Posts Tagged ‘Paul Riekert’

Andries Bezuidenhout. Van Coke bo die grond roep na Koos onder die grond…

Wednesday, March 17th, 2010

Die een ding wat my steeds van Koos du Plessis verstom, is hoe hy musikale grense in Afrikaanse musiek oorbrug. Dink maar aan sy lied “Gebed,” wat keer op keer deur gospelsangers gesing word. Die mees oortuigende weergawe daarvan, dink ek, is egter Dozi s’n. Sy stem dra iets van die ware kwaliteit van die lied oor: ʼn Desperate kreet om hulp van ʼn alkoholis wat “elke afdraaipaadjie” kén – “elke keer het U my iewers kom haal, maak dit, Heer, die laaste maal.” Maar hy wéét dis nie die laaste maal nie.

Maar dis nie net skoolkore en gospelsangers wat deur Koos du Plessis betower word nie. Een van my gunsteling interpretasies van ʼn Koos Doep is Battery 9 se weergawe van “Kouevuur”. Paul Riekert gooi die wysie weg en werk net met die ritme van die liriek, een wat jy kan spoeg en grom. Absoluut asemrowend. Luister hier, sommer ook na “Lie if you have to”.

Dan het Johannes Kerkorrel ʼn hele CD met Koos du Plessis covers opgeneem. Hy het dit weer op sy manier geïnterpreteer, iets waaroor ek baie dankbaar is, aangesien Kerkorrel een van die groot geeste van een van die ander rewolusies in Afrikaanse musiek was. Ek is bly hy het op so ʼn manier hulde gebring aan ʼn voorganger.

Dan is daar natuurlik Gert Vlok Nel se pragtige afskeid aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand”… “Gert bo die grond roep na Koos onder die grond, kom in Koos, kom in, kom in…”

En nou voeg Francois van Coke ʼn nuwe generasie se stem by die res van die left field koor wat Koos du Plessis se songs laat aanhou sing. Nóg een van die voorlopers van ʼn nuwe rewolusie in Afrikaanse musiek. ʼn Nuwe interpretasie van “Skadu’s teen die muur” is te vinde op Van Coke Kartel se pas uitgereikte CD Skop, skiet en donner. Van Coke Kartel is die meer ongeskikte off shoot van Fokofpolisiekar, maar met hierdie album doen hulle amper wat die Fokofs met Monoloog in stereo gedoen het. Hulle gebruik akoestiese kitare en minder aggressiewe klanke. In sommige gevalle gebruik hulle geprogrammeerde perkussie en ander klanke. Ek dink ek hou daarvan.

Benewens “Skadu’s teen die muur” is daar twee ander covers – vreemde keuses – “Maniac”, wat in die 80s in fliek Flashdance te hore was, en JJ Cale se “Cocaine” uit die 70s. Ek weet nie heeltemal hoe diep Van Coke Kartel se tonge in hulle kieste met hierdie keuses sit nie, of selfs in wie se kieste hulle hul tonge ingedruk het nie. Maar van een ding is ek seker. Ek hou baie van hulle weergawe van “Skadu’s teen die muur”. Hulle maak ʼn anthem van ʼn bitter siniese liriek.

Andries Bezuidenhout. Tom Waits en die onderkant van die straat

Tuesday, March 16th, 2010
Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Gisteraand Crazy Heart gaan kyk, die fliek waarvoor Jeff Bridges die Oscar gewen het (dink ek, dis soms moeilik om op hoogte te bly as jy nie ʼn TV besit nie). Ek kan dit aanbeveel, veral as ʼn mens ʼn belangstelling in countrymusiek het. Na die tyd die laaste hoofstuk van Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits gelees – Lowside of the Road: A life of Tom Waits. Ek kan dit aanbeveel. Ek het die dele oor die wisselwerking tussen poësie/letterkunde en musiek natuurlik interessant gevind. Waits het inspirasie uit die Beat movement van die 50s geput, iets vreemd in die konteks van die 70s toe hy begin optree het. Aanvanklik het baie van sy karakters geklink soos mense op Kerouac se bladsye. In die 90s het hy selfs saam met Burroughs aan projekte gewerk. Waar hy in die 70s ʼn anakronistiese lounge sanger uit die 50s was, het hy in die 80s en 90s nuwe klanke uit post-punk en hip hop omhels, deel gemaak van sy repertoire.

Die interessantste deel van die boek is egter Hoskyns se chirurgiese ontleding van hoe Tom Waits sy openbare persona konstrueer en die kere wanneer sy privaatlewe daarmee bots.

Hier’s ʼn link na Waits wat “Chocolate Jesus” opvoer op YouTube en ʼn uittreksel uit die liriek:

Don’t go to church on Sunday
Don’t get on my knees to pray
Don’t memorize the books of the Bible
I got my own special way
I know Jesus loves me
Maybe just a little bit more
I fall down on my knees every Sunday
At Zerelda Lee’s candy store
Well it’s got to be a chocolate Jesus
Make me feel good inside
Got to be a chocolate Jesus
Keep me satisfied…

Paul Riekert en Anton L’amour het al ‘n baie mooi cover daarvan gedoen.

