leer ken, is uiteraard die taal waarin daardie kultuur uitgeleef word. En met die vertaling van Louw se gedigte bied Small aan almal wat Engels magtig is toegang tot die hoogste literêre uiting van die Afrikaner en tot die denke van een van sy grootste intellektuele.

 

Ek gebruik met opset die woord “Afrikaner” en nie Afrikaanssprekende nie, omdat Small hom in 1975 klaarblyklik nog met die Afrikaner geïdentifiseer het. Hy sluit sy opstel af deur te sê dat Van Wyk Louw se “vyande” in die Afrikanerdom die denkfout maak dat hulle hul identiteit deur middel van isolasie moet bewaar. Daarmee het hy sekerlik ook bedoel: deur die uitsluiting van die bruin Afrikaanssprekende.

 

Small het sy identifisering met die Afrikaner reeds in 1961 uitgespel in sy bundel politieke opstelle Die eerste steen? Dié essays is opgedra “aan my mense, die Afrikaners”, en daarin maak hy beswaar teen die sosiale, politieke en kerklike verwerping van bruin mense deur wit Afrikaners. In die opstelle spreek hy sy liefdelose “Afrikanerbroer” aan.

 

Hy haal N.P. van Wyk Louw se opstel “Volkskritiek” (uit Lojale verset, 1939) volledig aan en wys op die relevansie daarvan vir 1961, hoewel dit reeds in 1938 geskryf is. Hy beskou Louw as “die beste deel van ons gewete”, en tog wil die politici en kerkleiers nie na hom luister nie.

 

Van Wyk Louw het reeds in 1960 in sy voorwoord tot D.P. Botha se opspraakwekkende boek oor die sosio-politieke posisie van die bruin mense in Suid-Afrika, Die opkoms van ons derde stand,  gepraat van “my volk, Blank en Bruin”. Die benaming “bruin Afrikaners” is ook daardie tyd in ’n wyer kring gebruik, hoewel die Afrikaner-politici nie daarvan gehou het nie.

 

Small het later, uit frustrasie en verbittering, nie meer na homself as ’n Afrikaner verwys nie, maar die neutrale term “Afrikaanses” geskep vir alle Afrikaanssprekendes. Sy bewondering vir Van Wyk Louw het tot aan die einde van Small se lewe voortgeduur. Die titelgedg van sy laaste digbundel – Klawerjas van 2013 – is aan Louw opgedra.

 

In 1975 het hy egter nog die hoop gekoester dat die Afrikaanse bruin mens deur die Afrikaner aanvaar en omarm sal word. Dit verklaar sy idiosinkratiese vertaling van ‘n vroeë Louw-volksversie. Ek bedoel “Rooidag” uit sy debuutbundel Alleenspraak  van 1935:

 

Rooidag, rooidag,

wat bring jy?

Ek weet nie waarom

voel ek so bly;

 

my hart die klop,

en dit voel vir my,

sowaar, sowaar,

vandag kom hy.

 

Dit is die naïef-optimistiese liedjie van ’n verliefde meisie wat graag glo dat haar minnaar daardie dag gaan opdaag. Small herskryf die slotreël egter om ’n politieke betekenis daaraan te gee. Hierdie interpretasie het ek uit Small se eie mond gehoor toe hy die studente van die Afrikaanse Studiekring (ASK) in 1975 by die Universiteit van Stellenbosch oor Oh wide and sad land toegespreek het. Hier is sy vertaling:

 

What do you bring

oh dawn light red

I don’t know why

I am so glad

 

My heart is throbbing

as if to say

truly, oh truly

it comes today.

 

“(I)t comes today” dui op die koms van die bevryding, die dagbreek van die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika. En daarmee saam uiteraard die aanvaarding deur wit Afrikaners van hul bruin taalgenote. (Gun my ’n terloopse, oneerbiedige opmerking oor die rymwoorde “red” / “glad” in die eerste strofe. Dit rym slegs wanneer “glad” op sy Kaaps uitgespreek word as “gled”.)

