Posts Tagged ‘N.P.van Wyk Louw’

Suzanne Bezuidenhout. Wat is jou gunsteling gedig?

Thursday, April 22nd, 2010

“Wat is jou gunsteling gedig?” Dié vraag van ʼn vriend vang my ietwat onkant. Ek het immers ʼn gunsteling fliek, paar skoene, kleur, seisoen en selfs ʼn gunsteling sitplek in my gunsteling koffiekroeg, maar ʼn gedig? Op die vraag of ek net een moet kies, antwoord hy: “Ja, net één.”

Dit is ook ʼn vraag wat ek sélf graag aan studente vra en antwoorde wissel van die afgestompte “Ek lees nie gedigte nie” en die raaiselagtige “Ek kan nie die gedig se naam onthou nie, maar die “ou” skryf oor vlerke en hy was in die tronk” (uiteindelik het die student toe nie Kurt Darren se “Loslappie” as poësie beskou nie, maar wel verwys na Breyten Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ʼn rooiborsduif”) tot ʼn trotse “My ma sê elke gedig wat ek skryf, is haar gunsteling.”

Op my vriend se vraag kon ek nie dadelik ‘n antwoord gee nie, hy was nie tevrede met my verweer dat ek eenvoudig nie net één gedig kan kies nie, omdat daar te veel gedigte is wat my laat lag, my laat huil, my laat wonder én verwonderd laat. Ek het deur my inventaris van indrukke oor gedigte gegaan om sodoende te (probeer) bepaal watter gedig uitstaan. Sou dit Ina Rousseau se “Sondag op Stellenbosch” wees of Johann de Lange se “Arabiese seun”? Maar dan dink ek weer aan “Brief van hulle vakansie” deur Breytenbach én Antjie Krog se “Pouse” én Hennig Pieterse se “Ou parfuum wat swaar” én die hele Groot Verseboek (al drie van hulle).

Ek het onlangs ʼn e-pos van die bogenoemde vriend ontvang: “Het jy al besluit?” My antwoord was dat ek nog dink. ʼn Mens kies tog nie tussen jou kinders nie, jy het elkeen op ʼn ander manier lief. Dalk werk dit ook so met gedigte, maar is daar nie tog een wat jy wél voortrek nie, die witbroodjie? 

 

Jy’t weggegaan en jy bewoon

 ʼn silwer herberg in die sneeu

jou vensters kyk nog elke nag

met drie blink oë na die plein

 

die plein is boom en wind en boom

en wind en wind

en wintermiddag voer daar iemand

die meeue krummels teen die wind

 

Met die verligting wat sekerlik gepaard gaan met ʼn AA-lid se erkentenis, kan ek dus nou sê: Ek is Suzanne Bezuidenhout en Van Wyk Louw se “Jy’t weggegaan” is my gunsteling gedig. Voorlopig.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Verwoesting

Tuesday, November 10th, 2009

 Vanoggend wonder ek oor die Engelse woord “devastation” – verwoesting, sê die woordeboek. Neergeslaan en kaalgestroop. Vanoggend weet ek wat dit beteken.

   Daar lê ’n haelhoop op my stoep, ’n halwe meter hoog. Ek reken dit gaan ’n dag of wat neem om te smelt, ek sou ’n ysman kon bou. My strelitzias lyk soos palmbome, slierterig aan flarde geskeur en van die sonneblomme is daar nie veel meer as stammetjies oor nie. My groentetuin, ag – verwoesting.

   Min mense lees seker nog die ou Afrikaanse digters. Te verstane. “Klaas Geswind en syn perd” het seker nog vermaaklikheidswaarde, maar as selfs Van Wyk Louw vir die jonger garde onbereikbaar is, wat dan van Totius en A.G. Visser? Ek mag verkeerd wees.

   Iewers uit my kleintyd, iewers toe die aande vol kerslig was en die weer meer as hoflike geselsies, onthou ek A.D. Keet se “Lied van die koringboer”. Sentimenteel, ek weet. Droogte, die uiteindelike reën, maar ook hael en dan weerlig wat die hooimied tref:

En dit is die lied van die koringboer

    Wat die hele jaar se gesaaie –

Sy brokkie brood, en sy vee se voer,

    Sien vergaan ‘t in ligte laaie.

   Daar is ander en beter gedigte oor storms en reën, selfs uit daardie era. Eugène Marais se “Die dans van die reën” en Jan F.E. Cilliers se “Die vlakte” of die wonderlike “Reën in die voorwinter” van G.A. Watermeyer. Maar oor verwoesting? Vertel my.

   Miskien nou dat die aarde kwaad word, nou sal sy ons weer grond toe dwing. Kaalgestroop, neergeslaan, maar hopelik gewortel. Dis nie in teer en beton waar dinge groei nie, maar daardéúr. Sê Van Wyk Louw:

Toe jy kind was, het jy gedink:

daar sal groot dinge kom uit my,

groot dinge, grotes en goeies –

soos ’n seun moet dink, natuurlik.

En: die groot is gesplits, én die goeie,

nou:

en in plaas van net groot en net goed,

het daar verskriklikheid en eenvoud

en boosheid en eenvoud

en eenvoud en nederigheid

          gesprikkelde sampioene,

deur die teer, uit die teer van die straat,

keiserlik rooi en wit

by die breuk uit wat jy is, kom peul.

Die aarde is nie eenvoudig nie.

Wees gewaarsku. Die aarde is nie eenvoudig nie.

  •