Posts Tagged ‘Oos-Afrika’

Andries Bezuidenhout. Die oorsprong van taal

Friday, April 5th, 2013

Die skets hier bo is deur John Walter Gregory – Berg Kenia, n.a.v. ʼn besoek aan Oos-Afrika in 1892 en die jaar daarna. Argeologiese gegewens dui daarop dat die eerste vorme van menslike lewe in die skeurvallei ontstaan het. Ek torring aan ou gedigte en krap op die web rond vir beelde. Daar is afbeeldings van die slawemonument in Zanzibar, asook ʼn klipkapelletjie naby Naivasha wat deur Italiaanse krygsgevangenes gebou is. Ek het beide ʼn paar jaar gelede besoek. Verder vind ek ʼn afbeelding deur ʼn naamlose skilder van vroeë vorme van menslike lewe in die streek:

Daar is ook ou kaarte van die Skeurvallei, een uit die argiewe van die VSA se Library of Congress:

Verder vind ek ʼn kaart uit ʼn ou boek, toe Brits Oos-Afrika en Duits Oos-Afrika nog bestaan het. “Malindi” is nog as “Melindi” gespel:

Gister sit Desmond Painter die volgende aanhaling van Maurice Merleau-Ponty op Facebook: “The initial form of language, therefore, would have been a kind of song. Men would have sung their feelings before communicating their thought. Just as writing was at first painting, language at first would have been song…” In kommentaar daarop skryf Desmond: “Ek dink juis gedigmaak is ʼn poging om iets van die visuele en sangerige aspek van taal terug te wen.”

Die gedig hier onder se titel is voorlopig “Soos die wind waai”. Dis ʼn paar jaar gelede geskryf na my eie besoek aan Berg Kenia en die Skeurvallei, maar ek is besig om dit te hersien.

Hier word skeurvalleiletsels deur mere gelaaf
en hier, waar tweelingbergkoppe wolke uitdaag,
is die eerste mens deur die aardsbekken gestoot.
Kom die gode dáárom hier bymekaar?
Eers daal Ngai van Berg Kenia neer
en dan word Enkai se kneukels op die Ngongheuwels verewig.
Later Allah se kinders, kaskazi dra dhows deur ʼn ewige baai,
verby Lamu, om speserye en lywe op te laai.
Eeue later Jahweh met ʼn Kaapse ompad,
kazi in karveelseil, om by Fort Jesus, Mombasa,
die buit te verdeel.
Hiér versamel die gode, in berge, moskeë en katedrale
maar sal mekaar nooit ontmoet nie.

Johann Lodewyk Marais. Oos-Afrikaanse drome

Friday, January 29th, 2010

‘n Mens se eerste belangstellings kan ‘n eie Eden skep wat jy ten minste een keer moet besoek. Ek was sestien jaar en in standerd agt aan die Hoёrskool Harrismith toe ek geweet het dat ek Kenia toe wil gaan. Op 22 Mei van daardie jaar skryf ek in my opstelboek oor my “safari in Oos-Afrika”, en wanneer ek nou die opstel lees, is ek verbaas oor hoeveel ek toe van dié land in Oos-Afrika geweet het. Maar natuurlik was die feite nie oral korrek nie.

Ek skryf in die opstel dat ek die wenner van “‘n safari na een van Afrika se bekende wildtuine – die Masai Mara Wildtuin in Kenia” was. “Die wedstryd is deur ‘n bekende Engelse tydskrif, World of Wildlife, georganiseer.” Dié tydskrif met artikels en foto’s oor diere in hulle natuurlike habitat is tussen 1970 en 1974 uitgegee en was tydens my hoёrskooljare by die CNA op Harrismith te koop. Veral die artikels oor die diere van Afrika het my verbeelding geprikkel.

