Posts Tagged ‘Op safari’

Johann Lodewyk Marais. Stegies van die geskiedenis

Sunday, February 7th, 2010
Mombasa
Mombasa

Wanneer Air Kenya se Boeing 737-300 naby Mombasa deur die wolke breek, sien ek lappies lande en groepies huise tussen palmbome in die plooie van die heuwelagtige landskap. “Eindelik – die hawe van Mombassa in gesig!” onthou ek Sangiro se woorde. In Op safari (1924) beskryf hy hoe hy en sy reisgenote destyds per skip hier aangekom het. Ek is gretig om die stad te sien wat reeds op Middeleeuse Arabiese kaarte voorgekom het en waar Ibn Battúta, die grootste reisiger van die ou tyd, in die veertiende eeu ‘n nag vertoef het.

Mombasa was ook die beginpunt van ontdekkingstogte soos dié van die Victoriaanse reisiger Joseph Thomson, wat deur die vyandige Maasai se gebied tot by die Victoriameer gestap het. Die Boere wat tussen 1902 en 1914, ná die Anglo-Boereoorlog, na Oos-Afrika verhuis het, het hier per skip aangekom op weg na hulle nuwe tuistes. ‘n Halfeeu later sou hulle en hulle afstammelinge helaas weer hiervandaan teruggaan.

Bykans tweeduisend jaar reeds val die Arabiese invloed langs dié kus op. Die noordelike moesonwinde van vroeg-Desember het Arabiese koopmanne met hulle dhows na hawedorpe soos Lamu, Malindi en Mombasa gebring. Teen middel-Mei het hulle weer met die suidelike moesonwinde vertrek. Vir die suiker, gedroogde koningsvis, tapyte en tradisionele kiste wat hulle gebring het, het hulle palmolie, manglietpale en koraalstene vir bouwerk saamgeneem. Vroeёr het slawe en ivoor die grootste deel van die vrag uitgemaak.

In 1498 het Vasco da Gama eers Mombasa besoek en daarna ook Malindi, hoёr op teen die kus. Die sigbaarste oorblyfsel van die Portugese teenwoordigheid is die imposante ruïne van Fort Jesus in Mombasa. Hierdie strategiese fort het lank as bastion gedien, met kanonne deur die geskutpoorte op die see gerig, en is ‘n hanetreetjie van die ou Swahili- en Arabiese buurt. Deur die smal strate stap heelparty van die vorige reisigers se afstammelinge.

Ou deure in Mombasa
Ou deure in Mombasa

Vandag is Mombasa die naasgrootste stad in Kenia, en belangrik vir in- en uitvoerhandel. In die ou deel van die stad, met sy sterk Moslemkarakter, het die tyd feitlik stilgestaan. Hier pryk talle swaar, versierde houtdeure en moskees. Hoewel die dhows van vroeёr nou selde in die dhowhawe besoek aflê, bly Mombasa ‘n toegangsroete tot die binneland en ‘n mikrokosmos van Oos-Afrika.

Noord van Malindi is Lamu, ‘n eiland waar jy jou maklik in ‘n ander tyd kan indink. Die hoё Swahilihuise langs die stegies, die donkies, dhows en rustiger lewe neem ‘n mens na eeue gelede en word jaloers gekoester. Dhows word nog hier gebou en daagliks as vervoermiddels gebruik. Vissersbote vaar so ver uit as die kus van Somaliё. In sommige huise gebruik mense selfs nog van die Chinese porselein wat hierheen gebring of uit skeepswrakke herwin is.

Joy Adamson van Born free-faam het unieke skilderye van die verskillende groepe in Kenia gemaak. Langs die kus het ek meermale onwillekeurig gedink dat party mense wat deur die strate stap net sowel uit haar skilderye kon gekom het. Daar is iets tydloos in die leefwyse langs die kus van Kenia, waar mense oor eeue heen daarin geslaag het om stryd en tweedrag te oorkom.

