Posts Tagged ‘Odusseia’

Marlies Taljard. Verwerking of transponering?

Sunday, July 29th, 2012

Veral sedert Die Afdruk van ons Hande kom daar in Cas Vos se bundels dikwels verwerkings van antieke tekste voor. In bogenoemde bundel was dit byvoorbeeld die verwerking van die sogenaamde Uruk-fragmente, die verhaal van Gilgamesj en Enkidu wat in die elfde eeu voor Christus deur Sin-lege-unninni in die biblioteek van Ninivé neergeskryf is. Dié verhaal wat op twaalf kleitablette geskryf is, word allerweë beskou as die oudste oorgelewerde epos – ‘n literêre vorm wat later deur die skrywers van die Odussea, die Bhagavad Gita, die Aeneas en Beowulf nagevolg is. Destyds het ek in ‘n resensie oor die betrokke bundel daarop gewys hoe Vos in sy omdigting min of meer die verloop van die epos navolg soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Hoewel sy teks aansienlik korter as die oerteks is, slaag hy daarin om die essensie van die oorspronklike werk weer te gee. Die Gilgamesj-epos is primêr gerig op die beskrywing van die helde se merkwaardige avonture, maar kan ook op ‘n dieper vlak gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid.

Dit is hierdie dimensie wat Vos in sy gedigsiklus ontgin. ‘n Spirituele reis word reeds in die openingsreëls van die siklus gesuggereer deur die mistieke handeling waartoe die leser opgeroep word: “Skep teen skemer suutjies asem / en doop julle voete in olie / voordat julle na Uruk vertrek”. Dat een van die belangrikste verhale, dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monsteragtige Huwawa dood, nie in Vos se siklus opgeneem word nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer die digter se klemlegging op mitiese verhaalinhoude met ‘n argetipiese karakter.

In Intieme Afwesige verwerk die digter die Abélard en Héloïse-gegewe wat uit die elfde en twaalfde eeu stam deur ‘n selektiewe keuse uit die twee minnaars se briewe. Ook hier dien die weglatings die doel om fyn te fokus op ‘n bepaalde diskoers tussen Abélard en Héloïse.

Omslag

Omslag

In die bundel Weerloos Lewe is daar ‘n handvol gedigte wat gebaseer is op die Odusseia en die Ilias. Ek dink hier aan Eens toe jy nog myne was en Wat oorbly uit Afdeling VI, asook aan die drie gedigte in Afdeling V, Zeus swig, Skilla en Charibdis en Heimwee – gedigte waarin die digter eksplisiet na sy bronne verwys. Vergelyk ‘n mens egter Vos se gedigte met die bronne, blyk dit dat hy weer eens selektief te werk gaan. Die gedig Zeus swig is byvoorbeeld saamgestel uit enkele grepe uit Boek XIV van die Ilias. In die bronteks is dit die gedeelte waar Hera wraak neem op Zeus. Wanneer sy hom by die hoogste spits van Ida met die baie fonteine sien sit, staan daar: “maar hy was haatlik vir haar hart” (volgens J.P.J. van Rensburg se vertaling). In Zeus swig word egter geen melding gemaak van wraak en haatlikheid nie, maar bloot van die liefde. Van die vrou wat haarself mooi en verleidelik maak vir die man wie se liefde sy wil wen. Ook wat detail betref, het die moderne digter sy kreatiwiteit laat geld: in die bronteks staan byvoorbeeld niks van maskara en ligpers oogskadu nie. Ook wat die res van die gedig betref, is daar baie spesifiek geleen en verswyg in ‘n poging om ‘n bepaalde aspek van die oorspronklike gegewe te beklemtoon.

 

Lees ‘n mens die drie gedigte in Afdeling V as ‘n eenheid, bied die refreine ‘n soort sleutel:

In Zeus swig:

“Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,

nog nooit het die liefde vir ‘n vrou

my hart só oorstroom en versadig nie.”

 

In Skilla en Charibdis:

Hou jou bewende hart vas en vlug,

eendag skenk roosvingerdaeraad lig.

Dan keer die donker na haar spelonk terug

en jy en jou manne asem Ithaka se lug.

 

En in Heimwee:

Bly trou aan jou heimwee

en weef drome in die nag.

 

Hierdie refreine – wat nié in een van die brontekste voorkom nie – dui op argetipiese aspekte van die menslike kondisie. Drie millennia gelede, toe die oertekste geskryf is, het liefde, vrees en verlange die emosies van die Ilias en die Odusseia se lesers ontroer en vandag word die mens steeds daardeur geraak. Op so ‘n wyse reik die moderne teks uit na die antieke teks en is dit moontlik om oor drie millennia steeds aansluitingspunte by die ou-ou tekste te vind.

Daarom lees ek met verbasing en ongeloof dat Henning Pieterse onlangs in ‘n resensie oor Weerloos Lewe skryf: “Die verwerkings van gedeeltes uit Die Odusseia en Die Ilias is ook noemenswaardige verbeterings op die strak, letterlike vertalings deur J.P.J. van Rensburg.” Die gedigte waarna Pieterse verwys, sou dalk nog as verwerkings beskou kon word, maar dan as transponerings van die oorspronklike gegewe na die moderne ruimte van die digbundel wat in 2012 verskyn het. Of dit “verbeteringe” van Van Rensburg se vertaling is, is hoegenaamd nie ter sake nie, aangesien die brontekste duidelik slegs as intertekste in Vos se gedigte funksioneer – intertekste wat die leser se aandag daarop vestig dat die mens deur alle millennia nie verander het nie, dat dit wat drieduisend jaar gelede mense ontroer het, steeds in staat is om ook die moderne mens te raak. Dat die moderne digter in die proses sekere dele van die oorspronklike Griekse teks bykans woordeliks vertaal, moet waarskynlik onder andere gelees word as ‘n suggestie dat niks sedert die skryf van dié verhale verander het nie – dat die menslike kondisie letterlik dieselfde gebly het. Die lesing van Vos se gedigte as verbeterde opsommings van die oorspronklike tekste verreken nie die subtiele aard van poësie én van intertekstualiteit nie en lees (moedswillig?) verby die intensie en gelaagdheid van die betrokke gedigte.