Posts Tagged ‘PEN Afrikaans Nuusbrief November 2016’

Pen Afrikaans Nuusbrief: November 2016

Sunday, December 4th, 2016

Beste lid van PEN Afrikaans

In die afgelope weke het ons drie groot geeste van die Afrikaanse woordkuns aan die dood afgestaan. Jaco Botha, Jans Rautenbach en Dot Serfontein het ons verlaat, maar gelaat met dankbaarheid vir hul onderskeie belangrike bydraes tot die groot en voortdurende gesprek van die Afrikaanse letterkunde en rolprentkuns. Ons taalgemeenskap het ook met verdriet en dank afskeid geneem van die taalkundige Jannie Earle en die letterkundige Piet du Toit.

Ons dink aan hul geliefdes en sê nogmaals dankie vir hierdie ryk lewens met ‘n vers wat Antjie Krog aan haar ma, Dot Serfontein, opgedra het:

ontwei

jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente

vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas

en byna te buite hou ek jou

.

hou jou lignemendheid jou werpwrakende woedebrokke

jou brak onuitblussende steenkooloë vegtend bloed-

veragtendvegtend    maar jy’s reeds sonder skouers

.

(here die gedagte aan ’n ontdagte-jy klief op my af    die weg-

glip van die vreesloosste priemhonger sillabe

van my lewe) – dis boggel wat ek

in my arms hou    newe-aards skots-skreef probeer jy

die inmekaarplons toeskoffel

die swetsende terdoodbrenging van slyt-

bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid

van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige

wade van immerende onmagtigheidsmakings

.

maar altyd

.

altyd met die vlammende dapperswaard stip vooruit    dit robbel

en skree Ma    want hoe benaam ek jou tot leef tot nader-

baar bly as boegbeeld wat die aarde voor my kloof

.

torsende briefvellige vrou    morsend met jou nat grys hare

asof jy met moeite uit die grond geruk is    ek sien die wanhoop

in jou oë ons gryp na die enigste wat ons ken: die skrifgeluid van

.

skerwe    angsvallig tastend teen soveel vergruisende weerloosheid

om die dood te probeer indink tot die dood-in toe hoor ek jou

beier aan onverlore taal    jou woede spaar jy nie nog jou deernis

nog jou arms nog jou bors    in die truspieëltjie sien ek jou staan

staan in jou vooroorstortende lyf

.

alleen, onnoembaar mensonterend alleen    dodin van my wese

en trillende keelvel van my alfabet

Uit: Mede-wete (Human & Rousseau, 2014)

.

‘n Nuwe gedig van Breyten vir Afrikaans en Gelyke Kanse

.

die tongvervreemding

 .

wanneer jy die moedertong

in my mond laat verdor

neem jy die wêreld weg

verduister jy my geheue

maak jy dat ek as vreemdeling

en sonder ‘n eie paar skoene

die toekoms moet ondergaan

wat ek nie meer fatsoeneer nie

wat ek nog net interpreteer

en nie penetreer nie

.

wanneer jy die taal

van my wegneem

ruk jy die hart uit my drome

om dit te vervang

met die mondmaniere

van ‘n tong wat nog net

die blinde werk van miere kan doen

.

wanneer jy van my ‘n massasyfer maak

om soos ‘n gefuikte papegaai

te pik-pik na sy nabootsing

maak jy dat ek ‘n weesmens is

in die leë huis van my vaders

sonder taal om my afwesigheid te beween

.

breyten breytenbach

.

Breyten het hierdie gedig geskryf in solidariteit met die Gelyke Kanse-veldtog waarin hy ‘n aktiewe rol speel. Gelyke Kanse beywer hom vir die voortbestaan van Afrikaanse as akademiese taal – ‘n strewe wat die bestuur van PEN Afrikaans uiteraard ondersteun.

Gelyke Kanse het finansiële ondersteuning nodig om die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid in die hof te beveg.

Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger en lid van PEN Afrikaans, verduidelik Gelyke Kanse se saak teen die US en die noodsaak vir ‘n fondsinsameling as volg:

Die jaar 2016 kan Afrikaans se noodlotjaar word as daar nie dringende en doelgerigte aksie kom om die aanslae teen Afrikaans as  onderrigtaal aan universiteite die hoof te bied nie. Daarom word GelykeKanse se veldtog met ‘n omvattende fondsinsameling uitgebrei.

