Posts Tagged ‘olifante’

Bibi Slippers. Grom.

Wednesday, July 14th, 2010

Ek het maande laas geblog en dit laat my sleg voel.  Naar-op-die-maag van skuldgevoelens.  Angstig omdat ek sien hoe “blog” laer en laer afskuif op my ellelange to-do list.  Kortasem oor die skuld en angs oor my ongeblogde blogs.  Gestress oor my moeilike asemhaling.  Siek oor die stress my immuunstelsel opdonner.  Ensovoorts.

Dis nie dat ek niks gehad het om oor te skryf nie.  Ek het onlangs vir byna ‘n minuut langs Breyten Breytenbach gestaan.  Ons het beide gewag vir dieselfde toilet om onbeset te raak, in tyd en ruimte bymekaargebring deur ‘n mees menslike nood  – daar’s ‘n blog of drie daar:  staan ek voor die man met ‘n bek vol tande en gee geboorte aan niks anders as asem nie.  Ek het daardie selfde aand ‘n geselsie met Charl-Pierre Naudé gemaak – en ek kan ‘n hele blog daaroor ook volgemaak het, maar nee, eers nog stilte.

Ek het nie een woord geblog oor die sokker, die goeie boeke wat ek onlangs gelees het, die nuwe Almadovar-film of enige van die fantastiese gedigte wat sedert my laaste tikkie oor my pad gekom het nie.  Ek dink aan klomp goed om te skryf wat oulik en relevant sal wees maar ek kom nie daarby uit nie, want ek het reuse probleme.

Olifante.

Olifante is die rede waarom ek wanneer-laas geblog het.  Dis ook hulle skuld dat ek gladnie skryf tans nie.  Niks nie.  Nie eers to-do lists meer nie, wat nog te praat van gedigte.  Ek kan nie, oor die olifante.

Elke keer as ek met my notaboek reg sit en wag op ‘n gedig, verskyn ‘n olifant.  ‘n Inkerige olifant, soos die twee.

Ek teken olifant op olifant op olifant.  Ek skryf niks.  Hierdie maand het nie eers die  dreigende skryfkunde-klas my aan die skryf gekry nie.  Ek het ‘n paar power pogings ingehandig wat ek lank terug geskryf het, en daar gaan sit met my notaboek vol olifante.  My dosent het nie veel tyd gemors op die gagga gedigte nie – sy kon darem sien iets is nie lekker nie.  Ek verduidelik dat ek tans geïntimideer voel deur die grootsheid van my taak.  Stilgemaak deur die stemme van groot digters, die insigte van groot denkers, die waardigheid van groot geeste.  (Ek bly maar stil oor die teenwoordigheid van groot soogdiere.)  My dosent draai een van my swak gedigte om en begin vir my iets teken in ‘n poging om haar les te illustreer.  Sy teken, jou wragtag, ‘n olifant.  Haar raad:   “Eet die olifant happie vir happie.”  Baby steps (the baby elephant walk?), klein bietjies op ‘n slag, stukkie-vir-stukkie tot jy iets uitrig.

Sug.  Dieselfde woorde wat my klavier-juffrou op hoërskool gesê het toe ek nie die graad sewe Barok stukke kon baasraak nie.  Ek het ure voor die klavier gesit en tjank, maar happie vir happie is daai olifant in.

Vegan-of-nie-vegan-nie, ek begin nou weer aan my dig-olifant eet.  Met lang tande, ja.  Lang wit ivoortande.  En ek sien hier kom nog trane.  Maar dis reg.  Ek is reg vir hom.  My maag grom.

  •