Posts Tagged ‘Pelindaba’

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (12)

Sunday, November 7th, 2010

Die rondawelhuis op Pelindaba is in 1924 deur die Prellers in die Transvaalse styl as naweekhuis gebou. Eugène N. Marais het voor sy laaste verhuising hierheen heelparty kere hier gewoon. Dit is ook die plek waar hy sy laaste nag deurgebring het. Die argitek Albrecht Holm maak die volgende interessante opmerking oor hierdie huis:

“Die huis se vorm het ‘n interessante ooreenkoms met Eugene Marais se waarneming oor die termietnes (Siel van die Mier). Hy het vasgestel dat die geheel, naamlik die termietnes, die organisme is. Die enkele termite in die nes is slegs onderdeeltjies wat funsioneel gebind maar nie fisies saamgegroei is sodat hulle saam die eenheid vorm en alleen saam as eenheid kan bestaan maar tog nog visueel onderskei kan word. Met hierdie ontdekking het Marais wêreldgeskiedenis gemaak. Die rondawelhuis (en ander soortgelyke rondawelhuise) bestaan ook uit herkenbare rondawels, maar saam maak hulle die huis.”

Die rondawelhuis is in 1973 saam met die Preller-huis gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

 

Bron

Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (10)

Monday, November 1st, 2010
Pelindaba

Pelindaba

Die roete wat ons uit Pretoria na Pelindaba neem, gaan min of meer dieselfde roete wees wat Eugène N.  Marais waarskynlik self ‘n hele aantal kere na Pelindaba geneem het. Die ou pad tussen Pretora en Pelindaba wat verby heelparty kleinhoewes loop, is sedertdien geteer en het na alle waarskynlikheid hier en daar ‘n ander koers as in Marais se tyd ingeslaan. Ons ry met die snelweg om tyd te bespaar en omdat ons in elk geval van die snelweg af die ou pad sal kan sien wat parallel met die snelweg loop.

Die feit dat die pad destyds nie geteer was nie en Pelindaba dus vir alle praktiese doeleindes relatief gesproke “verder” was as vandag, is wel van belang indien ons die gebeure daardie laaste klompie ure in Marais se lewe in oёnskou neem. Dit het in Maart 1936 buitengewoon baie gereёn, sodat dit glad nie maklik sou wees om daardie laaste naweek van Maart 1936 met die grondpad tussen Pretoria en Pelindaba te reis nie.

Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg nadat sy besittings reeds meer as ‘n week vantevore per ossewa saam met die Prellers se trek na Pelindaba geneem is.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (4)

Monday, September 20th, 2010

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller (1875–1943) en Eugène N. Marais het ’n besonder hegte verhouding gehad. Preller het op die platteland van die ZAR grootgeword, voltooi nie sy skoolopleiding nie en begin as staatsamptenaar by die Departement van Mynwese werk. In 1898 trou hy met Hannie Preller, afstammeling van ’n familie wat ’n groot rol tydens die negentiende eeu gespeel het. Tydens die Anglo-Boereoorlog veg hy as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Vier maande voor die vredesluiting word hy as krygsgevangene na Indiё gestuur. Na sy terugkeer word hy deur Marais oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as joernalis by Land en Volk aan te sluit. Kort hierna gaan werk hy by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons/Die Vaderland word. Hy tree in 1936 in hierdie pos af en vestig hom op sy plaas Pelindaba. Hy sit sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargiefdiens hier voort. Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.

 

 

 

 

Preller het ’n belangrike rol op kulturele en politieke terrein gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans. Hy is onder meer betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. In 1910 bring hy ’n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs (Oorlogsoormag en ander sketse en verhale, 1923, en Ons parool, 1938), literêre kritikus, historikus (studies oor Piet Retief, 1906, en Andries Pretorius, 1937) en vertaler. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt (1917). Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers (1916).

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (2)

Friday, June 25th, 2010

DIE ROETE

Tydens vandag se uitstappie op Eugène N. Marais se spoor gaan ons begin deur deur Pretoria te ry. Die strate (soos Kerk-, Blackwood-, Beatrix- en Proesstraat) wat ons gaan gebruik, het reeds in Marais se tyd bestaan, al het hulle sedertdien ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek sal tydens die toer ‘n aantal besienswaardighede uitwys wat op sy lewe betrekking het. Tydens die toer sal ons enkele afklimpunte besoek. Net een hiervan is in Pretoria. In die Kerkstraatse begraafplaas gaan ons naamlik na Marais en sy vrou se graf langs die Heldeakker kyk. Daar is natuurlik heelwat ander plekke in Pretoria wat met Marais verbind word, maar vandag gaan ons nie daaraan aandag gee nie. Dit regverdig eintlik ‘n toer op sy eie. Van die begraafplaas af ry ons weswaarts na Pelindaba waar ons besoek bring aan Gustav en Hannie Preller se huis, die rondawelhuis daarnaas waar Marais gewoon het, Lood Pretorius se huis waar Marais die geweer geleen het en die plek waar Marais homself geskiet het.

  •