Hoewel ‘n paar universiteite in Suid-Afrika voorheen Afrikaans as voertaal gebruik het, het die een na die ander die afgelope ruk verengels. Onlangs het die Universiteit Stellenbosch ‘n beleid aanvaar wat Afrikaans en Afrikaanse studente as  minderwaardig behandel en Engels tot die oorheersende doseertaal en administratiewe taal  verhef.

Mnr. Jannie van der Westhuizen, Rektor van Paul Roos Gimnasium, het uit die US Raad bedank omdat die beleid gelyke status vir Afrikaans en Engels kategories verwerp en selfs nie eens die huidige aanbod van Afrikaans wil waarborg nie.

Die uitfasering van Afrikaans gebeur ondanks die feit dat daar reeds in die Wes-Kaap – die bakermat van Afrikaans, met ‘n meerderheid Afrikaanssprekendes – drie ander Engelse  universiteite bestaan.

Die skade wat die US se taalbeleid na verwagting aan Afrikaanse skole gaan doen, kan vernietigend wees. Daar sal toenemend `n aandrang wees dat Afrikaans reeds op hoërskoolvlak deur Engels as voertaal vervang moet word aangesien die US nie meer  `n volle Afrikaanse aanbod maak nie. Stukrag sal verleen word aan die nadelige gevolge van ‘n proses wat gesaghebbende akademici deesdae as “Anglonormativity” bestempel.

Daar is al oor en oral bewys dat die beste skoling moedertaal-onderrig is. Opvoeding in die moedertaal anker die kind in sy gemeenskap, en bied hom of haar ‘n vertroude wegspringplek in die proses van volwassewording. Moedertaal staan dus sentraal in gemeenskapsontwikkeling. Dit beteken nie dat kennis van ander tale waardeloos is nie; net dat moedertaal van kardinale belang is.

Moedertaal-onderwys verg moedertaal-vaardige onderwysers. Hierdie vaardigheid ontwikkel hulle in hul opleiding by ons universiteite en kolleges. Hierdie argument is net so geldig vir talle ander beroepe, soos die opleiding van medici, wat hul pasiënte moet verstaan, regsgeleerdes in hul praktyk en in die howe, handelaars in sakeondernemings en so meer.

As verengelsing voortduur, sal ons skole nie meer in-moedertaal-opgeleide onderwysers kry nie en sal die studerende jeug nie meer in hul moedertaal onderrig kan word nie. ‘n Effektiewe mono-kultuur sal die samelewing verswak en laat agteruitgaan. Die meerderheid moedertaal-sprekers in Suid-Afrika – mense wat ander tale as Engels gebruik – sal op hierdie manier afgedruk word in ‘n situasie van tweedeklas burgerskap. ‘n Baanbreker-studie van Unesco oor moedertaal-onderrig in Afrika het juis bevind dat die gebruik van die voormalige koloniale tale slegs die elite baat en die oorgrote deel van Afrika se bevolkings benadeel. Dit is een van die vernaamste oorsake wat ontwikkeling in Afrika strem.

Ons het ‘n kragtige saak vir moedertaalonderwys, gerugsteun deur talle deskundige voorleggings. Ons wil Afrikaans in die besonder as onderrigtaal in tersiêre instellings behou en verder laat ontwikkel,  en moedertaal-onderrig in die algemeen bevorder.

In die geval van die US, wat selfs sy stigtingsvoorwaardes verwerp, is dit gebiedend dat sy nuwe taalbeleid deur die howe ongeldig verklaar moet word. Om hierdie rede het ons die beweging GelykeKanse gestig, waarvan die lede pas ‘n grondwet aanvaar het.

Ons eerste mikpunt is om R1 miljoen in te samel om deur middel van `n hofuitspraak die US te dwing om gelyke behandeling aan Afrikaans en Engels as voertaal en kommunikasietaal te gee.

