Posts Tagged ‘Pavel Haas Quartet’

Desmond Painter. Oor die Pavel Haas Quartet

Wednesday, September 5th, 2012

‘n Jaar of wat gelede het die musiektydskrif Gramophone die Pavel Haas Quartet aangewys as die mees opwindende jong strykkwartet in die wêreld. Met goeie rede: hierdie Tsjeggiese viertal kry dit deurgaans reg om hoë vlakke van tegniese vernuf met passie, intuïsie en interpretatiewe kreatiwiteit te versoen.

Die Pavel Haas Kwartet

Die Pavel Haas Quartet

Daar is baie klassieke musikante wat tegnies vernuftig, selfs briljant is. Wat ‘n kunstenaar (of in hierdie geval dan, ʼn groep) een maak wie se werk ‘n mens wil volg, is egter méér as bloot tegniese vernuf. Dit het te doen met daardie seldsame vermoë om musiek vars te laat klink; met die bereidwilligheid om interpretatiewe risiko’s te neem; met die resonansie van ʼn ‘eie stem’. In sulke gevalle word tegniese vernuf soos Wittgenstein se leer: dit laat jou toe om bepaalde hoogtes te bereik, waarna dit weggeskop of ten minste uit die oog verloor kan word. Wanneer jy bo kom bewonder jy immers die uitsig, nie die leer nie!

Op die ou end verkies ek altyd die kunstenaar wat tot my spreek bo die een wat my bloot beïndruk… Anders gestel, die logika van die kompetisie (die wêreld van seisoenale rangordes, van wenners en verloorders) mag dalk deurslaggewend geword het vir die verwerwing van selfs artistieke onderskeiding, maar kuns is nie sport nie. Op die ou end gaan dit nie oor wie die meeste punte aanteken nie, maar oor wie jou intellektueel en emosioneel oorrompel. Die liefdesverhouding is dalk ‘n beter manier om oor ons lojaliteit aan (en, dikwels, ons obsessies met) bepaalde kunstenaars te dink.

Dieselfde geld natuurlik die digkuns: steriele virtuositeit is op die lang duur vervelig, en om tegniese tekortkominge in mense soos Walt Whitman of W.B. Yeats se werk uit te wys, is op die ou end van bloot akademiese belang. Ons voorliefde vir hierdie eerder as dáárdie digter word nie by wyse van die opstel van ʼn soort literêre balansstaat bepaal nie. Tog is resensies van Afrikaanse digbundels myns insiens nogal geneig om die klem op die tegniese sy van sake te laat val – op die leer (as ek weer by Wittgenstein kan leen) eerder as op die ‘uitsigte’ wat ʼn digter se werk bewerkstellig. Soveel klem word op die ‘verstegniese’ geplaas, so min op die ‘ideologiese’… op die betekeniswêrelde wat deur ʼn digter afgegrens, ontsluit of gesuggereer word. En wat dít betref bedoel ek nie bloot die aandui van ‘intertekste’ nie, ʼn praktyk wat ook steriel kan word en lees kan reduseer tot ʼn soort virtuose, maar bloot vindingryke spel.

Ek voel oor die Pavel Haas Quartet soos oor ʼn gunsteling rockgroep: ek hou van hulle klank, hulle aanslag, hulle besondere stem, en ek is bereid om hulle CD’s te koop ongeag die musiek wat hulle kies om op te neem. Daarteenoor moet die beroemde, hoogaangeskrewe Emerson Quartet baie, baie goeie resensies kry voordat ek iets van hulle sal koop. Hulle opnames van Sjostakowietsj se strykkwartette is tekenend: tegniese vernuf, amper verbluffend so, maar (vir my oor) te min hart en siel; niks wat jou per ongeluk te vinnig laat ry nie; niks wat jou hare laat rys nie.  

Luister daarteenoor na die Borodin Quartet se opnames van dieselfde werke: hulle transporteer jou na Sjostakowietsj se emosionele wêreld; sy angs en sarkasme, melancholie en woede is voelbaar juis in die hitte en die rouheid van die groep se aanslag. Daarteenoor steek die Emerson Quartet se gepoleerde, afgeronde klank baie sleg af – of ten minste, dit is beslis nie die soort klank wat tot my spreek nie.

Die Pavel Haas Kwartet se mees onlangse CD

Die Pavel Haas Quartet se mees onlangse CD

Die Pavel Haas Quartet se eerste twee CD’s was opnames van Tseggiese musiek: Leoš Janáček en die komponis van wie die groep hulle naam ontleen het, Pavel Haas. Vir hulle derde CD het hulle Prokofiev se strykkwartette opgeneem: fantastiese spel, maar Prokofiev se kwartette is vir my minder indrukwekkend as sy ander werk. Hulle mees onlangse CD, werklik ʼn meesterlike opname, is weer Tsjeggies: Dvořák se Opus 96 en Opus 106, die sg. Amerikaanse strykkwartette. Die CD het laasjaar weggeloop met Gramophone se toekennings vir beste kamermusiekopname asook vir opname van die jaar. Dit is werklik die moeite werd om na te luister.

Nou moet hulle net Sjostakowietsj aanpak!

Desmond Painter. Die middag het grys vlerke

Friday, April 16th, 2010
Pavel Haas

Pavel Haas

Vroegoggend werk toe gestap om ‘n 08h00-klas te kom aanbied. Dit was een van daardie halsoorkop-herfsdae, jy weet sommer by voorbaat dit gaan nie hou nie. Die lug was ‘n amper onbeleefde blou, vol fyn wolkekrabbeltjies: veertjies wat dryf, sê ek vir myself. En inderdaad, terwyl ek hier sit en skryf, sien ek reeds hoe die middag haar grys vlerke begin klap. Sal nie verbaas wees as dit vanaand al reën nie.

Ek het die regte musiek vir hierdie soort dag gegryp toe ek by die woonstel uit is: die uitstekende Tseggiese groep, die Pavel Haas Kwartet, se eerste CD, in 2006 deur Supraphon Music uitgereik, waarop hulle Leos Janacek se Strykkwartet Nr. 2 (‘Intimate Letters’) en Pavel Haas se Strykkwartet Nr. 2 (‘From the Monkey Mountains’) speel.

Leos Janacek (1854-1928) het natuurlik geen bekendstelling nodig nie, maar Pavel Haas (1899-1944) se naam is minder algemeen bekend. Hy was, soos Janacek, Tseggies, en is kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog in een van die konsentrasiekampe in Auschwitz dood. Benewens hierdie strykkwartet ken ek geen van sy werk nie, maar ek sal beslis op die uitkyk wees daarvoor.

Intimate Letters (1928) en From the Monkey Mountains (1925) is beide liriese, ongedurige werke. Vol hartstog en verlange tuimel hulle deur ‘n klankruim wat heeltyd huiwer tussen onweer en skaterende son. En die Pavel Haas Kwartet is in elke opsig opgewasse vir hulle taak. Hulle spel is trefseker en gepoleerd, maar sonder om (soos die Emerson Kwartet soms) ooit klinies te klink. Ek wag in spanning vir hulle om Sjostakowitsj aan te pak…

  •