Posts Tagged ‘Onderhoud met Cas Vos’

Onderhoud met Cas Vos

Wednesday, April 3rd, 2013

 Cas Vos in gesprek met Zandra Bezuidenhout

oor sy nuwe bundel Duisend dae op jou spoor.

 

Cas, jy is seker trots op jou aantreklike nuwe bundel met die mooi poëtiese titel Duisend dae op jou spoor, wat bowendien die leser nuuskierig stem.  Dit val op hoe goed veral jou jongste bundeltitels op die oor val, en hoe dit allerhande betekenisse losmaak; ek dink byvoorbeeld aan Die afdruk van jou hande, Intieme afwesige, en Weerloos lewe. Hoe besluit jy op ‘n titel? Dink jy ‘n titel is belangrik?

Zandra, dankie vir die geleentheid om jou vrae te probeer beantwoord. Dis nogal iets om na streef: ʼn poëties mooi titel wat lesers nuuskierig maak. ʼn Titel is vir my belangrik. Dit is die eerste woorde wat die leser uitnooi om die bundel te lees. Ek begin nie met ʼn titel nie, maar sodra die komposisie van die bundel sy gang kry, begin ek oor ʼn moontlike titel wonder. In hierdie geval het die bundel as’t ware halfpad al sy naam uitgeroep. Twee begrippe vra aandag: “Duisend dae” en “jou spoor”. Die duisend dae verklap dat die leser bedag moet wees op die apokaliptiese aard van die bundel. Die apokaliptiese genre kom veral in ʼn tyd van ontnugtering, teleurstelling en uitsigloosheid na vore. Maar dit hou aan die dun draadjie van hoop vas. Die ballingskap (586 v.C.) was ʼn kreatiewe tyd vir die apokaliptiese genre. Dit was ʼn tyd van ondergang, maar ook hoop op ʼn uitkoms, ʼn toekoms. Talle Psalms het in hierdie tyd ontstaan.

ʼn Hele aantal van die gedigte in die bundel is in die genre gedig. Dink aan die “rower”-gedigte. Die “jou” is ʼn persoonlike voornaamwoord wat sê dat iets/iemand op jou spoor is. Dit kan ʼn spoor van gister wees, ook ʼn spoor in die hede en die toekoms. Wat tyd betref, is dit omvattend. Die spoor is eintlik “tydloos.” Die woordspoor kan, in die woorde van Jacques Derrida, nie vasgevat word nie. Dit ontglip jou steeds soos ʼn skoenlapper in sy vlug. In die bundel kan woorde en gedigte geïnterpreteer word, maar die betekenis ontglip jou steeds.  Saam met Derrida wil ek oopstaan vir elke moontlike verklaring, aan elke perspektief gasvryheid bied en so ruimte skep vir nuwe maniere van lees en verstaan. Alle woorde is altyd gewonde woorde. Gewond, omdat dit nie kan sê wat gesê moet word nie. Maar woorde wond ook. Dit verwond die gebeure want dit verteken, maak selfs ʼn karikatuur daarvan. “It burns what it wants to save” (Derrida). In die lig hiervan nooi ek lesers graag uit om die “spore” van Engele in die bundel te ontdek en iets van die misterie van die Engel te probeer, net te probeer, verstaan (veral p. 103 en 104).

Die buitebladontwerp is vir my ʼn belangrike sleutel tot die woonhuis van die bundel. Tienie du Plessis het ʼn uitstekende en kreatiewe buiteblad ontwerp. Die leser sien die spore en afdruksel van die lewe, tyd, pyn, swaarkry, maar daar skemer ook lig deur.

 

Jou bundel open met die drieluik “My rower”. Daarby bring jy tematies en vormlik iets nuuts, o.a. ten opsigte van aktualiteit en die wisseling in verspatroon in drie verwante gedigte. Maar het die rower net betrekking op daardie bepaalde inbraaksituasie, of sou ‘n leser dit ook wyer kon interpreteer? Kan mens byvoorbeeld die roof of rower as ‘n metafoor lees, of gaan ek nou te ver? Ek besef mens vra nooit vir ‘n digter wat hy met ‘n bepaalde gedig of onderdeel daarvan “bedoel”, of wat dit “beteken” nie, omdat die hedendaagse literêre teorie beklemtoon dat die leser ‘n medeskepper van die teks is, en hy of sy ideaal gesproke self betekenisse daaraan toeken. Wat dink jy van daardie siening, en hoe beantwoord dit die vraag met betrekking tot jou drie verwante verse in “My rower”? Jy kan gerus ook iets sê oor die gebruik van intertekste in daardie afdeling.

Zandra, natuurlik roep die drieluik die inbraaksituasie in herinnering. Ek het nog gebloei na die wond toe Coenie de Villiers my uit Ciprus bel, met: “Cas, ek en Ria is baie dankbaar dat julle nog leef. Moenie in die hoekie gaan sit en treur nie (ʼn hoekie kan maklik ʼn ashoop word, soos in die geval van Job). Begin en skryf ʼn brief aan jou rower.” Sonder rekenaar het ek dit met my linkerhand wat onleesbaar krap, gedoen. Ek het letterlik ses dae op papier geskryf en die gedigte later op die rekenaar oorgetik. Die pynlike en tragiese is dat die rooftog ʼn opdrag van iemand was.  Miskien moet die rower my weer besoek. Maar, Zandra, die reeks het ʼn afdruk op die bundel geplaas. Dit hang soos ʼn metafoor oor die hele bundel. In die derde gedig gebeur die ongehoorde (p. 17). Ek vergeef die rower. Die gedig is vol humor, ironie en intertekstuele spore (dink aan die ou Halleluja-liedjie: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels”). Jesus en die rower in dieselfde asem!

 

Interessant genoeg, keer jy in die voorlaaste gedig “’n Brief aan my Engel” (104) terug na die refrein wat aanvanklik in “Brief aan my rower” (14) gebruik word. In die eerste geval is dit die rower op wie se spoor jy is; maar in die latere gedig slaan dit om na die spoor van ‘n engel. Daar begin jy met: “Ek volg jou spoor ‘n duisend dae/ só dig ek my Engel agterna”, en sluit dieselfde gedig af met: “Ek volg jou spoor tot my laaste dae/ só dig ek my Engel agterna”. Hierdie koeplet bevat, in ‘n ietwat aangepaste vorm, ook die titel van jou bundel. Ek sal graag meer oor hierdie omskakeling van “rower” na “engel” wil hoor. En vind die gedagte van ‘n spoor wat gevolg word neerslag in die res van die bundel? Vertel sommer ook waarom die “engel”-gedig daardie rare newetitel het, naamlik “Die slag van pluimvee”.

Die “spoor” loop deur die landskap van die bundel. Tot by veral die voorlaaste gedig, “’n Brief aan my Engel” en daarna, “Tuis van ʼn ver land”. Ek vind dit vreemd dat jy nie vra wie die Engel is nie. Maar ek is ook bly. Ek laat dit op die voetspoor van die literêre teorie (o.a. Jauss, Iser en Ingarden) waarna jy verwys (en waaroor ek my voorbehoude het) aan die leser se verbeelding oor. En ook die newetitel. Ek verluister my aan al die fladderende kommentaar.