Die hofsaak, wat waarskynlik in die Konstitusionele Hof sal eindig, behels klaarblyklik aansienlike koste. As ons hierdie belangrike en dringende toetssaak wen, op grond van wat ons as ‘n fundamentele grondwetlike kwessie beskou, sal Afrikaanstaliges en hul taal op ‘n veel vaster grondslag staan, en sal hulle nie meer as minderwaardige en tweedeklas burgers van die land beskou kan word nie. Hierdeur sal gemeenskapsontwikkeling deur moedertaal-onderrig veel sterker bevorder kan word in ‘n land wat, soos vele ander Afrika-lande, die koloniale taal vir die elite gebruik, tot nadeel van die oorgrote meerderheid van die bevolking wat agterlik bly. Verskeie gesaghebbendes, onder meer in Unesco-verslae, het bevind dat moedertaalonderrig net so ontsaglik belangrik is as ontwikkelingsinstrument.

Belangstellendes kan die volledige uiteensetting van ons saak vind deur op hierdie skakel te klik:
https://drive.google.com/drive/folders/0B8D16Js46-BsQmwzSWNMUWdVREk?usp=sharing

Die hofstukke wat GelykeKanse indien, sit volledig uiteen watter bedenklike en soms agterbakse metodes deur US in ‘n voortslepende proses van verengelsing aangewend is. Dit het verlede November begin, toe die US-bestuurspan ‘n nuwe beleid afgekondig het waarvolgens Engels die taal van onderrig, administrasie, kommunikasie en selfs koshuisvergaderings sou word. Die verengelsingsplanne is toe tydelik gestuit. US is gedwing om sy eie taalbeleid toe te pas en het in hofstukke erken dat in 268 modules aan 7 fakulteite van die taalbeleid afgewyk is.

Die holderstebolder deurdruk van die nuwe taalbeleid is ooglopend ʼn oorhaastige poging tot wettiging van die wederregtelike afwykings. Klaarblyklik is kwalik kennis geneem van meer as 500 voorleggings waarin besware uitgespreek is.

Die nuwe beleid stoot die Engelse aanbod op tot 100%, en dit bots bowendien regstreeks met die onlangse beleidsverklaring van die US-Raad waarvolgens die Afrikaanse aanbod nie verminder mag word nie. Alle verpligte studiemateriaal gaan in Engels wees, en in talle modules is Afrikaans ondergeskik aan Engels. Afgesien hiervan word reeds in aanstellings van dosente voorkeur aan Engelssprekendes gegee. Dieselfde geld vir werwing van studente, nadat die rektor verlede jaar trots verklaar het dat die Engelse komponent verder gaan toeneem. Verantwoordelikheid vir taalbeleid word ook afgewentel na die fakulteite, dus daar waar so drasties van die taalbeleid afgewyk is.

Na afloop van die hofsaak beoog ons om die insameling voort te sit ten bate van almal wat in Afrikaans onderrig wil word.  Ons glo sterk dat welslae met ons veldtog een van die vernaamste pilare van ‘n suksesland sal wees. Ons werf dus ook fondse vir die groter taak om die opleiding te verseker van onderwysers wat doeltreffend in Afrikaans-medium kan skoolhou en om behoeftige kinders te help wat in Afrikaans verder wil studeer.

Hiervoor het ons jou steun nodig sowel as die steun van honderde oud-Maties asook alle ander goedgesindes vir ons fondsinsameling, ‘n veldtog wat landwyd en internasionaal gevoer word. Dit geskied onder die vleuels van GivenGain, met sy Suid-Afrikaanse hoofkantoor op Stellenbosch, wat vir die doel die Stellenbosch-Antwerpen Trust gestig het.

Daar is drie groepe van skenkers:

KLINKERS – ‘n Klub van Honderd, wat reeds begin het om elkeen R10 000 by te dra. Hoekom KLINKERS? Omdat A,E,I,O,U staan vir: Afrikaans, Erfenis, Inklusief, Omgeetaal, Uniek.

KONSONANTE – ‘n Groep van Tienduisend, wat R1 000 elk of R100 per maand vir ’n jaar bydra.

STAATMAKERS  – skenkings van R250 of R500 of eie keuses.

Alle bydraes is welkom vir hierdie besondere verdienstelike saak. Enige persoon kan ook onder die drie kategorieë “anoniem” skenk. Die bankbesonderhede is:

Naam: Stb Antwerpen Trust
Bank: ABSA, Stellenbosch
Taknommer: 632005
Tjekrekening: 40-7258-3303

Donateurs kan ook vinnig en maklik hul skenkings aanlyn opstel op die bankveilige GivenGain-donasieblad, vanuit hul SA bankrekening of kredietkaart.