 

Van Wyk Louw publiseer byna dertig jaar later in Tristia, ’n kwatryn as teenhanger van hierdie hoopvolle liedjie. Daarin is ’n radelose man aan die woord oor sy geliefde wat nooit weer haar verskyning sal maak nie:

 

Sy sal noooit kom nie. Moenie luister.

Moenie wag. Moet niks verwag nie.

Leer die verwagting af. Leer die wág af.

Leer áf om te luister. Leer af.

 

En weer verander Adam Small die persoonlike voornaamwoord na “it”.

 

It will never come. Don’t listen

Don’t wait. Expect nothing

Unlearn expectation. Unlearn to wait

Unlearn to listen. Unlearn

 

Beteken dit dat Small in 1975 reeds gewanhoop het – ondanks sy optimisme in “Rooidag” – oor die aanbreek van ’n nuwe politieke bestel in Suid-Afrika? Dit lyk so.

 

Ten slotte het dit tyd geword dat ek iets sê oor die aard van Small se vertalings. Dit kan die maklikste gedoen word aan die hand van ’n vergelyking tussen Small se weergawe van “O wye en droewe land” (die titelgedig van sy bloemlesing) en dié van Guy Butler uit Afrikaans Poems with English Translations. Ek haal aanvanklik net die eerste strofe aan van hierdie manjifieke klaagsang uit Louw se koorspel oor die Voortrekkers, Die dieper reg van 1938:

 

O wye en droewe land, alleen

onder die groot suidersterre.

Sal nooit ’n hoë blydskap kom

deur jou stil droefenis?

Jy ken die pyn en eensaam lye

van onbewuste enkelinge,

die verre sterwe op die veld,

die klein begrafenis.

 

Small se vertaling klink so:

 

Oh wide and sad land, alone

under the mighty southern stars

will never a happiness break through

your silent sadness

You know the pain and lonesome suffering

of ordinary men each on his own

the unreported dying on the veld

the small man’s burial.

 

En hier is Butler:

 

O wide and woeful land, alone

under the great southern stars,

will never an intense joy disturb

your calm unmoving grief?

You know the lone souls, unaware

of their own suffering and pain,

the far-off death upon the veld,

the burial small and brief.

 

Wat onmiddellik opval, is die meer ontspanne, alledaagse taalgebruik by Small: “sad” i.p.v. “woeful”; “happiness” i.p.v. “intense joy”; “silent sadness” i.p.v. “calm unmoving grief”; “ordinary men” i.p.v “lone souls”. Butler se vertaling is getrouer aan die gedrae en hoë literêre register van Louw se taalgebruik: “droewe”, “hoë blydskap”, “stil droefenis”, “eensaam lye”, “onbewuste enkelinge”.

 

“O wide and woeful land” verskaf ook ’n beter ekwivalent vir Louw se welluidende eerste reël, “O wye en droewe land”, deurdat die w-alliterasie gehandhaaf word. Verder behou Butler die rym in die slotreël – iets wat Small ignoreer. Stilisties beweeg Butler dus veel nader aan die oorspronklike teks, maar Small slaag wel daarin om met sy eenvoudiger taalgebruik die gees en die emosie van Louw se gedig oor te dra. Dit gaan immers oor onbenullige mensies wat wegraak in ’n uitgestrekte, leë landskap.

 

Persoonlike verkies ek Small se ingetoënheid bo Butler se soms bombastiese verwoording. Die derde strofe illustreer wat ek bedoel:

 

Sal nooit ’n magtige skoonheid kom

oor jou soos die haelwit somerwolk

wat uitbloei oor jou donker berge,

en nooit in jou ’n daad geskied

wat opklink oor die aarde en

die jare in hul onmag terge.

 

Ek haal Butler eerste aan:

 

Will never a mighty beauty come

like hail-white thunderheads that bloom

above your mountain’s darkest stance,

and never a deed occur in you

to echo over earth, and taunt

Time with its impotence?