 

My gunsteling in hierdie bundel is die gedig “Pa” (72). Dis ‘n gestroopte vers met onderspeelde emosie; jou woorde suggereer meer as wat op papier staan – en raak my as leser diep. Dit sou op ‘n Vader-dogter-verhouding ook van toepassing kon wees. Lewer asb. enige kommentaar, al is dit soms vir ‘n skrywer lastig om oor sy eie gedigte te praat, om verskillende redes.  Hoe moeilik of maklik was dit vir jou om hierdie vers te skryf? En het dit vinnig gegaan, of moes jy baie skaaf? Ek hoor graag wat jy sê.

Dankie vir jou mooi woorde oor die gedig. Ek het in vorige digbundels enkele portrette geskryf. Maar in afdeling V word al my familie portrette opgehang. Dit is die wolk van getuies rondom my. Ek voer ook ʼn gesprek met ʼn gestorwe ma. Met die oog hierop maak ek die Odusseia gebruik (p. 76-78). Dit is die eerste keer dat ek in gedigte ʼn gesprek met ʼn gestorwene voer:

 

Bly trou aan jou heimwee

en hou jou ma in drome vas.

 

Die portrette se afdrukke op my word digterlik uitgedruk. Dis lastig en effens ongemaklik om ná die gedigte oor dié gedigte te skryf. Die gedig “Pa” was nogal vir my moeilik. Ek het vinnig geskryf en toe weer geskaaf en geskaaf. Die portrette bly myne, maar ook nie. Nou is dit ʼn geskenk aan die leser.

 

In hierdie bundel kom T.S. Eliot, Keats, John Berryman en ander digters ter sprake. Uit aanhalings, motto’s, verwysings, versopdragte, intertekste en vertalings, soos ook in jou ander bundels, blyk dit dat jy die digters uit die Engelse wêreld goed ken, en ook dié wie se werk uit ander tale vertaal is. Kan jy vir weblesers verduidelik wat dit vir jou en jou digkuns beteken om baie digters se werk te lees? Lees en bestudeer jy ook die werk van ons plaaslike digters? (Ek merk een gedig is aan T.T. Cloete opgedra.) Wil jy uit die vuis uit ‘n baie algemene mening oor die eietydse Afrikaanse digkuns gee?

ʼn Gedig of digbundel is ʼn eggoruimte (R. Barthes) waar talle stemme fluisterend saampraat. Deur ander digters te lees, ontdek jy al meer en meer jou eie stem. Daarom is ek so dankbaar dat T.T. Cloete juis dit op die flapteks van my digbundel geskryf het. Maar ek bly ook, benewens die Engelse digters,  in gesprek met digters wat eeue lank al in die anderland rus. Die Hebreeuse digters (veral van die Psalms), Griekse digters (veral Homeros) en Romeinse digters (veral Virgilius). Soos jy noem, is daar die Engelse digters, maar daar is talle meer (Charles Baudelaire, Arthur Rimbaud, Pablo Neruda, Robert Pinsky, Ted Hughes, George Seferis, Sylvia Plath, Paul Celan, Anne Carson, Remco Campert, Gerrit Achterbergh, en noem maar op). Daar is ʼn wolk van getuies waarvan ʼn digter kennis moet neem. Digters behoort almal aan ’n groot familie.

Ek lees ook met graagte Afrikaanse digters.  ʼn Digter moet sy eie tradisie ken. Daar is te veel om op te noem. Ek lees Tristia ten minste een keer ʼn jaar. Daar is ook nuwe opwindende stemme wat my bly maak.  Ek het een gedig aan T.T. Cloete opgedra. Die gedig is nie ʼn gesprek met hom nie, maar aan hom as mens vir ek baie agting het, opgedra. Ek was bevoorreg om hom vir meer as 10 jaar in Potchefstroom te besoek. Dit was tydens sy omdigting van die Psalms. Ek het hom ook leer ken as iemand wat pyn met grasie kan dra. .

 

Vertel ons iets meer oor jou belangstelling in klassieke tekste en historiese figure, en jou vertaling en omwerking daarvan in poësie – veral ten opsigte van hierdie bundel.

Ek het Latyn op Hoërskool geleer. Hebreeus, Grieks en Latyn het ek by UP se beste leermeesters denkbaar geleer. Verder het ek Ou Testament en Nuwe Testament tot op doktorale vlak bestudeer. Sodoende het ek die Psalms en Homeros beter leer ken. Ek het ook ʼn omvattende werk oor die Psalms geskryf: The poetry of the Psalms. By Homeros is daar twee grondmetafore, naamlik stryd (die Ilias) en heimwee (die Odusseia). Dit is ook die twee grondmetafore van die mens se bestaan wat in die letterkunde neerslag vind. Ek dink aan Livius Andronicus en veral Virgilius. Daar is ook Hieronimus. Augustinus se Civitas Dei toon ʼn verwantskap met Homeros se Ilias. Homeros het ook ʼn invloed op Dante uitgeoefen. Dieselfde geld vir die werk van Goethe en James Joyce.

Die Psalms het in verskeie van my digbundels neerslag gevind, byvoorbeeld “Die Here is nie my herder nie” en ook in hierdie bundel (vgl. die laaste gedig se derde strofe). Homeros is in die mooiste klassieke Grieks geskryf. Dit was ʼn heerlike uitdaging om die Griekse tekste in Afrikaans om te dig. Ek moes weer Grieks lees. Deur terug te kyk na die verlede leer ons die hede verstaan. Historiese figure maak die poorte na die verlede oop. Stryd en heimwee is, soos eeue gelede, nog deel van ons menswees.

 

Jy toon ‘n voorliefde vir eindrym; gebruik jy hierdie tegniek doelbewus of gebeur dit spontaan? Wil jy daarmee ‘n bepaalde effek bereik? Wat is na jou mening die waarde van rym, en wat is die nadele? Is rym nie ‘n ouderwetse tegniek nie? Maak tendense in die poësie vir jou saak?

Daar is talle handtuie vir die digkuns. Hoe meer jy kan bemeester, hoe beter kan jy dig. Rym is maar een daarvan. By my kom rym spontaan. Ek het veral in die Psalms die poëtiese waarde van rym (en ander poëtiese tegnieke soos die anafoor, die sintetiese en antitetiese parallelismes, inclusio, woordspel, chiasme en die pars pro toto, ens.) ontdek. Die rym neem ook ʼn hele lewe in beslag (J.C. Kannemeyer). Rym is “a goddess of secret and ancient coincidences” (Rainer Maria Rilke). Rym bind versreëls; dit is ʼn medeskepper van betekenis. Verder versterk dit die ritme, klank en struktuur van ʼn gedig. Die nadele? Rymdwang is ʼn doodsonde. Die gedig spoel dit egter self op die rotse uit. Op jou vraag of rym ouderwets is, is my teenvraag: Is dit ouderwets om asem te haal?  In gedigte is alle grepe toelaatbaar as dit net met vernuf en kreatiwiteit toegepas word.

Op jou vraag of tendense in die poësie vir my saak maak, is my antwoord ongekwalifiseerd “ja”. Tendense is soos die eb en vloed van die see. Dit kom en gaan. Ek neem daarvan kennis en hou my oog op die seile. Narratiewe poësie het beslis sy plek en waarde. Hiervan het Anne Carson my oortuig. Maar daar is niks nuuts onder die son nie, sê die wyse Prediker.

