Posts Tagged ‘NP van Wyk Louw huldiging’

N.P. van Wyk Louw 50. Louis Esterhuizen

Monday, July 6th, 2020

 

Veel liefliker is dit

(In die spore van NP Van Wyk Louw se “Groot ode”)

 

Laat daar dan dinge wees

wat die mens nie begryp nie, dinge

waaraan hy hom sal wil meet,

 

maar geen berekening vind nie.

Laat daar spieëls wees. En raaisels,

laat hom verward staan

 

voor die wydgevlerkte geduld

van ’n voël in die voue van die wind,

want wat ontbreek, kan nie

 

getel word nie. Laat daarom

die weg van ’n man by ’n vrou

sonder rede wees,

 

want wat baat dit hom –

’n ete van droë brood is immers

beter as maaltye in ’n huis

 

van twis. Ja, wat baat liefde

wanneer daar dinge is wat hy nie

begryp nie, dinge

 

wat afgemete lê in skale

van afskeid en berou: ook dit

kan nie getel word nie,

 

want teen skemertyd

loop hy manhaftig dog droef

en wil dat alles aan sy aard

 

gelyk wees: getuies vir mekaar,

inderdaad, met niemand om namens

húlle te getuig wanneer

 

 

die boom in die agtertuin

sy vrugte swel en sonder huiwering

grond toe stuur nie.

 

Laat daar dan dinge bestaan

wat die mens nie begryp nie, dinge

soos die skramse spel

 

van hande, die fluisterstem

van begeerte, want ja, ook dít vergaan

sonder rede. En vergifnis, los maar

 

vir hom tussen die flenters

van sy refleksie hierdie oomblik,

so sonder vraag

 

of verwyt, en noem dit vreugde

terwyl die drif nog bestaan

vir die mens om ironies te wil leef

 

en die liefde steeds

te behou.

 

 (Uit: Sloper. 2007: Protea Boekhuis)

Digterlike gesprekke met Louw – ‘n bronnelys en uitnodiging

Thursday, July 2nd, 2020

 

DIGTERLIKE GESPREKKE MET LOUW – ’N BRONNELYS EN UITNODIGING

Die vyftigste herdenking van NP van Wyk Louw se sterfjaar het reeds vir groot belangstelling gesorg. By Versindaba is die projekspan van NP Van Wyk Louw 50 in ons skik dat soveel digters die uitnodiging aanvaar het om met Louw en sy werk in gesprek te tree. Soos Charl-Pierre Naudé in ’n kommentaar opmerk, is dit ’n merkwaardige oes verse. Tot op hede, ’n week na die hedenkingsdatum, is altesaam 24 nuwe gedigte reeds geplaas of goedgekeur vir plasing; plus nog die herdigting van eie vorige gedigte oor Louw en die besonderse vertalings van Louw se gedigte in Duits, Engels en Pools wat ons ook reeds hier kon deel. Dit is egter nog nie die einde van die pad nie en digters en vertalers is welkom om steeds gedigte voor te lê met die oog op opname in die reeks.

Intussen begin ons dink aan ’n volgende fase. Die werk wat prof Louise Viljoen rondom digterlike gesprekke met Van Wyk Louw gedoen het, is welbekend. Die resultate van haar navorsing het sy oorspronklik in 2007 aangebied as die Unversiteit van Johannesburg se jaarlikse NP van Wyk Louw-gedenklesing. Daarná is die lesing onder meer in Tydskrif vir Geesteswetenskappe (2008, 48:3) gepubliseer onder die titel “Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw” en het dit met vergunning ook op Versindaba verskyn (https://versindaba.co.za/2011/08/18/louise-viljoen-digterlike-gesprekke-met-np-van-wyk-louw/ ).

Soos Louise verduidelik, is die gedigte wat die basis van die navorsing gevorm het oorspronklik bymekaar gemaak in die proses van haar en Ronel Foster se saamstel van die Poskaarte-bloemlesing en het dit hoofsaaklik bundels wat oorspronklik in die tydperk 1960 tot 1997 verskyn het, betrek. Meer as eenhonderd gedigte is saam met Ronel geïdentifiseer. Intussen is die lys van tyd tot tyd aangevul, onder meer met die gedigte wat vanjaar op Versindaba en in die spesiale uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe (2020, 60:2) verskyn. Die samestellers is egter bewus daarvan dat die lys nie volledig is nie. Daarom die ope uitnodiging aan digters en entoesiastiese lesers van gedigte om ons asseblief te help om die hiate in die lys wat hierby verskyn in te vul. Die formaat waarin die inligting aan ons gestuur kan word, is: DIGTER WAT IN GESPREK TREE. GESPREKGEDIG EN BLADSY VAN DIE BUNDEL WAARIN DIE GEDIG VERSKYN. VERWYSINGSBESONDERHEDE VAN DIE BUNDEL WAARIN DIE GESPREK- OF HULDIGINGSGEDIG VERSKYN. DIE VAN WYK LOUW-GEDIG(TE) OF ANDER WERK WAAROP INGESPEEL WORD. DIE VWL-BUNDEL/WERK WAARIN DIE OORSPRONKLIKE GEDIG VERSKYN HET. In die geval van algemene huldigings- of kommentaargedigte is net die besonderhede van die digter-en-gedig-in-gesprek nodig.

Intussen lewer die nog-onvolledige lys reeds interessante wetenswaardighede, moontlike gesprekspunte en verdere ondersoekmoontlikhede op:

So byvoorbeeld is dit veral Louw se latere bundels wat tot die meeste digterlike gesprekke aanleiding gegee het: met Tristia (in 46 gedigte) die bundel wat die meeste reaksies gestimuleer het, gevolg deur Nuwe verse (25). Daarná: Gestaltes en diere (14) en Die halwe kring (13).

Die gedigte van Louw wat tot dusver die meeste reaksie onder digters uitgelok het, is: “Ignatius bid vir sy orde” (10), “Karoodorp: someraand” (8), “Vier gebede by jaargetye in die Boland” (8), “Ballade vir die bose” (7), “Die beiteltjie” (6) en “Ars poetica” (6).

Onder die digters is dit Joan Hambidge wat deurlopend openlik met Louw in gesprek tree – in 18 gedigte tot dusver. Sy word gevolg deur Daniel Hugo (10 ), Breyten Breytenbach (7), Johann de Lange (7) en Louis Esterhuizen (7).

Vanjaar (2020) is ongetwyfeld die jaar met die hoogste konsentrasie gedigte oor, na aanleiding van en in gesprek met Louw, met 30 geplaasde/gepubliseerde gedigte tot dusver, gevolg deur 1985 (8) en 1970-1971, Louw se sterfjaar en die jaar daaropvolgend, (8).

