Charles Baudelaire – vertaal deur Peter Louw
Gesprek
Jy is mooi soos herfslig, pienk en klaar!
Maar in my styg die triestige gety, en bring
by eb, op my stuurse lippe
van sy bitter slik die brandende herinnering.
– Vergeefs gly jou hand oor my smagtende bors;
wat jy soek, liefling, is ‘n stad verinneweer
deur die klou en tand van jou geslagsgenote.
Vergeet my hart; die ondiere het dit verskeur.
My hart is ‘n paleis deur die gepeupel opgemors;
dáár word gesuip, gevloek, die skilderye afgeruk!
– ‘n Soet parfuum bedek jou keel en bors …
O Skoonheid, gésel van siele, wie is teen jou bestand?
Laat jou vurige oë, helder soos feeste, die reste
van die diere se feesmaal tot as verbrand!
(Causerie. Charles Baudelaire)
Die albatros
Uit verveling lok matrose soms met aas die albatrosse,
die manjifieke reuse-voëls van die oseaan,
wat, trae reisgenote, die skepe tydsaam volg
wat oor die diep en bitter golwe gaan.
Skaars beland hy op die planke
of hierdie koning van die lug, nou lomp en selfbewus,
sleep sy wit, majestueuse vlerke
wat soos roeispane langs sy flanke rus.
Hierdie gevleuelde reisiger, hoe potsierlik is hy skielik!
Hy wat so mooi was, hoe kwesbaar, lomp en bang!
‘n Seeman druk sy pyp in die magtelose snawel,
‘n ander koggel hinkend die dier se sukkelende gang.
Soos die digter is hierdie prins van wolke
wat op storms vaar en vir die boogskutter lag;
maar verban tot die grond, tussen die grynsende gepeupel,
word sy vlerke ‘n belemmerende vrag.
(L’Albatros. Baudelaire)
Die mens en die see
Vrye mens, jy bly altyd aan die see getrou,
die see is jou spieël; jy herken jou eie gees
soos sy golwe hom onophoudelik ontvou;
jou siel se afgrond word insgelyks gevrees.
Jy duik en speel graag in daardie element
want in haar onbeheerbare rumoer
vergeet jy soms jou eie kontinent
wat onrustig in sy dieptes roer.
Julle is albei donker, afgesluit;
mens, wie kan jou gees se grense ken,
of, see, jou verste skatte buit?
Hoe moeilik om jul guns te wen!
En tog het, in wederkerige beleg,
julle genadeloos op land en boot
deur die eeue teen mekaar geveg –
onversoenbares, broers tot in die dood!
(L’Homme et la mer. Baudelaire)
Swaarmoedigheid
Wanneer die lae en swaar wolke soos ‘n doodskis
die siel omsluit as prooi van lang depressies,
en die grys horison die wye uitsig blus
met dowwe lig, triestiger as die nagte;
wanneer die aarde verander in ‘n klam gevangenis
waar hoop soos ‘n verwarde vlermuis
met tenger vlerke teen die mure bots
of sy kop teen die vermolmde dak verpletter;
Wanneer die reën met sy enorme sleepsel
in strepe die tralies van ‘n tronksel giet,
en ‘n harige horde duiwelspinnekoppe
hul walglike drade in ons koppe spin,
ontspring uit die klokke ‘n dringende gebeier
wat soos ‘n ontsaglike skreeu teen die lug weerkaats,
asof swerwende siele van alle eeue
hul frustrasie en eindelose lot bekla.
En lang begrafnisstoete met brandende kopligte
begin stadig in my siel beweeg; oorwonne Hoop
moet kniel, en Neerslagtigheid, grynsende despoot,
plant op my geboë hoof sy swart oorwinningsvlag.
(Spleen. Baudelaire)
‘n Kadawer
Onthou jy, skat, wat ons gesien het
op ons vakansiewandeling daardie somerdag –
om ‘n draai van die pad was ‘n walglike kadawer
op ‘n bed van kieselstene, soos ‘n monster wat verwag,
bene-in-die-lug, soos ‘n goedkoop hoer,
brandend en swetend, ‘n giftige hel,
die geswolle pens ‘n stinkende ballon
skaamteloos ten toon gestel.