Uit Pomp 08.

Johann Lodewyk Marais. Oor die Skeurvallei

Thursday, September 10th, 2009

Ons vlieg in die rigting van Mosambiek vanwaar ons links sal draai oor Tete, oor Lilongwe in Malawi, dan oor Tanzaniё waar ons Kilimanjaro regs en die Ngorongoro-krater links van ons sal kan sien. Die medevlieënier se stem is egter onduidelik oor die luidsprekerstelsel, sodat ek nie sy naam kan uitmaak nie.

Benewens die prag van die wolke, bied die eerste deel van die vlug helaas nie veel meer om na te kyk nie. Van land is geen teken te sien nie. Wanneer die lae wolke wel wegtrek, is daar meestal ‘n troebel dynserigheid, met net ‘n vae beduidenis van die land ver onder ons.

Die oop sitplek tussen my en die ouerige swart vrou in dieselfde ry as ek verskaf welkome ekstra ruimte. Die vrou blaai in ‘n Bybel rond en skryf antwoorde in ‘n boek met vrae.

“I was born in Africa, but I live in the States now. I left during the apartheid era,” vertel sy.

Dit is haar eerste besoek aan Kenia. Sy is op pad na ‘n troue. Die paartjie is van Venda in Suid-Afrika se Limpopo-provinsie en Kenia en het mekaar ontmoet terwyl hulle in die Verenigde State gestudeer het.

“I am so proud of them,” sê die vrou. “I have my own camera and everything. After the ceremony I have to come back to South Africa.”

Uiteindelik kondig die medevlieёnier aan dat ons Lilongwe links en die Malawi-meer regs van ons kan sien. Van Lilongwe, sedert 1974 die hoofstad van Malawi, sien ek min. Ek staan egter vinnig op om aan die ander kant van die vliegtuig na die meer te gaan kyk.

In die helder sonlig is die meer met sy baie kartelrande diepblou. David Livingstone, die Skotse ontdekkingsreisiger en vegter teen slawehandel, het die meer op 17 September 1859 bereik. Die passasiers aan dié kant van die vliegtuig steur hulle nie juis aan die meer nie. Party dut, ander sit en gesels, en een of twee het ‘n kaart van Kenia voor hulle oop.

Die Malawi-meer is die derde grootste meer in Afrika en in sy tropiese water is meer visspesies as in enige ander meer in die wêreld. Honderde van die visspesies kom net hier voor en lede van die Cichlidae-familie met hul helder kleure en patrone is gewild onder mense wat vis in akwariums aanhou. Wat die Malawi-meer verder interessant maak, is dat dit die suidelikste meer van die Skeurvallei-sisteem is.

Naby die meer is die landskap bergagtig en trek die rook van enkele veld- of bosbrande. Ek sou graag ons roete duideliker wou volg soos op ander internasionale vlugte, maar op die TV-skerm skuins bo my word ‘n rolprent vertoon. Swartmense en wit bewaarders beweeg in ‘n rooibaksteentronk op die skerm. Sonder die klank lyk dit na ‘n verhaal vol stereotipes uit Suid-Afrika se apartheidsverlede.

Wanneer ons oor die meer is, word die landskap selfs bergagtiger en is die lug besaai met vlieswolke. Intussen het ‘n rolprent getitel Goodbye Bafana begin wys. Weer eens is daar swartmense, wit bewaarders en ‘n tronk. Dit is klaarblyklik dieselfde rolprent van vroeёr waarvan ek die vorige keer die begin “misgeloop” het.

Ons vlieg oor die Skeurvallei, die 6 000 kilometer lange naat in die aardkors wat vanaf Libanon tot in Mosambiek strek, wanneer die medevlieёnier aankondig ons gaan oor agt minute Kilimanjaro regs van ons kry. Ongelukkig is dié legendariese berg vandag byna heeltemal onder ‘n wolkkombers. Links van die vliegtuig gaan ons darem die vulkaan Ol Doinyo Lengai sien, wat besig is om uit te bars, en dan die Ngorongoro-krater.