Ronél Johl

Julie 2020

 

Ons nooi lesers uit om enige van die onderstaande gedigte te nomineer vir plasing op Versindaba, indien moontlik met die teks en korrekte bronverwysing aangeheg. Stuur versoeke aan taljard.marlies@gmail.com

 

NUWE INLIGTING ONTVANG

Die volgende gedigte is bygevoeg by die lys hier onder (dankie o.m. aan Louise Viljoen, Bernard Odendaal en  Daniel Hugo):

Blum, Peter. “Die klok in die newel” (64). In: Enklaves van die lig. (Balkema 1958).

Hugo, Daniel. “Tantalus” (51). In: openbare domein (Naledi 2018). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Krige, Uys. “Die digter as denker” (57) In: Vooraand (Perskor, 1964/1983). ‘n Bondige hekeling met “ons digter-denker”, sonder om Van Wyk Louw spesifiek te identifiseer.

Marais, Danie. “Met vrese soos met verse”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/06/26/n-p-van-wyk-louw-50-danie-marais/). Bron: Raka (1941).

Marais, Johann Lodewyk. “Renosterkewer” (42). In: Insektarium en ander gedigte (Imprimatur, 2018). Bron: “Die narwal”. Tristia (1962).

Olivier, Fanie. “ná vyftig jaar”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/07/03/n-p-van-wyk-louw-50-fanie-olivier/). Bron: Verskeie gedigte.

Opperman, D.J. “Vele woninge” (11). In: Edms. Bpk. (Human & Rousseau, 1970). ‘n Algemene huldigingsvers, opgedra “Aan Van Wyk Louw”.

Ullyatt, Gisela. “jy’t weggegaan” (46). In: die waarheid oor duiwe (Protea Boekhuis 2020). Bron: “Jy’t weggegaan”. Tristia (1962).

 

TITELVERWYSINGS NA VAN WYK LOUW

Hennie Aucamp: Dalk gaan niks verlore nie en ander tekste (Tafelbeg 1992).

Johann de Lange: Wordende naak (Haum-Literêr 1990).

Robert Dorsman en Adriaan van Dis (reds.): O wye en droewe land: honderd-en-een gedichten uit de Afrikaanse poëzie (Meulenhoff 1998).

Marié Heese: Die uurwerk kantel (Tafelberg 1976).

Daniel Hugo en Etienne van Heerden (reds.): Miskien sal ek die wingerd prys: ryme en gedigte oor drank (Tafelberg 1989).

Koos Kombuis: Raka, die roman (Human & Rousseau 2005)

Antjie Krog en Johann de Lange (samestellers): Die dye trek die dye aan. Verse oor lyflike liefde (Human & Rousseau 1998)

Johann Lodewyk Marais: Die somer is ‘n dag oud (Human & Rousseau, 1983).

Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent (samestellers): Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (J.L. van Schaik 1997)

 

 

DIGTERS A-D

 

Aucamp, Hennie. “Prins Raka ruk en rol” (31). In: Die lewe is ‘n grenshotel (Tafelberg 1977). Bron: Raka (1941).

Aucamp, Hennie. “Stad op hitte” (42). In: Hittegolf (Tafelberg 2002). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Barnard, Benno. “Origin Stellenbosch”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/02/21/np-van-wyk-louw-50-benno-barnard/).

Bekker, Pirow. “Die klip sing” (1). In: Die klip sing (Nasionale Boekhandel 1965). Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Bekker, Pirow. “Taalmausoleum” (95). In: Van roes en amarant (Protea Boekhuis 2008). Bron: “Klipwerk”. Nuwe verse (1954).

Bekker, Pirow. “Verbeelde antwoord van Galileo Galilei – afgelei uit briewe aan hom deur die oudste van sy twee buite-egtelike dogters Virginia en Livia van die klooster San Matteo in Arcentri”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/02/07/n-p-van-wyk-louw-50-pirow-bekker/). Bron: Tristia (1962).

Bezuidenhout, Zandra. “Apollo in sy laboratorium” (51). In: Aardling (Protea 2006). Bron: “Skepper” / “Voorspel 1950”. Tristia (1962).

Blum, Peter. “Die klok in die newel” (64). In: Enklaves van die lig. (Balkema 1958).

Bohnen, René . “Onvas”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/03/27/n-p-van-wyk-louw-50-rene-bohnen/).

Botha, Fourie. “Die koms” (20). In: Krap uit die see (Protea Boekhuis 2017). Bron: Raka (1941) en “Die strandjutwolf”, Gestaltes en diere (1942).

Bouwer, Stephan. “Winter” (29). In: Portrette, private dele & kanttekeninge (Human & Rousseau 1980). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Winter”. Die halwe kring (1937).

Bouwer, Stephan. “Beeld van ‘n jeug: ram en rammetjie” (59). In: So sal ons uitpasseer (Voortrekkerpers 1969). Bron: “Beeld van ’n jeug, duif en perd”. Nuwe verse (1954).

Breytenbach, Breyten. “Breyten bid vir homself” (14-15). In: Die yterkoei moet sweet (APB 1964). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Breytenbach, Breyten. “1.3” (13-14). In: Lotus (Buren 1970). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Breytenbach, Breyten. “2.11 (La neige d’antan)” (77-79). In: Lewendood die eerste bundel van die ongedanste dans (Taurus 1985). Bron: “Gesprek van die dooie siele”. Alleenspraak (1935).

Breytenbach, Breyten. “3.10 (Instrukteur)” (129). In: Lewendood die eerste bundel van die ongedanste dans (Taurus 1985). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Eerste sneeu”. Die halwe kring (1937).

Breytenbach, Breyten. “4.7 (1159-1201)” (164-5). In: Lewendood die eerste bundel van die ongedanste dans (Taurus 1985). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Breytenbach, Breyten. “somerwind” (27). In: Nege landskappe van ons tye bemaak aan ‘n beminde (Hond/Ithaca 1993). Bron: “Gesprek van die dooie siele”. Alleenspraak (1935).

Breytenbach, Breyten. “bruin reisbrief”. In: Die handvol vere (Human & Rousseau 1995). Bron: “H. Petrus”. Tristia (1962).

Breytenbach, Breyten. “Woordvlam”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/06/18/n-p-van-wyk-louw-50-breyten-breytenbach/).

Cilliers, Rika. “aan julle: vermeende dokters, psigiaters” (69). In: o. a. debora (Tafelberg 1977). Bron: “Ex unguine leonem” / “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Cilliers, Rika. “rivierdiep verkil” (99). In: o. a. debora (Tafelberg 1977). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Cussons, Sheila. “Reëls vir ’n laat wintermiddag”. In: Die swart kombuis (Tafelberg 1978). Bron: “Jy’t weggegaan”. Tristia (1962).

Cussons, Sheila. “Bedekte naak”. In: Die swart kombuis (Tafelberg 1978). Bron: “Wordende naakt”. Versamelde gedigte (1980).