Die son het warm gestraal op hierdie geil verrotting,
soos bredie, om pruttend sag te kook tot ‘n skelet,
en veelvoudig terug te gee wat die natuur
tydsaam oor jare saamgebondel het.
Die lug het gesien hoe hierdie manjifieke kreng
oopgaan soos ‘n blommeveld.
Die stank was só, jy’t gedink
jy sal flou word van die reukgeweld.
‘n Horde brommers het op die maag baljaar
waaruit swart bataljonne, oorlaai met buit,
gestroom het soos dik jellie
oor die ontbindende flenters huid.
Alles styg en daal, soos golwe,
of roer met knarsgeluide en beef
asof die karkas, gevul met nuwe asem,
deur vermenigvuldiging herleef.
‘n Vreemde musiek het dit geword,
soos lopende water of die wind oor die vlei,
of graan ritmies deur die boer geskud
wanneer hy uit die kaf die goue koring skei.
Die beelde huiwer, die tyd se prooi,
soos op die vergete doek ‘n tekening
ontstaan, en deur die kunstenaar voltooi
word suiwer uit herinnering.
Agter die rotse hou ‘n rondloperteef
met kwaai oë ons bekommerd dop,
ons ongenooide teenwoordigheid
‘n beletsel om verder te peusel aan haar tjop.
– En jy sal soos hierdie vullis wees,
hierdie afskuwelike gemors,
ster van my oë, son van my intieme wese,
jy, my engel en my liefdesdors!
Ja! Só sal jy word, my koningin en redding,
ná die laaste sakrament bedien is,
wanneer jy, onder die gras en die vet blombeddings,
verskimmel tussen die gebeentes.
Vertel dan, liefling, aan die maaiers
wat jou met soene laat vergaan,
dat die vorm en hemelse essensie
van my gestorwe liefde voortbestaan.
(Une charogne. Baudelaire)
Die uile
Onder die skadu van die taksusbome
sit die uile, van die voetpad weggekeer,
soos Oosterse gode met vorsende rooi oë
onbeweeglik in ‘n ry. Hulle mediteer.
Só sal hulle roerloos wag, tot oplaas
die triestige uur wanneer die skemering
die kantelende son verplaas
en weer haar onderbroke skadu’s bring.
Hul peinsende houding leer die filosoof
om onrus en beweging af te wys
en elke begeerte uit te doof;
Ons, bedwelm deur ‘n vlugtige illusie,
betaal ons lewe lank die prys
dat ons wou verander van posisie.
(Les hiboux. Baudelaire)
Musiek
Soms gryp musiek my soos die see!
Na my yl ster onderweg
onder ‘n plafon van mis, of in eteriese lug
hys ek die seile op die pleg;
Met my bors ‘n boegbeeld in die wind
en my longe soos seile gevul,
ry ek die golwe se steiltes en valleie
wat die nag onophoudelik onthul;
Ek voel in my al die passies vibreer
wat ‘n skip in nood moet voel
of die goeie wind, die storm wat ek laveer
en die enorme deining wat onder my spoel
en sus. Maar soms weerspieël ‘n gladde windloosheid
my wanhoop en neerslagtigheid.
(La Musique. Baudelaire)
Die vyand
My jeugdae was ‘n stormagtige verhaal
van reënvlae en min sonlig wat my oes
kon voed; só erg die donderweer en hael,
die meeste vrugte is reddeloos verwoes.
En noudat ek my gees se herfsdae bereik
moet ek met graaf en hark verwoed
die deurweekte land herstel; diep dongas pryk
soos grafte oopgespoel deur die besete vloed.
En wie weet of hierdie nuwe blomme van my drome
in hierdie aarde, skoongewas deur waterstrome
die mistieke voedsel vind om te floreer?
Rampsalig! Ons lewens word deur die tyd geslag
en die verborge vyand wat ons hart verteer
vind in ons bloedverlies sy voedingskrag!
