Posts Tagged ‘Philip Roth’

Desmond Painter. Hennie Aucamp se Oor en weer geresenseer

Monday, July 19th, 2010
Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

My resensie van Hennie Aucamp se gebundelde onderhoude, Oor en weer, het vanoggend in Die Burger verskyn. Dit is bykans onmoontlik om hierdie of enige ander boekresensies op hulle webblaaie te vind; en die weergawe wat op die blogruimte Boekeblok verskyn is net ‘n massa woorde, sonder enige paragraafbreke… So ek plaas dit maar hier ook — dan kan die nie-Kapenare dit darem ook lees! Hierso is hy:

Onderhoude met allerlei “bekendes”, oppervlakkig gefokus op hul besittings, prestasies en dikwels banale (self-)insigte, word vir jare al soos kulturele kitskos deur populêre tydskrifte voorgesit. Afrikaanse tydskrifte is geen uitsondering nie. Gesprekke met glanspaartjies sorg vir beter verkope, en ’n skrywersonderhoud in só ’n publikasie dien as goeie ­bemarking vir ’n nuwe boek.

Tog kan deeglike, deurdagte onderhoude met kunstenaars, intellektuele en politieke figure fassinerende leesstof bied. Soos Aucamp tereg in sy inleiding tot hierdie bundel onderhoude aandui, die onderhoud kan as ’n “essay geskryf deur twee” gelees word. Dit is dus ’n literêre genre in eie reg, een met sy eie konvensies, moontlikhede, en voorbeelde van voortreflikheid.

Om sodanige voortreflikheid te ervaar, lees gerus Philip Roth se gesprekke met skrywers in Shop Talk: A Writer and His Colleagues and Their Work. Of Daniel Barenboim en Edward Said se gesprekke in Parallels and Paradoxes: Explorations in Music and Society. Ek noem ook die onderhoudbundels van Michel Foucault – ’n Franse filosoof wat die ­onderhoud ingespan het as ’n volwaardige ruimte vir die uitbou van sy idees, naas die boek, essay en artikel.

Naas literatore en ander skrywers vind ook ’n breër leserspubliek skrywersonderhoude dikwels insiggewend. Dink maar aan die goeie bywoning van openbare gesprekke met skrywers op kunste- en literêre feeste, of die gewildheid van Daniel Hugo se onderhoude met digters oor die radio. Behalwe dat sulke gesprekke die leser insigte gee in die leefwêrelde en verwysingsraamwerke van ’n bepaalde skrywer, verskaf die goeie onderhoud ook literêre genot. Hier ervaar die leser en luisteraar die woordkunstenaar immers direk aan die woord.

Wat vakkundige studie en publikasie in boekvorm betref, is die onderhoud as genre in Afrikaans (soos briefbundels en dagboeke) egter ’n literêre stiefkind. Dat Aucamp in hierdie verband as bydraer en bloemleser weereens betrokke is by die agterhaling en bestendiging van ’n genre in Afrikaans behoort niemand te verras nie. Hy is immers bekend daarvoor dat hy literêre stiefkinders onder die vlerk neem en grootmaak. En mooi grootmaak ook: Dink maar aan sy bloemlesings en sy eie gepubliseerde dagboeke.

In die inleiding tot Oor en weer skets Aucamp die stand van die genre bondig, maar bevredigend. Volgens hom is die onderhoud “waarskynlik een van die twintigste eeu se belangrikste bydraes tot sowel die joernalistiek en die letterkunde.” Ek sou wou byvoeg: ook tot die sosiale wetenskappe.

Aucamp verwys na publikasies soos Playboy en The Paris Review, bekend vir hulle onderhoude, maar sonder ook plaaslike hoogtepunte uit: Rykie van Reenen se onderhoud met Cliff Richard; Amanda Botha se onderhoud met Marlene Dietrich; André le Roux s’n met Karel Schoeman en Annesu de Vos.