Cussons, Sheila. “Slaaplose nag”. In: Membraan (Tafelberg 1984). Bron: “Cartesiaan”. Tristia (1962).

Deacon,Thomas. “karoodorp: somersdag”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/01/31/van-wyk-louw-50-thomas-deacon/). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

De Lange, Johann. “Laatherfs” (30). In: Snel grys fantoom (Human & Rousseau 1986). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs”. Die halwe kring (1937).

De Lange, Johann. “Piromaan” (9). In: Snel grys fantoom (Human & Rousseau 1986). Bron: “Piromaan”. Tristia (1962).

De Lange, Johann. “Wordende naak” (1-3). Wordende naak (HAUM-Literêr 1990). Bron: “Wordende naakt”. Versamelde gedigte (1980).

De Lange, Johann. “Palinodes” (48). In: Die algebra van nood (Human & Rousseau 2009). Bron: “Nog eenmaal wil ek in die skemeraand”. Nuwe verse (1954).

De Lange, Johann. “Palinodes” (48). In: Die algebra van nood (Human & Rousseau 2009). Bron: “Voorspel 1950”. Tristia (1962).

De Lange, Johann. “Teen die berghang” (43). In: Die algebra van nood (Human & Rousseau 2009). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

De Lange, Johann. “Uit die welgevormde” (44). In: Die algebra van nood (Human & Rousseau 2009). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

De Lange, Johann. “Watter van die Clifton-gode?” (17). In: Stil punt van die aarde (Human & Rousseau 2014). Bron: “Clifton”. Nuwe verse (1954).

Du Plessis, Hans. “Tweespraak”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/04/17/n-p-van-wyk-louw-50-hans-du-plessis/).

Du Plooy, Heilna. “Ná-gepraat”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/04/10/n-p-van-wyk-louw-50-heilna-du-plooy/). Bron: “Jy ’t weggegaan en jy bewoon”. Tristia (1962).

DIGTERS E-K

Esterhuizen, Louis. “Seisoen van die oë” (12). In: Stilstuipe (Human & Rousseau 1986). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs”. Die halwe kring (1937).

Esterhuizen, Louis. “Germanicus antwoord” (51). In: Op die oog af (Human & Rousseau 1988). Bron: Germanicus (1956).

Esterhuizen, Louis. “Sluipskutter” (57). In: Op die oog af (Human & Rousseau 1988). Bron: Germanicus (1956).

Esterhuizen, Louis. “Diereriem” (96). In: Onderwaterweg (Human & Rousseau 1996). Bron: “Die swart luiperd”. Gestaltes en diere (1942).

Esterhuizen, Louis. “Veel liefliker is dit” (91-2). In: Sloper (Protea Boekhuis 2007). Bron: “Die wind in die baai”. Tristia (1962).

Esterhuizen, Louis. “dat iemand van groter faam” (23). In: Wat die water onthou (Protea Boekhuis 2010). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Esterhuizen, Louis. “Twee herbesoeke, ʼn ander eeu: 1. Germanicus; 2. Raka-ka-ka”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/06/12/n-p-van-wyk-louw-50-louis-esterhuizen/). Bron: Germanicus (1941) en Raka (1956).

Gruwez, Luuk. “Kleiner wonen”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/05/01/n-p-van-wyk-louw-50-luuk-gruwez/). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Gouws, Tom. “1 onsuiwer wiskunde” (29). In: Troglodiet (Human & Rousseau 1995). Bron: “Suiwer wiskunde”. Nuwe verse (1954).

Gouws, Tom. “graafuil 1” (45-6). In: Syspoor (Human & Rousseau 2002). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Gouws, Tom. “sensuur” (47). In: Syspoor (Human & Rousseau 2002). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Hambidge, Joan. “Nog net een maal” (9). In: Hartskrif (Human & Rousseau 1985). Bron: “Nog eenmaal wil ek in die skemeraand”. Nuwe verse (1954).

Hambidge, Joan. “Hommage á Van Wyk Louw” (11). In: Hartskrif (Human & Rousseau 1985).

Hambidge, Joan. “Andy Warhol” (21). In: Hartskrif (Human & Rousseau 1985). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Die wêreld is ons woning nie” (52). In: Gesteelde appels (HAUM-Literêr 1989).

Hambidge, Joan. “Vroegherfs” (26). In: Die somber muse (Jutalit 1990). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs”. Die halwe kring (1937).

Hambidge, Joan. “Andy Warhol op uitstalling” (37). In: Tachycardia (Jutalit 1990). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Variasie: VWL” (91). In: Ewebeeld (Perskor 1997). Bron: “Leer af”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Vrou in frokkie” (24). In: Ewebeeld (Perskor 1997). Bron: “Man in frokkie”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Inteendeel II” (94). In: Ewebeeld (Perskor 1997). Bron: “Jy’t weggegaan”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Skryfode II” (69). In: En skielik is dit aand (Protea 2005). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “N. P. van Wyk Louw (1906 – 1970)” (27-31). In: Lykdigte (Protea 2000).

Hambidge, Joan. “Ignatia bid om orde”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/06/05/n-p-van-wyk-louw-50-joan-hambidge/). Bron: “Ignatius bid vir sy orde”. Nuwe verse (1954).

Hambidge, Joan. DRIE VERSE VIR NP VAN WYK LOUW: “Ignatius bid vir sy orde – ’n palinode”, “Vroegherfs – ’n parodie”, “Ars poetica – ’n pastiche”. (In Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2): 478-479). Bron: “Ignatius bid vir sy orde”, “Vroegherfs”, “Ars poetica”. Nuwe verse (1954), Halwe kring (1937), Tristia (1962)

Hambidge, Joan. “Die kruiwawiel se skreeugeluid”. (In: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2): 480).

Hambidge, Joan. “NP van Wyk Louw 06 Januarie 2014”. (In: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2): 481). Bron: “X”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Hierdie is nie ’n liefdesvers nie – ’n Soort palinode …”. (In: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2): 482). Bron: “X”. Tristia (1962).

Hambidge, Joan. “Cartesiaan”. (In Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2): 482). Bron: “Cartesiaan”. Tristia (1962).

Hammond, E.W.S. “Gone with the wind” (25). In: Doodsteek van ‘n diabeet (Tafelberg 1995). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Hill, George A. “Kom vannag in my drome” (84). In: Müller, Petra en De Jager, Nèlleke – Nuwe stemme 2 (Tafelberg 2001). Bron: “Kom vannag in my drome”, Alleenspraak (1935).

Hugo, Daniel. “Die hart op die fees” (26). In: Die boek Daniel (Human & Rousseau 1986). Bron: “Die hart op die fees”. Gestaltes en diere (1942).

Hugo, Daniel. “Die hart op die fees” (26). In: Die boek Daniel (Human & Rousseau 1986). Bron: “Ars Poetica”. Tristia (1962).