 

En om die kroon te span op daardie “mountain’s darkest stance” en “Time with its impotence” word “Time” sowaar met ’n hoofletter geskryf! Dan luister ek veel liewer na Small se soberder Engels:

 

Will never a great beauty

come upon you like the hail-white summer-cloud

that flowers forth from your dark mountains

and never a deed occur in you

to reach across the world

taunting time’s helplessness.

 

Die volledige opdrag by die titelgedig in Small se Klawerjas lui so: Opgedra, postuum, aan N.P. van Wyk Louw, skrywer van “Die beiteltjie”, een van die grootste verse wat ek nog gelees het. Small het inderdaad ook “Die beiteltjie” in Oh wide and sad land vertaal. Hy slaag daarin om die bedrieglike eenvoud van Louw se diepsinnige vers oortuigend weer te gee. Ek haal net die eerste strofe aan en laat Small se vertaling daarop volg:

 

Ek kry ’n klein klein beiteltjie,

ek tik hom en hy klink;

toe slyp ek en ek slyp hom

totdat hy klink en blink.

 

I take a tiny chisel

I try it for its ring

I whet it and I whet it

for it to ring and sing.

 

In vergelyk met Small se tikkende klanke en trippelende versgang val C.J.D. Harvey se vertaling in Afrikaans Poems with English Translations nogal swaar op die oor – selfs al gebruik Small en Harvey dieselfde werkwoorde in rymposisie:

 

I take a chisel, very small,

I tap it and it rings;

I sharpen it and sharpen it

until it shines and sings.

 

Adam Small se vertaling van N.P. van Wyk Louw se verse het tot dusver heeltemal te min aandag gekry. Ek hoop dat hierdie praatjie nuwe belangstelling sal wek vir ’n projek waarvan Small in sy voorwoord tot Oh wide and sad land gesê het: “I consider (it) to be outstandingly important in my own literary career.”

 

Bronne

 

Botha, D.P. 1960. Die opkoms van ons derde stand. Met ’n voorwoord deur N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Human & Rousseau.

Grové, A.P. and Harvey, C.J.D. (eds). 1962. Afrikaans Poems with English Translations. Cape Town: Oxford University Press.

Louw, N.P. van Wyk. 1975. Oh wide and sad land. Afikaans Poetry of N.P. van Wyk Louw in English translation by Adam Small. Cape Town: Maskew Miller.

Olivier, Fanie. 2016. Adam Small (1936- ). In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Small, Adam. 1961. Die eerste steen? Kaapstad: HAUM.

Small, Adam. 2013. Klawerjas. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

  • Daniel Hugo (gepubliseer in: Hugo, Daniel. 2018. Vers & Kapittel. Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns. Kraal Uitgewers)

 

N.P. van Wyk Louw 50. Thomas Deacon

Friday, July 24th, 2020

 

’n Elegiese vers

met N.P. van Wyk Louw

 

in die baai lê die water stil en glad

maar rondom oor houtbaai en kampsbaai en seepunt

spuug die branders skuim

wat in die wit sand stol

in die baai het die wind gaan lê

water blink en glad soos ’n spieël

 

daar stap ’n ou man met sy hond

snuffel tussen skulp in spoelsand rond

(sien jy jouself in hierdie spieël?

ek is jou wese se onderwater

en ek blink op jou spoor

sonder om jou te verloor)

 

die seun met sy visblikskuitjie

span die seil – ’n bont sakdoek –

vaar weg oor die see

sonder spane waag hy dit oor die blou,

want die wind het gaan lê in die baai

(o waar sal jy gaan

en met watter skip?

en as jy wil vlug van hierdie strand

dan vlug ek en jou onderwese saam

selfs tot anderkant die oseaan)

 

die ou man loop en bid

om alles wat wind-berg-planeet

se aard het af te lê

en ’n wyle te broei oor die vrees

maar die seevoëls krys hulle weemoed uit oor die visblikskuit

wat vaar oor die blou

en uit oor die ou man wat vlug langs die see

(en jy vlug waarheen? vir wie?

want ek is jou wese se onderwater

en ek blink op jou spoor

sonder om jou te verloor)

 

© Thomas Deacon, 2020

 

N.P. van Wyk Louw 50. Marlise Joubert

Friday, July 17th, 2020

 

 

Tristesse

 

Jy het weggegaan, vyftig jaar gelede

en bewoon ʼn herberg in die swart vallei.

