Posts Tagged ‘Nuusbrief Julie 2022’

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Julie 2022

Thursday, July 21st, 2022

 

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

 

Radiovoorlesings van top-3 wenverhale: Toegang

Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat deur PEN International ondersteun is, se top-drie wenverhale se voorlesings is gedoen en luisteraars kan uitsien daarna om dié verhale op RSG se Kortom te hoor.

Gisteraand is die eerstepryswenner, “Die rooi tekkies” deur Hendie Grobbelaar, uitgesaai. Die voorleser was Daneel van der Walt en die regie is deur Dean Balie behartig. Baie dankie, Dean en RSG.

Luister hier na die podsending van die program: https://omny.fm/shows/kortom/kortom-19-julie-2022

“Wind” deur Anton Döckel sal na verwagting op 2 Augustus uitgesaai word en “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde” deur Maretha Maartens op 16 Augustus. Skakel in beide gevalle om 21:40 in om te luister.

Ons sal belangstellendes nader aan die tyd op sosiale media herinner en die skakel na die podsendings deel.

 

Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

Die bekroonde digter Lynthia Julius het die mees onlangse artikel gelewer in ons reeks artikels wat kwartaalliks verskyn en wat met skryfverwante onderwerpe te doen het.

Ons het haar gevra om te skryf oor Gariep-Afrikaans en ons sluit met genoë haar stuk by hierdie nuusbrief in. Dit heet “Die agste gebod” en is hier beskikbaar.

 

Poësie uit Oekraïne

Teen die tragiese agtergrond van die oorlog wat steeds in Oekraïne woed, stel ons hierdie maand ’n spesiale toevoeging tot ons nuusbrief bekend, met dank aan die bydraers en vertalers wat dit moontlik maak. Dit behels dat ons tot die einde van die jaar telkens een Oekraïense gedig in Afrikaanse vertaling by ons maandelikse nuusbrief insluit, as ’n uitdrukking van ons solidariteit en meelewing en as ’n manier om die digters te ondersteun en hul werk aan ’n wyer publiek bekend te stel.

Baie dankie aan Mellet Moll wat in hierdie nuusbrief die openingsbydrae lewer, met ’n kort beskrywing van die poësietradisie in Oekraïne en ’n vertaling van ’n gedig deur die digter, Sergei Zhadan.

“Die oë van die wêreld is sedert 24 Februarie 2022 op die Oekraïne nadat die Russiese Federasie die land binnegeval het. Rusland se magtige weermag het sedertdien te kampe met hardnekkige verset deur die Oekraïense magte.

Die wêreld se nuuskanale beeldsend gebeure op ’n daaglikse basis en vestig aandag op ongekende verwoesting, ontwortelde burgerlikes en die stygende dodetal.

Ook digters van regoor die wêreld volg die grafiese materiaal wat die res van die wêreld daagliks bereik. Sien byvoorbeeld die volgende skakel na die internasionale literêre webwerf Literary Hub om meer te lees oor die literêre impak van die oorlog: https://lithub.com/?s=ukraine.

Wanneer die poësietradisie van hierdie ouwêreldse land ondersoek word, ontdek ’n mens ’n skatkis van poësie wat oor generasies heen geskep is. Dit is nie die eerste keer dat die land deur Rusland ingeval word nie. Rusland se imperiale aspirasies het daartoe gelei dat die land al verskeie kere deur die tsaars binnegeval en tot Russiese grondgebied verklaar is; daarna deur die Sowjet-regering; en sedert 2014 deur die Russiese Federasie. Hoewel die genoemde bewinde in Moskou verskillende ideologiese beskouings gehad het, was en is die doelwit dieselfde: beheer oor die land se ekonomie en ’n “Russifikasie” van die land, m.a.w. vernietiging en vervanging van kultuurartefakte en eie taal met die Russiese kultuur en taal, onder die vaandel daarvan dat daar Russiessprekende burgers in die Oekraïne is teenoor wie Moskou ’n verpligting het.

