Posts Tagged ‘Nuwe Kinderverseboek’

Bernard Odendaal. Resensie en reaksie

Friday, June 19th, 2009

Afgelope week vervies ek my vir die volgende resensie:

Hier is blaaie se genot

Volksblad

 
   
 
 

 

 

 

 

 
, Jun 15 2009 12:40:51:100PM  – (SA)  
 
 
 
 
 
 

 

NUWE KINDERVERSEBOEK saamgestel deur Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh. Tafelberg-Uitgewers. Hardeband. R210.

Op ’n onweersdag koop ek ’n digbundel. Dalk bewys dié bundeltjie my misnoeë met elitistiese skrywers/digters verkeerd.

Ek staar na die kriptiese reëls en niks gebéúr nie. Niks rym nie; daar is geen ritme nie; niks prikkel my om die versie herhaaldelik te lees totdat dit (hopelik) sin maak nie. Die gediggie wek geen deernis of hartseer of nostalgie of blydskap op nie. Daar is geen struktuur nie: bloot woorde en sinne wat lukraak in ’n onlogiese volgorde gerang?skik is. Dit duur moontlik ’n rukkie voordat ’n moderne gedig vir ’n “gewone” leser sin maak. Ek stof potplante af, en tel weer die bundeltjie op – steeds niks. Ek bel ’n vriend met ’n graad wat die gediggie sorgvuldig uitlê, dit beskryf as hoogs intelligent en verklaar dat die jong skrywer die prys wat hy met dié bundel verower het, verdien.

Maar die gedig bly nutteloos. Dit raak my nie aan en voer my nie mee nie. As moderne digters bloot daarop uit is om lesers se intelligensie uit te daag, kan ons net sowel blokkiesraaisels of ’n suduko invul. Dit verklaar hoekom die gemiddelde oplaag vir ’n poësiebundel duskant die 50 is en moderne digters geen bestaansreg het nie. Wanneer ons (die veles) wel behoefte het om die siel met woorde in hul suiwerste en mees treffende vorm te verryk, stof ons A.G. Visser en C. Louis Leipoldt se bundels af, of reik terug na enkele verse van Sheila Cussons of Petra Müller. In ’n prettige luim lees ons kinderverse. Jaco Jacobs is dalk die enigste moderne digter wat ernstig opgeneem kan word.

Nou is daar die Nuwe Kinderverseboek, groot formaat, hardeband, propvol kleurillustrasies, sowat 200 blaaie se plesier. Hoogtyd ook: Met die uitsondering van Jacobs was Afrikaanse kinderpoësie stokoud. Vandag se lesertjies is “cool” en slim en vind nie aanklank by die ouer versies nie.

Die samestellers van Nuwe Kinderverseboek het hul net wyd gespan en erkende kinderskrywers, sowel as debutante se pogings, byeengebring.

Die bloemlesing is ingedeel in die afdelings Vir Pikkies en Peuters en Bekkige Kleuters; Vyf, Ses, Sewe, Dis Hoe Ek Lewe; Amper Tien, Dis hoe ek die lewe sien. Dit maak van dié boek ’n goeie belegging: in ’n gesin met drie bloedjies, een uit elk van die onderskeie ouderdomsgroepe, sal al drie pret uit Nuwe Kinderverseboek kry. “Pikkies” of “peuters” sal dié boek jare lank kan geniet, tot net voor hul tiende verjaardag.

Die bedrewe hande (Francois Bloemhof, Jacobs, Philip de Vos en Engela van Rooyen) se versies beïndruk die meeste. Gerrit Brand se Die krokopil gee groot plesier; Kind wat droom deur Zandra Bezuidenhout, met natuurbewaring as tema, bewys die bestaansreg van ’n splinternuwe verseboek wat die hedendaagse denkwyse weerspieël.

Onder die debutante-pogings is daar enkele juweeltjies, maar baie van dié versies is futloos en vergeetbaar. Die geheelindruk is egter goed: onopgesmukte kinderrympies met (dikwels) genoeg ritme en ryme om dit maklik onthoubaar te maak. Die bladuitleg is bo verdenking en die drie illustreerders maak van dié boek iets spesiaals.

Natuurlik gaan selfs ’n boek soos hierdie nie ’n geslag lesers kweek wat later waardering vir moderne, volwasse poësie gaan hê nie; niks sal kan nie.

Skaf liewer dié boek aan omdat dit al gedigte is waaruit jou kind, nou of jare later, genot gaan kry. – Jaybee Roux, vryskutresensent

***********

Toe reageer ek die volgende dag soos volg in “Jou mening”, Volksblad se briewekolom:

 

Jaybee Roux se bekentenis (in sy resensie oor Nuwe kinderverseboek, Volksblad 15/06/2009) dat hy swaarkry, of dit eintlik glad nie regkry om “moderne, volwasse poësie” te begryp nie, laat my dink aan ’n belydenis deur kritikus en “volkkuns”-voorstander E.C. Pienaar dekades gelede. (Roux spreek hoeka sy hunkering uit na ongeveer dieselfde soort digkuns waarvoor Pienaar so uitsluitlik lief was.)

 

Laasgenoemde het gekla dat die “duister” digkuns van die Dertigers hom net hoofpyn besorg. Waarop Uys Krige, mensliewende persoon wat hy was, aspirien ter verligting aanbeveel het.

 

Ek is nie kundig genoeg oor aptekerspreparate om iets vir Roux te kan voorskryf teen onbegrip nie. Maar beskeidenheid en mondhou oor wat bo jou vuurmaakplek is, kan dalk al help.

 

Roux misbruik sy resensie oor die opgedateerde kinderverseboek om ’n tirade af te steek teen die “elitistiese” (sý woord) Afrikaanse digtradisie van ná A.G. Visser en C. Louis Leipoldt. Ook ’n jong pryswennerdigter van vandag (waarskynlik Danie of Loftus Marais) kom by hom onder skoot.

 

In die proses oortree hy omtrent elke norm van goeie resensering. En doen nie net sy eie naam oneer aan nie, maar ook dié van Volksblad se boekeredakteur én van die digters wat bygedra het tot Nuwe kinderverseboek. (Heelparty van die bydraers is juis bekend vir hul “elitistiese” poësie.)

 

Danie Marais, Loftus Marais, Johann Lodewyk Marais en Ronelda Kamfer tree almal op by die Volksblad-kunstefees vanjaar. Ek dink Roux moet maar na hulle kom luister; dalk gaan daar vir hom lig op.

 

  •