 

Nou ‘n moedswillige vraag, ter wille van die gesprek: sou jy sê daar is nuwe wendinge in jou digkuns? Is daar ‘n totaal nuwe aanpak, of iets nuuts in sommige opsigte? Gee gerus voorbeelde. Dink jy dis goed of nodig dat ‘n digter op ‘n sekere stadium doelbewus sy werk in ‘n ander rigting stuur, tematies en/of vormgewys? Soos om jou op ‘n nuwe manier teenoor jou stof en digpraktyk in te stel, sê maar deur jou antennas te draai, of te eksperimenteer? Miskien wil jy hier ook die kwessie van ‘n digter se styl en stem aanraak.

Die vraag beantwoord ek uit die hoek van my eie oog. Ek dink (hoop) die titel van die bundel dui al op ʼn ander nuwe aanslag. Ek sal die pot se deksel ʼn bietjie lig. Duisend is ʼn apokaliptiese syfer. Die apokaliptiese genre word veral in ʼn tyd van verlies, ontnugtering, teleurstelling en ondergang gebruik. Na die rooftog was dit die gevoel wat ek gehad uit. Ek het dit poëties probeer verwoord in die drie “rower”-gedigte. Apokaliptiese syfers soos 3, 4, 7 en 1000 is in die gedigte gebruik. Ek gee een voorbeeld. Die eerste gedig, “Inval” (p.13), bevat 4 strofes van 7 versreëls. Wie dit weet, weet wat om van die gedig te verwag. Roof, vernietiging, boosheid. Die tweede, langer gedig het ʼn refrein waarin die getal 1000 voorkom. Die refrein dien as ʼn herhaling van ʼn motief in die gedig. Vir die eerste keer eggo die wankelende samelewing in my digwerk:

 

Onder die grond is kopbene begrawe

wat eenstyds mensvleis gedra het.

Is jy op pad om nog een in te samel?

 

En daarna:

  

Jy raak aan fragmente van gister,

[…]

Politieke aardbewings, retoriese snert

[…]

Ek pleit, moenie kinderdrome steel nie,

blaas hulle nie soos vlieswolke weg nie,

moenie dat jy deur wellus vroue verkrag nie.

Is jy ’n nasaat van Pan, donker man met die fluit?

Hy speel bok-bok staan styf op soek na ’n lyf.

 

Ek volg jou spoor ’n duisend dae,

só skryf ek my rower agterna.

 

Op jou reis sien jy ’n afskeid.

Rou grond ruik vars op ʼn houtkis.

Dit lê ook vir jou voor die deur.

Sien jy die rivier se nat spoor?

Jy moet teen wil en dank daaroor.

Dáár wag jou boot – rower,

reisiger van lewe na dood.

 

Ek volg jou spoor, my oorlas,

só pen ek jou, my rower, vas.

 

Met bewende hand skryf ek jou graf-

skrif met die stigma wat jy verskaf:

Hier rus ’n rower met skande getatoeëer.

Al gedagtenis aan hom is ʼn spoor van oneer.

    

Die Tristan en Isolde-legende uit die sesde eeu is nuut in Afrikaans gedig (p. 81-95). Dit is eers in die 12de eeu neergeskryf.  In die volgende 1000 jaar was daar nie minder nie as 80 weergawes. Tristan en Isolde kry ’n belangrike plek in die kultuurgeskiedenis van Denis de Rougemont,  L’amour et l’Occident. In die verhaal word – vir die eerste keer in ons kultuur – ’n verdediging gegee van die onmoontlike liefde. Tristan en Isolde is in hulle lewe van mekaar geskei, maar kan in die dood met mekaar verenig word.

 

Al spoor wat agterbly,

is fragmente van liefde

verenig in die dood.

 

Refreine kry ʼn besonder funksie in my jongste digwerk. Dit herinner die leser aan die grondtema, maar dit is ook ʼn brug na ʼn volgende deel (vgl. die gedigte uit die Odusseia, p. 77, 78, 99, 101).

Vir die eerste keer kom daar gedigte met ʼn mistieke geur in my werk voor. Mistiek dui op die bestaan van ʼn ander, vir ons oë verborge, mistieke wêreld náás of agter die materiële wêreld wat ons sien. Later is die begrip gebruik om die mistieke oorgang na ʼn ander wêreld aan te dui (Rutten). Die mens word nie God nie, maar is afhanklik van God (Augustinus). Die eenwording met God is ook deur die term beskryf. In van my gedigte word die mistiek op een of ander wyse ervaar. Lees die gedig, “Nag van die liefdesgloed”; hier is sprake van menslike eenwording, maar ook ʼn eenwording met God (p. 34).

 

Saam en een in Christus se lig

leef hulle innig met Hom verenig.

 

Anders as in my vorige bundels, is die dood nie net donker nie.

 

Mag die papier se stof

hier altyd lig op jou val (p. 65).

 

Sondebok (p.49) is ook anders. Dit is ʼn gedig vol bitterheid en ironie. Dit steun op René Girard se sondebok-teorie.

 

Al is ek deur jou geframe het ek

een vraag, meester van die kwas:

Is ek nie maar net jóú sondebok nie?

 

Die “rower”-gedigte en die slotgedig, “Tuis van ʼn ver land”, vorm ‘n paradoksale sluiting. Die rower kom en roof. Daarna reis hy verder. Die verlore seun vat sy erfnis, verloor alles en kom weer terug waar hy met liefde oorlaai word.

Jou vraag oor styl wil ek soos volg beantwoord: Elke digter sing soos hy/sy gebek is. Elke digter het sy/haar eie styl en aard.

 

Om aan te sluit by jou beroepsveld voor jou aftrede: Watter rol speel geloofsoortuigings in hierdie bundel? Die hedendaagse teologie en/of geloofspraktyke wyk toenemend af van die tradisionele en ortodokse. Sou jy sê dit figureer ook in jou gedigte? Indien wel, hoe?

Dis vir my nuus dat die hedendaagse teologie en/of geloofspraktyke toenemend afwyk van die tradisionele en ortodokse. Wat is tradisionele? Ortodokse is ook nie gelyk aan tradisionele nie. Dis ʼn mis-verstand. Tradisie kom van traditio wat oorlewer beteken. Geloofsbelydenisse en -taal word deur die eeue oorgelewer. Dit is meer as die moeite werd om die ou skatte weer te ontdek. Jy sal ryklik beloon word as jy Augustinus lees. Daar is soveel wat ons by hom kan leer. In sy groot werk De Doctrina Christiana verklaar hy dat daar na die outeur se bedoeling in die teks gesoek moet word. Dis nie so maklik om toegang tot die outeur se werk te kry nie. Daarvoor is kundigheid en studie noodsaaklik. Ek dink dieselfde geld vir die lees van ʼn digbundel.

Gerben Heitink se magistrale boek Golfslagen van de tijd wat in 2011 verskyn het, is as die beste boek in Nederland aangewys. Dit het binne drie maande drie herdrukke beleef. Hierin skryf hy helder oor die “tradisionele” waarna jy verwys. Hy beskryf op die voetspoor van die filosoof Charles Taylor oor die geslote denksisteem (Descartes, Locke, Hume en Nietzsche) en die poreuse denkwêreld. Die geslote wêreldbeskouing sluit nie ʼn poreuse wêreldbeeld uit nie.