Die leser moet in gedagte hou dat die oorspronklike plek van publikasie bepalend (en dikwels beperkend) was vir die vorm van die onderhoude wat in Oor en weer opgeneem is. Omdat baie van die stukke in dagblaaie verskyn het, is hulle relatief kort, en neig na die vraag-en-antwoord-formaat, eerder as wat hulle volledige tweegesprekke, of essays geskryf deur twee, kon word.

Ook in dagbladonderhoude is Aucamp gelukkig deurgaans deur uitstekende onderhoudvoerders bedien. Francois Smith kry dit byvoorbeeld reg, in ’n ­onderhoud wat in Die Burger verskyn het, om met sy intelligente, analitiese vrae iets tot stand te bring wat veel meer geword het as bloot promosiemateriaal vir die bundel In die vroegte, maar ’n stukkie kultuurteoretiese besinning in die klein. Sonder om aan toeganklikheid in te boet. Dieselfde geld onderhoudvoerders soos Herman Wasserman, Abraham H. de Vries en ander. Baie van hierdie onderhoudvoerders is literêr uitstekend onderlê en boonop deurwinterde joernaliste. Bygesê, Aucamp se vermoë om aforisties te skryf dra natuurlik ook by daartoe dat selfs kort onderhoude met genoegsame ideë- en taalinhoude gelaai word.

Van die 16 onderhoude het nie minder nie as 11 sedert 2000 verskyn, en slegs 2 voor 1995. In hierdie verband speel die internet ’n deurslaggewende rol. Veral LitNet moet genoem word, waar vyf van die onderhoude oorspronklik verskyn het. Die ­internet maak meer en langer onderhoude in Afrikaans weer moontlik, en dit is ’n positiewe ontwikkeling. Maar natuurlik, selfs materiaal wat op die internet verskyn, smeek om bestendiging in boekvorm.

Feitlik al Aucamp se kreatiewe uitinge word aangeroer: die kortverhaal, kabaret, gedigte, dagboeke en sy rol as bloemleser. Daar is ook interessante besinnings oor kwessies soos taal, seksualiteit en die ouderdom. Aucamp is ’n boeiende en vrygewige gespreksgenoot. Hierdie kwaliteite word in Oor en weer uitstekend vergestalt.

Flou seksbeskrywings

Wednesday, December 2nd, 2009
Mmm, nou ja toe.

Mmm, nou ja toe.

Eergister is die wenner van “Bad Sex Award” aangekondig en vanjaar is die Frans-Amerikaanse skrywer Jonathan Little daarmee bekroon. Dit was glo die mitologies-geïnspireerde sekstoneel op ‘n guillotine in sy roman Les bienviellantes (wat pas in Engels vertaal is as The Kindly Ones) wat aan hom dié gewraakte toekenning besorg het. Ironies genoeg het Little in 2006 die Goncourt-prys, Frankryk se vernaamste toekenning vir letterkunde, met hierdie roman verwerf.

Die groot verassings was egter sowat ‘n week gelede toe die kortlys van tien nominasies bekend gemaak was, want hemel, hoe het die helde nie geval nie! Van gunsteling vir vanjaar se Nobelprys vir Letterkunde tot gunsteling vir die prys vir swak-geskryfde sekstonele … Dis nou einste Philip Roth. (Lees gerus op The Guardian se webblad die berig oor die kortlys.) Ewe breëskouer pronk Roth tussen ander bekroonde name soos John Banville (Booker-prys wenner), Jonathan Littell (soos reeds genoem, Goncourt-prys wenner), Paul Theroux (Whitbread-prys wenner) en Amos Oz, wat vanjaar die beroepswenners se gunsteling was vir die Nobel-prys. Nog ‘n verrassende naam op dié gevreesde lys is Nick Cave, bekende sanger en skrywer van die roman The Death of Bunny Munro.

“The idea behind the bad sex prize is to draw attention to the crude, tasteless, often perfunctory use of redundant passages of sexual description in the modern novel, and to discourage it,” het Auberon Waugh, sameroeper van die keurkomitee (of is dit “keerkomitee” in dié geval?) volgens The Guardian se beriggewer gesê.