Hugo, Daniel. “Naglied” (28). In: Verse van die ongeloof (HAUM-Literêr 1989). Bron: “My oë tas die wêreld af”. Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Dat pyn bestaan” (10). In: Verse van die ongeloof (HAUM-Literêr 1989). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Teëspraak” (11). In: Verse van die ongeloof (HAUM-Literêr 1989). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Klipwerk” (65). In: Skeurkalender (1998) Tafelberg. Bron: “Klipwerk”. Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Boekehuis, Calvinia / Sutherland”. In: Skeurkalender (1998) Tafelberg. Bron: “Beeld van ’n jeug, duif en perd”. Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Dat pyn bestaan, is nodig” (24). In: Die twaalfde letter (Protea Boekhuis 2002). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Hugo, Daniel. “Suising” (74). In: Openbare domein (Naledi 2018). Bron: “H. Petrus”. Tristia (1962).

Hugo, Daniel. “Tantalus” (51). In: openbare domein (Naledi 2018). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Hugo, Daniel. “Vir VWL”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/01/24/n-p-van-wyk-louw-50-daniel-hugo/).

Hugo, Pieter. “My Beaufort-Wes 1: Vir NPvWL” (12). In: Alchemie van my muse (Naledi 2019). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Jensma, Wopko. “Noudat dit te laat is” (58). In: Where white is the colour where black is the number (Ravan Press 1974). Bron: Die pluimsaad waai ver (1972).

Julius, Lynthia. “Namakwalanddorp: someraand”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/05/22/n-p-van-wyk-louw-50-lynthia-julius/). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Kennedy, Hunter. “Heiden Heiland”. In: Marais, Danie en De Goede, Ronel (samestellers), Nuwe stemme 4 (Tafelberg 2010). Bron: “Jy was ’n kind”. Die halwe kring (1937).

Koch, Jerzy . “die vis in die hemel”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/05/29/n-p-van-wyk-louw-50-jerzy-koch/ ).

Krige, Uys. “Die digter as denker” (57) In: Vooraand (Perskor, 1964/1983). ‘n Bondige hekeling met “ons digter-denker”, sonder om Van Wyk Louw spesifiek te identifiseer.

Krog, Antjie. “skryf-ode” (66-74). In: Kleur kom nooit alleen nie (Kwela Boeke 2000). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Krog, Antjie. “ONTMOETING TUSSEN LADY ANNE BARNARD AND SAMUEL JOHNSON”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/06/11/n-p-van-wyk-louw-50-antjie-krog/).

DIGTERS L-W

Laurie, Trienke. “Gentlemen en fair play?” (27-9). In: Ek sien ‘n rooi bul storm (Tafelberg 1999). Bron: “Hongarye 1956”. Tristia (1962).

Letoit, André. “brise marine” (24). In: Suburbia (Perskor 1981). Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Letoit, André. “Ballade van die bose tikster” (48-49). In: Die geel kafee (Perskor 1985). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Liebenberg, N. A. “In memoriam (N. P. van Wyk Louw)” (48). In: Die eerste gety (Tafelberg 1971).

Louw, WEG. “Naggesprek”. In: Naggesprek en ander gedigte (1972).

Marais, Danie. “Met vrese soos met verse”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/06/26/n-p-van-wyk-louw-50-danie-marais/). Bron: Raka (1941).

Marais, Johan Lodewyk. “Geboorte van die digter” (25). In: Plaaslike kennis (Protea 2004). Bron: “Beeld van ’n jeug, duif en perd”. Nuwe verse (1954).

Marais, Johann Lodewyk. “Platberg se water” (7). In: Plaaslike kennis (Protea Boekhuis 2004). Bron: “Nog eenmaal wil ek in die skemeraand”. Nuwe verse (1954).

Marais, Johann Lodewyk. “Renosterkewer” (42). In: Insektarium en ander gedigte (Imprimatur, 2018). Bron: “Die narwal”. Tristia (1962).

Marais, Loftus. “Die digter as rockstar” (40). In: Staan in die algemeen nader aan vensters (Tafelberg 2008). Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Marais, Loftus. “Vertelling” (82-3). In: Kry my by die gewone plek aguur (Tafelberg 2012). Bron: “Clifton”. Nuwe Verse (1954).

Müller, Petra. “Gedierte” (13). In: Swerfgesange vir Susan en ander (Tafelberg 1997). Bron: “Die strandjutwolf”. Gestaltes en diere (1942).

Myburg, Johan. “Narreskip”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/05/08/n-p-van-wyk-louw-50-johan-myburg/). Bron: “Die hart op die fees”. Gestaltes en diere (1942).

Naudé, Charl-Pierre. “Charl-Pierre bid vir God” (17). In: Die nomadiese oomblik (Tafelberg 1995). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Naudé, Charl-Pierre . “Die probleem met Parys”. (Op Versindaba:  https://versindaba.co.za/2020/05/15/n-p-van-wyk-louw-50-charl-pierre-naude/). Bron: “Mei-fees in Amsterdam”. Tristia (1962).

Nel, Gert Vlok. “die dag toe hulle vir donkie viviers” (38). In: Om te lewe is onnatuurlik (Tafelberg 1993). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Nel, Ronel. “herfs met rilke louw en levi” (27). In: [en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark] (Protea Boekhuis 2002). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs”. Die halwe kring (1937).

Odendaal, Benard. “Valsbaai”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/03/13/n-p-van-wyk-louw-50-bernard-odendaal/). Bron: “Elegiese verse IX”. Tristia (1962).

Olivier, Fanie. “ná vyftig jaar”. (Op Versindaba: https://versindaba.co.za/2020/07/03/n-p-van-wyk-louw-50-fanie-olivier/). Bron: Verskeie gedigte.

Opperman, D.J. “N.P. van Wyk Louw I” en “N.P. van Wyk Louw II” uit “Met apologie” (300). Bladsyverwysing na Versamelde poësie. Verskyn oorspronklik in 1948 in Standpunte en word daarna opgeneem in: Wiggelstok (Tafelberg Uitgewers 1959, p. 84), Kuns-mis (1964) en Versamelde poësie (Human & Rousseau en Tafelberg 2015). Bron: N.P. van Wyk Louw se oeuvre.

Opperman, D.J. “Vele woninge” (11). In: Edms. Bpk. (Human & Rousseau, 1970). ‘n Algemene huldigingsvers, opgedra “Aan Van Wyk Louw”.

Plekker, Freda. “Hulde aan N.P. van Wyk Louw” (29). In: Menner (Perskor 1972).

Rall, Henk. “Ver, bruin plekke” (18). In: Reise (Human & Rousseau 1970). Bron: “Groet in bruin”. Tristia (1962).

