Posts Tagged ‘PEN Afrikaans’

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Junie 2022

Thursday, June 16th, 2022

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

 

Wenverhale: Toegang

Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat ons met PEN International se steun aangebied het, se wenners is aangekondig sedert ons vorige nuusbrief. Die beoordelaars sê hul taak was vir hulle uitgeknip met verhale wat elkeen in eie reg verras het:

“Tussendeur die vindingryke stories, aangrypende vertellings en verskeie baie slim uitgewerkte verhale het die wenverhaal, en die paar wat ’n kortkop agter hom was, egter iets heel anders reggekry. Dié handvol inskrywings het met hul eerlikheid en deernis in al drie lesers se gedagtes en gemoed bly vassteek. ’n Verhaal wat met deernis na die mens kyk en met eerlikheid vertel word, bereik presies dit wat ’n goeie kortverhaal moet: tydloosheid.”

Baie geluk aan die volgende skrywers wat die wenverhale gelewer het:

  • Eerste prys: “Die rooi tekkies” deur Hendie Grobbelaar
  • Tweede prys: “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde” deur Maretha Maartens
  • Derde prys: “Wind” deur Anton Döckel
  • Top 5: “Duine” deur Johann Crous
  • Top 5: “Hipoksie” deur Adelle van Wyk

Die wenverhale kan by hierdie skakel as ePDF’s gelees word. Daar kan ook deurgeklik word na LitNet om die verhale aanlyn te lees.

Ons sien uit na die voorlesings van die top-3 verhale op RSG se Kortom. Ons sal die datum van die uitsendings deel wanneer dit beskikbaar is en die klanklêers daarná beskikbaar maak.

 

PEN Afrikaans se verklaring oor die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument

 

Die volgende verklaring is verlede maand deur PEN Afrikaans uitgereik:

PEN Afrikaans neem met kommer kennis van die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se voorneme om die naam van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) te verander, aldus ’n verklaring deur dié instansie.

Enigeen wat ag sou slaan op die werksaamhede van die ATM ná ons land se demokrasiewording sal weet dat hierdie instansie enorm baie gedoen het om sosiale kohesie en eenheid te bewerkstellig en inklusiwiteit te bevorder.

Daar is min instansies wat sigself so deeglik herbesin het as juis die Afrikaanse Taalmonument en -museum. Nie net is dit veelrassig nie, dit is ook een van die min ruimtes wat die slaweherkoms en die wesenlike invloed van die Islam op Afrikaans openlik vier en tentoonstel.

Met inagneming van wat deur die ATM opgebou is, is die sin van die beoogde naamsverandering te betwyfel.

Fondse en hulpbronne wat daarvoor geoormerk sou word, sou sekerlik beter aangewend kon word deur die bied van konkrete ondersteuning aan kuns- en kultuurbedrywighede in Suid-Afrika, deur byvoorbeeld meer kulturele geleenthede te laat plaasvind, oral in die land, ook by die ATM, en in alle inheemse tale.

PEN Afrikaans doen ’n beroep op die besluitnemers om ’n naamsverandering vir die ATM met groot omsigtigheid te benader. Misplaaste en ondeurdagte inmenging van hierdie aard kan groot skade tot gevolg hê.

PEN Afrikaans sal aan die beraadslagingsproses deelneem en die beplande openbare vergadering eerskomende Saterdag bywoon.

Die genoemde openbare vergadering is deur ons voorsitter, Bernard Odendaal, bygewoon.

Hy getuig dat die vergadering, wat terselfdertyd gedien het as die ATM se viering van Internasionale Museumdag, geopen is met ’n lesing oor “Die mag van museums” deur Beverley Thomas, direkteur van die Amazwi Museum of South African Literature in Grahamstad. Daarna het die raadsvoorsitter van die ATM, Jean Meiring, die gesprekvoering oor naamsverandering-moontlikheid ingelei deur te beklemtoon dat nog geen besluit oor die voorgestelde naamsverandering geneem is nie. Die ATM-raad het wel tydens hul besprekings op die twee dae wat die openbare vergadering voorafgegaan het, besin oor standpunte en strategieë vir die onderhandelinge met die ministerie van sport, kuns en kultuur wat voorlê.

Hierna is verteenwoordigers van ’n groot verskeidenheid Afrikaanse kultuurinstansies, asook onverbonde indiwidue, die geleentheid gegun om hulle opinies te lug oor die naamsveranderingkwessie. Deur die bank is onthutsing oor en standpuntinname teen die minister se aanbeveling uitgespreek.

Dit is dus met verligting en blydskap dat verneem kon word dat president Cyril Ramaphosa laat verlede week in die parlement die versekering gegee het dat die ATM-raad nie gedwing sal word om die voorgestelde naamsverandering te aanvaar nie. Hy het dié versekering gegee in antwoord op ’n vraag van die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, oor die aangeleentheid.  Meer besonderhede oor president Ramaphosa se versekering is te lese in ’n berig deur Jean Meiring op Voertaal. Klik hier om dit te lees.

 

Rufus Gouws ontvang die Jan H Maraisprys 

Prof. Rufus Gouws, leksikograaf verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands, is aangewys as vanjaar se ontvanger van die gesogte Jan H Maraisprys vir ʼn uitnemende bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Die prys word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geadministreer.

In sy aanvaardingstoespraak gebruik hy die bonsai as treffende metafoor:

“’n Taal kan kunstig versorg en beskerm word en deur beperkte gebruik in slegs sy lae funksies steeds woordryk en sinvol om die gesinstafel en die braaivleisvuur gebruik word. Dit kan ’n suksesvolle kommunikasiemiddel wees vir ons oggend- en aandpraatjies, maar sonder literêre vrugte of takke wat die sterk winde van hoëvlak-kommunikasie kan trotseer.

Dit is nie al waarvoor Afrikaans bestem is nie. Afrikaans mag nie ’n linguistiese bonsai word nie. Dit moet kan groei en skadu aan die volle taalgemeenskap kan gee. Dit moet sy ontwikkeling voortsit om in die hoë én die lae funksies gebruik te kan word.”

Lees die volledige toespraak hier.

Hartlik geluk aan prof. Gouws en baie dankie vir die groot bydrae tot Afrikaans se vrugte en takke.

 

Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg seil voort

Die Portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid het tydens ’n komiteevergadering op 8 Junie, wat daarná bekragtig is op 10 Junie, die hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aanvaar. Daar was komiteelede wat ’n mosie ingedien het dat die wetsontwerp verwerp en herskryf moet word, maar die meerderheidstem het die saak beklink en die wetsontwerp gaan nou na die Nasionale Vergadering met die komitee se aanbeveling dat dit bekragtig word.

Dit is ’n terugslag vir die skeppende bedrywe aangesien slegs geringe veranderinge aan die kommerwekkende wetsontwerp gemaak is, ten spyte van soveel jaar se beraadslaging, belanghebbendes se voorleggings, en selfs presidensiële ingrype.

Die Kopieregkoalisie, waarvan PEN Afrikaans deel vorm, het ná die vergadering die volgende laat hoor:

In ’n onlangse verklaring het die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) ’n uiters problematiese aspek van die wetsontwerp belig, naamlik die gebrek aan ’n impakstudie. PASA het daarom reeds jare gelede aan PwC opdrag gegee om ’n impakstudie te doen. PwC se bevindings dui op groot verliese vir die uitgewersbedryf, en by implikasie vir skrywers. Lees PASA se verklaring hier: https://www.litnet.co.za/press-release-no-impact-assessment-underlying-the-economically-destructive-copyright-amendment-bill/

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Die resensies wat in die jongste uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde verskyn het, is hierdie keer weer ingesluit. Lekker lees!

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2022

Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

 

Ten slotte:

  • Baie welkom aan Hannes Pieterse wat onlangs as lid aangesluit het.
  • Ons beste wense vergesel die skrywers wat tans die skrywersresidensie meemaak wat ons saam met die Jakes Gerwel Stigting aanbied. Mag die skryftyd by die Paulet-huis op Somerset-Oos ’n hoogtepunt wees.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Mei 2022

Monday, May 16th, 2022

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Sedert ons vorige nuusbrief is die Afrikaanse medialandskap armer gelaat weens die heengaan van die bekende en geliefde spotprenttekenaar, Fred Mouton.

“Al sy kollegas het kosbare herinneringe aan hierdie saggeaarde mens wat soveel insig in die mensdom gehad het. Ons vier sy nalatenskap. Hy het voorwaar ’n reuse-bydrae in ons publikasies gelewer om ons land en wêreld se geskiedenis te help dokumenteer,” sê Henriëtte Loubser in hierdie berig met huldeblyke van sy redakteurskollegas.

Fred Mouton was ikonies soos Tafelberg, aldus dié huldeblyktekening deur dr. Francois Verster wat ons met sy vergunning hier insluit.

 

Wenverhale: Toegang

Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat PEN Afrikaans met die ondersteuning van PEN International aanbied, het ’n ryke oes van 290 inskrywings gelok. Dankie aan ons beoordelaars wat hul groot taak onlangs voltooi het. Ons sien uit daarna om die nuus oor die wenners te deel.

Die top-5 verhale sal vanaf volgende week op LitNet gepubliseer word en sal ook mettertyd as ePDF’s van ons webwerf aflaaibaar wees. Dankie aan LitNet wat as ons publikasievennoot die verhale met ’n wye gehoor gaan help deel.

