Posts Tagged ‘Petra Muller huldiging’

Huldeblyk: Petra Müller

Saturday, June 26th, 2021

 

 

 

 

Petra Müller

Op ‘n aand bel Johann de Lange my. Ek is reeds in die bed. Hy lees vir my uit Die aandag van jou oë. Dis 2002. Petra se bundel het pas verskyn.

Hierdie een lees hy eerste:

 

Glas

Op reis

In Tarragona het ek toe gesien

Hoedat die vlam die kwarts bedien

Totdat die glas begin te vloei

En uit die asem van die maker swel

As weerloos liggevulde bel

Wat afskulp sonder grein

Of naat.

 

Jou liefde het my so verlaat.

 

En toe volg hierdie twee:

 

Naelvlies

Die vliesie langs jou nael was ingeskeur.

Jy moenie so op straat verskyn nie

Want die klein verwaarlosing

Sal so ‘n sig soos myne

By die groter bloeding bring.

 

Dit mag gebeur dat ek jou invra na die repie pyn

Wat uit die harde horingnael terugloop in jou sagte vlees.

Jy sal die lieg wel vind. Gaan weg en maak jou anders seer

Waar ek dit nie kan sien nie, want die lewe langs jou nael

Is oop en openbaar en in sy senu kaalgestroop:

Hoe sal jy my dáárvan genees?

 

Posbode

Die dood staan dikwels stil om ‘n adres

Te bekyk, of ‘n vroevy te pluk.

Hy het ‘n mankebeen, en dra sy leersak

Aan ‘n ysterarm. O, geduldige een!

En die brief kom altyd betyds aan,

Per besteller wie se mooi tenoor

Soggens deur ons huis trek as hy ligvoet

Met die trappies afdaal op ‘n melodie van Gluck.

 

En net vir een oomblik weet ons,

Verstar tussen narsing en tjienkerientjie,

Hóé dit sal wees sonder ons verlore

Klein Euridikie.

 

Op daardie oomblik kry ek koue rillings. Een ander bundel het my fisies intens geraak en dit was Birthday letters van Ted Hughes wat in 1998 verskyn het. En ons weet wat Emily Dickinson geskryf het oor die ware gedig.

So het ek indertyd oor haar geskryf:’

 

Vanaf haar eerste vers in Obool is sy daar met ‘n eiesoortige, elegiese aanslag. Sy treur oor die stilte wat nie opgehef kan word nie. Haar ander bundels is Patria, Liedere van land en see, My plek se naam is waterval en Swerfgesange vir Susan en ander. Haar poësie het dikwels te make met die dood, met die opheffing en beswering van verlies. Ook het sy ons digkuns, soos Breytenbach met sy Oosterse gedigte, verryk met die Sjinese herdigtings en verwysings na ander maniere van die digkuns bedryf.

 http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/petra-muller-die-aandag-van-jou-oe-2002.html 

Besoek 26 Junie 2021

 

Een van die aangrypendste elegiese verse is deur haar geskryf, opgeneem in haar debuut Obool:

 

Nico

Nico Müller, verdrink op 5 November 1961 – Ter herinnering

 

Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

Kyk, die jaar is dragtig –

Bome swel, riviere was

En mispels gooi hul vrugte op die grond.

Die jaar het al sy rykdom reeds gebaar

En bly nóg dragtig, swaar met jaar vir jaar

Se steeds herhaalde vrug.

Die dae lê soos jong granate in ons hande, seun;

Elke pit bloei rooi.

 

Ons het jou op die stam geënt.

Ons het jou in die grond geploeg.

Ons het jou naam by dag en nag geroep

Tot selfs die voëls dit verder dra,

En jý, met al jou ongeskonde vreugdes

Van hand, van voet en mond,

Verklaar jou daagliks onafhankliker,

Groei altyd vaster in die honger grond.

 

Die wintergras word wit

En om die heuwels loop die paaie

Na alle verre oorde aan.

 

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.

Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

 

Die musikaliteit van haar verse is opvallend en die raaksien van klein blomme of plantegroei. En die verlies aan hierdie broer loop soos ‘n swart draad deur haar bundels.

 

Om die gedagte van geel (2012) staan daar:

 

selfs ’n gewone mens kan herinnering afskil:

die yslike nawellemoen

wat sy vorm ook

tot in sy afskil hou

 

Van haar het onder meer die volgende digbundels verskyn: Obool (1977), Patria (1979), wat met die Eugène Marais-prys bekroon word, Liedere van land en see (1984), My plek se naam is Waterval (1987), Swerfgesange vir Susan (1997) en Die aandag van jou oë (2002), waarvoor sy in 2005 die Hertzogprys ontvang het. Daarna verskyn ’n bundel gedigte in Engels, Night Crossing (2006). Om die gedagte van geel verskyn in 2012.

Van haar belangrikste Prosatekste:

 

1962 Verlore vallei, Dagbreek-Boekkring

1963 Die windskerm, Human & Rousseau

1980 Werf in die rûens, Tafelberg

1982 Voëls van die hemel, Tafelberg

1993 Die dwerg van Infanta en ander verhale, Tafelberg

1995 In die omtes van die hart, Tafelberg

2007 Desembers (saamgestel deur Rachelle Greeff), Tafelberg

Daar is eweneens ‘n handvol vertalings en sy het ook onder die naam Magriet Smalberger geskryf.

In hierdie tyd dan net ‘n vers vir haar:

 

Die Tao swyg

 

vir Petra Müller

Vanoggend breek die stad oop

soos ‘n stink, rooi eier

met die skel geluide van werkers

bouend en verwend alkant-selfkant.

‘n Buurvrou in ‘n haak-en-steekverhouding

met haar lover teen die ruit uitklappend

en ‘n blaffende hond in die park

deel van die mise-en-scène.

 

Langs my lê The Tao is silent.

Die gedagtegang van die wysgeer verklap

alles van die wêreld

ópgevang in die palm van my hand:

‘n hierosgamos.

 

Al hierdie dramas speel af

soos in ‘n swak geredigeerde film

met die regisseur wat voor die kamera inhardloop.

Ek hoor jou lag in die coulisse.

 

Wyse vrou, die aandag van jou oë priemend,

mis ek in hierdie sonderlinge dae sonder rus.

Jy het stil geword, vertel hulle,

die stories van jou Overbergse jeug,

‘n polisiemanvader en jou broer se verdrinking,

ja, jy wat hom uit die voldonge stilte wou red,

soos om ‘n gedagte van geel, sal ons bly oorvertel.

 

Stadige stories draal uit jou ryk onbewuste.

 

Die telefoonpale tússen ons gedigte

verraai ‘n samesyn, ‘n begrip wedersyds indertyd.

O geloofde digter, uit die omtes van my hart,

 

hierdie swerfgesang vir jou oorgang

om voor te lees vir al die boerefilosowe,

storiepraters en filmmakers:

daardie vesels van jou silwer stiltes.

 

Net een beeld, een footage behoef ek nou:

geel canola voor oestyd in Swellendam.

 

*

 

Geloofde digter, mag jy veilig reis.

 

Joan Hambidge