Wanneer ons naby genoeg is, sorg Ol Doinyo Lengai vir ‘n verrassing. Voor ons trek ‘n swart rookkolom in die lug op. Terwyl ons naderkom, word dit ‘n magiese gesig: die simmetriese keёl wat oor miljoene der miljoene jare gevorm is, die smal rookkolom wat duisende meter hoog in die lug op trek en daaromheen vlieswolke in allerlei formasies. Ek sit vasgenael en wonder of die ander passasiers ook so opgewonde oor hierdie uitbarsting is. Dit kom slegs sporadies elke paar jaar voor.

Later lees ek onder meer in Joel K. Bourne jr. se artikel met foto’s van Carsten Peter in National Geographic van Januarie 2003 meer oor dié vulkaan. Ol Doinyo Lengai beteken in ∂l Maa, die Maasai se taal, “Berg van god”. Dit is volgens oorlewering die tuiste van die Maasai-god, Eng’ai, wat haar woede met uitbarstings en droogtes toon. Die Maasai besoek dié plek oor lang afstande om van Eng’ai reёn, beeste en kinders te vra. Sangiro skryf in “Die wraak van Ngai” in Simba (1944) hoe ‘n ou man “die gebulk en gerammel van Ngai se beeste” in die vulkaan as onheilspellend ervaar en voorts dat jong, onbesnede veewagters wat eenmaal met hulle beeste teen die hange van die heilige berg gaan wei het, die toorn van die god laat ontbrand het.

Met ‘n hoogte van 2 332 meter bo die omringende landskap aan die suidelike punt van die Natron-meer is Ol Doinyo Lengai die enigste vulkaan in die wêreld wat natriumkarbonaatlawa uitstoot en al een van die vulkane in dié deel van die Skeurvallei wat nog sporadies aktief is. Die rookkolom wat duisende meter in die lug optrek, is swart omdat die lawa se temperatuur tussen 550 en 600 grade Celsius is. In die lug kristalliseer die vloeibare lawa en val op die grond met die getinkel van brekende glas. Binne enkele dae na blootstelling aan lug verkleur dit van swart tot skakerings van bruin, grys en “wit ryp op die kaalgeskroeide, dorre kranse”, soos Sangiro dit beskryf het.

Uit die lug vertoon die Ngorongoro-krater, wat 24,5 kilometer in deursnee en 610 meter diep is, soos ‘n strook water wat in ‘n kom opgevang is. Die krater het hierdie vorm aangeneem toe die caldera weggesink en water wat in die krater met sy steil wande invloei ‘n meer gevorm het. Vandag nog lok die grasveld en rooi en wit klawer in die krater derduisende blouwildebeeste. “[N]et waar jy die verkyker draai beweeg die aarde,” het Sangiro dekades gelede in Op safari (1924) geskryf.

Anderkant die Ngorongoro-krater, na die weste, lê die Serengeti, ‘n gepaste naam afkomstig van die ∂l Maa-woord “Serengit”, wat “eindelose vlaktes” beteken. Selfs uit die lug kry ek ‘n gevoel vir wat Mary Leakey in Disclosing the past (1984) “a view that has […] come to mean more to me than any other in the world” genoem het. Tydens hierdie reis gaan dit die naaste wees wat ek gaan kom aan die Serengeti en die Masai Mara waaroor ek al in die hoёrskool gedroom het. Beelde uit Jonathan Scott se The great migration (1988) en talle natuurkundige programme op die National Geographic-kanaal oor die jaarlikse migrasie van blouwildebeeste en sebras van die Masai Mara Wildlife Reserve in Kenia na die Serengeti National Park in Tanzanië deur die Mararivier (een van die sewe toeristewonders van die wêreld) kom egter by my op.

  •