Daar sal ook op LitNet bekend gemaak word watter van die top-5 as die drie wenverhale aangewys is. Die skrywers van daardie verhale sal elk ’n kontantprys ontvang, ’n eksemplaar van PEN International: An Illustrated History, en kan uitsien na voorlesings van hul verhale op RSG se Kortom.

 

Suksesvolle aansoekers vir skrywersresidensie aangekondig

 

Die Jakes Gerwel Stigting en vennote PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa is trots om die name bekend te maak van die ses skrywers wat hul gesogte skrywersresidensie vanjaar sal bywoon.

Dié maandlange skrywersresidensie, wat hierdie jaar van 6 Junie tot 3 Julie sal plaasvind, word vir die vierde keer aangebied in die Jakes Gerwel Stigting se 197-jaar-oue Paulet Huis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap.

Aansoeke is in vorige jare beperk tot lede van PEN Afrikaans, maar vanjaar is lede van PEN South Africa en PEN Nederland ook genooi om aansoek te doen. Die groter diversiteit onder deelnemers vergroot die potensiaal vir literêre kruisbestuiwing en behoort stimulerende gesprekke te verseker in Paulet Huis se elegant gemeubileerde eet-, sit- en leeskamer of in die lowerryke tuin.

Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Stigting, is entoesiasties oor vanjaar se groep, die eerste suksesvolle aansoekers onder die uitgebreide skrywersresidensie-aanbod, wat behels dat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans elke tweede jaar hande sal vat met twee nuwe sentrums wat onder die koepel van PEN International val.

Hy verduidelik: “Die doel van die projek is om skrywers – opkomend of gevestig – die kans te gee om aan hul daaglikse verantwoordelikhede te ontsnap en voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Daar is geen mentorskap betrokke by hierdie residensie nie, so skrywers werk en vorder teen hul eie pas. Ons sien baie uit daarna om hierdie uitgelese groep vanjaar by die Paulet Huis te verwelkom en ons wens hulle ’n wonderlik produktiewe verblyf toe.”

Lees by hierdie skakel meer oor die suksesvolle aansoekers.

 

PEN Afrikaans se verklaring oor die afskaling van aktualiteitsdekking op RSG

Die programaanpassings wat RSG sedert die begin van April in werking gestel het, verteenwoordig ’n drastiese verskraling van die openbare uitsaaier se voorheen sterk aktualiteitsaanbod en word deur ’n groot aantal luisteraars en joernaliste betreur.

Die program Monitor is met ’n uur verkort, en in die proses tot ’n tydgleuf beperk waartydens klaarblyklik minder luisteraars ingeskakel is (06:00 – 07:00). Die program Praat saam, waarvan Lynette Francis-Puren die aanbieder was, is van die lug verwyder.

Hierdie programme se enorme bydrae, oor dekades heen, tot die openbare diskoersvoering oor aktuele sake in Afrikaans is sedert die aankondiging van die programveranderings deur verskeie kommentators belig.

RSG se nuwe ontbytprogram, Op en wakker, wat sedert 4 April uitgesaai word, is gemik daarop om vermaak te verskaf, oftewel programaanbod op ligter trant as die bydraes oor aktuele sake wat voorheen lugtyd gekry het.

PEN Afrikaans is as skrywersorganisasie gemoeid met die stand van ook die Afrikaanse joernalistiek, wat natuurlik radiojoernalistiek insluit.  Radio is en bly die toeganklikste medium om feite en nuus aan ’n enorme aantal mense te lewer. ’n Radio is relatief goedkoop en nasionale uitsendings dek die grootste deel van ons land; om radio te luister is boonop gratis.

In ’n tyd waarin vals inligting soos ’n pandemie op die sosiale media versprei, is toegang tot gekontroleerde feite en ingeligte gesprekvoering in alle landstale noodsaaklik.

Die openbare diskoers oor aktuele sake in Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien met RSG se afskaling van hul aktualiteitsprogramme. Hierdie slag is, met inagneming van die groter medialandskap waarbinne koerante se drukoplae kwyn of verdwyn, en aanlyn nuusplatforms dikwels van betaalmure gebruik maak, des te meer gevoelig.

Herman Wasserman se pas gepubliseerde boek Disinformation in the Global South toon dat talle selfoonnetwerke en -kontrakte die sosiale media goedkoop, soms gratis, aan mense bied, terwyl toegang tot feiteblaaie dikwels nog duur data verg – vir baie nuusverbruikers ʼn struikelblok tot sulke gratis toeganklike nuusplatforms.

Om verskeie redes, waaronder die gebrek aan redaksionele kontrole en verantwoordbaarheid uitstaan, is die sosiale media geen alternatief vir wat hier verlore gegaan het nie.

Teen hierdie agtergrond betreur PEN Afrikaans die nasionale uitsaaier se besluit om weg te doen met die genoemde program en programdeel wat oor jare as gerekende en gewilde bakens van verslaggewing en gesprekvoering gevestig is. Dit is programme wat in die verlede ’n belangrike rol gespeel het in die oordra van kiesersinligting in die aanloop tot en tydens verkiesings, in die analiseer van politieke en maatskaplike vraagstukke van die dag, en sodoende in die bemagtiging van Afrikaanssprekendes.

Dit is verder kommerwekkend dat daar geen openbare raadpleging of gesprek met RSG-luisteraars was voordat die programaanpassings gemaak is nie. Volgens RSG se sakebestuurder is die veranderinge ook deur geen vooraf marknavorsing onderlê nie.

As ’n openbare uitsaaier het RSG ’n unieke en belangrike mandaat in diens van die publiek, en daardie mandaat behoort met erns en omsigtigheid benader te word. RSG se bydraers, aanbieders en luisteraars verdien dit.

 

 

Hierdie stellingname is hier op ons webwerf beskikbaar. Deel dit gerus indien jul daarmee saamstem.

Let asseblief daarop dat RSG op 9 Mei ’n vraelys beskikbaar gemaak het om luisteraarsterugvoer in te win oor RSG se inhoud. Die vraelys neem ongeveer 10 minute om te voltooi. Ons moedig ons lede en ander belangstellendes aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak om hul voor- en afkeure met die RSG-bestuur te deel. Die meningspeiling is hier beskikbaar: https://www.rsgplus.org/vraelys/

 

Pryswenners: UJ-pryse en Akademiepryse

Sedert ons vorige nuusbrief is die wenners aangekondig van verskeie van die groot literêre pryse waarvoor Afrikaanse skrywers in aanmerking kom.

Baie geluk aan die wenners van die 2022 UJ-pryse.

  • S.J. Naudé ontvang die UJ-prys vir sy tweede kortverhaalbundel, Dol heuning.
  • Ashwin Arendse en Frederik de Jager ontvang gesamentlik die UJ-debuutprys: Arendse vir sy digbundel Swatland en De Jager vir sy essays en rubrieke in Man op ʼn fiets êrens heen.

 

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ook die wenners van die gesogte Akademiepryse bekend gemaak.

  • Die Hertzogprys vir Prosa gaan vanjaar aan S.J. Naudé vir Dol heuning. 
  • Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Ashwin Arendse vir Swatland
  • Die Eugène Maraisprys vir Prosa word toegeken aan Frederik de Jager vir Man op ʼn fiets êrens heen.
  • Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur word toegeken aan Fanie Viljoen vir Offers vir die vlieë.
  • Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur gaan aan Jaco Jacobs vir Die boekwinkel tussen die wolke.
  • Prof. H.P. van Coller ontvang die N.P. van Wyk Louwmedalje. Dit word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ʼn vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe.
  • Die Protea Boekhuisprys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen.

Baie geluk aan al die wenners en aan die benoemdes. Die volledige inligting is hier beskikbaar.

 

Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Dit is ’n plesier om vanaf hierdie keer ook boekeinhoud van SARIE-tydskrif en sarie.com te kan insluit. Dankie aan SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, en aan al die ander bydraers tot hierdie maandelikse oorsig.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2022

Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in Carien Smith se debuutkortverhaalbundel, Bot, en Rudie van Rensburg se nuwe spanningsroman, Monster.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

 

Nuwe lede

Die volgende nuwe lede het sedert ons vorige nuusbrief aangesluit en ons heet hulle graag ook hier welkom:

Mellet Moll
Theolla Langenhoven

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Februarie 2022

Friday, February 18th, 2022

 

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Die jaar is al volstoom aan die gang, maar ons wil darem hierdie eerste nuusbrief van 2022 begin deur ons beste nuwejaarswense aan ons lede en ondersteuners oor te dra.

Lees verder vir ’n aankondiging oor die skrywersresidensie wat ons weer vanjaar saam met die Jakes Gerwel Stigting aanbied. Aansoeke word tans daarvoor ingewag. Daar is ook ’n herinnering aan ons kortverhaalkompetisie, inligting oor ’n internasionale poësiekompetisie, ’n kennisgewing oor fakture vir ledegeld 2022 en ’n hartlike welkom aan die nuwe lede wat onlangs by ons aangesluit het.  Saam het ons ’n sterker stem.

Op daardie noot deel ons hier PEN Afrikaans se stellingname oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, wat nou weer die nuus haal oor die blywende en kommerwekkende voorstel van staatseggenskap oor die taal- en toelatingsbeleide van openbare skole. Dit is wel kommentaar op ’n vroeër weergawe van die wetsontwerp, maar die kwessie én die standpunt van die bestuur van PEN Afrikaans geld steeds:
https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-teken-beswaar-aan-teen-taalklousule-wysigingswetsontwerp-op-basiese-onderwys/.

 

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie brei uit

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het onlangs aangekondig dat die gesogte skrywersresidensie waarvoor opbetaalde lede van PEN Afrikaans die afgelope drie jaar kon aansoek doen, vanjaar ook oop is vir aansoeke van lede van PEN South Africa en PEN Nederland.

Na verwagting sal die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans voortaan elke jaar twee PEN-sentrums nooi om deel te neem en só van hierdie maandlange skrywersverblyf in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos ’n selfs meer besonderse ervaring te maak.

Die doel van hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Daar is nie ’n mentorskapelement aan die residensie nie en skrywers sal teen hul eie pas skryf en vorder.

Die historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers met die nodige dissipline en motivering om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

“Ons is baie opgewonde oor die uitbreiding van ’n skrywersresidensie wat tot op datum al wonderlike vrugte afgewerp het. Dit sluit bekroonde digbundels, verruimende kinder- en jeugboeke, ’n memoir en selfs ’n album met praatpoësie in. Ons sien uit daarna om te sien wat hierdie ronde oplewer. Met aansoeke wat vanjaar soos gebruiklik van PEN Afrikaans, maar ook van PEN Nederland en PEN South Africa ingewag word, is ’n diverse groep en stimulerende gesprekke om die etenstafel reeds iets om na uit te sien,” sê Theo Kemp van die Jakes Gerwel Stigting.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 6 Junie tot 3 Julie 2022, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth, indien relevant, en vervoer van en na die lughawe.

Die koste van enige buitelandse reis om die residensie te kan bywoon, is nie ingesluit nie. Dit sal óf vir die aansoeker se eie rekening wees óf vir dié van ’n ondersteunende instansie wat daardie koste sal dek. Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans kan geen verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Alle genres sal oorweeg word.

Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 18 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za. Skrywers doen aansoek in die taal waarin hul skryf en die aansoek moet bestaan uit:

  • ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak en bevestiging van lidmaatskap van enigeen van die deelnemende PEN-sentrums, naamlik PEN Afrikaans, PEN Nederland of PEN South Africa
  • ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
  • ’n Brief van ’n uitgewery wat daarin belangstel om die aansoeker se werk uit te gee of vir publikasie te oorweeg, sal sterk in die kandidaat se guns tel.

 

Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans, PEN South Africa en PEN Nederland sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude met kortlyskandidate sal plaasvind op 20 April. Die suksesvolle aansoeke sal op 25 April aangekondig word.

Hierdie persverklaring is hier aanlyn beskikbaar vir maklike verspreiding. Klik hier vir die Engelse weergawe.

 

Inskrywings ingewag: Toegang

 

Die sluitingsdatum vir Toegang, ’n kortverhaalkompetisie wat PEN Afrikaans tans met PEN International se ondersteuning aanbied, is 1 Maart om 12:00. Inskrywings kan voor dan na penkortverhaalkompetisie@gmail.com gestuur word.

Ons is baie bly oor die rits inskrywings wat reeds in hierdie posbus beland het en dankbaar vir die uitgelese beoordelaars wat die inskrywings sal lees. Heilna du Plooy sal die aanvanklike keuring behartig, waarná die wenverhale gekies sal word deur ’n beoordelaarspaneel wat uit Brian Fredericks, J.M. Gilfillan en Madré Marais bestaan.

Daar sal vyf wenverhale aangekondig word, wat elk aanlyn gepubliseer sal word.

Die top drie verhale sal ook professioneel voorgelees en op RSG se Kortom uitgesaai word.

Die skrywers van die top drie wenverhale sal elk ’n kontantprys ontvang, wat moontlik gemaak word deur PEN International, sowel as ’n eksemplaar van PEN International: An Illustrated History, die bekroonde eeufeespublikasie van die wêreld se grootste skrywersvereniging.

Die kompetisieriglyne is hier beskikbaar: https://penafrikaans.org.za/toegang-n-kortverhaalkompetisie-aangebied-deur-pen-afrikaans/

 

Digkompetisie: “Mijn taal”

 

In die maand waarin Internasionale Moedertaaldag gevier word, voel dit gepas om inligting oor ’n digkompetisie met die tema “mijn taal” te deel.

Afrikaanse inskrywings vir hierdie kompetisie van die Poëziefestival Gelselaar word verwelkom. Daar is meer inligting in hierdie brief van ons voorsitter, sowel as hier beskikbaar: https://stichtingportfolio.nl/poeziefestival-2022/

 

Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede

Fakture vir 2022 se ledegeld sal in die tweede helfte van hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.

Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende nuwe lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:

Audrey Jantjies
Christiaan le Roux
Grant Jefthas
Lien Botha
Melanie Pienaar

 

Maandelikse resensie-oorsig

 

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsigte sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Fine Music Radio se boekeprogram, Boekkeuse, is ’n nuwe toevoeging, met dank aan Amanda Botha. Daar is ’n skakel waarop ’n mens kan klik om na die podsending van Januarie se aflewering te luister.

Kyk gerus ook hier na ons oorsig van Desember 2021 se boekstories.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2022

Die stewige lys van nuwe Afrikaanse boeke wat in Januarie en Februarie verskyn het, voorspel goeie dinge vir ’n jaar vol boeke. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.

Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Desember 2021

Tuesday, December 28th, 2021


Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds nog twee vertalings van Afrikaanse romans

Ná oorweging van die aansoeke wat teen die November-sperdatum ingedien is, kondig PEN Afrikaans met trots aan dat die volgende twee vertalings deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier sal word:

  • ’n Franse vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman
  • ’n Albaniese vertaling van Donker spoor deur Martin Steyn

Lesers van Frans kan daarna uitsien om Pierre-Marie Finkelstein se vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman in 2023 op die winkelrakke te sien. Finkelstein is ’n ervare en bekroonde literêre vertaler van onder meer werke deur Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach. Hy het ook al verskeie Schoeman-titels vertaal en is een van die min Franse vertalers wat direk uit die Afrikaanse bronteks werk.

Actes Sud, die uitgewer wat die vertaalregte aangeskaf het, is ’n gerekende en gevestigde uitgewery wat groot skrywers uit die wêreldletterkunde op hul lys het. Die uitgewery is in 1978 gestig en het hulself juis vanweë die fokus op vertaalde letterkunde onderskei en só gegroei en uitgebrei.

Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau verskyn. In Die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde meld J.C. Kannemeyer dat Schoeman daarin slaag om met Die hemeltuin een van sy beste werke te lewer, deur “die fyn organisasie, sensitiewe karaktertekening en die kuns van suggestie.” Ook J.P. Smuts meld in sy resensie van die roman dat dit een van die beste werke in Schoeman se oeuvre is.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het voorheen ook ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin ondersteun, wat intussen by Uitgeverij Aldo Manuzio die lig gesien het.

Vir die eerste keer sedert die totstandkoming van die PEN Afrikaans Vertaalfonds, sal ’n vertaling na Albanies ook gefinansier word.

Donker spoor, die debuutroman van gevierde spanningskrywer Martin Steyn, sal in Albaniese vertaling deur Ombra GVG, een van Albanië se voorste uitgewerye, uitgegee word.

Donker spoor het al in Engelse en Turkse vertaling verskyn. Dit is oorspronklik in 2014 gepubliseer (LAPA) en met dié “stewige en oorspronklike debuut” het Martin Steyn ’n naam geraak om dop te hou in die misdaadspanningsgenre, sê Riaan Grobler in sy resensie. In sy lowende bespreking van die roman sê Jonathan Amid “Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly.” In 2015 kry Steyn die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur vir dié roman en in 2018 is die Engelstalige uitgawe in die VSA  met ’n Kirkus Star Review vereer.

Die beoogde publikasiedatum van die Albaniese uitgawe is Mei 2022. Dit sal in Albanië, Kosovo en Noord-Masedonië versprei word en die vertaler is Elvi Proko.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

 

Die wêreld van die skrywer: artikelreeks


Ronelda Kamfer is aan die woord in die volgende artikel in ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”.

Kamfer is veral bekend as digter. In die lig daarvan dat haar debuutroman, Kompoun, onlangs verskyn het, het ons haar gevra om uit te brei oor haar ervaring van die skryfproses in die verskillende genres.

Die stuk is hier beskikbaar. Baie dankie aan Ronelda vir die waardevolle toevoeging tot ons artikelreeks.

 

Toegang: ’n kortverhaalkompetisie aangebied deur PEN Afrikaans

Skrywers word hiermee hartlik uitgenooi om kortverhale in te skryf vir PEN Afrikaans se kortverhaalkompetisie 2022, wat met die ondersteuning van PEN International aangebied word.

Die breë tema van die kompetisie is TOEGANG en skrywers kan dié tema vanuit enige belewingshoek in hul kortverhaal belig.

Inskrywings sluit 1 Maart 2022 om 12:00.

Daar sal vyf (5) wenverhale aangekondig word, wat elk aanlyn gepubliseer sal word.

Die top drie verhale sal ook professioneel voorgelees en op RSG se Kortom uitgesaai word.

Die skrywers van die top drie wenverhale sal elk ’n kontantprys ontvang, wat moontlik gemaak word deur PEN International, sowel as ’n eksemplaar van PEN International: An Illustrated History, die bekroonde eeufeespublikasie van die wêreld se grootste skrywersvereniging.

  • Eerste prys: R6 000
  • Tweede prys: R4 000
  • Derde prys: R2 000

Stuur jou kortverhaal met ’n kort dekbrief na penkortverhaalkompetisie@gmail.com.

Ontvangs sal binne 24 uur erken word. Verdere skriftelike navrae kan ook na hierdie adres gestuur word.

Ons sien baie uit daarna om jul inskrywings te ontvang.

 

Wenners van die US Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig

Drie-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, maar omdat die feesdatums vir 2022 as gevolg van die Covid-pandemie nog nie gefinaliseer is nie, sal die feestema, en daarmee ook die titel van die bundel, eers volgende jaar bekend gemaak word.

Die wenner, wat by die bundelbekendstelling gedurende die 2022-fees aangekondig sal word, wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000.

“Sewe jaar ná die kompetisie ingestel is, bly dit nog steeds vir die beoordelaarspan soos ’n verrassingspakkie om te sien waarmee die skrywers vorendag gekom het. En vanjaar se oes het weer eens nie teleurgestel nie. Dis ook die eerste jaar waar daar beduidend meer nuwe stemme is wat die bundel gehaal het as dié wat reeds voorheen opgeneem is: veertien teenoor nege. Baie geluk aan een en almal van julle!” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.

Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.

Die lys van skrywers wat in die 2022 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:

  1. Antoinette Diedericks
  2. Ryno Eksteen
  3. Ilne Fourie
  4. Sidney Gilroy
  5. Donovan Greeff
  6. Helena Gunter
  7. Cudi Harmse
  8. Louis Jansen van Vuuren
  9. Lynthia Julius
  10. Keith Lewis
  11. Cecilia Lombard
  12. Hannes Loubser
  13. Michèle Meyer
  14. Cliffordene Norton
  15. Ryan Pedro
  16. Ilse Schoonwinkel Pauw
  17. Deborah Steinmair
  18. Douw Steyn
  19. Marie Toerien
  20. Nadia van Zyl
  21. Dineke Volschenk
  22. Madeleen Welman
  23. Lloyd Zandberg

 

Hartlik geluk aan die wenners! Vir meer inligting oor die US Woordfeeskortverhaalbundel, sien: https://www.woordfees.co.za/woordfeeskortverhaalbundel/

 

Wenners van die Sanlampryse vir Jeuglektuur aangekondig

Sanlam en Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, het onlangs  die wenners van die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur aangekondig. Die pryse, wat ingestel is om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers (12–18 jaar oud) en jong volwassenes aan te moedig, is op 20 November 2021 in Kaapstad toegeken. Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van drie kategorieë – Afrikaans, Engels en Afrikatale (Nguni- en Sothotale, Tshivenda en Xitsonga) – aangewys. Die totale prysgeld beloop R90 000.

Vanjaar se wenners is:

Afrikaans

  • Annerle Barnard van Bloemfontein, wat vir die tweede keer in hierdie kompetisie bekroon word, verower die Goue prys vir Spel. Die beoordelaars beskryf die verhaal as “spannende wetenskapsfiksie waar die kontras tussen modern en tradisioneel sterk na vore kom en kunsmatige intelligensie en menslike vermoëns teenoor mekaar opgeweeg en afgespeel word. Uiteindelik bewys die uiteenlopende karakters dat verskillende wêrelde tog kan saamwerk en in vrede die voortbestaan van alle lewe verseker”.
  • Die Silwer prys is aan Betsie van Niekerk van Malmesbury toegeken vir Anderkind, ’n historiese jeugroman wat afspeel in die tyd van die Groot Griep in 1918. “Wat die verhaal relevant maak vir lesers vandag is die oorlewingstema en die tema van die hersaamgestelde gesin wat saamsnoer te midde van swaarkry en so vir die karakters ‘n nuwe lewe kan uitkerf”. Betsie van Niekerk het vantevore in 1996 ’n Sanlamprys verwerf vir Gamkab.

 

  Engels

  • Die Engels-onderwyser Catherine Jarvis van Johannesburg wen die Goue prys vir The Swim Team. Beoordelaars beskryf dit as “relevant en kontemporêr” en prys die outeur vir haar knap hantering van kwessies van ras en bevoorregting in die koshuis van ’n eksklusiewe privaatskool.
  • Die gevestigde skrywer Penny Lorimer, van Kaapstad, wen die Silwer prys vir Luntu Masiza Tells the Truth, wat volgens die beoordelaars ’n lewensgids vir alle tieners behoort te wees. Hulle noem hierdie storie waarin Luntu sy eie verhaal openhartig met lesers deel verder “lesenswaardig” en “’n storie met hart”.

 

  Afrikatale

  • Debuutskrywer Sandile Ngwenya ontvang die Goue prys vir Imali Yezipoki (“Die spook/gees se skat”). Hierdie ambisieuse roman in isiZulu is Afrika- magiese realisme en riller tegelyk, waarin die mitiese-, realistiese- en voorvaderryke op mekaar inspeel.
  • Die ontvanger van die Silwer prys is Thulani Simayile, ’n universiteitsdosent van Eersterivier, naby Kaapstad. UNolali, ’n roman in isiXhosa, kan vertaal word as “Plaasjapie”. Dit handel oor weeskinders wat by familie grootword en deur eie familie misbruik word. Die beoordelaars het klem gelê op die tema van die impak van opvoeding op armoede en die belangrike boodskap wat die skrywer aan lesers oordra.

 

Baie geluk aan hierdie skrywers wat die leeslandskap vir jonger lesers help verryk. Die volledige persversklaring is hier beskikbaar:  https://www.nb.co.za/en/blog/d979433152664c7480043d3aaaf79951

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2021

Ons deel graag oudergewoonte ’n lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Baie geluk aan ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Mag die kerskouse vanjaar vol boeke wees.

Ten slotte: hartlik welkom aan Susan Smith wat onlangs as lid aangesluit het.

Aan die einde van ’n vol jaar, dra ons ’n woord van opregte dank aan al ons lede oor vir die onderskraging, samewerking en meelewing deur die jaar. Ons sien uit daarna om nog ’n jaar saam aan te durf.

Vir eers wens ons julle ’n goeie, gesonde en vreugdevolle feestyd toe.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Julie 2020

Monday, July 20th, 2020

 

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

President Ramaphosa stuur Wysigingswetsontwerp op Outeursreg terug na parlement

 

Ná maande se stilte het president Ramaphosa in Junie sy besluit oor die veelbesproke Wysigingswetsontwerp op Outeursreg bekend gemaak. Hy het teen ondertekening daarvan besluit en die wetsontwerp terugverwys na die parlement vir heroorweging.

PEN Afrikaans verwelkom president Ramaphosa se besluit. Hierdeur het hy ’n lansie gebreek vir doeltreffende kopieregbeskerming en almal wat daarop staatmaak.

Ten einde ons lede se stemme te laat hoor, het PEN Afrikaans veral sedert 2017 aktief deelgeneem aan die konsultasieproses rondom hierdie wetsontwerp. Ons het geskrewe voorleggings voorberei en ingedien, parlementsessies bygewoon en saam met ANFASA en PEN South Africa ’n protesaksie van stapel gestuur toe dit blyk dat die wetsontwerp eenvoudig onveranderd deur die wetgewende proses seil. Te danke aan ons lede, die boekbedryf en die wyer skeppende bedrywe se ondersteuning, is die protesskrif wyd gedeel en geteken. Binne ’n week is die petisie deur meer as 3000 individue en namens 125 organisasies onderteken. Dit is aan die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê en onder die president se aandag gebring.

PEN Afrikaans is ook ’n lid van die Alliansie vir Effektiewe Kopiereg in Suid-Afrika, ’n vereniging van belangegroepe wat die wetsontwerp teenstaan en uitgebreide vertoë aan die president gerig het wat die konstitusionele en ander besware teen die wetsontwerp uiteensit.

Die redes wat die president aangevoer het vir sy besluit teen ondertekening, strook met die vertoë wat die Kopieregalliansie aan hom gerig het. Al is die finale woord hieroor nog nie gespreek nie, is die president se besluit ’n welkome aanduiding dat skrywers en die groter skeppende bedrywe se wekroep uiteindelik gehoor is.

Appèlhof bevind Unisa se taalbeleid ongrondwetlik

Verdere goeie nuus is die onlangse uitspraak van die Appèlhof oor die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se taalbeleid wat Afrikaans as onderrigtaal die afgelope vier jaar uitgesluit het.

Nadat AfriForum ’n vroeëre hooggeregshofuitspraak dat Engels die primêre onderrigtaal aan Unisa moet wees op appèl geneem het, het die Appèlhof beslis dat Unisa se verwydering van Afrikaans as onderrigtaal onwettig en ongrondwetlik is. Unisa kon nie die geregverdigdheid van hierdie besluit bewys nie en is beveel om dit om te keer én die koste van die regsaak te dra.

PEN Afrikaans beskou die uitspraak as ’n blye wending vir die beskerming van taalregte en die toekoms van Afrikaans as akademiese taal. Mag die uitspraak ook wyer uitkring ten gunste van meertaligheid in tersiêre onderrig.

Elsa Joubert (1922 – 2020)

Sedert ons vorige nuusbrief is Elsa Joubert op 14 Junie op die ouderdom van 97 aan Covid-19 in ‘n Kaapstadse hospitaal oorlede.

PEN Afrikaans lig ook hier met dankbaarheid die hoed vir ‘n wêreldklasskrywer wat die Afrikaanse letterkunde – en daarmee ook die bewussyn van al haar lesers – geweldig verruim en verhelder het.

Baie, baie dankie, Elsa Joubert.

Lees hier meer oor haar lewe en werk.

Media24 oorweeg sluitings

In ’n verdere terugslag vir die drukmedia, het die uitvoerende hoof van Media24, Ishmet Davidson, aangekondig dat dié maatskappy dit oorweeg om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante net digitaal uit te gee en personeel in steundienste-afdelings te verminder.

Volgens Davidson het Covid-19 ’n vernietigende uitwerking gehad op Media24 se reeds kwynende drukmedia-bedrywighede.

Hierdie aankondiging stel ’n groot verlies in die vooruitsig – vir die plaaslike medialandskap, maar in die besonder ook vir die Media24-joernaliste en ander werknemers wat hierdeur geraak word.

Volledige inligting oor die herstruktureringsplanne is hier beskikbaar en lees gerus ook Lizette Rabe se meningstuk waarin sy die groter prentjie oor die belang en toekoms van joernalistiek skets.

Inskrywings word ingewag vir die US Woordfeeskortverhaalbundel 2021

Dit is tyd vir die sesde US Woordfeeskortverhaalbundel. Die eerste vyf bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.

Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2021 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Du Toitskloof maak ook ’n bydrae tot hierdie prysgeld en borg die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die 2021 Toyota US Woordfees aangebied sal word.

Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal by die Toyota US Woordfeesprogrambekendstelling vir 2021 bekend gemaak word. Die wenverhaal sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, by die Toyota US Woordfees 2021, aangekondig word.

Inskrywings sluit op 30 September 2020 om 16:00.

Volledige inligting oor die kompetisie is hier beskikbaar en navrae kan per e-pos aan feesnavrae@gmail.com gerig word.

Taalgenoot gratis aanlyn beskikbaar

Tesame met die ontberings en uitdagings wat hierdie tyd kenmerk, is daar ook ligpunte, soos dat Taalgenoot se gehalteleesstof gratis aanlyn beskikbaar gemaak is.

Die onlangse uitgawes van dié bekroonde tydskrif is hier beskikbaar:

Ons het vir hierdie twee uitgawes vir Valda Jansen en Debbie Loots gevra om elk ’n rubriek te skryf oor die boeke wat hulle gevorm en geïnspireer het om te skryf. Moet dit nie misloop nie.

Jeremy Vearey lewer NP van Wyk Louw-gedenklesing

Jeremy Vearey het op 18 Junie die NP Van Wyk Louw-gedenklesing 2020 gelewer. Dit is vanjaar as ‘n weblesing aangebied deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in samewerking met die Universiteit van Johannesburg.

Kyk die lesing hier en lees die teks hier.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Junie 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Ons plaas hierdie maand ook twee besprekings wat op www.klyntji.com verskyn het en sien uit daarna om voortaan inhoud van hierdie publikasie in te sluit.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Julie 2020

Ons sluit oudergewoonte die nuusbrief af met ‘n gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Dit is ‘n plesier om laastens die volgende persone as nuwe lede van PEN Afrikaans te verwelkom: Wendy Maartens, Madri van der Walt en Marieta Nel. Hartlik welkom!

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Junie 2020

Wednesday, June 10th, 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Harry Kalmer en Jaco Jacobs


PEN Afrikaans kondig met trots die jongste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aan. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.

Na oorweging van die aansoeke wat teen die Mei 2020-sperdatum ontvang is, sal die volgende twee vertalings befonds word:

  •  ’n Nederlandse vertaling van In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer
  • ’n Nederlandse vertaling van ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs.

In ’n land sonder voëls, die laaste roman van ontslape skrywer Harry Kalmer, sal deur Rob van der Veer vertaal word en na verwagting in Februarie 2021 by Uitgeverij Aldo Manuzio verskyn. Dié distopiese roman het in 2019 by Penguin Random House verskyn, kort voor die dood van die skrywer, wat bekend was vir sy oorspronklikheid en vakmanskap – nie net in sy bekroonde werk in die advertensiewese nie, maar ook as dramaturg, kortverhaalskrywer en romansier.

In 2018 is die gesogte Barry Ronge-prys vir fiksie aan Kalmer toegeken vir A Thousand Tales of Johannesburg, die Engelse uitgawe van sy stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg.

Uitgeverij Aldo Manuzio het ’n groeiende lys van Afrikaanse titels in Nederlandse vertaling. Pieter Rouwendal, uitgewer by Aldo Manuzio, meld in sy aansoek sy trots om Kalmer by dié lys te voeg en aan hom die groter, internasionale gehoor te help gee wat hy verdien.

Oor In ’n land sonder voëls skryf Jean Meiring in ’n resensie: “[e]nduit is dit ’n meesterlike en uiters vindingryke verbeeldingsvlug.”

Uitgeverij Ploegsma, ’n afdeling van WPG Kindermedia, bestaan al meer as 100 jaar en is ’n vooraanstaande Nederlandse uitgewer van hedendaagse en klassieke kinder- en jeugboeke. Hierdie gerekende uitgewery voeg eersdaags Jaco Jacobs se trefferroman ’n Goeie dag vir boomklim (LAPA) by hul lys van vertaalde werke.

’n Goeie dag vir boomklim het in 2016 die kykNET/Rapport-prys in die filmkategorie gewen en filmregte is aan M-Net toegeken.

Die roman het sedertdien by voorste buitelandse uitgewers in vertaling verskyn: in Engels by Oneworld Publications en in Italiaans by Rizzoli.  Die jurie van die roemryke Hans Christian Andersen-prys het dit ook onlangs uitgesonder as een van ’n lys van merkwaardige boeke waartoe kinders vanoor die wêreld deur vertaling toegang behoort te hê.

Uitgeverij Ploegsma sal die boek in hardeband en e-formaat uitgee. Tjalling Bos, ’n hoog aangeskrewe vertaler met meer as veertig jaar se ondervinding, is vir die Nederlandse vertaling verantwoordelik.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: http://www.litnet.co.za/reglement-vir-die-pen-afrikaans-vertaalfonds/

Jeanne Goosen

Jeanne Goosen, die geliefde skrywer van onder meer Ons is nie almal so nie en ’n Paw-paw vir my darling, is 3 Junie op die ouderdom van 81 sag by haar huis in Melkbosstrand oorlede. Die verlies van hierdie geliefde skrywer is ’n gevoelige slag vir die Afrikaanse letterkunde. Die bestuur van PEN Afrikaans salueer haar met innige dankbaarheid vir ’n enorme en grensverskuiwende bydrae tot ons letterkunde.

Klik hier om Erika Terblanche se ATKV/LitNet-skrywersalbum oor Jeanne Goosen se lewe en werk te lees.

Danie Marais, PEN Afrikaans se ondervoorsitter, het op Facebook geskryf:

“Jeanne Goosen se vertrek stem my bitter droef. Sy laat so ’n unieke en geweldige leemte.

Ek het in 2013 die kans gekry om met haar ’n onderhoud vir BY te voer en wanneer ek aan daardie Saterdagoggend dink, spoel daar altyd ’n warm gevoel deur my.”

Klik hier om dié onderhoud te lees.

’n Spesiale manier om Jeanne te gedenk, is om na hierdie voorlesing van haar gedigte deur Nicole Holm te luister: https://youtu.be/O9nIPl15s-I

In ’n mooi huldeblyk skryf die oud-uitgewer Hettie Scholtz:

“’n Boekklubvriendin laat weet dat êrens anders nou ’n interessanter plek geword het. Vir my voel dit of die vlae gerus halfmas kan hang uit erkenning aan hierdie wederstrewige, groot gees.”

Klik hier om die huldeblyk te lees.

Die bestuur van PEN Afrikaans is dit roerend met Hettie eens.

Wenners van die Akademiepryse, ATKV-Mediaveertjies én Taco Kuiper-prys aangekondig

Die afgelope paar weke is die wenners van verskeie vooraanstaande literêre en mediapryse aangekondig.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het die wenners van ’n rits belangrike pryse en eerbewyse bekend gemaak.

In die Afrikaanse letterkunde is die mees prominente prys sekerlik die Hertzogprys, wat jaarliks om die beurt toegeken word vir poësie, drama en verhalende prosa op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.  Baie geluk aan Johan Myburg wat vereer is met die Hertzogprys vir poësie vir sy bundel Uittogboek wat by Protea Boekhuis verskyn het.


Elsa Joubert ontvang vanjaar die L.W. Hiemstraprys vir niefiksie vir Spertyd (Tafelberg) en Johan Jack Smith is die wenner van die Eugène Marais-prys, ’n prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk, vir sy debuutroman Zola (Penguin Random House). Hartlik geluk.

’n Volledige mediaverklaring oor die SA Akademiepryse 2020 is hier beskikbaar.

Die ATKV het oudergewoonte vanjaar weer uitblinkers in die Afrikaanse mediawêreld vereer deur die toekenning van die gesogte ATKV-Mediaveertjies. Hiermee word uitnemendheid in drie kategorieë (lees, luister, kyk) vereer.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dis noodsaaklik om die media te vereer, en vanjaar – te midde van die Covid-19-pandemie – soveel te meer.

“Ons het die afgelope paar weke opnuut bewus geword van die kritieke rol wat die media ook in tye van krisis en uitdaging speel. Dit is die media wat ons ingelig hou; ons opvoed oor alle aspekte van onder meer die pandemie, nie slegs plaaslik nie, maar ook internasionaal; en wat vermaak, iets wat veral nou broodnodig is.

“Ons salueer die hele spektrum van die media, en veral ons 2020-wenners. Julle uitstaande bydraes verdien verering en erkenning. Doen so voort!”

Baie geluk aan die wenners. Meer inligting is hier beskikbaar.


Die gesogte Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek is vanjaar aan Pieter-Louis Myburgh toegeken vir Gangster State, sy topverkoper boek oor Ace Magashule waaroor die beoordelaars die volgende sê gehad het:

“Every now and then, there comes along a piece of work that is so impactful and convincing that it comes to define the way the public sees someone, and that is the case with Pieter-Louis Myburgh’s deeply-researched book and its subject, senior politician Ace Magashule.”

Baie geluk ook aan Pieter-Louis Myburgh.

Oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg

Klik hier om ‘n belangrike artikel oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op Daily Maverick te lees.

Die volgende aanhaling kom daaruit:

“The world has changed since the Copyright Amendment Bill was passed by parliament. The national lockdown occasioned by Covid-19 brought almost the entire economy to a grinding halt. The creative and cultural sector came to an abrupt standstill virtually overnight. The bill, which posed a considerable threat before, could be the fatal blow to a sector employing more than one million people (directly and indirectly).”

Die skrywer, Collen Dlamini, is die voorsitter van die Koalisie vir Effektiewe Kopiereg, waarvan PEN Afrikaans lid is.

Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

“Die wêreld van die skrywer” is ’n reeks artikels wat PEN Afrikaans sedert 2019 kwartaalliks publiseer. In die reeks besin skrywers op ons uitnodiging oor temas wat met hul ambag, loopbaan of die praktyk van skryf te doen het.

In hierdie aflewering vertel bekroonde spanningskrywer Irma Venter meer oor die rol van navorsing en aktuele kwessies in haar spanningsverhale. Hoe pak sy daardie deel van die skryfproses aan en hoe gaan sy te werk om navorsing met die storielyn te integreer?

Lees Irma se artikel hier.

Die eerste Woordfees Teaterskryflaboratorium  

Die US Woordfees en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) bied vanjaar die eerste Toneelskryflaboratorium aan. Skrywers wat gekeur word, kry finansiële ondersteuning terwyl hulle skryf.

Die doelwit van hierdie drie maande Laboratorium is ’n nuwe voltooide toneelteks van 60 tot 90 minute. Die US Woordfees en NATi is op soek na verhale wat nie gereeld op Suid-Afrikaanse verhoë gesien word nie. ’n Premie word op nuwe Afrikaanse werk geplaas, maar Engelse en meertalige tekste word ook oorweeg.

Nadat die Covid-19-inperkings opgehef is, sal al die voltooide tekste deur ’n geselskap van akteurs voorgelees word as afsluiting van die Laboratorium. Die US Woordfees sal een of twee tekste kies wat as volwaardige produksies ontwikkel sal word vir die 2021-fees.

Die Laboratorium word in Afrikaans en Engels aangebied en staan onder leiding van die Toyota US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha, veteraanregisseur Janice Honeyman en bekroonde aktrise Lee-Ann van Rooi. Daar word van deelnemers verwag om mekaar se werk te lees en terugvoer te gee. Aanlyn ontmoetings sal een of twee maal per maand plaasvind en deur die fasiliteerders aangebied word.

Die slutingsdatum vir aansoeke is 10 Junie 2020.

Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen.

Klik hier om ’n kort onderhoud met Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van NATi, oor die Teaterskryflaboratorium te lees.

Skryf in vir 2020 kykNET-Rapport-resensiepryse

Boekresensente word genooi om in te skryf vir die 2020 kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee uitnemende resensies in Afrikaans van Afrikaanse boeke bekroon word.

Met dié pryse word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en die leesgenot van boekliefhebbers bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.

Resensente word genooi om in te skryf in drie kategorieë:

  • Resensie: Afrikaanse fiksie (alle genres)
  • Resensie: Afrikaanse niefiksie (alle genres)
  • Langer resensie: 1 500 woorde of meer oor Afrikaanse fiksie of niefiksie

Met die derde prys vir langer literêre resensies word erkenning gegee aan resensente wat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde ook op hierdie vlak verhelder en verruim.
Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.

Die 2020-pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2019 en 31 Desember 2019 in die drukmedia en hoofstroom- aanlyn media verskyn het. Transkripsies van radioresensies word ook aanvaar. ’n Resensent mag ’n maksimum van drie resensies per kategorie inskryf.

Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie kom in aanmerking.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 26 Junie 2020.

’n Paneel van drie keurders met Bibi Slippers as sameroeper sal die wenners aanwys uit die resensies wat ingeskryf is.

Met die beoordeling van inskrywings sal die vernaamste kriteria wees dat resensies toeganklikheid vir hul waarskynlike lesers demonstreer en die leesplesier van Afrikaanse boeke bevorder. Daarbenewens sal die keurders op die uitkyk wees vir werk wat:

  • oorspronklike insigte weergee oor boeke wat waarde toevoeg tot die Afrikaanse letterkunde
  • ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon
  • ingeligte oordeel met goed gemotiveerde en opbouende kritiek weerspieël
  • lesers lus maak om te lees
  • nie op sensasie en afbrekende kritiek fokus nie, en
  • getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk.

Die keurders sal ruimtebeperkings in ag neem.

Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, maar boekeredakteurs en redakteurs word versoek om resensente aan te moedig om deel te neem.

Inskrywings word elektronies ingedien. Waar van toepassing moet inskrywings van gepubliseerde resensies vergesel wees van PDF-weergawes van die resensies soos dit oorspronklik verskyn het tensy vooraf anders ooreengekom met die administrateur van die pryse.

Die volledige regulasies, inskrywingsvorm en ander besonderhede is verkrygbaar by die administrateur, Anita van Zyl, by anita@vanzylpr.co.za. Rig telefoniese navrae aan haar by 083 709 6677.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2020

Laastens deel ons oudergewoonte die gekombineerde lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke die lig laat sien.

Kom ons ondersteun ons skrywers, uitgewers en boekhandelaars met dié dat die wiele van die bedryf nou weer stelselmatig begin draai.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Protes teen die dreigende kopiereghervorming

Tuesday, July 4th, 2017

Beste lid van PEN Afrikaans

Die bestuur van PEN Afrikaans het reeds in ‘n vorige spesiale nuusbrief op 9 Junie 2017 daarop gewys dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017, groot gevare vir skrywers en uitgewers inhou.

Ons het intussen in oorleg met die kopieregkonsultant Catrina Wessels ‘n skriftelike voorlegging voorberei wat ons voor die sperdatum vir kommentaar (7 Julie 2017) in samewerking met PEN South Africa aan die Porfeuljekomitee op Handel en Nywerheid sal voorlê.

Ons versoek jou hiermee om die belang van hierdie kommentaar te beklemtoon deur jou naam, of dié van jou organisasie/uitgewery/onderneming, ter ondersteuning hieraan te koppel. Die lys van ondersteuners sal saam met die kommentaar ingelewer word.

Die Afrikaanse weergawe van ons kommentaar is hier op ons webportaal beskikbaar; die Engelse weergawe hier. Jy kan op enige een van hierdie bladsye jou ondersteuning aandui en ook ons kommentaar op die wetsontwerp verder op sosiale media deel.

Help ons asseblief om stem dik te maak oor hierdie blatante poging tot die onteiening van intellektuele eiendom.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

Hier is die Afrikaanse weergawe van ons voorlegging aan die Portefeuljekomitee:

Kommentaar deur PEN Afrikaans op die
WYSIGINGSWETSONTWERP OP OUTEURSREG, 13 VAN 2017
Ingedien vir aandag: Me. J Fubbs
(Voorsitter: Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid)
Per e-pos: ahermans@parliament.gov.za

Inleiding

PEN Internasionaal, die wêreld se voorste outeursvereniging, is ’n nie-politiese organisasie wat Spesiale Raadgewende Status by die Verenigde Nasies geniet, en Geassosieerde Status by UNESCO. Dit is gemik op die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van uitdrukking op ’n internasionale vlak. PEN Afrikaans ondersteun hierdie doelwitte en is daarop toegespits om as drukgroep op te tree vir die regte van outeurs, joernaliste en uitgewers, soos en waar nodig. PEN Afrikaans is ’n vereniging van outeurs, joernaliste en uitgewers wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans se ledetal bestaan uit outeurs wat in die Afrikaanse taal in alle genres en kategorieë skryf en publiseer. PEN Afrikaans verteenwoordig outeurs wat vir die algemene handelsmark skryf (fiksie, niefiksie, en kinder- en jeugboeke), opvoedkundige werke soos skoolhandboeke, asook akademiese en vakkundige publikasies.

PEN Afrikaans is oortuig dat verskeie van die wysigings aan die Wet op Outeursreg, 98 van 1978 (hierna “die Wet”), wat deur die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017 (hierna “die Wetsontwerp”) voorsien word, ’n regstreekse en nadelige uitwerking op sy lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal hê. Daarom aanvaar PEN Afrikaans die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid (“die Komitee”) se uitnodiging aan belanghebbendes om geskrewe kommentaar op die Wetsontwerp in te dien, en lê hiermee sy kommentaar voor.

Omvang

Selfs met die uitstel van die sperdatum vir skriftelike voorleggings tot 7 Julie 2017, is PEN Afrikaans van mening dat belanghebbendes nie voldoende tyd gegun is om behoorlik met die inhoud van die Wetsontwerp om te gaan en daarop te reageer nie. Hierdie voorlegging is daarom nie ’n omvattende en afdeling-per-afdeling kommentaar op die Wetsontwerp nie, maar eerder ’n uiteensetting van die hoofoorwegings wat PEN Afrikaans se lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal raak.

Verskeie ander belanghebbendes het meer gedetailleerde analises van die Wetsontwerp ingedien, met voorstelle van hoe die teks verbeter kan word. PEN Afrikaans doen ’n beroep op die Komitee om noukeurig te let op daardie voorstelle, aangesien dit duidelik is dat die Wetsontwerp deurtrek is van foutiewe terminologie en opstelfoute wat tot beduidende regsonsekerheid sal lei indien dit ongewysigd as wetgewing bekragtig word. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om spesifieke aandag te skenk aan die skriftelike voorlegging van die Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, ’n afdeling van die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch.

Opsomming

Die toekenning van ’n reeks uitsluitlike regte aan die outeursreghouer dien as aansporing aan skrywers en die groter kreatiewe bedrywe om hul talente en vaardighede in te span om nuwe werke te skep tot almal se uiteindelike voordeel. Outeursreg stel skrywers in staat om inkomste uit hul skeppende werk te verdien. Die instelling van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg sal skrywers ontmoedig om boeke te skryf, en uitgewers ontmoedig om die finansiële risiko te loop om boeke te publiseer, aangesien dit ’n klimaat skep waarbinne die vrye kopiëring van outeursregwerke vir ’n wye verskeidenheid doeleindes toegelaat word. Ander besware is die voorgestelde verswakking van morele regte en die staat se toe-eiening van die outeursreg in alle staatsbefondsde outeursregwerke. PEN Afrikaans sien hierdie wysigings as onverstandig en versoek die Komitee om te heroorweeg.

Ons maak verder melding van die volgende:

1. Toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek

PEN Afrikaans verwelkom die voorgestelde toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek as ’n eksklusiewe reg van outeursreg. Die reg van kommunikasie aan die publiek word beskou as die ekwivalent van die reproduksiereg in ’n internet-omgewing. As sodanig verteenwoordig die insluiting daarvan ’n belangrike stap om Suid-Afrika se outeursregwetgewing by te werk om in tred te bly met die digitale era. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om ook die eksklusiewe verspreidingsreg by te voeg.

2. Instel van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg

Die instel van uitgebreide uitsondersings op en beperkings van die ekslusiewe regte van outeursreg is ’n uiters kommerwekkende aspek van die wetsontwerp.

Hierdie uitsonderings sluit in:

·        ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes

Baie skrywers verdien hul brood en botter uit skryfwerk vir die opvoedkundige mark. Die opvoedkundige mark is ’n werkende mark en by verre die grootste sektor binne die boekuitgewersbedryf. Om toe te laat dat boeke vrylik gekopieer mag word en outeursregmateriaal sonder toestemming by kursuspakkette ingesluit mag word in plaas daarvan om opvoedkundige instansies aan te moedig om eksemplare van boeke aan te koop of lisensies te bekom om outeursregwerke te reproduseer, sal skrywers se vermoë om ’n bestaan te maak uit skryfwerk vir die opvoedkundige en akademiese markte drasties beperk.

·        ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir die uitbreiding van toegang aan onderbediende bevolkingsgroepe (“underserved populations”)

Hierdie toevoeging sal aansienlike regsonsekerheid veroorsaak. Daar is geen definisie van “onderbediende bevolkingsgroepe” in die Wetsontwerp nie. Eweneens gee die Wetsontwerp ook geen aanduiding van wie op hierdie manier toegang kan “uitbrei” en wat dit presies beteken nie. Wat wel duidelik is, is dat daar nie sprake sal wees van outeurstoestemming of -vergoeding wanneer werke gereproduseer word om “onderbediende bevolkingsgroepe” se toegang te vergroot nie. Hierdie uiters breë uitsondering is oop vir uitbuiting ten koste van outeurs.

Onderwys en navorsing is ongetwyfeld belangrike beleidsoorwegings, en PEN Afrikaans ondersteun die reg op toegang tot inligting ten volle. PEN Afrikaans maak egter beswaar teen die voorgestelde verswakking van outeursregbeskerming om hierdie doelwitte te bereik.

Dit is verder hoogs onwaarskynlik dat die uitgebreide uitsonderings wat deur die Wetsontwerp voorsien word, voldoen aan die vereistes van die internasionale verdrae waartoe Suid-Afrika as ondertekenaar verbind is. Enige uitsonderings of beperkings wat tot die Wet bygevoeg word, moet in ooreenstemming wees met die drie-stap-toets wat in die Berne Verdrag uiteengesit is. Dit vereis dat enige uitsonderings beperk moet wees tot “sekere spesiale gevalle wat nie in stryd is met die normale ontginning van die werk nie, en wat nie die regmatige belange van die outeursreghouer onredelikerwys benadeel nie”. 1

3. Staatsbefondsde werke

Die Wetsontwerp voorsien dat outeursreg met betrekking tot staatsbefondsde werke outomaties by die staat sal berus. Die vlak van befondsing word egter nie omskryf nie. Dit sal onredelik wees vir die staat om beslag te lê op outeursregwerke op grond daarvan dat enige vorm van befondsing bygedra is.

4. Inmenging met kontraktuele bepalings

PEN Afrikaans teken beswaar aan teen die oogmerk om verpligte en standaard kontrakbepalings voor te skryf vir ooreenkomste wat in terme van die Wet aangegaan word. Hierdie oormatig wye bewoording sal die outeur se vermoë beperk om die vrugte van sy of haar arbeid deur lisensiëringsooreenkomste te ontgin. Die Wetsontwerp bepaal verder dat kontraktuele bepalings wat gemik is op die inperking van die wye uitsonderings op en beperkings van outeursreg onafdwingbaar sal wees. Die outeur se vermoë om sy of haar werk te kommersialiseer word hierdeur belemmer.

5. Verswakking van morele regte

Artikel 19 van die Wetsontwerp stel wysigings voor aan Artikel 20 van die Wet, wat die outeur se morele regte bepaal. Die voorgestelde wysiging ontneem outeurs van die geleentheid om hulle op hul morele regte te beroep indien enige van die outeursreg-uitsonderings of -beperkings ter sprake is. Hierdie beperking is ongemotiveerd en behoort summier geskrap te word.

6. Impak op die boekuitgewersbedryf in Suid-Afrika

PEN Afrikaans is uiters besorgd oor die feit dat daar versuim is om ’n onafhanklike ekonomiese impakstudie te doen oor die moontlike uitwerking van die beoogde instelling van ’n outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes. Ervarings in ander regsgebiede dui op ’n potensieel rampspoedige ekonomiese impak op die boekuitgewersbedryf. Met inagneming van die simbiotiese verhouding tussen die twee partye, sal die skade aan uitgewers noodwendig ook skrywers tref, veral dié skrywers wat hul bestaan maak uit die skep van materiaal vir opvoedkundige en akademiese doeleindes.

PEN Afrikaans verskil sterk van die volgende stelling in die Memorandum oor Doelwitte van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg:

“Daar word ook in die vooruitsig gestel dat die voorgestelde wetgewing outeurs […] sal beloon en aanspoor.”

In vele opsigte is die teenoorgestelde waar. Die Wetsontwerp stroop skrywers van hul regte en ontneem hulle van geleenthede om met hul skryfwerk vergoeding te verdien. PEN Afrikaans beveel sterk aan dat die Wetsontwerp heroorweeg en hersien word om die belange van outeurs en die kreatiewe bedrywe te beskerm en te dien.

Laat weet gerus indien u verdere terugvoer namens outeurs verlang. PEN Afrikaans sal graag aan verdere gesprek deelneem. ’n Effektiewe outeursregstelsel is van uiterse belang vir lede van PEN Afrikaans, en ook vir skrywers in die algemeen.

Die uwe,

Kerneels Breytenbach

Voorsitter: PEN Afrikaans

1 Art. 9(2) Berne Convention, Art. 13 TRIPS, Art. 10 WIPO Copyright Treaty.

 

Pen Afrikaans. Oor: Meertaligheid en moedertaalonderrig as die uitgangspunte van ‘n bemagtigende Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, en die beplande wysiging van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid

Monday, November 16th, 2015

Beste lid van PEN Afrikaans

Die aankondiging van die Universiteit Stellenbosch se voorneme om Engels die verstektaal aan dié instelling te maak het die bestuur van PEN Afrikaans genoop om ernstig oor die implikasies van so ‘n stap na te dink. Ons het ná baie oorleg die volgende tweetalige verklaring opgestel.

Deel dit asseblief wyd indien jy daarmee saamstem en laat hoor van jou as jy die saak anders sien.

Met vriendelike groete
Die Bestuur: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans eis meertaligheid en moedertaalonderrig as uitgangspunt vir onderwys in Suid-Afrika en ’n heroorweging van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid

[The English version of this declaration follows the Afrikaans below.]