Buite is boom en wind en wind en waai

jou woorde hier soos krummels terug.

 

Ek het jou nooit geken nie, nooit ontmoet,

maar Tristia se kragtoer het sy weg gevind

na my eenvrouwoonstel, circa 1968,

toe ek alleen en jonk soos ʼn duif alle

aard-van-eksistensies wou verken.

 

Vandag lees ek weer terug in jou,

besef dat die eerste Mei hier ánders was.

Selfs een April kon jou fees nie huisves nie.

 

Ek wil jou alles vertel, maar heimlik hoop

ek jy hoor dit nie – dat jy liefs rustig slaap.

Tog wil ek net fluister dat daar in my tuin

wel enkele winterbloeisels steeds sing:

die ruie bougainvillea en die litroos

met bloedrooipienk trompette soos papier.

 

Helaas, ek sien geen honde nie.

Die parke is verbode en nog toegesluit

en elke straat is stil en sonder blaf.

 

Die liefde het oornag tot vrees geskif,

met vrees, soos weiwater dun en koud,

wat uurliks splits en vertak in onbegrip.

 

Sou jou woorde ooit hiér kon asemhaal ?

 

Alles wat jy vas kon pen, leef nog voort.

Dit troos in hierdie grendeltyd; dit straal

soms ʼn lig uit in ons donker, ongewete dae –

sál ook deur die maande wat nog kom.

 

Ja, ons aarde is nie eenvoudig nie!

 

Ons loop nie meer in klaarte nie;

ons weg is eensaam, méér as ooit tevore.

 

Ons monde met lap en gaas gesnoer.

Ons oë geblus met iets misterieus,

iets onsigbaar wat die dood

as klinkklare bewys agterlaat.

 

Opnuut knaag ek aan jou woorde,

soek na sleutels in al jou slotte.

Maar niks wil pas, buiten dié reël:

En die walg sal om die aarde walm.

 

© Marlise Joubert, 2020

 

N.P. van Wyk Louw 50. Charl-Pierre Naudé

Tuesday, July 14th, 2020

N.P. van Wyk Louw as sekondêre invloed

 

Een van die groot temas in N.P. van Wyk Louw se digkuns is die geding-met-God.

Binne die Duitse letterkundewêreld strek hierdie tema terug tot by die werk van die groot digter Friedrich Hölderlin (20 Maart 1770 – 7 Junie 1843), en veral met betrekking tot gesprekke wat hy met sy groot vriend, die filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel (27 Augustus 1770 – 14 November 1831) gehad het. Dis by hierdie tradisie waar Van Wyk Louw aansluit en wat hy oproep met sy grootse tema, wat in die bundel Tristia sy hoogtepunt vind.

Die Pools-talige digter Czesław Miłosz het binne die Slawiese tradisie ook met dié tema omgegaan, maar met heel ander klemplasings.  Lees sy gedig in Engels, vermoedelik deur homself vertaal, getitel “Theodicy”. Dis onder meer op die webblad Poem Hunter na te speur.

In my digbundel Al die lieflike dade (2014) verskyn ’n gedig wat met Miłosz in gesprek tree oor sy teodisee (sy Godsopvatting). Ek wil my verstout om dit in hierdie Van Wyk Louw-huldigingsreeks te deel, as dit nie te grasieloos van my sal wees om my gedig in die geselskap van hierdie here se werk te plaas nie.