My digbundels is nie ʼn handboek vir teologie nie. Kyk net na Die Here is nie my Herder nie en die gedig oor Judas (p.50) waarin ek ʼn pleidooi vir hom lewer. Ek wil saam met die eietydse gelowiges worstel; soos T.T. Cloete dit in sy Job-gedigte doen, Sheila Cussons in haar mistieke gedigte en I.L. de Villiers se gedigte wat ’n poreuse perspektief uitstraal.

 

Daar is ook ‘n aantal verse oor die dood. Dit is nie ‘n nuwe tema in jou werk nie. Dink jy baie hieroor na, en wat is jou instelling teenoor die oorgang wat vir ons wag? Sou jy nie ‘n hele bundel oor lewe en sterwe, met bespiegeling oor ons uiteinde wou maak nie? As teoloog dink jy sekerlik baie daaroor na, soos die meeste van ons ook maar. Mens besef dat variasie binne so ‘n bundel ‘n probleem kan wees, maar dit hoef tog nie – die moontlikhede is so wyd, en jy kan heerlik met gedagtes en vorm eksperimenteer. Wat dink jy hiervan?

 Hoewel die dood nie ʼn nuwe tema in my werk is nie, is die nuutheid dat ek op ʼn radikaal ander wyse daarmee omgaan. Die dood het ook ʼn ligte kant (p. 65). Ek wil in dié verband na die gedig “Na ʼn dood” verwys (p. 64). Dit is die eerste keer dat ek dig oor ʼn broer wat sy eie broer doodgemaak het. “Epitaaf” (p. 65) en”Salvator Mundi” (p. 66) word deur die gebruik van die woord “stof” verbind. En tog kry stof elke keer ʼn ander betekenis. Dis stof tot nadenke! In die gedig “Salvator Mundi”  se eerste en tweede strofes word die mensheid van Jesus belig (hy word as “jy” aangespreek) en in die derde strofe kom sy Godheid ná sy opstanding aan die lig (“Is dit U, my Here en my God?”). In  alle poësie is die mens as homo viator op pad na die dood. Die dood sal sy skaduwee oor gedigte bly gooi.

 

Jou bundel, en jou werk in die algemeen, is nogal ernstig, en by tye selfs donker. Sou jy sê dat jy ‘n somber lewensingesteldheid het, of so iets? Of val diep nadenke, selfs worsteling, vir jou saam met die digwerk? Maar skryf jy ook ligter verse? Wat is jou siening hieroor, en as ‘n uitgewer jou argumentshalwe vra om ligter, speelser werk voor te lê, wat sal jou reaksie wees?

 Met misdaad, geweld en moord rondom ons is die lewe nogal donker. Is van die gedigte nie maar net ʼn uitdrukking van die lewensgevoel nie? ʼn Gevoel van pessimisme en sinisme? Lees in dié verband die skitterende vertalings deur Catherine du Toit en haar medewerkers van Michel Houellebecq se gedigte. Hy vertolk die moderne lewensgevoel op ʼn besondere manier. Daarom is sy gedigte besmeer met sinisme, melancholie en pessimisme.

Die laaste afdeling van my bundel (afdeling V11), is vol lig.

Op jou vraag of ek van nature pessimisties is, sal ek iemand wat my van kindsbeen geken het aan die woord stel: my ouma. My ouma het nooit so gedink nie en die probleem is dat ek haar altyd geglo het. Sal ek ligter verse skryf? Ek het al! Daar is ʼn speelsheid in die derde rower gedig (p.17). En natuurlik ook ironie. Ek het op versoek van ʼn uitgewer twee kinderverse geskryf. Een sal in ʼn handboek vir graad 6 gebruik word.  En o hemel, ek het Adam Mansbach se kwatryne met die onuitspreeklike woord daarin vir Penguin vertaal. Maar, glo my, ek is nie van nature ʼn vloeker nie.

 

Woorde en digterskap is die tema van jou tweede afdeling “Woordvlug”. Jy het al gesê dat jy as kind eerder met woorde as met karretjies gespeel het. Het enigiets besonders aanleiding gegee tot jou fassinasie met die woord? Laat jy jou soms in die skryfproses deur woorde verlei? Hoe?

Woorde is vir my soos asem. Ek kan nie daarsonder leef nie. Woorde kry soos soet vye ʼn lêplek op die tong. Woorde en die spel met woorde fassineer my eindeloos. Ek laat my in die skryfproses verlei, maar as ek afgekoel het, skaaf ek eindeloos. ʼn Duisend keer. By ons wonderlike vriendin Eveleen Castelyn het ek geleer: “Kill your darlings.”

 

Jy was ‘n plaaskind. Watter plek neem dit in jou denkwêreld en skryfwerk in?

Ek verlang na die plaas, die reuk van vars grond en brood uit die oond. Die son, die sterre en maan. Dit word metafore en vergelykings in my gedigte. Voorbeelde hiervan is “Die werk van u hande” (p.52) en die gedig daarna (p. 53):

  

Ná ʼn storm in die Karoo.

Vir Coenie en Ria

 

Donderslae laat die hemel kraak

en die aarde benoud na asem snak.

 

Die onweer rammel soos ’n houtwa,

karoobossies is druppende ou manne.

Dan breek die stilte oop, wolke waaier

uit soos vlerke en vlug met skemer

in hulle oë na die eindes van die horison.

 

As die storm se donker drif uitgewoed is,

vonkel sterre lig en genadig oor die Karoo.

 

Hoe sien jy jou toekoms as digter, en veral ‘n Afrikaanssprekende digter? Is daar ‘n toekoms vir die Afrikaanse poësie? Voel jy gemaklik oor die plaaslike leserspubliek-gedrag, meer spesifiek ten opsigte van die poësie? Sou jy dit oorweeg om ook in Engels of ‘n ander taal te skryf?

Oor  die toekoms kan ek net droom. Ek wil graag nog gedigte liggies met ʼn gansveer op die perkament van die aardbol skryf. Solank daar digters is, sal ons Afrikaans praat. Daar is net, beskamend genoeg, te min lesers vir te veel digters.

Groot dank aan Margot Luyt, Tharien Oosthuizen en veral Marlise Joubert van Versindaba, asook Litnet wat poësie met soveel geesdrif bevorder.

Engelse gedigte?  Ek het ʼn paar in my hart se binnekamer. Ek dink net my kleinseun van 7 jaar, Reynard, skryf nou al beter in Engels as sy oupa. Leon de Kock kan eerder my gedigte vertaal. Hy het die Abelard en Heloïse reeks so voortreflik vertaal.

 

Dankie, Cas, vir die gesprek. Sterkte vorentoe met die woordboerdery en -boordery; bly maar op die spoor van daardie engel, dit mag vir jou en jou lesers opwindende materiaal ontsluit!

Zandra, ek moet vir jou dankie sê. Jy het aan my soveel vryheid en ruimte gegee. Goeie wense en vreugde met jou digwerk.

