Posts Tagged ‘Oekraïne en Rusland’

Mellet Moll. Oë

Monday, April 11th, 2022

 

(Vir Jean Baudrillard)

 

How many faces, how many bodies can you recognize, with your eyes closed, only by touching them? Have you ever closed your eyes and acted unconsciously? Or loved someone so blindly, you could almost feel their energy in a dark room and be moved by the powerful touch of their ideas? – Jean Baudrillard

 

i.

Op Youtube en CNN –

lyke verstrooi op straat,

afgeneem uit hommeltuie

wat die vyand se posisie

noukeurig trianguleer,

vir die grondmagte

se volgende aanval.

 

In die Pentagon word ’n

satellietvoer dopgehou.

 

Zelenskij is die nuwe Churchill –

spreek die Grammys

en die VN toe op Zoom.

Jake Tapper en Don Lemon

praat uit Kiëf met gruwelbeelde:

Mariupol en Bucha.

Moskou sê dis fopnuus.

 

Sean Penn keer terug –

sy oë rooi,

vertel van die TV-ster

se rol as president.

Hy is die moer in vir die Oscars.

Will Smith se vrou is die moer in

vir Will Smith en GI Jane.

 

Die Golfoorlog –

Amanpour wat uit Bagdad uitsaai:

ekstremiste wat gejag word,

insetsels deur naglense,

skermutselings buite

Saddam se paleis.

 

Sy treur steeds oor Sarajewo.

 

 

 

ii.

 

Jy het vertel dat ons moderne wêreld die

hiperrealiteit geword het:

 

Die Golfoorlog het nooit plaasgevind nie;

dit was ’n inval wat as ’n oorlog paradeer.

Wat nou, my liewe Jean,

noudat die oorlog as die inval paradeer?

Deur watter lense moet ons daarna kyk?

 

Wilfred Owen, John McRae, Paul Célan,

Tarkowski en Mandelstam

het apokrief, en in die taal van die vyand,

geskryf van krygskampe en stil slagvelde

maar nou kyk ons na video’s op Youtube

en skryf in Afrikaans oor die hiperrealiteit

wat voor ons oë afspeel:

 

Ons lanseer ons grofgeskut op Facebook

en ons influencers is die nuwe generaals.

Ons, met die geel en blou insignia, share

die oorlog en verklaar ons manifeste aan

mekaar op Twitter: dis ’n nuwe Covid-19!

 

Ons, die leunstoelliberaliste van die stryd,

wat uit die voorste linies veg met petisies,

verse libré en skermtyd.

 

© Mellet Moll, 2022

 

Bester Meyer. Van Anderkant die Dagbreek af

Friday, April 8th, 2022

 

Van Anderkant die Dagbreek af

 

“Ek sien hom ver kom, ek sien hom ver kom, van anderkant die dagbreek af.”

– Kennis van die Aand, André P Brink.

 

Dit is die twee-lettergrepige ‘hoekom’

wat vlak asemhaal in dié gedig

óm van anderkant die dagbreek af

terug te kom, hoe dan anders

kan Oleg Abramov

die spreker wees

– verteller wees –

van wat gebeur het in Bucha?

 

Hoekom is dit dat my vrou, Iryna

nou óók wens dat sý reeds reisiger

van hierdie anderkant-die-dagbreek-is?

 

Hoekom is dit dat hulle vir my, Iryna

en Pappa by die huis uitgesleep het?

Dat hulle sonder uitlokking ʼn handgranaat

in ons tempeltjie aardse goed gegooi het

– wat die huisie aan die brand gesteek het –

pappa laat naderstorm het, om te red

wat nooit te redde kon wees nie

aldus die soldate?

 

Hoekom is dit dat hulle my geen vrae

gevra het nie     niks gesê het nie –

my bloot nét beveel het om

voor hulle te gaan kniel –

my kop agteroor gepluk het –

vir oulaas in my gesig gespoeg het –

en toe reg voor Iryna die doodskoot

– van agter af –

deur die kop gejaag het?

