Posts Tagged ‘Paternoster’

Jelleke Wierenga. Die Maer Maria-dae

Thursday, August 12th, 2010

Nou met die afgelope Vrouedag het ek vir my susters en vriendinne, asook twee mansvriendinne, ’n gedig van Antjie Krog gestuur. Ek hou dit op my rekenaar vir die dae dat ek soos Maer Maria voel.

Maer Maria is ’n ikoon in die Ortodokse kapel van ’n priestervriend op Robertson. Ek weet nie of Maer Maria haar regte naam is en waarom sy so gefolter lyk nie. Ek moet dit nog by vriend priester vasstel.

Maer Maria

Maer Maria

Maer Maria lyk soos ek partykeer voel. (Moontlik lyk ek ook so, hoewel ek van ’n konstitusie is wat nooit uitgeteer sal wees nie.) Van gees en vlees uitgemergel. Aangeval deur e-pos, werk wat nooit opgewerk word nie, blomryke kopie vir ’n linnekatalogus, aantelende skottelgoed, stof wat beskuldigend in bolle aanrol, blaffende buurbrakke en wasgoed wat huil omdat hulle al dae lank onskuldig aan die draad hang. Daarby ook insekte en onkruid van plantaardige en menslike oorsprong. En kan ’n mens ooit wegkom van die snoesige wete dat jy vasgekeer is op ’n boot met waansinniges aan die roer?

Op sulke dae sit ek sekere goed op my rekenaar se skerm. ’n Groot opkikkeraar is die klimaks uit Antjie Krog se gedig “Paternoster”:

ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my borste ’n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is

ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou

Dit kom uit haar bundel Gedigte 1989-1995, in 1995 uitgegee deur Hond. (Daardie ander bevryde gedig, “man ek lus ’n twakkie”, is ook in hierdie bundel.) Ek moet beken dat ek ’n woord in reël 10 verander het. Daardie woord, waaroor Koos Kombuis so lustig in verband met sekere “griete” sing, is vir my die lelikste in die hele Afrikaanse woordeskat. Ek weier dat dit oor my lippe kom of uit my vingers vloei. Skies, Antjie, jy moet my maar aankla van onregmatige of wederregtelike peutering.

Ek het die laaste vier reëls van die gedig by twee prente geplak. Afhangende van die bui sit ek die een of die ander op:

Die naakfiguur is ’n skildery deur myself, nie van myself nie. Ek wou dit graag op die voorblad van my digbundel Bloot mens gehad het, maar dit is met streng afwysing begroet. Ek skat dit was te bloot, hoewel Antjie reeds die weg gebaan het met die kaal bors van die ou dame op die omslag van haar Verweerskrif. Ek moes toe maar vir lief neem met ’n swierig opgedresde afkop-dame. Ek dink die af-kop het ’n besondere simboliese betekenis. Ek weet net nie wat nie.

As ek die dag ’n diep behoefte aan die solidariteit van soliede susters voel, sit ek die volgende prent op die rekenaarskerm:

Ek weet baie mans en verraaiervroue sal nou smalend sê maar wie wil in elk geval sulke lippe soen. Ék, vir een. Met sulke vroue kan ’n mens mos weer ’n volk met testosteroon in die hart kweek. Ek is veral gefassineer deur die dame tweede van links in die middelste ry. Dis of sy ’n besonder dodelike kyk aan haar het. Ek sal my oogtande gee om my vyande só te kan aanstaar.

Ag ja, en vir die dae dat ek op ander maniere bedot is, sit ek Dottie op die rekenaarskerm.

Dottie was my sus Annelise se hond en het saam met haar in die Namibiese woesteny rondgetrek, waar sus toesig oor die sink van boorgate gehou het. Sus Annelise is ’n geohidroloog of ’n hidrogeoloog. Toe haar omstandighede verander, is Dottie na sus Jets en swaer Peter in Gaborone. Van daar is Dottie na my pa in Bloemfontein sodat hy nie so alleen voel ná my ma se dood nie. Toe Pa onlangs na ’n aftree-oord trek waar honde nie welkom is nie, verhuis Dottie terug na Gaborone. Sus Jets het onlangs vir my dié sjarmante foto gestuur.

Saam met Dottie wens ek al die vroue wat dié stuk lees ’n blom in die bek toe vir die dae dat hulle soos Maer Marias voel. En ’n wonderlike heengegane Vrouedag. Laat ons nooit vergeet dat ons fokken vry vroue is nie.

Ns: Vir die mans wens ek ’n wonderlike Mansdag toe, wat enige en/of elke dag van die jaar mag wees.

  •