  

 

Onderhoud: Cas Vos

Sunday, August 30th, 2009

Wat oorbly is roet & ink

Cas Vos in geprek oor sy nuutste digbundel Intieme afwesige, met Johann de Lange  

Cas Vos

Cas Vos

 

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica.In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

Wat my opgeval het met die lees van die bundel is hoe elke afdeling nuwe nuanses van die titel belig. Die intieme afwesiges wissel van ongeborenes tot gestorwenes, van herinnerings tot inspirasie, van mense van bloed & vlees tot mense van ink of verf. Op intertekstuele vlak kan dit verder verbind word met ander tekste, heel dikwels uit antieke tye, wat as’t ware soos op ‘n palimpses intiem aanwesig is. Brei bietjie uit oor wat die funksie van ‘n titel vir jou is.

 

‘n Titel is vir my soos ‘n hartklop. Jy hoor of die bundel leef. By Van Wyk Louw het ek geleer om ironies te leef en bo alles die liefde te behou (en dis nie altyd maklik nie!). Die titel suggereer ‘n teenstelling. Naby en ver. Verlange en liefde, leegte en vervulling, lewe en dood. Af- en aanwesigheid. Hierdie teenstellings loop dwarsdeur die bundel. Daarom is daar dikwels gesprekke tussen gedigte. Hiervan is die Abélard en Héloïse-reeks ‘n duidelike voorbeeld. Intimiteit is so menslik. En meestal staan afwesigheid in die weg daarvan. Hierdie kontraste  staan voortdurend op gespanne voet teenoor mekaar.

 

Jou bundels se omslae raak toenemend belangriker as sleutels. Verál Die afdruk van ons hande & nou Intieme afwesige. Hoe sien jy die rol van omslagontwerp in die semantiese spel, & hoe maak jy vrede met die kompromieë wat gemaak moet word wanneer sakebelange & artistieke visie bots?

 

Intieme afwesige

Intieme afwesige

 Vir my is ‘n bundel as geheel ‘n kunswerk, ‘n skeppingsdaad. Daarom is die voorblad vir my nie net maar ‘n oogvanger nie. Dit is deel van die bundel. Die voorblad gee die leser ‘n blik op wat hy/sy kan verwag. Dit dra by tot die verstaan van die gedigte. Dis ‘n hermeneutiese sleutel. Maar ook omgekeerd: dit gedigte kyk elke keer terug na die omslag.
In die geval van Intieme afwesige wou ek ten alle koste die smoke drawing van Diane Victor op die voorblad hê. En glo my dit het nie sonder slag of stoot gegaan nie. My uitgewer het begrip gehad vir ‘n waansinnige digter. Maar gode sy dank, nou kan die omslag ‘n inslag hê op die gedigte. Weerloosheid, afwesigheid, eensaamheid, broosheid en verdriet hink deur die bundel. En die voorblad wil die leser help om dit raak te sien.

Hoe gebeur ‘n gedig by jou? Watter soort prikkels vuur ‘n gedig af? Wat, bv. is die rol van reis?

 

Saam met T.T. Cloete wil ek sê dat gedigte uit die mees onverwagte oord kan kom. Ek dig met my oë. Daarom is ek altyd op die uitkyk na digmoontlikhede. Ek dig ook met my liggaam. ‘n Bepaalde ervaring kan tot ‘n gedig lei. Ek dink ook na en soek na konsepte wat gedigte kan word. ‘n Gedig is altyd in wording. Reis maak nuwe wêrelde oop en ervaringe los. In Parys het ek onlangs baie gedigte geskryf. Moenie vra waaroor nie! 

 

‘n Vers soos ‘Ode aan ‘n bloekomboom’ & talle ander verse waaruit jou sterk visuele ingesteldheid blyk soos ‘See’, ‘Is jy blind?’, ‘Parys se winter’, & ‘’n foto in woorde’ stel dit onomwonde dat kuns nie net ontspring uit die waarneming & interpretasie van ander kunsvorme nie, maar ook uit die veelsinnige wêreld om ons.

 

T.T. Cloete het oor God as die groot Digter gedig. Vir my is die skepping in sy rykheid en variasie ‘n bron van gedigte. ‘n Mens kan byvoorbeeld sterre pluk en ‘n ruiker maak. Ek is ook intens bewus van die wedersydse afhanklikheid van skepsel en skepping. Ons kan nie sonder die skepping asemhaal nie. Ek sidder as ek dink hoe ons die skepping afknou, kneus, ontstel en verwoes.

 

In al jou bundels, maar verál in Gode van papier is daar ‘n baie sterk bemoeienis met die skryfdaad. Ek kon nie help om byvoorbeeld met die lees van Gode telkens die woord ‘papier’ te registreer nie. 

 

Johann, jy het ‘n sleutel tot my gedigte opgetel. Papier is vir my die ruimte waar woorde asemhaal en sug. Dáár kan woorde ook dans en liefde maak. Dis ook die ruimte waar woorde gesluierd loop om pyn en weerloosheid te bedek. Verder is ‘n gedagte meestal so diep soos papier. Dis lig en vlugtig. Digby verdwyn. Ek vlug na papier om te skuil en te lag.

 

Sou dit korrek wees om te sê dat dit ‘n bundel is vol geboortes, weliswaar geboortes van allerlei soort. In die eerste afdeling is dit Perseus, Horus & Jesus (die ongeborenes is die intieme afwesiges waarvan die titel praat), in afdeling 2 figureer die skeppingsproses as geboorte (hier is die vers oor Kate Moss ‘n dubbeldoor), dan is daar die geboorte van Astralabe. Maar dis ook ‘n bundel oor afwesige vaders (bv. Zeus, maar ook Christus is in ‘n sin ‘n intieme afwesige vader).

 

Op jou vraag is my antwoord: ja. Die eerste geboorte (Reynard, my kleinkind) is ‘n menslike geboorte. Uit die liefde van ‘n pa en ma maak hy sy opwagting. Weliswaar ‘oorlams’ en ‘geskik vir kwaad’. Dan volg die goddelike geboortes. Maar elke keer staan ‘n god pa vir die geboorte. Ek put ryklik uit die Griekse mitologieë. Wat veral opval (sonder om aardsgeheime te verklap), is die menslikheid van die gode. Hulle bekers loop oor van begeertes en drange. Ek moes Jesus se geboorte indig. Want, ook Hy, is vaderloos. Josef word opsy geskuif. Dit is dus die verhale van afwesige vaders en seuns sonder vaders. Kate Moss, ‘n erotiese vers, is uit en uit ‘n dubbeldoor. Intiem en afwesig.

 

Dit is trouens opvallend hoe jy in jou verse telkens die antieke uitbring by die aktuele & lig werp op die hede, of dit gaan oor Gilgamesj & Enkidu of oor Leonard Matlovich; of dit die geboorte van jou eie kleinkind is of die geboortes van historiese of mitologiese figure soos Perseus, Horus of Jesus sélf.

 

Al lê die eeue agter ons, haal dit ons keer op keer in. Hoe word die geskiedenis, al is dit in ‘n ander tyd, tog nie herhaal nie. Ons is almal erfgename van die geskiedenis. Soms is dit uiters donker, maar daar is ook lig. Geskiedenis is verstaansgeskiedenis. Dit laat ons die verlede en die hede beter verstaan. Dit laat ons tot verstaan kom, tot verhaal kom. Die antieke is vir my ‘n spieël waarin ons gesigte uit die verlede sien en ook ons eie gesigte. By Emmanuel Levinas het ek geleer dat die ander se kritiese blik op my my help om myself en my eie ‘algebra van nood’ beter te begryp.