 

Hoekom is dit dat toe Pappa

nie die brand in ons tempeltjie kon blus nie

– en soos wat ʼn 70-jarige man ook maar doen –

na my toe uitgeroep het     gesê het:

“Olef, kom help net hier” –

hulle gelag het (soos die SS van ouds)

en spottend gesê het:

“Oleg sal jou nie meer kan help nie, Ouman”

 

Hoekom is dit dat Pappa en Iryna

in ʼn naburige huis moes gaan skuil

en vir ʼn maand lank moes toekyk

hoe my lyk stuk-stuk ontbind?

 

Hoekom is dit dat daar – soos myne –

410 ander burgerlikes

se lyke

in vlak grafte lê –

én hulle ook nou

moet ronddwaal anderkant die dagbreek?

 

Hoekom is dit dat die suiwerste water in die wêreld

nie die donker bloedkol op die sypaadjie

van hierdie tipe apokalips

sal kan afwas nie?

 

Ek, Olaf Abramov,

kom van anderkant die dagbreek af

om my laaste aardse woorde

in hierdie vers te laat bewe: Hoekom?

 

(ʼn Narratief met betrekking tot die berig soos vervat:

https://www.bbc.com/news/world-europe-61003878 )

 

© Bester Meyer, 2022

 

Anton Döckel. Ikone

Thursday, April 7th, 2022

 

Ikone

 

Daar is weer ’n oorlog

die keer in Oekraïne

 

verslaggewers en fotograwe

soos manskappe na die front

wat flitsende skote vuur

met die arrogante motto:

Die oorlog is nie wat jy sou sien nie

maar hoe ons dit vir jou opdis

met onderskrifte

 

Die regte lens, die regte hoek

en kliek-kliek met die glasoog:

Het jou!

 

Wanneer die berigte al ou nuus is

die konflik in die argief ter ruste

gaan jy dit só onthou –

met die ikoniese foto’s waarmee

die wêreld oorloë onderstreep

 

Che Guevara se oë

smeul onder sy beret

leef voort op T-hemde

Kim Phuc die napalmkind

en Hector Pieterson

bly vir altyd na ons arms hardloop

 

Sharbat Gula, Afghan girl

gloeiende groengeel oë

soos ’n kat in gevaar

se oorlog is verby?

trek tog haar sluier toe

daar is wéér ’n oorlog

die keer in Oekraïne

 

Soek nog gesigte vir ikone

dalk met ’n hommeltuig

’n doodskoot op ’n man

met arms omhoog

op die pad buite Kiëf

 

’n Teater uitgebom

verminkte woonstelle

en gewonde inwoners

haal nie meer die voorblad

 

As die manskappe van die media

verslaggewers en kameramanne

hulle toerusting oppak en onttrek

is die oorlog in Oekraïne verby

vir al wat ons weet

 

is daar hoop

dat die ikoniese sonneblomme

weer gesig sal kom wys

 

© Anton Döckel, 2022

 

Mellet Moll. Die rooi woude van Tsjernobil

Monday, April 4th, 2022

 

Die rooi woude van Tsjernobil

 

o my vlaktes, o my velde van verlatenheid

waar ons ontslape helde nog vir oulaas hier

op hul perde saam met die Kossakke reis

 

o my dooies, o my vlugtelinge vanuit Pripjat

waar verstilde huise nog van spoke droom

en ’n bloedmaan oor haar kernuitval waak

 

ek treur weer oor die tweesprong van atome

en die verminkte woude rondom Tsjernobil

waar soldate uit die moederland in loopgrawe

 

onder die skelette van straaldun bome woon

of later in die skaduwees van wagtorings teen

’n nederige son in die laatmiddae bly skuil

 

en in die rooigrond van Pripjat verdwaal hulle

êrens in die halflewe van plutonium en uraan

o moederland, my moederland, jou soldate

 

keer terug met die basuin van Alexandrov

se triomflied, in konvooie uit die spergebied

van isotope, uitgelewer aan die uitstralings

 

o moederland, wat hét van jou geword, die

dae van Sowjet oorheersing is al lank verby

maar Reaktor 4 grom vir ewig in die woude

 

© Mellet Moll, 2022

 

Pirow Bekker. Uit die Bergtesgarten

Saturday, March 26th, 2022

 

Uit die Bergtesgarten

 

Verskoon die inbars, kameraad Poetin,

maar hier kom al meer berigte in:

Die blomme in ons berghofmagasyne

raak nou gevaarlik min.