Rasch, Gerhard. “Liefste” (130 -1). In: Krog, Antjie en Schaffer, Alfred (samestellers) – Nuwe stemme 3 (Tafelberg 2005). Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Roodt, P.H. “hommage á van wyk louw 1964” (39). In: Foma 1963-1971 (Tafelberg 1972). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Roodt, P.H. “hulde aan van wyk louw 1970” (40). In: Foma 1963-1971 (Tafelberg 1972). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Rousseau, Ina. “Die era van Raka” (121). In: Kwiksilwersirkel (Human & Rousseau 1978). Bron: Raka (1941).

Scheepers, Riana. “Swartland: wintermiddag” (34). In: Met die taal van karmosyn (2001). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Schmidt, Casper. “Bewerige ars poetica” (14). In: Nuwe en nagelate gedigte (Perskor 1980). Bron: “Tristia VIII” (“Ek sien nou skoon: die aarde is verspot”). Tristia (1962).

Schmidt, Casper. “Geskalle van onsterflikheid” (18-19). In: Nuwe en nagelate gedigte (Perskor 1980).

Small, Adam. “Klawerjas” (143-145). In: Klawerjas. Gedigte (Tafelberg, 2013). ‘n Algemene huldigingsvers, postuum opgedra aan N.P. van Wyk Louw as skrywer van “‘Die beiteltjie’.

Spies, Lina. “Volksmonument” (59-60). In: Digby Vergenoeg (Human & Rousseau 1971). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Spies, Lina. “Lewensoorsprong” (65-66). In: Digby Vergenoeg (Human & Rousseau 1971). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Eerste sneeu”. Die halwe kring (1937).

Spies, Lina. “By die dood van N.P. van Wyk Louw” (99-100). In: Digby Vergenoeg (Human & Rousseau 1971).

Stockenström, Wilma. “45 Kraak die aardbol” (56). In: Monsterverse (Human & Rousseau 1984. Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Stockenström, Wilma. ““Installasie van skryf” (9); “Skeppend” (11)”. In: Spesmase (Human & Rousseau 1999). Bron: “Skepper I” / “Skepper II”. Tristia (1962).

Stone, Lou-Ann. “Karoo-dorp: herfsaand” (24). In: Marais, Danie en De Goede, Ronel (samestellers) – Nuwe stemme 4 (Tafelberg 2010). Bron: “Karoo-dorp”, Tristia (1962).

Strydom, Leon. “Hoe stil kan dit raak” (25). In: Geleentheidsverse (Human & Rousseau 1973). Bron: “Die wind in die baai”. Tristia (1962).

Swanepoel, Jan. “nuusberigte 2020”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/06/16/n-p-van-wyk-louw-50-jan-swanepoel/). Bron: “Nuusberigte: 1956”. Tristia (1962).

Toerien, Barend. “Johannes die digter” (40-1). In: 39 Gedigte (Nasionale Boekhandel 1963). Bron: “Hongarye 1956”. Tristia (1962).

Ullyatt, Gisela. “jy’t weggegaan” (46). In: die waarheid oor duiwe (Protea Boekhuis 2020). Bron: “Jy’t weggegaan”. Tristia (1962).

Van der Merwe, Prevot. “nog in my laaste woorde” (57). In: Boerejive (Human & Rousseau 1990). Bron: “Nog in my laaste woorde”. Die halwe kring (1937).

Van der Merwe, Willem S. “Iewers: someraand” (16). In: Son-dig (Perskor 1985). Bron: “Karoodorp: someraand”. Tristia (1962).

Van der Westhuizen, Vincent. “Dat jy vanaand nog êrens is” (58). In: Man sonder hande (APB-boekhandel 1960). Bron: “Ballade van die bose”. Gestaltes en diere (1942).

Van Heerden, Ernst. “Maker” (38). In: Anderkant besit (Nasionale Boekhandel 1966).

Van Lille, Etienne. “Eenheid van die gemeente” (12). In: Chemiese glimlagte (Contentlot 2001). Bron: “Opdrag”. Die halwe kring (1937).

Van Niekerk, Dolf. “naggesig” (12). In: Bleek planeet (Protea Boekhuis 2013). Bron: “Die beiteltjie”. Nuwe verse (1954).

Van Tonder, Niel. “droogte” (40). In: As hy weer kom (Human & Rousseau 1975). Bron: “Voorspel 1950”. Tristia (1962).

Van Tonder, Niel. “hongarye” (52-55). In: As hy weer kom (Human & Rousseau 1975). Bron: “Hongarye 1956”. Tristia (1962).

Van Wyk, Johan. “XVII vroegherfs” (32). In: Deur die oog van die luiperd (Human & Rousseau 1976). Bron: “Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs”. Die halwe kring (1937).

Van Wyk, Johan. “hieronymus bosch se koringwa” (7-8). In: Deur die oog van die luiperd (Human & Rousseau 1976). Bron: “Ignatius bid vir sy orde” (“Dat pyn bestaan”). Nuwe verse (1954).

Van Wyk, Johan. “XL” (69-70). In: Deur die oog van die luiperd (Human & Rousseau 1976). Bron: “Groot ode”. Tristia (1962).

Viljoen, Hein. “Koki bepeins sy swembad” (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2017/11/30/hein-viljoen-drie-gedigte/). Bron: Raka (1941).

Viljoen, Hein. “liewe leser, of: lèse-majesté”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/01/17/n-p-van-wyk-louw-50-hein-viljoen/).

Visser, Hewitt (vgl. Hinwoord, Bonaventure). “Hond van God” (14). In: Smeulvuur (Van Schaik 1981). Bron: “Die swart luiperd”. Gestaltes en diere (1942).

Vos, Cas. “Inferno”. (Op Versindaba https://versindaba.co.za/2020/04/03/n-p-van-wyk-louw-cas-vos/). Bron: “Inferno”. Nuwe verse (1954).

Weideman, George. “En die wildernis sal blom soos van ouds, ’n oorwinningslied” (32). In: Klein manifes van ‘n reisiger (Tafelberg 1970). Bron: “Nog in my laaste woorde” (ook “Vooraf gespeel” uit Gestaltes en diere). Die halwe kring (1937).

Weideman, George. “En die wildernis sal blom soos van ouds, ’n oorwinningslied” (32). In: Klein manifes van ‘n reisiger (Tafelberg 1970). Bron: “Vooraf gespeel” (ook “Nog in my laaste woorde” uit Die halwe kring). Gestaltes en diere (1942).

N.P. van Wyk Louw 50. Danie Marais

Friday, June 26th, 2020

 

 

 

 

Met vrese soos met verse

 

“… dat hy altyd eensaam
met sy vrees
om kosbare dinge tussen
hulle sou wees.”

Moenie bang wees vir dié eensaamheid nie, want
juis dít gee spesiale waarde
aan kosbare dinge.

 

Febe

 

Stellenbosch, 30 Mei 1990

 

Dit staan voor in die dun hardeband-Raka

wat Febe my op my 19de verjaardag gegee het

in Simonsberg-manskoshuis

waar die vrees om kosbare dinge

ten alle koste onder ’n alkoholwalm

skynmanlikheid versteek is

en eensaamheid soos silwer munte

en halwe leuens

geval het

in die blou tiekieboks

langafstand Sondagaand

na Pretoria.

