Posts Tagged ‘Op-die-Berg’

Andries Bezuidenhout. Herfs in Johannesburg, Piketberg, Op-die-Berg

Friday, May 14th, 2010

Vreemde kwaliteit wat die lig in Johannesburg in die herfs kry. Ek dink “bleek” is die beste woord om dit te beskryf. Onlangs in Piketberg oorgeslaap. Die einde van die somer is daar gans anders. Dit begin reën. My skoonsuster Karien het hierdie foto van ons hotel se balkon af geneem. Die gebou in die agtergrond is die ou sinagoge:

En hier is herfs in Op-die-Berg:

Ek skryf binnekort oor ons besoek aan die kerk by Op-die-Berg. Ek wil net eers my hande op die onderhoud wat David Goldblatt met die argitek gedoen het lê.

Ek skat herfs is selfs mooier in Johannesburg as jy weet dat jy die stad binnekort gaan verlaat.

Andries Bezuidenhout. Pelgrimstog Koue Bokkeveld toe

Wednesday, May 5th, 2010

Op 23 Mei 1987 het David Goldblatt ʼn foto geneem van die NG Kerkgebou by Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld. Dis waarskynlik afgeneem as ʼn voorbeeld van die argitektuur van die hoogbloei van Afrikanernasionalisme. Op die foto kontrasteer die kerk se strak lyne met die berge in die agtergrond.

ʼn Rukkie gelede kuier ek saam met my jonger broer se skoonfamilie op ʼn plaas naby Van Wyksvlei. Van my broer se vriende kom loer ook in, waaronder ʼn argitek wat sopas verby Op-die-Berg gery het. Hy wys vir ons foto’s van die einste NG Kerkgebou. “Pure Frank Lloyd Wright,” sê hy vol verwondering. Dis pragtige foto’s.

Vanaand vlieg ons Kaap toe, deels om ʼn draai te maak by hierdie merkwaardige gebou. Hoe vreemd is my lewe nie. Ek pak ʼn pelgrimstog aan om ʼn kerkgebou in die Koue Bokkeveld te besigtig. Kan die bakstene, glas en hout ‘n paar tergende vrae beantwoord?

  •