Andries Bezuidenhout. Geraamtes in my kas

Tuesday, June 23rd, 2009

Paul Riekert sê die beste koffie kom van arm lande af. Ek weet nie van watter arme land die koffie kom wat hy my vanoggend ingegee het nie. My oë staan stokstyf en my hande bewe. Irma is ook pas terug uit Armenië. Sy het daar koffie gedrink wat haar die hele nag wakkergehou het.

Ek onderhandel op die oomblik met Paul om my nuwe CD deur One F Music, sy platemaatskappy, uit te gee. Kan ʼn mens dit nog ʼn platemaatskappy noem? Alhoewel baie van die alt-country musikante hul musiek nou weer op viniel uitgee (teen $30 of so per kopie) is selfs CD’s aan die uitsterf. Mense laai toenemend hul musiek van die internet af.

Vir my is ‘n CD se omslagontwerp amper net so belangrik soos die musiek self. Ek hou daarvan om die lirieke ook in skrif voor my te sien as ek na musiek luister. Nie vir die eerste luisterslag nie, maar as ʼn mens van songs hou wil jy die woorde kan lees. As CD’s iets van die verlede word, hoop ek musikante bou ten minste webwerwe met woorde.

Soms wonder ek ook oor boeke, maar dis darem iets anders. Ek kan myself nie met ʼn rekenaar op my skoot op die toilet sien sit nie. Dis tog een van die beste plekke vir lees. Of in die bed.

Ek praat ook met Paul oor die moontlikheid van ʼn heruitreiking van die wyle Brixton Moord & Roof Orkes se twee CD’s, miskien as een pakket. Die laaste een, Terug in Skubbe, is teoreties nog in winkels beskikbaar, maar Spergebied kan jy nou net op die web kry.

Ek gaan luister toe stuk-stuk weer na Spergebied. Dis vreemd (en seker ʼn bietjie narcissisties) om na jou eie musiek te luister. As ʼn mens klaar is met ʼn CD wil jy dit nooit weer hoor nie. Jou ore is moeg daarvoor, omdat jy elke lied moes opbou van die eerste guiding track tot by die finale meng en meester.

Dis so met digbundels ook. Al die skaaf en voorstelle van keurders en redakteurs maak dat gepubliseerde gedigte hul eie lewens kry; jou as skrywer doodmaak.

Dis miskien omdat “Geraamtes in jou kas” uit so ʼn persoonlike plek kom dat dit nou vir my uitstaan op Spergebied. Ek dink ook Paul Riekert het dit die regte klankkwaliteit gegee. Esmé Evakwaad se agtergrondstem onstem my nou nog.

Hier is die liriek. ʼn Mens kan dit gaan aflaai by Rhythm Records se webwinkel.

DIE GERAAMTES IN JOU KAS
(Brixton Moord & Roof Orkes)

‘n Hand kom deur jou venster
en jou gloeilamp is ‘n oog wat loer,
jou plafon bult in van bo af
en naels krap van onder jou vloer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel

Die klere vroetel rond in jou trommel
en jou stewels dans in die kas
jou rugsak het begin oopgaan
en grynslag saam met jou jas…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel

Jy onthou die stof
van ‘n township se strate
en die haat in die oë
aan die end van jou geweer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel (x2)

Jy onthou die vure
en die wiele van ‘n Casspir
en die reuk van brandende rubber
deur die neus van jou gasmasker…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel (x2)

So, trek jou hoed oor jou oë
vir Sharpeville en vir Boipatong
en swaai aan jou droom
sodat jou skoene nooit nat word
van die modder op die grond
hier en daar gemeng met bloed…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas sal aanhou kriewel,
die geraamtes in jou kas sal ewig kriewel

Ons het hierdie lied jare gelede op die ATKV se verhoog by Oudtshoorn gespeel. Mense kon verniet na musiek daar luister, so daar was baie mense uit die township. Een vir een het hulle ophou praat en begin luister. Dis die enigste lied waarvoor daar applous van hulle kant af was. Na die tyd het ʼn wit polisieman met my kom gesels en dankie gesê vir die feit dat ek oor die onderwerp sing. “Dis presies hoe dit was,” het hy gesê.

Elke keer as ek moeg raak vir die musiekindustrie – die feit dat ek CD’s moet verkoop om te kan doen wat ek wil doen, die feit dat mense heeltemal mis waarmee ʼn mens besig is, die kommersialisme en gejaag na verkope – dink ek terug aan hierdie oomblik in Oudtshoorn. Ek weet nie of enige van die mense wat daar was die lied onthou nie, maar hul reaksie destyds maak alles steeds vir my die moeite werd.

 

  •