(L’Ennemi. Baudelaire)
Spirituele daeraad
Wanneer die glinsterende daeraad bleekrooi gly
met die knaende Ideaal oor die kamer van orgieë,
word deur die werking van wraaksugtige misterieë
uit die bedwelmde dier ‘n engel bevry.
Die geestelike horison van onbereikbare asuur
gaan oop vir die mens wat nog droom in sy pyn,
maar gelok deur dié onpeilbare ravyn.
Net so, liewe Godin, blink jy helder en puur,
en sweef oor die rokende puin van onnosel lus
jou beeld helderder, sterker en sjarmant
waar ek wyd-oog gehawend lê en uitgebrand.
Die son het die vlam van die kerse geblus;
net so is jou gestalte, altyd triomfantelik,
stralende siel, soos die son onsterflik!
(L’Aube Spirituelle. Baudelaire)
Graf
As op ‘n soel en somber nag
‘n weldoener as ‘n Christelike gawe
agter die een of ander bouval
jou jeugdige liggaam sou begrawe,
wanneer die maagdelike sterre
hul oë, swaar van drome, sluit,
sal die spinnekop sy web daar span
en die adder haar geel eiers spuit;
die hele jaar lank sal jy oor
jou vervloekte skedel
die hartseer huil van wolwe hoor,
en hoe die honger hekse skree
waar wellustige ou mans baljaar,
en boewe hul komplotte smee.
(Sépulture. Baudelaire)
Die droom van ‘n nuuskierige
Ken jy, soos ek, ‘n goeie pyn wat mens verras
met die fyn genieting wat dit wek?
Ek was sterwend, en by my siel waar liefde was,
het Verskrikking en Verlange ingetrek;
Angs was bevriend met sprankelende hoop;
Namate die uurglas leeggeloop het
hoe intenser en lekkerder het die pyniging verloop,
want my hart is stadig uit sy lyflikheid ontset.
Ek was soos ‘n kind wat ongedurig wag vir die gordyn
voor ‘n vertoning, sy hartstogtelike oë pal
op elke roering, tot die koue waarheid uiteindelik verskyn:
Ek was dood, en die verskriklike nuwe dag
het my omvou; maar was dit al?
Die gordyn was op, maar ek het nog gewag.
(Le Rêve d’un Curieux. Baudelaire)
Die dood van die armlastiges
Dit is die dood wat troos, helaas, en ons laat leef;
die doel van die bestaan, en enigste hoop
wat soos ‘n elikser opkikker, of voor ons sweef
en moed gee om tot die aand te loop;
Deur die stormweer, sneeu en ys
is dit die ligkol aan die donker horison,
die beroemde herberg waarna die Boek verwys,
waar mens kan eet en slaap en tot verhaal kan kom.
Dit is ‘n engel uit wie se towerhand
ekstatiese drome val, vervulling van elke wens,
en ‘n bed waar ons kan lê soos aan ‘n strand;
glorie van die gode, graangevulde skuur en sens,
en geldbeurs vir die armes, hul antieke vaderland,
die oop deur waaraan onbekende ruimtes grens!
(La Mort des Pauvres. Baudelaire)
Die vrolike lyk
In ryk leemgrond deurwoel van slymerige slakke
wil ek diep grawe om my beendere uit te sprei
en te slaap soos ‘n haai in ‘n see van wrakke,
in die vergetelheid van humus, sand en klei.
Geen testamente en grafstene om my naam te verduur;
eerder as om van die wêreld ‘n traan te smeek
sou ek, nog lewend, die kraaie wil stuur
om my walglike lyf in stukkies te breek.
O wurms! Dowe en blinde kamerade,
kyk, ‘n vrolike dooie nader vryelik jul kring;
O wellustige filosowe, kinders van verrotting,
deurwoel my ruïne sonder genade
en sê of julle ‘n erger foltering
vir hierdie gepynigde ou lyk kan bring?
(Le Mort Joyeux. Baudelaire)