 

Wanneer ek Febe se opregte skoonskrif

op die verbruinde bladsy sien,

kan ek nie alles niks noem nie, maar

op 30 Mei, dertig jaar later, tref

die brose onvertaalbaarheid

van die vreemde kosbaarheid van 1990

en Kamer 44 in Simonsberg my,

onthou ek die penarie van 19

die einde van onskuld

met ’n wye, droewe wit land

soos ’n koorsdroom agter my

’n verdoemende verlede wat anderkant

die sneeublindheid van nuwe hoop wag.

 

Dertig jaar later weet ek niemand

kan Van Wyk Louw,

die Digters van Dertig of Voëlvry,

Koki, Febe of my

uit die verbeelde kou van “Afrikaner” bevry

nie daar is geen

geloofwaardige verdraaiing

van ons skelmdier-verlede nie geen

nuwe beryming van polities verdagte metafore nie geen

Raka-remix met ’n sick beat

wat die Twitterbots van die hede

en die slawedrywers

van honger en dors

kan swaai nie.

 

Dertig jaar later is die outydse vrees

om kosbare dinge

– die majeurwense van mineurmense –

net ’n dowwe klop

in die donker bors tot

ek alles een helder herfsdag

weer oopslaan en besef

ek is steeds op pad

met die dronk skatkaarte van gedigte

in die lanternlig van ou wonde

op die bloedspoor

na komvandaan.

 

© Danie Marais, 2020

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Tony & Gisela Ullyatt (Vertaling in Engels)

Thursday, June 25th, 2020

 

 

 

TRANSLATIONS OF FOUR POEMS BY N.P. VAN WYK LOUW

 

With what, love

 

With what, love,

shall I compare you?

 

Not with any flowers,

the rose, the freesia

that stand still and alone

during the night.

 

I know only, as I

awake in the morning,

scent outside my window:

of cream-yellow rose;

 

and quietly at night,

like someone picking freesias

in the twilight,

I will pick white blossoms

of dreams for you, love.

 

  • “Waarmee, Lief …” (from: Alleenspraak, 1935)

 

 

Winter trees

 

It’s always you, it’s always just you;

the one thought that stays with me

as a shadow stays under a tree:

always just you, always just you.

 

My sorrow takes many ways:

my eyes are blind, and everything

in my heart is tangled.

 

But this will remain one and only,

earning its relief earthy and deep

though it stands in me winter-bare:

this love in me, this love in me.

 

  • “Winterbome” (from: Die halwe kring, 1937)

 

 

Cervantes: Homage to Eugène Marais

 

But also: Don Quixote is thin:

has a gaunt face, hook-nosed,

great moustache; in short, a Don

 

and from La Mancha, with an old shield,

with a boorish aversion for lamb; but,

with lentils on Fridays ‒ for Our Lord’s suffering ‒;

 

standing at Lepanto against the Turks

who with thin faces, bent noses,

huge moustaches, peep into Europe:

 

but: Don Quixote will have none of it:

standing ready against every windmill

charging somewhat dim-witted Spanish sheep.

 

  • “Cervantes: Hommage à Eugène Marais (from: Tristia en ander verse, voorspele en vlugte, 1962)

 

 

Even in my last words

 

Even in my last words you will be there

even in the last twilight of my thoughts

and being, when I lie in the deepest fear

of death, and all the trivial things in me

sink to drab oblivion: much hate

much love that could wait, demanding little,

hours that knew calm, or simple deeds,

bearing no sign of your unease,

o you who were flame: pure and strong and blind

to grief: who burnt everything to your likeness;

who claimed everything and never found complete

satisfaction! Then I shall know your hand

completing my youth’s unfinished circle:

life is beautiful and death too is beautiful.

 

  • “Nog in my laaste woorde” (from: Die halwe kring, 1937)

 

Die volgende skakel lei na ‘n voorlesing van die bostaande gedigte deur Tony en Gisela Ullyatt:

 

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Daar is geen woord (Voorlesing deur N.P. van Wyk Louw)

Friday, June 19th, 2020

 

“Daar is geen woord” is in 1935 gepubliseer in Alleenspraak, die digdebuut van N.P. van Wyk Louw. Die opname van sy voorlesing daarvan is een van 30 wat verskyn op ’n laserskyf getiteld N.P. van Wyk Louw – gedigte. Geen inligting word op die CD-omslag of die CD verskaf aangaande ’n samesteller of uitgewer daarvan nie. Op die CD verskyn wel die volgende kode: K5F05F1085312. Waarskynlik is die album met voorlesings saamgestel uit klankopnames in die SAUK-argief.

 

Klik op die skakel hieronder om na die voorlesing te luister:

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Breyten Breytenbach

Thursday, June 18th, 2020

 

 

 

Woordvlam

(vir al die ingehoktes)

 

hierdie sonnet

wil ’n flenters net span

om die vermoede te vang

dat Nicolaas Petrus Louw

wat na die dood se stilteryk

uit moes wyk

onderlangs sy genoegdoening sal grom

as hy moet weet

hy is nog steeds die danksyse gom

al lyk dit nie so nie

wat ons oujongbruide en ander verhaalverlaters

krom laat hurk van die sing

om die is-is vlammetjie woorde versigtig omkring

aan die lewe se bewe te hou

 

(19 April 2020)

© Breyten Breytenbach

 

 

 

Breyten Breytenbach se “O wye en droewe land”-skildery vorm deel van ʼn reeks van tien oor Afrikaanse skrywers, wat hy in 2011 in akriel op doek geskep het. Die reekstitel is Voormoeders en abbavaders. Hy wou daarmee die geeste huldig wat “meegehelp het om aan die ryk en soepel kreoolse taal wat ons Afrikaans noem, vorm en inhoud te gee”.

Hieronder ‘n nabyskoot van die hande-afdruk op Van Wyk Louw se hemp (skildery hierbo).

 

 

N.P. van Wyk Louw 50. Jerzy Koch (Vertaling in Pools)

Wednesday, June 17th, 2020

 

 

Vroegherfs

 

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug,

 

tot selfs die traagstes; en die eerste blare val

so stilweg in die rookvaal bos en laan,

dat die takke van die lang populiere al

teen elke ligte môre witter staan.

 

O Heer, laat hierdie dae heilig word:

laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en ver was van die pyn;

 

laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.

 

N.P. van Wyk Louw (Nuwe verse, 1937)

 

 

Jesiennie

 

Rok urósł, dojrzał w złotych dębu liściach,

w słońcu promiennym na jaskrawym niebie,

w winnicy rdzawej wzrastał, w pełnych kiściach,

owiany stałą bryzą; kwiat dla siebie

 

owocem każdy, nawet ten nieskory;

więc lecą liście sennie w sinym lesie,

szczupłe gałęzie topól to ubiory

jedyne, płowy świt ich biel poniesie.

