Paul Snoek – vertaling in Afrikaans
Wednesday, June 9th, 2010Paul Snoek. Vertaal deur Bernard Odendaal
’n Swemmer is ’n ruiter
Swem is ’n losbandige geslaap in spartelende water,
is liefhê met iedere nog bruikbare porie,
is eindeloos vry wees en binnetoe seëvier.
En swem is om die eensaamheid af te tas met vingers,
is om met arms en bene oeroue geheime te vertel
aan die altyd allesbegrypende water.
Ek moet beken dat ek dol is op die water.
Want in die water asem ek water, in die water
word ek ’n skepper wat sy skepping omhels,
en in die water kan ’n mens nooit heeltemal alleen wees nie
en tog nog eensaam bly.
Swem is ’n bietjie amper heilig wees.
[vert. Bernard Odendaal. [Paul Snoek se gedig “Een zwemmer is een ruiter”
Uit: Gedichten1945-1968, Uitgeverij A. Manteau N.V., Brussel/Den Haag, 1969].