Oekraïens is ’n Slawiese taalvariant van Russies. Die Oekraïne se poësietradisie bied ’n venster op hulle aspirasies en versugtings te midde van Russiese oorheersing. Die land se mees gevierde nasionale held, Taras Sjefsjenko (1814–1861), was ’n digter – hy word beskou as die grondlegger van die moderne Oekraïne. Daar is standbeelde van hom in Kharkif en selfs in die V.S.A. se Washington. Ook Kiëf se vooraanstaande universiteit is na hom vernoem. Die bekendste Oekraïense gedig is Sjefsjenko se patriotiese vers “Testament”. Tydens die Sowjet-rewolusie was daar eweneens ’n digkunsbeweging, waarvan talle lede tereggestel is weens die versetpoësie teen die kommunisme wat hulle geskryf het. Dit sluit digters soos Mikola Kwilowi (1893–1933) en Pawlo Tichina (1891–1967) in.

Oorlogspoësie kan losweg in drie temakategorieë ingedeel word, naamlik patriotiese poësie (bv. deur Sjefsjenko), protespoësie (bv. deur digters uit die Sowjet-era) en poësie oor geleefde ervarings (waarin die afgryse en gevolge van die oorlog verwoord word). Daar bestaan verskeie kontemporêre digters in die Oekraïne wat sedert 2014 poësie skryf om sulke geleefde ervarings op te teken. Daar is onlangs ’n omvattende versamelbundel uitgereik met Engelse vertalings van poësie van die belangrikste kontemporêre digters oor die oorlog, met Words For War as titel. Die voorwoord gee ’n versoberende perspektief oor gebeure sedert 2014. Bekyk die bundel gerus hier:  https://www.wordsforwar.com/.

Die bekendste en mees gevierde kontemporêre Oekraïense digter is Sergei Zhadan (in Oekraïens: Serhiy Zhadan; gebore 1974). Hier ter plaatse is die Sekretaris vir Kultuur by die Ambassade van die Oekraïne, Oksana Kutsenko, ook ’n belangrike digter van dié land.”

Vervolgens ’n Afrikaanse vertaling, via Engels, van ’n gedig van Zhadan:

 

Neem net wat die belangrikste is

Neem net wat die belangrikste is. Neem die briewe.
Neem net wat jy kan saamdra.
Neem die Jesusbeelde en die borduurwerk, neem die silwerware,
neem die houtkruis en die goue afbeeldings.

Neem ’n bietjie brood, groente uit die tuin, en vertrek.
Ons sal nooit weer terugkeer nie.
Ons sal nooit weer ons stad sien nie.
Neem die briewe, almal, elke laaste brokkie slegte nuus.

Ons sal nooit weer ons hoekwinkel sien nie.
Ons sal nooit weer uit daardie opgedroogde put drink nie.
Ons sal nooit weer die gesigte van bekendes sien nie.
Ons is voortvlugtiges. Ons sal in die laatnag vlug.

Ons sal verby sonneblomlanderye vlug.
Ons sal vir honde vlug en saam met koeie rus.
Ons sal met ons kaal hande water opskep,
in kampe wag en die oorlogsmonster ontwyk.

Jy sal nie terugkeer nie en jy sal jou vriende nooit weer sien nie.
Daar sal geen stomende kombuis wees nie, geen gewone werk nie.
Daar sal geen dromerige ligte in slaperige dorpe wees nie,
geen groen valleie, geen voorstedelike braaklande nie.

Die son sal ’n vlek op die venster van ’n goedkoop trein wees,
verby cholera-kuile ​​wat met kalk bedek is.
Daar sal bloed onder vroue se hakke wees,
moeë wagte by grensposte bedek met sneeu,

’n dooie posman met leë sakke,
’n priester met ’n ongelukkige glimlag wat aan sy ribbes hang,
die stilte van ’n begraafplaas, die geraas van ’n bevelspos,
en ongeredigeerde lyste met die name van dooies,

so lank, dat daar nie genoeg tyd sal wees
om jou eie naam daarin te soek nie.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2022

Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte:

  • Baie welkom aan Miriam Telanie wat onlangs as lid aangesluit het.
  • Lees op LitNet meer oor hoe die skrywers die skrywersresidensie ervaar het wat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans saam met PEN South Africa en PEN Nederland aangebied het. Klik op die skakels vir onderhoude met die skrywers wat PEN Afrikaans vir die residensie benoem het: Elodi Troskie, Loit Sōls, Naomi Meyer.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans