Francis Galloway. Aardedag [Breyten Breytenbach]
Friday, April 22nd, 2016Aardedag
Francis Galloway
Vanoggend het ek wakker geword met reën op die dak en ʼn vae herinnering aan ʼn Aardedag-gedig van Breyten Breytenbach. Na ʼn kort soektog in die boekrak vind ek die gedig, “paradys, ʼn pruimboom”, in een van my gunsteling Breytenbach-bundels. Die gedig is in 1993 gepubliseer in die bundel nege landskappe van ons tye; dit staan in die sesde afdeling, “al lê die berge nog so blou. HERINNERING IS VERBEELDING”. Tom Gouws skryf in sy resensie oor hierdie bundel: “ Selde in enige taal verskyn ‘n bundel soos hierdie. Al die clichémuntings van literêre kwaliteit wat ons ken: grootsheid van omvang en opset, deurgekomponeerdheid, hegtheid, reikwydte, noem maar op, laat nie reg geskied aan hierdie meesterlike teks nie.” Die bundel is in 1996 met die Helgaard Steyn-prys bekroon.
In 1997 was ek as uitgewer werksaam by J.L. van Schaik Akademies en gemoeid met die baanbrekende publikasie van Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent: Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Breyten het toestemming gegee dat hierdie gedig in die omgewingsbundel opgeneem kon word. En ook dat dit nou op Versindaba geplaas kan word:
paradys, ʼn pruimboom
ek sê ek is die Verbeelder van Urd
nou ontvleesde krygers sit kopknik in die aarde
met klerevodde die geskiedskrif ʼn vryheidstryd
om lángs die vreeslikheid van die werklike te mag lewe
ons planeet so manjifiek met glansende pieke
en skeure wat etter die maan ʼn magneet
vir ou stukke dwars taal die engele se wieke
deurweek in ʼn swartreën woorde
meet ons die weet aan verlange en innering
in hierdie dae skryf ek vir jou ʼn liefde
soos ʼn landskap van ink oorspoel
en ʼn raaf wat ark! ark! kraak
in die takke van die kurkeik
omdat hy in die spieël moes droom
van ontblote geheime gebiede
sê nou maar, sê nou maar
die vrou se sekspel is ʼn snouende teef
en die man het ʼn slang glad soos ʼn gedagte
skreef-gaande tussen dye, en die dood
is daardie Grootbeer wat jy voer
met visse uit die kuil vir die opsy
se hou solank musiek nog huil
totdat hy met hónd se harige gedagte
jou omhels vir die vrymaakdans
en sy stink asem kwyl oor jou gesig
ek sê die pruimboom is ʼn bruilofslied van sneeu
hier benede bors paddas statig uit die nate
en houtsterre word gloeiend gekool
oor die swart vloer van ewigheid
waar visgrate die maat in en uit moet spel
ounag vertel ʼn nagtegaal nog verhale van wegsteek
maar aans word dit somer wanneer ander voëls
diktong om genade gaan sing
terwyl ou Grootbeer met ʼn rooi oog
die viool kom ontderm
en in hierdie tye skryf ek vir jou ʼn liefde
my donker dame, van die pruimboom
se brommende vrugte geswel soos harte van huweliksgaste
as ek bloeisel-lig dans by wyse en wysie
van die temmer
sodat jy lieflik verder mag lewe
onderweg na die bruidegom
22 April, Aarddag
© breyten breytenbach. 1993. Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Groenkloof/Somerset-Wes: hond/intaka