Wat hier allereers van belang is, is Van Wyk Louw se tema as sekondêre, en nie primêre invloed nie. Die sekondêre invloede wat van ’n voorganger ondergaan word, is baie interessant, want dis spore wat dikwels liggies uitgevee vertoon. ʼn Mens moet harder daarna gaan soek. Ek dink die Van Wyk Louw-invloed is selfs in my eie gedig se toonaard af te lees? Ek weet nie, nie verseker nie; ek bespiegel ook maar, selfs oor my eie gedig. Die digkuns is ’n “absent-minded” proses, soos Ludwig Feuerbach (28 Julie 1804 – 13 September 1872) dit gestel het.

Toevallig het laasgenoemde dít in die konteks van sy eie toeligting oor God kwytgeraak. God, sê Feuerbach, skep die Skepping “agter sy eie rug”, terwyl hy soort van “self daarvan vergeet het”. Net soos digters gedigte skryf, meen hy. Feuerbach praat van die “digter-God” as die “absent-minded creator”.

T.T. Cloete het van iets soortgelyks gepraat. Het hy die bestempeling by Feuerbach gekry? Of stem hulle s’n toevallig ooreen? Is dit konsepte wat hoegenaamd oorvleuel? Invloede? Tradisie? Geheue?

Alles lieflike vraagstukke.

Het die digters en hul nasate die tema “die geding met God”, soos dit in Afrikaans bekendstaan, geskep? Natuurlik nie! Dis oud, so oud soos die berge, en daar bestaan ’n hele denkveld daarrondom: die teologie.

Wat Hölderlin, Miłosz en Van Wyk Louw se verestetiseerde verwoordings daarvan egter belangwekkend maak, is dat dit die tema onder die inwerkende invloedkragte van die moderne denke toon, onder meer van die spanninge teweeggebring deur moderne teorieë op die terreine van die wetenskap en die logiese denke.

Hier onder volg my eie gedig, geskryf in die vorm van ’n besinning, soos die gedig van Miłosz waarna dit verwys. Dis ’n vorm waarin sommige van Van Wyk Louw se gedigte ook gegiet is, hoewel ons hier praat van verskillende digters en dus verskillende style. Dié “besinnende” soort gedig kan onderskei word van gedigte wat mistieke en geloofservarings beskryf, soos te vinde is in byvoorbeeld die werk van Sheila Cussons.

 

God se klippe

Miłosz –

Pools maar nié ʼn Pool nie,

en digter van veral die teenstrydigheid –

 

pleit in sy oeuvre

dat God wel bestaan.

Maar dit doen hy nie sonder voorbehoud nie.

In der waarheid glo hy

in die Lewegéwende Afwesigheid.

 

Met die vermeende algoedheid van God

skort iets beduidends

– reken óók Czesław oor die teodisee –

want hoe versoen jy dié eienskap

met sy almag?

Die gestewelde en bonkige natuurteisterings

wat laggend verbygestap kom

en die beskawings soos nessies

met stokke uit die bome slaan …

’n God van liefde?

Die formule hou nie steek nie.

Miłosz sluit só sy rede, min of meer:

“Wee, o wee, my dierbare teoloë,

jul lieflike betoë haal nie die paal nie.”

 

Uit hierdie kuip

van die gees kon hy, en ander vraagstellers

voor hom (reeds skroot

en skelet onder die stekelrige kruipplant),

om die dood nie weer wegtrek nie.

 

En helaas is die antwoord onbevatlik.

Weens die kwessie van skaal (miskien):

die teer, nadenkende opslaggruis

van sterreweë en die planete

se sagte minneveeg

soos ’n veer teen die wang.