 

O Panie, niech te dni się staną święte:

niech runie wszystko, co klejnotem, chlubą

było, co młode i głuche na boleść;

 

niech więc wiejadło Twoje niepojęte

dla mrzonek mej młodości będzie zgubą,

niech z niej majestat lity da się wywieść.

 

© Jerzy Koch (Junie 2020)

 

 

’n Toonsetting van “Vroegherfs” deur Emile Minnie (snit 20 op sy 2017-album, Ligste donker) kan beluister word te:

https://play.google.com/music/listen#/album/Bvvgjra2ysarttj3uecktke2w4u/Emile+Minnie/Ligste+Donker

 

N.P. van Wyk Louw 50. Jan Swanepoel

Tuesday, June 16th, 2020

 

 

 

nuusberigte 2020

the centre cannot hold

wb yeats

 

dit laat my ademloos. in staat van inperking

neem ek gebeure met ‘n koel oog waar.

met eentonige reëlmaat kom beelde

my voor oë: soveel sterftes, soveel besmet.

(onvermeld bly diegene wat langsamer

van honger en van eensaamheid sal sterf.)

 

nooit het ek mooi besef nie dat in ons land

en wêreldwyd daar soveel kenners, soveel profete is.

volgens die skrif behoort hulle wel te weet

hulle sal nie in hul eie land geëer word nie.

dan maar self sien kom klaar. as ander

dan nie die verskuldigde lof toebring nie,

sal elkeen self na sy profiel moet omsien, bly

droom dat haar of sy boodskap soos ‘n virus

sal versprei, viral sal gaan. mag ek tog vir ‘n uur,

‘n dag, selfs ‘n week lank op die lippe van almal

wees, my plasing soos ‘n vuishou tref, mag dit

bo alle verwagting tog gelaaik en -laaik word,

nie net hier te lande nie, ook in verre streke, so ver

die kuberruim ook strek, veral in daardie land

waar die vryheid glo gedy, voorspoed

elkeen se deel kan wees en iedereen

saam aan die groot droom kan droom, daar

waar mens skerp en vars die lug jou longe in

kan teug, soos toon eens op die hoëveld

waar dit oop is en jy baie ver kan sien, waar mens

(glo dit) nog aan ‘n god kan glo, selfs as die tering

op jou bors kom lê en die asem al hoe minder raak.

 

as ons dan ingeperk nie die huis mag verlaat nie, nie

mag rook of ‘n dop kan steek nie, as die cabin fever

ons omsluit, selfs seks sy betowering begin verloor, gaan

sit ons voor die televisie of haal die selfoon uit (mens

begryp maar al te goed die datarekening gaan deur die dak)

tog wil ons weet wat in die wye wêreld aangaan.

 

‘n geregsdienaar, geklee in uniform, blou en swart

demonsteer vir kykers wêreldwyd wat dit behels om wet

en orde te laat geld. sy voorbeeld wys: die spanning

moet juis nie ontlont word nie, olie moet mens

eerder op die vuur gooi, die kruitvat behoorlik

laat ontplof. terwyl sy drie makkers toekyk

hoe die kêrel uitgestrek daar op die teer lê,

plaas hy sy knie ferm op die nek van daardie man

wat hy waarskynlik as ‘n swarte tater sou beskryf.

 

nuuskierige toeskouers hou hul selfone

op video byderhand, rekordeer noukeurig

hoe die vasgepende (die nasaat van ‘n slaaf, weg-

gevoer na ‘n nuwe wêreld) ongevraagd van hom

laat hoor: oor en oor kan omstanders sy klaagstem hoor:

i can’t breathe, overgesetsynde, ek het geen asem oor.

 

na byna nege lang minute kom dié gedeelte

van die skouspel, nes sy lewe, tot ‘n end. vlug

word hierdie grubeeld wêreldwyd gebeeldsend,

raak dit die boustof wat kommentators kan benut

om bekend te raak, mense uit hul sluimer los te skud.

 

dié tafereel bring skares in beroering, laat

brandstigters en plunderaars gedy. (bygesê,

daar is talle der talle vreedsame opregtes wat onthuts

bloot hul stem teen onreg wil laat hoor. dit bly nou

eenmaal moeilik om koring van die kaf te skei.) heel spoedig

staan die stad in ligte laaie. vuur spring van stad na stad

en land na land, geen voorbrand kan dit keer nie.

 

woede vaar die vroue in, verander hulle

in furieë, wesens wat net wil maak en breek,

vir goed knegskap se lang geskiedenis vir ewig

wil verdelg. in dié dolle pandemonium moet die covid-

pandemie maar sy eie gang gaan. maenade

spoeg vuur, ook speeksel; slaan meegevoer

geen ag op handhawing van sosiale afstand nie

(gelukkig presenteer simptome van besmetting

eers na die verloop van ‘n week of twee.) vir eers

is hul woede al wat saak maak. laat die dooies

maar hul eie dooies begrawe. die protesgangers

sal later wel ‘n plan beraam om die gewete goed

te sus, hulle te onthef van blaam dat dodelik

hulle aan die verspreiding van die pes aandadig was.

 

verslaggewers begryp: dit is ‘n tyd om naam te maak: as hulle net

die toneel reg choreografeer, die rou emosie uit die regte hoek

afneem, korrekte vrae tot ontstoke of verslae omstanders rig,

is hier ‘n prys of wat te wen, kan hulle sonder vrees

vir teenspraak demonstreer wie (soos hulleself) moreel

die hoëgrond beset. mens kan maar geld daarop verwed

dat dit die beste strategie sal wees om jou met lydendes,

onderdruktes, die ongerekendes en stemloses te vereenselwig.

terstond besluit dié heiliges: ons sal aan hulle stem gee, self

hul stem word, hart en siel in hul lyding deel, kykers se oë vir eens

en altyd daarvoor open oor wie die cowboys, wie die kroeks is.

 

hier moet ek eers asem skep, myself betig. hoe durf ek

oordeel? my dit aanmatig om dié teelkragtige boosheid

teen te gaan? ek wat amelee maar al te karig is

met empatie; geneig is om die leed (veral die swaarkry

van self-geproklameerde lyders) dalk te gering te ag,

te min geroer word deur die al te menslike tragedie.

 

i love it when a plan comes togther. so het hannibal, macho leier

van die a team, episode na episode altyd van hom laat hoor.

 

(tafereel 1) ‘n geregsdienaar gryp die geleentheid aan, buig

die knie, kniel ‘n kort wyle saam met die protesteerders.

verrassend vereenselwig hy hom met die vertraptes, dié wat

al eeue lank die stewel op die nek voel lê. (hierdie toneel

móét gebeeldsend word: dit toon tog medelye, gewone

medemenslikheid. ek en my kollegas wie se harte sit op die regte

plek sal toesien dat dit prominensie in die uitsending geniet, dat hy

vir sy vereenselwiging met leed behoorlik sal gelofprys word.)