In een van die vroeё nommers van World of Wildlife was ‘n artikel met foto’s oor die Masai Mara en ‘n plakkaat van ‘n leeuwyfie (wat lank in my kamer gehang het), terwyl die tydskrif ook ‘n wedstryd vir ‘n “BOAC camera safari for two” na Nairobi en die Nairobi Game Park aangebied het. Sowel die artikel oor die Masai Mara as die wedstryd het my drome laat droom, want ek het onder meer die volgende oor dié verbeelde reis geskryf:

“Na al my voorbereidings is ek Londen toe waar ek sommige van die tydskrif se base ontmoet het. Daar het ek ook by ander safarilede aangesluit. Van Londen af is ons per vliegtuig terug na my kontinent – Afrika. Na sowat agt uur se vlieg het die vlieënier aangekondig dat ons op die lughawe naby Nairobi gaan neerstryk.

“Nadat ons by die doeanebeamptes verby is – ek as Suid-Afrikaner het nogal moeilik gekry – is ons per bus na seker vir my die mooiste wildtuin in die wêreld – die Masai Mara.”

Die res van die opstel handel oor die grootte van die wildtuin en die buitengewone natuurskoon. “Daar is seker min wildtuine wat só klein is en tog so baie bied. Die Masai Mara is veral ryk aan lede van die katfamilie!” Ek skryf ook hoe “staan bome geil en berge troon hoog teen die hemel op. Baie van die berge is só hoog dat hulle selfs in dié tropiese streek met sneeu op hul kruine bedek is.” Na ek uitgewei het oor die diere wat ons gesien en gehoor het, sluit ek af: “Ek kan nie uitgepraat raak oor al die mooi dinge in die natuur nie.”

Vandag weet ek sneeubedekte berge kom helaas nie in die Masai Mara voor nie, maar dié beeld is nie heeltemal vergesog nie. In Oos-Afrika en naby die ewenaar is wel sulke berge te sien. Hiervan is Kilimanjaro, Afrika se hoogste berg, in die noordooste van Tanzanië en teenaan die grens met Kenia, die bekendste. Verder noord in Kenia, en sestien kilometer suid van die ewenaar, is berg Kenia met sy sneeuhoed. In 1833 het ‘n sendeling oor dié sneeubedekte piek verslag gedoen, maar niemand het hom geglo nie.

Die beskrywing van hoe ek as Suid-Afrikaner in die 1970’s in Kenia ontvang is, is enigsins optimisties aangesien ek sekerlik nie ‘n visum sou kry om die land te besoek nie. Formele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Kenia was as gevolg van ons land se rassebeleid nie voor 12 April 1994 moontlik nie. Die beskrywing van die natuurlewe in die opstel was redelik getrou, maar in die Masai Mara met sy tipiese savanneplantegroei staan die doringbome met hulle kenmerkende sambreelvorm yl op die uitgestrekte grasveld.

Andries Bezuidenhout. Die wind by Lamu

Tuesday, September 22nd, 2009

ʼn Laaste gedig, vir eers, oor Oos-Afrika. Ons was net na die tsunami in Lamu. Die wind het gewaai. ʼn Mens sou hierdie poging seker as ʼn bastersonnet kon beskryf, omdat dit nie die regte voetwerk doen nie. Bui-buis is die pragtige swart gewade wat Swahili-vroue dra. Die laaste twee reëls is Swahili vir: “O God van die hele skepping/ Seën ons land en nasie.” ʼn Vorige weergawe daarvan is in een van die Versindaba-bundels gepubliseer.

DIE WIND BY LAMU

ʼn Wit driehoek pluk aan die wind,
wring die dhou se romp deur die see,
rys en speserye in sakke gebind
word deur hande kaai toe aangegee.
Strandlangs loop vroue in bui-buis beskeie,
maar vir my, die toeris, onbehendige voyeur
liefkoos die wind hul swaaiende dye
en soen die lywe wat deur linne beur.
In die bries tussen stegies word eeue verwyl,
van die oorlog beskut deur ʼn seekanaal.
Stotterend span ek my tong se seil
om Afrika se ander bastertaal –
Ee Mungu nguvu yetu
Ilete baraka kwetu.

  •