Gelyke Kanse se loodskomitee bestaan uit: Willa Boezak, Abraham H de Vries, Ebbe Dommisse, Abraham Phillips, Hermann Gilliomee, Rhoda Kadalie, Danie Marais, Danie Rossouw, Phillip Spies.*

*Onder die bekendes wat GelykeKanse se beswaarskrif onderteken het, tel die Nobelpryswenner J M Coetzee, Breyten Breytenbach, oud-pres. F W de Klerk, premier Helen Zille, lord Robin Renwick, Flip Smit, Dele Olojede, regter Fritz Brand, Sonja Loots, John Miles, Ampie Coetzee, Tony Leon, Eno Adams, Sarina, Tan Twan Eng, Dominique Enthoven, Theuns Eloff, R W Johnson, Rolanda Marais, Anton Goosen, Brendan Peyper, Dave Pepler, Marié Heese, John Cartwright, Sarah Theron, Albert Maritz, Dorothea van Zyl, Dan Sleigh, Deon Geldenhuys, Dine van Zyl, Francis Galloway, Frans Marx, Clive Keegan, Laurinda Hofmeyr, Danie van Wyk, David Welsh, Herman Binge, John Kane-Berman, Eloïse Wessels, Paul Colditz, Douglas Gibson, Dave Dalling, Theo du Plessis, Tertius Kapp, Elsa Joubert, Charles J Fourie, Pieter Louw.  (Sien die lys van meer as 4 000 name by http://gelykekanse.com/)

Is die SAUK steeds besig met sy boelietaktiek en sensuur?

Op 6 November 2016 publiseer City Press bewyse dat die SAUK-bestuur dreig om Thulani Msimang te skors omdat hy krities was oor die NVG se gebrek aan aksie teen president Jacob Zuma. Die kritiek is op Msimang se persoonlike Facebook-blad gepubliseer, daar was geen verwysing na die SAUK in die plasing nie.

PEN Afrikaans vind hierdie nuus onrusbarend. Deel asseblief ons verklaring ter ondersteuning van Msimang as jy saamstem en jou stem wil laat hoor.

Msimiang het vir Izak de Vries laat weet dat hy die solidariteit waardeer en ons op hoogte sal hou van verwikkelinge.

Ons versoek hiermee ook al ons lede om ons asseblief in kennis te stel wanneer hulle van dergelike vergrype en voorvalle bewus is. Stuur e-pos na penafrikaans@gmail.com of kontak ons via Facebook of Twitter.

Eerste leesverslae van Izak de Vries en Danie Marais op PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool vir belowende jong skrywers

In ons Oktober-nuusbrief het ons al ons lede hartlik uitgenooi om te gaan kyk na ons eerste aanlyn slypskool op ons LitNet-webportaal.

By hierdie skakel het ons die kortverhale van twee talentvolle jong skrywers, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, geplaas. Izak de Vries en Danie Marais het nou op hierdie verhale gereageer met leesverslae wat terugvoer en aanbevelings bevat. (Klik hiervir die kommentaar op Zeeman se kortverhaal; hier vir die kommentaar Du Plooy s’n.)

Ons sien uit om te lees wat dié twee skrywers van die aanbevelings gaan maak in hul geredigeerde verhale wat binnekort op ons portaal geplaas sal word. Intussen is ons lede welkom om aanlyn met kommentaar deel te neem aan die gesprek en ondersteuning van hierdie jong skryftalent.

Die Teksmark – ‘n opwindende nuwe inisiatief vir die Afrikaanse teater

Om te lief wees vir die teater en bekommerd te wees oor die welstand en voortbestaan van die teater gaan blykbaar, dekades lank al, hand aan hand.

Die nuwe Teksmark-inisiatief is daarom rede tot hoop en vreugde vir alle teaterliefhebbers.

Die Teksmark is ’n vars platform vir die skep van nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste, in Afrikaans, en is vanjaar vir die eerste keer aangebied. Skrywers kry hiermee die geleentheid om die verhoogmatigheid van tekste en idees vir tekste te toets, en met terugvoer van rolspelers in die bedryf, te voltooi. Die Teksmark is ‘n Kunste Onbeperk-projek, ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter Teatersentrum.

Hoekom die Teksmark-inisiatief?

Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van NATi verduidelik haar beweegredes vir die ondersteuning van hierdie projek as volg:

“Die Afrikaanse teaterbedryf word ’n geruime tyd bedreig deur ’n stille epidemie, ’n geneigdheid om bestaande en vertaalde werke op te voer. Dit laat ’n groot leemte vir oorspronklike stemme en kwessies wat hard en duidelik aangespreek word, soos net teater kan.

“Daarom is die Teksmark ’n uitstekende platform vir die slyp van nuwe (en ou) stemme, waar die fokus op die teks val. Skrywers word die ruimte gegun om op die werk te fokus en te skryf en skryf en herskryf. ’n Luuksheid wat ons selde gegun word. Dit is broodnodig om die fokus terug te skuif na die idee, die stem, die konsep, die boodskap. Daar is te veel druk op vervaardigers, regisseurs en geselskappe om voortdurend met produksies vorendag te kom wat bewese sukses oorsee behaal het, of om ou Afrikaanse klassieke werke op te diep. Dit is natuurlik nie verkeerd nie, maar dit sal wonderlik wees as ’n volgende generasie terugkyk op hierdie werk en met oortuiging kan sê ‘die Afrikaanse teaterskrywers het in 2016 verskriklik baie gehad om te sê’.”

Hoe het die Teksmark gewerk?

Alle skrywers, gevestig of opkomend, is genooi om voorstelle in te dien. Voorstelle is oorweeg om toe op Maandag, 31 Oktober en Dinsdag, 1 November 2016 as leesteater by die naweeklange Teksmark in die Baxter Teatersentrum in Kaapstad aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers was teenwoordig. Skrywers het hier die geleentheid gekry om oor hul teks-idees te gesels. Die mark was oop vir enige van die belanghebbendes om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in en verdere ontwikkeling van hul tekste.

Hoe is die Teksmark ontvang?

Mariana Malan het dit in Die Burger só gestel:

“Om in die loop van twee dae na uittreksels uit 14 nuwe tekste te kyk, was om soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel te wees. Die temas was so verskillend soos die flesse vol lekkers in die winkel.

[…]Dan is dit ook ’n ondervinding om die skrywers self aan die woord te hê om te verduidelik wat nog met die stuk beplan word en jou verbeelding te stimuleer met hoe die verhoog gaan lyk as alles klaar is.”

Ek, Danie Marais, het by die Teksmark ‘n paneelbespreking oor die uitdagings van tekste vir teater skryf in Suid-Afrika gelei. Die paneel het bestaan uit Saartjie Botha (direkteur van die Woordfees), Ismail Mahomed (hoofbestuurder van die Markteater), Amy Jephta (dramaturg en lektrise), Hennie van Greunen (dramaturg en teatermaker) en Lara Foot (uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter).

Die gesprek was lewendig en stimulerend en ek is terug huis toe met ‘n gevoel van nuwe opgewondenheid oor ons teaterlandskap. Die Teksmark is vir my ‘n toonbeeld van ‘n innoverende projek ter bevordering van ons letterkunde en ondersteuning van ons skrywers; die paneelbespreking ‘n bevestiging dat dit presies hierdie soort inisiatiewe is wat nodig is vir Afrikaanse woordkunstenaars om meer aktief deel te neem ‘n groter nasionale gesprek.

Belangstellendes wat graag meer wil weet, kan vir Hugo Theart skryf na hugo@kunste.org.za of vir Cornelia Faasen na cornelia@nati.org.za

‘n Konferensie oor moedertaalonderrig in Eersterust, Pretoria

Van Saterdag 19 November tot Sondag 20 November vind ‘n konferensie met die tema “Moedertaalonderring: Gee Suid-Afrika se kinders hoop!” in Eersterust, Pretoria, plaas.

Die sameroepers van die konferensie is prof. Mbulungeni Madiba (UK) en prof. A-M Beukes (UJ), beide gerekende en bekende taalkundiges, en die XhosAfrika-netwerk. Die Afrikaanse Taalraad lewer ‘n sekretariaatdiens.

PEN Afrikaans is dankbaar vir die rol wat PEN Ghana gespeel het om kontak te bewerkstelling met prof. Kofi Agyekum van die Universiteit van Ghana wat as spesiale gas die konferensie sal toespreek oor moedertaalonderrig in Ghana.