 

(tafereel 2) die gode is my goedgesind: uit eie beweging tree

die grootmeneer self ten toneel en speel in die komedie mee.

presidensieel gee hy die opdrag dat skares voor die volkshuis

met traangas en pepersproei uiteengejaag word. dit is tyd

vir sý fotosessie. hy’t net die regte plek waar hierdie skoot

geskiet moet word. daar is mos ‘n ou en eerbiedwaardige

episkopale kerk, dié van die heilige johannes, skaars ‘n hanetree

van die withuis geleë. hyself verskaf die regte prop. hy hou die boek

der boeke in sy regterhand, hef dit omhoog, glimlag uit die hoogte

vir die kameras, poseer later met sy trofeevrou by ‘n standbeeld.

so eien hy god toe, nie vir die liefde nie, eerder vir handhawing

van wet en orde. hiermee sal hy die slinkse demagoë troef,

hulle wat met hande opgehef in dreunsang slagspreuke uitskree:

black lives matter; no justice, no peace; peaceful protest; keep

self-respect; get your knee off our necks en dergelike meer.

 

terwyl die huidige bekleder van die amp ‘n ondergrondse bunker

gaan besigtig (kies maar: wou hy banggat daar wegkruip of dit gaan inspekteer?)

tree die oud-president nader, hou tussen sy mense ‘n town hall,

herinner sy volgelinge dat gans amerika se geskiedenis

gebou is op protes, dat revolusies offers verg, dat die jeug – o blye dag –

in die voorste linie protesteer; dit gee hom hoop. hy sien daarin

‘n nuwe dageraad, die tekens dat sy veelbewoë land aan die verander is.

vyftig jaar na die swart-wit-betogings van die sestigs is teenswoordig

die protes tog veel meer verteenwoordigend van al die mense van die land.

dit toon dat ideale soos gelykheid en menswaardigheid, blote geregtigheid

steeds mense kan saamsnoer, harte kan inspireer. dié woorde

uiter hy terwyl die stede landwyd brand; vure aangestig word

in minneapolis, atlanta, new york en washington. gedenk daarby:

nero het glo viool gespeel toe sy stad in ligte laaie opgevlam het.

voorwaar, in woorde van ‘n digter: a terrible beauty is born.

 

dit is wel so, die teenswoordige opperbevelhebber sien sake

ietwat anders, kryt sy goewerneurs vir swakkelinge uit, lees

hulle behoorlik die leviete voor. aldus hom is dit nou ‘n tyd vir aksie,

nie vir weke refleksie nie. vergeet maar daarvan om die ander wang

te draai (beslis is jy dan in jou maai); weerhou jou daarvan om met hartseer

en met lyding mededoë te betoon. dit mag so wees dat die skrif sê

dat jy jou vyand lief moet hê en dit jou tot ‘n ruimer menslikheid oproep,

maar realiste weet: dit is geen praktiese politiek dié, so wen jy

die volgende verkiesing nié. nee, wys eerder wie’s die baas, wie klaas.

op meer verhewe toon: die heroïek wat die teenswoordige bedeling

van sy stryders verg, is om ondubbelsinnig swakkeres te domineer,

uitvaagsels in die tronk te stop en om beslissend vuur te beveg

met nog verterender vuur, die land vir altyd van skuim te bevry.

 

maar laat ek terugkeer na daardie dwase eensaam land, die een

wat die ou seevaarder gevind het, nie wou gevind het nie.

wees tog in die pandemie, heer, by daardie land, by dié

wat staan in toue kilometers lank, in hoop op kos, dié

wat nie ‘n werk het of kan kry, wat in die inperking

hul kinders nie kan voed nie, dié wie se skole en klinieke

vir jare afgebrand al staan, terwyl ministers hulle nou en dan

voor ‘n verkiesing in lang slap motors kom besoek. wees tog met dié

wat snak na asem, eensaam sal sterwe rondom my. voorwaar, dit

is geskryf: ons land is aan die mishoop word en ons, sáám gaan ons

mishoop word. dié somber woorde staan traan in die oë voor my.

 

in hierdie tyd is dit die bitter taak, die dure plig van leiers

van die regerende party om die maghebbers van amerika

aan te tree, tereg te wys vir die rassisme en vergrype

wat soveel eeue lank steeds welig daar gedy. nogtans

sal afrikane in aansienlike posisies met grasie en groot-

hartigheid bly optree, ietwat teensinnig in bakhand-afrika

maar weer die minste wees en tog die eerste duisend

ventilators ons geskenk, aanvaar (solank amerikaners

maar net mooi begryp: hulle sal moet leer om groot

te dink; van ‘n veel groter besending is dit tog sekerlik

nog net die eerste deel?) hierdie grootse gebaar ten spyt

sal die bevryders die struggle nooit laat vaar nie, roep

hulle dese en gene plegtig daartoe op om voortaan vrydae

in swart geklee te gaan, deernisvol daaraan gedagtig dat swart

lewens saak maak. in solidariteit met hul weggevoerde broers

(het iemand ooit begrip vir hulle seer?), met dié wat lydsaam

aan ‘t krepeer is in daardie land van oorvloed, sal elk getrou

sy deel moet doen. kenners van radikale ekonomiese transformasie

kan visionêr vir eens en altyd aan almal hul versiendheid demonstreer:

nie net sal hulle vir die vierde industriële revolusie gereed wees nie,

maar staan alreeds paraat om laat hierdie november vreesloos

black friday tegemoet te tree, aan daardie kapitalistiese, neo-

liberale koopfees ‘n heel ander betekenis te gee. a luta continua!

(getransformeerd gestel: hul edel stryd duur almaar voort en voort).

 

so is dit goed, laat toorn maar eerder omslaan in ironie. daarvoor

het ons ten minste heelwat ruimte. die dood van ‘n swart man aan hand

van weermaglede hier ter plaatse (glo een van dertien in die onlangse

verlede, volgens sy prokureur met ‘n geweerkolf opgefoeter en boonop

nog op eie werf) is aldus ons staatshoof maar net te wyte aan oorywerigheid,

toewyding wat in die hitte van die stryd te ver gaan. siedaar, wanneer lokale

kleur nie by die stereotipe pas nie, moet wyse leke liefs tog swyg.

voorwaar, dis laaste gelui; laat bitterheid tog nie finaal word nie.

 

na alles wil dit vir my lyk: ons moet maar by eugène gaan leer: gewis

is alles net ‘n grap, ons speel in die komedie mee. wie laaste lag

is skoppensboer. sonder die middegrond is ons mooi netjies in ons moer.

 

© Jan Swanepoel, junie 2020

 

  •