 

Indien komete,

die verbyflitsende onderdeeltjies,

 

kon stilstaan,

soos die oomblik in ’n foto

wat in die donkerkamer

uit ’n bak gelig en ontwikkel word –

 

of,

die tyd sy geweefde sardienloop

ten dele in die kil vierkant

van ’n opgehysde hok uit die see

laat opvang

 

terwyl dit van salpeter drup,

 

en één van die gevlerkte tintvissies

uit sy onderwatervlegwerk

in ʼn hand val en daarin verdof

soos ’n kleindood,

 

sou die mens dalk God aan ’n stertjie beetkry.

 

Ek meen dus die probleemstelling van Miłosz

het te doen met die aanvanklike skepping –

wat nooit nét aanvang was nie, maar steeds duur.

Te doen met dié verkeerde onderskeid:

tussen aarde-en-see en die mens.

Daar wás nooit ’n onderskeid nie –

tussen lewe en nielewe,

tussen chaos en ordening nie.

Ons is steeds by die eerste dag.

Daar ís net een dag.

 

Derhalwe: te make met die mens

se wolmussie, tyd.

Ons seemsleerpantoffeltjies –

tyd, ja,

geknip deur onsself

uit die slaggoed van iets stromend onbegrypbaars.

 

God het sy klippe lief,

o, lief het Hy hulle wel.

Eweneens sy atome,

poreuse wesentjies, liewe saamkoestertjies

oomblikliker as die oomblik

en tog nié,

wat mekaar so innig en gevaarlik omhels.

Myle ver soms sidder die lug.

 

Kyk hoe wag Hy

vir al die klipgevreetjies om wakker te word,

die vader wat Hy is.

Duisend maal duisend jaar lank.

Terwyl óns, die klipskimmel,

selfbekommerend verbleik.

 

As ons wyer as die tyd

se dwangbuis kyk –

daar róndom

en van buite,

nie vanuit nie –

 

sien ons Een wat soos ’n standbeeld

in beweging kom:

’n vinger wat lig;

dan ’n kuit wat strek.

 

Hy klim van sy voetstuk af

en hurk

langs ’n poeletjie wat weerkaats van koperbeslag.

 

Hy steek van bo uit die lug

sy vinger deur die beslaande museumdak

en roer die bewaring daar,

tot beierende kringelinge.

 

Dit is tyd dat die poppe wakkerskrik,

dat die hare rys

onder daardie dakglas:

die mondrooi anemone, die watergras …

 

Wie sou kon dink ’n boodskap

kom met soveel geklater deur ’n hemelkap?

Miskien was alles tot dusver te stil?

 

Naderhand glimlag Hy vir alles wat so Hy

blyk te wees, of nie van Hom nie,

en loop slaan Hy sy houding weer in op die voetstuk:

Daar is iets aan staande water

wat onnodig liefdeloos lyk.

 

N.P. van Wyk Louw 50. Ronel de Goede

Friday, July 10th, 2020

 

 

 

 

 

Kraalogies

 

Pa het van jongs af

wedrenduiwe gehad

opreg geteel

nie sommerse duiwe nie

 

kransduiwe met rooi om die oë

kon hy nie verduur nie

irriterend die alewige gebrom

hooo-hooo-hooo-hooo-hooo

 

Kraalogies

was Pa se spogduif

Kraalogies

het hy vir my benoem

 

die rooibontes

was graanplunderaars

stoepbetjortsers

met willewragtag-oë

 

Kraalogies het Pa geleer

om hoog en ver voëlvlug-

perspektiewe te sirkel

en korreloog terug te keer

 

die voorbarige vettes

met die spikkels en die pokkies

en die lewerrooi vlekke om die oë

het Pa verfoei

 

Kraalogies was ’n sieraad

hy en sy nageslag die hoogedeles

bekers het hulle verower

uitgestal in vertoonkas en op gordynkappe

 

die kransduiwe

se oë was amberbruin

net soos Kraalogies s’n

maar Pa het die gemaskerdes verdoem

 

nou sit ek met die naam

van Kraalogies om die nek

en in my die kransduiwe se

gehooo-hooo-hooo en geflap-flap-flappe

 

© Ronel de Goede, 2020

 

  •