Agyekum sal lig werp op die uitdagings en geleenthede vir moedertaalonderrig in Afrika en Ghana deur die rol en belang daarvan in ’n opvoedkundige sisteem en moedertaalonderrigbeleid in Ghana te ondersoek. Hy sal ook praat oor die tekort aan menslike hulpbronne en onderrigmateriaal, wisseling in regeringsbeleide, die negatiewe houdings jeens Afrikatale en die status gekoppel aan koloniale tale in Afrikalande.

Die bestuur van PEN Afrikaans hoop hierdie konferensie sal ‘n belangrike bydrae tot ‘n noodsaaklike gesprek lewer en die fondament lê vir groter samewerking tussen inheemse taalgroepe ter verwesenliking van die ideaal van gehalte-moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaanse kinders.

Die program van die konferensie kan hier as Word.doc afgelaai word. Vir verdere inligting oor die konferensie kan belangstellendes skryf na Conrad Steenkamp, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad en ook ‘n lid van PEN Afrikaans: conradisteenkamp@gmail.com

Belangrike besluite en verkiesingsresultate van die 82ste PEN International-kongres in Ourense, Spanje.

Tydens die 82ste kongres van PEN International is verskeie resolusies oor ‘n wye reeks kwessies dwarsoor die wêreld aanvaar. Die volledige lys van resolusies is nou saam met die inhoud daarvan op PEN International se webwerf beskikbaar: http://www.pen-international.org/resolutions-adopted-at-82nd-pen-international-congress-in-ourense-spain-in-2016/

Een van die belangrikste resolusies was die aanvaarding van die nuwe PEN International Kopieregmanifes – ‘n dokument wat opgestel is in reaksie op Australië se omstrede kopiereghervorming wat ook klaarblyklik ‘n invloed gehad het op plaaslike pogings om ons kopieregwetgewing te wysig.

PEN Afrikaans het reeds vantevore ons lede daarop gewys dat daar in hierdie verband uiters kommerwekkende verwikkelinge is. (Lees hier ons ondervoorsitter, Marga Stoffer, se verslag oor die stand van sake.) Ons is dus baie bly oor die aanvaarding van dié Kopieregmanifes deur al die PEN-sentrums wêreldwyd. Sou die regering hier voortgaan met sy kopiereghervormingsplanne wat verlede jaar uit verskeie oorde verdoemend gekritiseer is, sou ons ons saam met PEN South Africa dadelik in protes op hierdie dokument kon beroep. Daarmee sal ons ook op die steun van die internasionale PEN-netwerk kan reken. (Die PEN International Copyright Manifesto kan hier as PDF afgelaai word.)

In verkiesings wat by die kongres gehou is, was die volgende kandidate suksesvol:

  1. Kätlin Kaldmaa (Estonia PEN) is verkies as PEN International Sekrataris vir ‘n termyn van drie jaar.
  2. Thida (Myanmar PEN) is verkies as lid van die PEN International Raad, terwyl Anders Heger (Norway PEN) and Mohamed Sheriff (Sierra Leone PEN) tot die Raad herkies is, elk vir ‘n termyn van drie jaar. Gilwon Lee (Korea PEN) het die einde van sy termyn op die Raad bereik en uitgetree.
  3. Marjan Strojan (Slovenia PEN) is verkies as voorsitter van die PEN International Writers for Peace Committee, ook vir ‘n termyn van drie jaar.
  4. Takeaki Hori (Japan PEN) en Franca Tibertois is verkies as vise-presidente van PEN International.

Daarbenewens is Togo PEN amptelik deur die kongres as nuwe PEN-sentrum aanvaar en verwelkom.

Die volgende PEN-sentrums is egter deur die kongres dormant verklaar: African Writers Abroad Centre, Afar Speaking Centre, Iraq Centre, Roma Centre, Somali Speaking Centre, Tunisia Centre en Writers in Exile se Londen-tak.

Nuwe Afrikaanse boeke in November

Ten slotte is dit altyd ‘n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. November se publikasielys kan hier afgelaai word.

Een van ons lede, Riette Rust, se nuwe boek, Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste (LAPA), het per ongeluk tydens ons Oktober-nuusbrief uitgeval. Ons vra om verskoning en sluit dit graag by November se publikasielys in.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

 

  •