 

Via die mitologiese onderbou verken jy die moderne manifestasies van gode in ‘n moderne, sekulêre samelewing.

 

Sedert die neukery met die appelboom, om Marthinus Versfeld aan te haal, is ons wêreld in mites gedoop. ‘n Mite is ‘n manier om die misterie, die onsêbare te probeer verstaan.

Gode duik op elke hoek op. Elke keer in ‘n ander gedaante. Hoe verklaar mens hulle? Ons dink te maklik dat ons in ‘n postmodernistiese samelewing met gode kan afreken. Maar hulle trek met ons saam. Hulle kruip in ons harte in. Mites en mitologiese taal, dink ek, help ons om onsself en die gode beter te verstaan. En om die gode op hulle plek te sit en te hou. 

 

Sien jy in verhale soos dié van Gilgamesj ‘n behoefte aan die ou gode, in ‘n tyd van te veel gode?

 

Ek is bang vir die ou gode, want ek ken hulle nie. En te veel gode maak my nog banger. Ek dink ons kan veel bý en ván die ou gode leer. Ons kan byvoorbeeld uit al hulle foute en vergrype leer. Dink net aan Marduk en Zeus! Gode maak mense verder nederig. Ons is tog so broos en verleibaar.

 

Sien jy jouself as deel van die religieuse ‘tradisie’ in die Afrikaanse poësie? Vir my sluit jy nóg by die mistieke Cussons & nóg by die meer sekulêre I.L. de Villiers aan. Jy voel jou eerder aangetrokke tot beide die Oosterse sowel as die Westerse tradisies (iets wat mens weliswaar ook by die vroeë Cussons aantref).

 

Ek is nogal ongemaklik om myself as deel van enige religieuse ‘tradisie’ te sien. Dis die etiket van teoloog-wees wat al dié misverstande wek. Natuurlik put ek uit die rykdom van die Antieke wêreld. Ek is dus geen apologeet nie, eerder ‘n saboteur. Hiermee bedoel ek dat ek eerder religieuse tekste, in soverre hulle in my bundel voorkom, dekonstrueer. Ek doen dit om saam met eietydse mense te worstel met die raaisels en misteries van die lewe. Voorbeelde hiervan is ‘Die Here is nie my herder nie’ in Die afdruk van ons hande, en ‘Ontheemde’ in Intieme afwesige.

Ek stem saam met jou. Ek voel aangetrokke tot die Westerse én Oosterse tradisies. Albei vind neerslag in van my gedigte. Só ‘n benadering maak my oop vir groter wêrelde. Ek dink ons weet so min van die rykdom van veral die Oosterse wêreld. 

 

Jou bundels dek telkens ‘n wye register temas & ‘n uitgebreide verwysingsraamwerk. Só gebruik jy in Die afdruk van ons hande byvoorbeeld die Gilgamesj-sage om op byna metafisiese wyse kommentaar te lewer op óns tyd. Vergewe my dus as ek (onmoedswillig) vra waarom jy nie meer gemaak het van die homoseksuele relasie tussen Gilgamesh & Enkidu nie (dit het tewens ‘n pendant in die verhaal van Dawid & Jonathan)?

 

Dis ‘n boeiende en geldige vraag. Daar is geen twyfel dat die epos ‘n homoseksuele relasie tussen Gilgamesj en Enkidu uitspel nie. Byvoorbeeld: nadat Gilgamesj en Enkidu baklei, word Gilgamesj se droom waar – hulle soen mekaar en smee ‘n vriendskap (Tablet 11:18). Wanneer Enkidu sterf, bedek Gilgamesj die gesig van sy vriend soos dié van ‘n bruid (Tablet V111:59). Hierop het ek wel in my weergawe van die epos gesinspeel.

 

Gilgamesj draal nog om sy vriend

en bedek

sy gesig met ‘n aswit sluier.

 

In die Ou Nabye Ooste was dit heeltemal normaal om die dinge wat jy nie met jou vrou kon deel nie, met jou vriend te deel. Van die dinge kon ook seksueel wees. Homoseksualiteit is dus nie só ‘n issue in die Gilgamesj-epos nie. Daarom het ek net subtiel daarna verwys en die beker by my laat verbygaan. In Intieme afwesige is daar wel twee gedigte wat meer eksplisiet en subtiel is: een oor homoseksualiteit en die ander oor ‘n lesbiese verhouding.

 

Wat my bring by ‘Verblind (of ‘n oog vir liefde)’: met Dumas se ‘Male beauty’ as vertrekpunt, betrek dit die geskiedenis van Vietnam veteraan Leonard Matlovich, een van die eerste slagoffers van die Amerikaanse Militêre Akademie se Don’t-ask-don’t-tell beleid, & later ook slagoffer van Vigs. Dis asof die ondraaglike blootstelling van Dumas se naakfiguur en die gay soldaat wat naak voor ander staan mekaar reflekteer. In verse wat skryf & sing & praat vier, is dit ironies genoeg swye wat Matlovich se loopbaan & uiteindelik sy lewe beëindig het. Ek kan nie help om te dink aan Koos Prinsloo se verhaal “Belowe jy sal niemand sê nie”, ‘n belofte waardeur die slagoffer ‘n medepligtige word by sy eie dood.

 

Die onreg van ‘gee jou lewe, maar nie jou liefde nie’, het my in die Dumas skildery aangegryp. Liefde het nie grense nie. As jy dit wil afgrens, oortree jy die wet van die liefde. Ek het die gedagtes ironies en eroties in die gedig probeer verdig. Staan ons nie almal min of meer naak voor ander se oordeel nie? Die swye wat die soldaat se lewe beeïndig, is ‘n klag teen ons samelewing. Maar die stem van die liefde sal ondanks alles altyd deur die eeue eggo.

 

Die gedig het my laat dink aan Socrates se woorde:

 

The time to depart has come,

and we go our separate ways – I to die,

and you to live. Which is better

the god only knows.

 

In die tweede afdeling met sy vertolking van skilderye is inspirasie sélf die intieme afwesige. Die grootste aantal van die verse word gewy aan Marlene Dumas (‘n figuur wat ook vir Antjie in Kleur kom nooit alleen nie fassineer het). Die hoogtepunt van hierdie procédé sal vir my altyd Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie bly. Die erotiese, intieme kwaliteit van Dumas se werk, maak van die doek as’t ware ‘n palimpses waardeur die onsegbare of verswygde historie skemer. Wat is dit wat tot jou spreek in Dumas se werk? 

 

Die reeks gedigte as vertolking van skilderye is ‘n voortsetting van die skeppings-proses uit afdeling 1. Hier is sowel die skilder as digter skeppers. Uit die oog van die digter is die skilder ‘n mede-skepper. Soms is die digter die oorsaak van ‘n skildery. Hierdie wisselwerking tussen skilder en dig boei my. Dumas skep en open vir my digwêrelde. Wat my van Dumas fassineer, is die alledaagse en die uitsonderlike. Dit gaan om weerlose en soekende mense. Verskillende gestaltes van menswees word in haar skilderwerk ontmoet. Haar 2008 uitstalling, Intimate relations, tipeer vir my haar werk. Sonder pretensie, maar grensverskuiwend. Dit laat die kyker anders dink en voel oor die lewe. Verder is daar, soos jy met reg aanwys, die erotiese, intieme kwaliteit van haar werk wat uitstaan. Die intieme en die afwesige, lewe en dood bind haar werk. In my gedigte resoneer al die trilings. Ek het ook ironie uitgebuit. Lees asb net die gedigte oor Sigmund Freud se vrou, Martha, en Kate Moss (geskilder deur Freud se kleinseun, Lucian). Ná die lees behou ‘n mens ook die humor oor. 