 

‘n Mens vra jou af, geagte President,

waar is al die blomme heen?

Kan nie wees vir bruilofruikers nie

en vir blitsbegrafnisse maak nie sin.

 

Waar dan is al die blomme heen,

die blomme uit ons bergingsplekke?

Dis nie blindelings gegooi nie,

nog minder rugwaarts op resepsies.

 

Iemand raap dit uit die lug,

jong hande van ‘n nuwe bruid.

Waar anders is die blomme heen –

tog seker nie na kindertuine?

 

O, waar is al die blomme heen?

Met u agtergrond, geëerde generaal,

herken u waarskynlik reeds die kode –

geheime, militêre taal.

 

Terwyl ander in die duister tas,

word die el ‘n streep getrek,

word so die horison geopen

vir die groot Blom en vir vrek.

 

© Pirow Bekker, 2022

 

Johann Lodewyk Marais. Wladimir Poetin

Wednesday, March 23rd, 2022

 

Wladimir Poetin

1952–

 

Die man in die woude van die Ooste

waar vulkane gloei en missiele val,

ry kaalbolyf op ’n Kamchatka-beer;

en in Sochi laat hy sy Labrador

inkom en soos ’n donker skaduwee

die Afgaanse mat oorsteek en soekend

snuffel aan Angela Merkel in swart,

stadig omdraai en doodluiters gaan lê.

Om hulle swerm die joernaliste saam

en kry al hoe meer hond se gedagtes.

 

(2007)

 

Louis Esterhuizen. Diaspora

Tuesday, March 22nd, 2022

 

Diaspora

All forms of violence are quests for identity.

When you live on the frontier, you have no identity.

You’re a nobody. — Marshall McLuhan

 

Geen trein is lank genoeg vir hierdie vrag nie.

Geen afstand te na of ver genoeg

vir die uittog tussen soveel roet en as

in trokke wat al treurende reis

na waar plate swart gebrande canola

die nalatenskap van miljoene oë

karteer nie.

 

Geen lokomotief is hier kragtig genoeg

om waens te haak en verby al hierdie veryling

te sleep nie – elke halte is gepak

met derduisende gesigloses, silwer vissies

is hulle nou, hier byeengebring

as die net se uitskot,

iedereen,

 

om skoongemaak, gevlek, en neergelê te word

in ʼn eie geblikte harnas van vrees

sonder heenkome. Want geen lokomotief

is sterk genoeg vir hierdie vrag,

geen stoker

 

braaf genoeg om die vragwaens

van alles wat agtergelaat word, te rangeer

op die dwaalspoor

van hierdie verskrikking nie.

 

 

© Louis Esterhuizen / Maart 2022

 

Mellet Moll. Slava!

Tuesday, March 22nd, 2022

 

Slava!

 

Kharkiv Oblast, haar sonneblom

sal kniel sodra die maan opkom.

’n Nagskut sal haar leed onthou

met hierdie hulpkreet van ’n vrou

en met die knal van bom op bom.

 

En ons, die dooies, wag verstom

terwyl die hommeltuig steeds om

en om haar vaar en oor haar rou

Kharkiv Oblast.

 

Tot dan, tot weer mortiere grom

tot krygers oor haar steppe kom

en in haar land van geel en blou

weer vrede uit haar puin opbou

vier ons haar vryheid, wederom

Kharkiv Oblast.

 

© Mellet Moll, 2022