Die openbare reaksie van skok op die voorgestelde afskaffing van Afrikaans as een van die verstektale aan die Universiteit van Stellenbosch het Afrikaans by ’n kruispad gebring waarin die ander inheemse tale hulle reeds van voor die dae van die apartheid-regime bevind. Een van Afrikaans se laaste verskansings as bevoorregte taal is nou daarmee heen, en die taal bevind hom so te sê in dieselfde bootjie as al die ander inheemse tale. Daar kan nie nou langer water getrap word nie oor die uiterste noodsaaklikheid vir die staat om te besin oor die meertalige aard van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

PEN Afrikaans doen hiermee ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om onmiddellik gelyke opvoeding vir alle Suid-Afrikaanse taalgroepe te verseker deur meertaligheid as uitgangspunt te aanvaar.

Ons eis dat moedertaal-onderrig die hoeksteen moet word van ons meertalige bestel, en dat die staat ophou om groot dele van ons bevolking te vervreem van gehalteopvoeding, hulle intellektueel te verarm en hulle te verdoem tot lewens van knegskap en armoede weens onbegrip van die taal wat op hulle afgedwing word, naamlik Engels.

Geen ekonomies, intellektueel en/of polities toonaangewende land in die wêreld dwing die meerderheid van sy bevolking om in ’n tweede of derde taal onderrig te word nie.

Ons betreur die feit dat die Universiteit van Stellenbosch se besluit om Engels te aanvaar as verstektaal, die Afrikaanse gemeenskap ontneem van ’n sentrum waar die onderwysers van die toekoms opgelei kan word om kennis deur medium van Afrikaans aan skoliere oor te dra. Ons is uiters bewus daarvan dat dit rampspoedige gevolge vir die groei en oorlewing van Afrikaans as gebruiks-, wetenskaplike, kunste- en handelstaal sal hê.

Ons skaar ons egter in hierdie besef by ons landgenote wat deur die apartheid-regime én die huidige regime die kans ontneem is om in hul moedertaal kennis te verwerf, hoofsaaklik weens ’n minderwaardige onderwysstelsel bedryf deur mense wat self nie Engels ten volle magtig is nie.

Ons eis dat die staat in ag neem dat die getal Engelse moedertaal-gebruikers ver oorskadu word deur die hoeveelheid moedertaal-gebruikers in sowel Zoeloe en Xhosa as Afrikaans. Dit is ewe noemenswaardig dat daar eweveel moedertaal-gebruikers van Setswana, Sepedi en Sesotho is as wat daar van Engels is.

Ons beskou dit as een van die wrangste ironieë in die geskiedenis van Suid-Afrika dat die regering toesien en meehelp dat Engels, die taal van die kolonialiseerder, die botoon voer bo al die inheemse tale, waaronder ons Afrikaans tel.

In dieselfde jaar dat die #RhodesMustFall-proteste daarin geslaag het om ’n standbeeld wat Britse imperialisme simbolies verteenwoordig, van die Universiteit van Kaapstad se kampus te verwyder, wil die regering kennelik toesien dat Rhodes se taal die enigste toegang tot kennis en demokratiese deelname word. Hierdie soort “dekolonisering” in Engels is ’n oksimoron en ’n voorbeeld van verdere selfkolonisering. Ons voorvaders is in hierdie land gedwing om die taal van die Britse koloniseerder te praat, maar in die jaar 2015 besluit ons vrywillig om aan te dring op tersiêre onderrig in uitsluitend daardie taal?

Dit is nou die tyd om hierdie proses te stuit. Om voort te gaan om Engels af te dwing op skoliere wat dit nie verstaan nie, is een vorm van verraad teenoor die burgers van ons land; om te verhinder dat aan opleidingsbehoeftes voldoen word in alle plaaslike tale, is verraad nie alleen teenoor hulle wat so hard geveg het om hierdie land van sy koloniale juk te bevry nie, maar ook die geslagte van die toekoms wat geen kans het om die kulturele erfenis van hul moedertaal te bestendig en oor te dra na volgende geslagte nie.

Die nuwe, voorgestelde taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch is een van die laaste stuiptrekkings van Afrikaans as taal van tersiêre onderrig as dit, soos al duideliker blyk, ook by Tukkies, die NWU en die UV dood verklaar gaan word. Ons eis dat die regering nie alleen die risiko’s hieraan verbonde erken nie, maar ook dat daar van owerheidskant rekenskap gegee sal word van wat gedoen gaan word om die enorme agterstand wat die ander inheemse tale reeds op tersiêre vlak het, uit te wis.

Ons eis voorts dat die lede van die Raad van die US, wat op 30 November 2015 oor die aanvaarding van hierdie voorgestelde nuwe taalbeleid moet besluit, hul stem daarteen sal uitbring omdat dit Engels bevoordeel ten koste van alle ander landstale. Ons eis dat die Raad oop kaarte speel oor die mate waarin finansiële oorwegings en politieke druk van owerheidskant agter die nuwe taalbeleid sit. Ons eis verder dat elke Raadslid sy of haar stem openbaar maak, sodat die breë publiek ten volle ingelig is omtrent die besluite wat namens hulle geneem word.

Ons doen ten slotte ’n beroep op die Suid-Afrikaanse parlement om, as saak van uiterste dringendheid, aan die parlementêre Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe opdrag te gee om die marginalisering van inheemse tale te ondersoek en ’n aanbeveling te maak oor die aanwysing van universiteite wat na die verskillende taalbelange kan omsien.

PEN Afrikaans

PEN Afrikaans demands that multilingualism and mother-tongue education become the cornerstones of the South African education system and that the language policy at Stellenbosch University be reconsidered

[Die Afrikaanse weergawe van hierdie verklaring is bo die Engels te lees.]

The public’s shocked reaction regarding the proposed abolition of Afrikaans as one of the default languages ​​at Stellenbosch University, has brought Afrikaans to the same crossroads already faced by the other indigenous languages ​before the days of the Apartheid regime. Afrikaans’ last bastion as a privileged language is now gone, and the language finds itself in more or less the same position as all the other indigenous languages. There can now be no more delays in the extreme necessity for the state to consider the multilingual nature of the South African society.

PEN Afrikaans hereby urges the South African government to immediately ensure equal education for all the South African linguistic groups by accepting multilingualism as a point of departure.

We demand that mother-tongue education should become the cornerstone of our multilingual dispensation, and that the state should stop alienating our people from quality education, impoverishing them intellectually and condemning them to lives of servitude and poverty due to a lack of understanding of the language forced upon them, namely English.

No economically, intellectually and/or politically prominent country in the world, forces the majority of its population to be taught in a second or third language.

We lament the fact that the decision of Stellenbosch University’s to accept English as the only default language of instruction is depriving the Afrikaans community of a centre where the teachers of the future can be trained to transfer knowledge through the medium of Afrikaans to pupils. We are very aware that this will have disastrous consequences for the growth and survival of Afrikaans as a language for common use, science, the arts and commerce.

Yet we hereby side with our compatriots in realising that the Apartheid regime as well as the current regime have denied them the opportunity to acquire knowledge in their mother tongue, mainly due to an inferior education system run by people who are not fully conversant in English.

We demand that government takes into account that the number of English mother-tongue speakers is overshadowed by the number of mother-tongue speakers of isiZulu, isiXhosa and Afrikaans. It is equally noteworthy that the number of mother-tongue users of Setswana, Sepedi and Sesotho is approximately equal to that of English.

We regard it as the wryest of ironies in the history of South Africa that the government ensures and assists that English, the language of the coloniser, will prevail over all the indigenous languages, amongst which we list Afrikaans.

In the same year that the #RhodesMustFall protests have succeeded in removing a statue, symbolically representing British imperialism, from the University of Cape Town’s campus, the government wants to ensure that Cecil John Rhodes’ language becomes the only access to knowledge and democratic participation. This kind of “decolonisation” in English is an oxymoron and is an example of further self-colonisation. Our ancestors in this country have been forced to speak the language of the British colonisers, but in 2015 we decide to voluntarily insist that tertiary teaching be exclusively delivered in that language?

Now is the time to stop this process. To continue forcing English onto pupils who do not understand it, is one way of betraying the citizens of our country; to prevent our training needs from being fulfilled in all local languages, is a betrayal not only to those who have fought so hard to liberate this country from the colonial yoke, but also of future generations who are denied the opportunity to consolidate and transfer the cultural heritage of their mother tongue to the next generations.

The new proposed language policy of the Stellenbosch University is the last convulsion of Afrikaans as a language of instruction after it will most probably be pronounced dead as a language of tertiary instruction at the University of Pretoria, The North West University and the University of the Free State. We demand that the government not only acknowledge the risks associated with it, but also that government give account of what will be done to eradicate the enormous backlog that the other indigenous languages ​​already have at tertiary level.

We demand that the members of Stellenbosch University’s Council, who need to vote on this policy on 30 November 2015, cast their votes against the proposed language policy which promotes English at the expense of all indigenous South African languages. We insist that the Council make public to what extent financial considerations and political pressure from the government played a role in forging the new language policy. We further demand that each Board Member makes public his or her vote, so that the general public can be fully informed about the decisions made on their behalf.

We finally call on the South African parliament to instruct, as matter of extreme urgency, the parliamentary Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious and Linguistic Communities to investigate the marginalisation of indigenous languages and to make a recommendation on the appointment of universities that can assume proper responsibility for these linguistic interests.

PEN Afrikaans