 

In ‘Martha’ gaan die vers oor Dumas se skildery oor Freud se vrou, Martha, & in ‘Kate Moss’ gaan dit weer oor Lucian Freud se kontroversiële 2002 skildery van die supermodel Kate Moss. Freud verkies normaalweg ‘gewone’ mense vir sy onderwerpe, & dit maak sy keuse van die swanger Moss nogal ongewoon. Wat fassineer van Freud se skilderye is die gekneusde vlesigheid van sy modelle, die rou realisme waarmee hy vlees weergee. Die normale plankdun Moss word in ‘Naked Portrait’ nogal heel voluptueus uitgebeeld. Soos heelparty ander in die bundel het hierdie vers ook geboorte as tema, op ‘n ander vlak die skepping van die kunswerk (vgl. ‘My hand ritsel’ waar die moeisame geboorte van die gedig beskryf word).

               

Ek wou die afwesigheid, die afstand tussen Sigmund Freud en sy kleinseun Lucian Freud laat deurskemer. In 2005 is die twaalfde druk van Freud se beroemde Die Traumdeutung gepubliseer (as digbundels maar soveel herdrukke kan beleef!). Sy psigoanalitiese teorië het geslagte kunskritici beïnvloed. Daar is na die betekenis agter die ‘beelde’ gesoek. Die kunstenaar is as ‘n pasiënt met ‘n siek psige beskou. In die gedig het ek probeer om hierdie wa(a)nsiening te ontmasker. Herr Sigmund, soek eers die splinter in jou eie oog. Daarom is Lucian Freud se skildery van Kate Moss so ironies. Die intieme afwesige is die verborge fetus en Kate is eroties-vleeslik aanwesig. “My hand ritsel’ is die digterlike geboorte van ‘n vers. Daar is selfs ‘n Bybelse intertekstualitieit in die vers. Maar ek sal nie sê waar dit lê nie! 

 

Met die Abélard en Héloïse-siklus pak jy nes in Die afdruk van ons hande met die Gilgamesj-sage ‘n bekende & tydlose liefdesgeskiedenis aan, ‘n verhaal wat kunstenaars deur alle tye geboei het & nog steeds boei. In ons letterkunde het Cussons & Louw hulle bv. pertinent met dié geskiedenis identifiseer. Vertel asseblief meer hieroor, & ook oor die daaropvolgende reeks oor Astralabe, die kind wat Abélard & Héloïse sou verwek het – ‘n gestalte wat eintlik tussen die vloerplanke van die geskiedenis deurgeval het. Dis verál deur hulle woorde, deur die briewe & gedigte dat hierdie “brewwe” momente bewaar gebly het.

 

Die Abélard en Héloïse-siklus het my ontroer omdat dit so tydloos is. Dit is net so aktueel en aangrypend as in die 12de eeu. Intieme afwesige eggo dwarsdeur die siklus. Daar is die pyn, verdriet, verlies, verlange en vreugde (erotiek) van die liefde. Eers op die grafbed lê Abélard stokstyf en doodstil langs Héloïse. Hoe ironies kan die liefde tog nie wees nie! Anders as by Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Daniel Hugo het ek die siklus in dialoogvorm geskryf. Iets van ‘n teater. ‘n Poëtiese praatvers.

Astralabe is die liefdeskind van Abélard en Héloïse. Oor die stomme kind is byna niks bekend nie. Al is hy so onbekend, is hy nietemin die toonbeeld van verlatenheid, eensaamheid, verlorenheid, vader- en moederloosheid. Vir hom was sy pa én ma die intieme afwesiges. En hysélf die intieme verlatene. O hemel, dis so eietyds en menslik. 

 

Afdeling 3 bevat benewens liefdesgedigte soos ‘Ek pluk vir jou rose’, ‘Voor dit donker word’, ‘In die tuin van die nag’, & ‘As ek in die slaap’ waarin jy in die taal van Hooglied & met die konvensionele simboliek van rose/blomme die liefde besing ook versetverse soos ‘Ontheemde’ & ‘Cueca solo’. Verse waarin geworstel word met God. Hoe so?

 

By my sal jy altyd liefde kry, liefde en ironie om Van Wyk Louw te onthou. Tussen lewe en dood bloei die liefde. Vir my is God die onbegryplike, die ongrypbare. Hy is ook dikwels die intieme afwesige. Daarom is my vraag: waar is God in my pyn, verdriet, alleenheid, worsteling? Eerder as om God los te laat, wil ek met Hom stry en worstel. Miskien maak iets eendag sin.

 

Jou gedigte demonstreer hoe kunstenaars deur die eeue deur metafore, simbole & mites betekenis gee aan die moderne samelewing. Is dit die rol van die kunstenaar, sou jy sê?

 

Natuurlik is daar tydlose gedigte. Ek dink aan Van Wyk Louw se ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’ en D.J. Opperman se ‘Grondstowwe by die Siklus van Seisoene’. Maar ek dink omdat ‘n gedig in die tyd ontstaan, dra dit ook die merke en kwetsure van die tyd. Die digter is nie net met sy/haar klein wêreldjie besig nie, maar hy/sy kan ook die trillings van die aarde en die pyn en vreugde van ander mense voel en daaroor dig. Hierdie siening is myne, en nie voorskriftelik nie. To each his own. Metafore, simbole en mites is die grondstof om die moderne samelewing met al sy modder en afgronde te probeer, net te probeer, verstaan.

 

Aan die tegniese kant skryf jy ‘n meer konvensionele vers met ‘n sterk fokus op vorm (soos sonnette, of selfs ‘n meer esoteriese vorm soos die villanelle), sterk klankbinding & beelding. Maar dan het jy ook ‘n voorliefde vir die intertekstuele spel met ander digters, verse (ek dink hier bv. Aan jou pragtige variasie op Breyten, ‘Allerliefste’), verse oor ander kunstenaarsfigure, kunswerke uit ander genres bv. die skilderkuns & musiek, gekombineer met ‘n liefde vir reis. En soos ek reeds genoem het, jou uitgebreide verwysings na mitologieë, historiese figure, Bybelse verwysings. Dit alles sorg vir ‘n digte gedig wat die deeglike leser beloon.

 

Hierdie opmerkings van jou raak die hart van my siening van en omgaan met poësie. Jou tipering van die landskap en kleur van my verse is só akkuraat. Die steun op die meer konvensionele vers beteken nie dat dit ‘n keuse vir geyktheid of bleekheid is nie. Wel vir ‘n vorm, ‘n patroon. Hiervan is die skilderkuns ‘n uitnemende voorbeeld. Diane Victor se smoke drawings het steeds ‘n vorm (‘n gesig), kyk net wat doen sy met die vorm. Dis amazing. Dit is wat binne die vorm aangaan wat saak maak. Die vorm hou eintlik die perde (metafore, mites, simbole) in toom. Anders ruk alles handuit. Anders gesê: kreatiwiteit en varsheid kan net soos ‘n vis in water in ‘n vorm lê. In die vorm is daar ook asem, ‘n vertelling.

Die intertekstuele spel is ‘n noodwendigheid. ‘n Mens moet met jou voorvaders en tydgenote kan gesels. En soms ‘n hand uitreik. Want hulle verryk jou eie gedigte. Die Antieke tekste is vol van intertekstuele spel. Ek dink aan die Hebreeuse, Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Latynse poësie, om net ‘n paar voorbeelde te noem. En hedentyds wemel dit daarvan. Intertekstualiteit is soos systrome wat invloei in die groot rivier van ‘n gedig. Hiervoor is ek nie skaam nie en vra ek nie om verskoning nie.

Ander kunsvorme boei my en het ‘n invloed op my gedigte. Ek kan my nie ‘n lewe sonder musiek en skilder voorstel nie. Dit roep by my klanke, ritme en beelde op. Historiese verwysings kom dikwels in my poësie voor. Die geskiedenis is ‘n tradisie. Bybelse verwysings is ook eie aan my gedigte. Net nie te veel tekste nie asseblief! Die vraag wat die leser moet vra is: wat maak ek daamee? 

 

Dit het deesdae mode geword om verby die moederspeen te skel (om Breyten te betrek), & daar is ‘n baie sterk klem op die sg. praatvers asof dit iets nuuts is, maar in die Amerikaanse letterkunde is dit ‘n báie goed gevestigde tradisie. Die digters het egter deurentyd ander bindingsmiddele gevind. Vir my gevoel lewer die strewe na ‘n ‘no fun skinny’ tipe vers (as ek Seattle coffee se terminologie mag besig) met die absoluut minimum aan poëtiese bindingsmiddele meer dikwels as nié ‘n uitgesponne, middelpuntvliedende soort gedig op wat trendy is, maar nie altyd as kunswerk oortuig nie. Wat is jou gevoelens hieroor?

 

Oor die mode en trends in die eietydse poësie en die moederspeen wil ek met sagte woorde praat. Ek wil eintlik net asem skep. Dis waarom dit in benaderinge oor poësie behoort te gaan: ruimte vir variasies. Nie ‘n teenoor nie, maar ‘n met. En tog wil ek bysê: die sg. praatvers moet ook aan die grondwaardes van poësie gemeet word. Ek bedoel nie ‘objektiewe’ maatstawwe (maatstrawwe) nie, maar dit wat tot die wese van poësie behoort. Gaan lees die briljante Job gedig in verhaalvorm en jy word oorrompel deur die poëtiese krag daarvan (die wyse van vertel, die metafore, die ryk en wye wêreld wat geskep word), die Ilias, die Odusseia, Vergilius se Aeneid en Georgics. Robert Pinsky en Anne Carson is byvoorbeeld uitnemende eksponente van die praatgedigte. Nog ‘n keer: Selfs die praatgedigte moet poëtiese bindmiddels hê, anders verbleik alles in (onder) die son.

Wie dans, moet dans, wie rock moet rock, maar ons álmal hoef dit nie te doen nie. Daar is na my mening in die Afrikaanse tradisie (en nie van gister af nie), en ook vandag, besonder suksesvolle praatverse. Maar soms is dit net te binnemonds, bekfluitjie sonder asem.

 

Hoe voed jou kontak met mense, deur berading etc. jou skryfwerk? Sal jy sê dat jou beroep jou in ‘n unieke posisie plaas om die menslike kondisie te verken? Jou bundels verken die hele register van pynlike & vreugdevolle ervarings waardeur ons gaan, die aanbidding van vals gode, verlies in sy duisend gedaantes. Maar ook die erotiese, iets waar jy nogal ‘n raakpunt het met Cussons vir wie die liggaam juis sintuig word vir geloof eerder as ‘n struikelblok.

 

Ek dink dat ek in ‘n unieke posisie geplaas is om die menslike kondisie te verken. Maar dis ook ‘n pynlike posisie. Ek word ook in die proses verwond, maar hoop om die ander se pyn te help verlig of draagbaar te maak. Dit doen ek o.a. deur te dig. Ek sien en ervaar naas verlies ook vreugde. Dis alles openinge vir gedigte. Die erotiese speel, dink ek, ‘n belangrike rol in my digwerk. Doodgewoon omdat dit deel van die menslike bestaan is. Dit kan ook pyn bring, maar meestal is dit borrelende geluk.

Ek voel gevly dat jy opmerk dat ek ‘n raakpunt met Cussons het. Ek sou dit nie wou ontken nie. Die liggaam is inderdaad ‘n sintuig vir geloof. Ons moet liggaamlik kan glo en leef.

 

‘n Vers soos ‘lewe en dood’ wat in gesprek tree met Dumas se ‘measuring your own grave’ – ‘n effe losser omgang met die villanelle – berei mens voor op die verse rondom afskeid & dood wat in die slotafdeling voorkom.

 

Marlene Dumas. Measuring your own grave

Marlene Dumas. Measuring your own grave

   

  

 

 

Die vers deursuur die hele bundel. Lewe en dood eggo intieme afwesige. Tussen die pole van ‘lewe en dood’ speel die menslike bestaan af. Met sy vreugdes en pyn, eensaamheid en volheid, verlange en nabyheid, erotiese vlugte en laaste stuiptrekkings. Alles stuur af op afskeid en dood. Uiteindelik haal die dood ons almal in.

 

Van ‘Die vyfde evangelis’, die vers oor Bach, waar musiek sélf goddelike inspirasie is, tot by meer kontemporêre inspirasie soos Jim Morrison, Sting, Katie Melua. Wat beteken musiek vir jou?

 

Ek kan nie sonder musiek leef nie. Dis my lewensasem. Die klanke, die ritme, die lirieke, die atmosfeer, die ontroering vind weerklank in my gedigte. En laat ek dit maar bely: Wolfgang Amadeus Mozart maak die nag vir my lig. Sonder hom kan ek my nie my lewe voorstel nie. 

 

Cas, as jy moet kies, watter gedig sal jy kies om jou bundel aan nuwe lesers bekend te stel?

 

as suster dood kom

 

sal ek nog in drome verdwaal

en nagmerries saans opsaal

sal ek sterre ryp

aan ‘n donker prieel sien tros

 

sal ek die odusseia op reis na die ver land

lees en wag vir amandelbome om te bloei

sal ek steeds kan kyk hoe digters metafore

skommel en in ‘n kuil vol ritme strooi

 

sal ek god in die aandwind hoor ritsel

en die afdruk van sy liefde sien

sal ek my nog verbly oor ‘n meisie

se jong borste wat trots soos pruime swel

 

sal ek jou steeds kan liefhê, liefhê

sal ek jou met my soene die nag in kan lei

en sal jy, my lief, nog my dieper dors kan les

as suster dood kom?

 

Johann, baie dankie vir die gesprek en jou dieptastende en uitdagende vrae wat my tot nadenke en weerwoorde kon lei. Ek voel ek is in die hande van ‘n meester. 

 

 

Ander Bundels deur Cas Vos

 

1999. Vuurtong. Clubview: Benedic Boeke.

2001. Gode van papier. Pretoria: Protea Boekhuis.

2003. Enkeldiep. Pretoria: Protea Boekhuis.

2007. Die afdruk van ons hande. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

 

 

 

 

 
 
 
 

 

 

 

  •