Nietemin, in The Literary Review word die passasie uit Roth se nuutste roman, The humbling, wat direk volg op die insident waar die hoofkarakters, Simon en Pegeen, ‘n meisie by ‘n kroeg naderhaak en haar dan in hul woonstel verlei tot ‘n driepartystaat van erotiek en gewaande wellus, voorgehou as die gedeelte wat by uitstek kwalifiseer as flou seksbeskrywing. Dit lees soos volg: “This was not soft porn. This was no longer two unclothed women caressing and kissing on a bed. There was something primitive about it now, this woman-on-woman violence, as though in the room filled with shadows, Pegeen were a magical composite of shaman, acrobat, and animal. It was as if she were wearing a mask on her genitals, a weird totem mask, that made her into what she was not and was not supposed to be. There was something dangerous about it. His heart thumped with excitement – the god Pan looking on from a distance with his spying, lascivious gaze.” En dan is daar iewers ook nog sprake van ‘n groen dildo.

Sjoe, maar nou ja. In Afrikaans het ons natuurlik self ‘n paar kandidate vir ‘n soortgelyke toekenning. Of wat praat ek alles? So, hoe lyk dit – is julle lus om ‘n paar nominasies te pleeg nie? Veiligheidshalwe plaas ek eerder die volledige kortlys onderaan die Nuuswekker vanoggend, aangesien ek liefs nie ‘n vers as voorbeeld van swak beskryfde erotiek sou wou waag nie … (Terloops, al die genomineerde fragmente kan hier gelees word. Maar, onthou, jy doen dit op eie verantwoordelikheid.)

***

Intussen is dit gisteraand bekend gemaak dat De Papieren Man vanjaar met die “Dutch Bloggie” bekroon is. Dié toekenning gaan vir die beste Nederlands-Vlaamse literêre webtuiste. De Contrabas was die vorige houer van dié titel. Veels geluk aan Dirk Leyman en Hans Cottyn met dié prestasie. En vir die drie manne van De Contrabas: Jammer, julle. Nogtans bly jul ongelooflike blad vir ons – en vele ander – ‘n inspirasiebron.

***

Op ons eie blad is daar vanoggend sommer baie nuwe leesstof: In die brieweboks kan jy Willem de Vries, verslaggewer van Die Burger, se berig oor die pasafgelope Versindaba te lese kry, terwyl Yves T’Sjoen ‘n blog-inskrywing oor die stadsdigters van Gent en Antwerpen geplaas het; Charl-Pierre Naudé opper ‘n paar belangrike punte oor die stand van ons digkuns na aanleiding van die fees en die pad vorentoe terwyl Andries Bezuidenhout ons ietsie meer vertel van sy reis-indrukke in Duitsland. Dan het ons ook ‘n pragtige brief van Una Beekman ontvang waarin sy vertel van haar Versindaba-belewenisse. Hoe lyk dit? Wil jy nie ook vir ons skryf hoe jy die fees ervaar het nie?

En daarmee eers weer groet. Die week is waaragtig alweer halfpad verby …

Mooi bly.

LE

 

Kortlys vir die “Bad Sex Award”

 

Paul Theroux vir “A Dead Hand”

Nick Cave vir “The Death of Bunny Munro”

Philip Roth vir “The Humbling”

Jonathan Littell vir “The Kindly Ones”

Amos Oz vir “Rhyming Life and Death”

John Banville vir “The Infinities”

Anthony Quinn vir “The Rescue Man”

Simon Van Booy vir “Love Begins in Winter”

Sanjida O’Connell vir “The Naked Name of Love”

Richard Milward vir “Ten Storey Love Song”

 

Philip Roth wen WELT se Literatuurprys

Tuesday, October 6th, 2009
Philip Roth

Philip Roth

Pas het Welt Online bekend gemaak dat Philip Roth (1933) vanjaar die wenner is van die WELT-Literatuurpreis. Hierdie toekenning geskied enkele dae voor die aankondiging van die Nobelprys vir Literatuur wat eerskomende Donderdag om 13:00 in Stockholm aangekondig word. Roth word allerweë – ook volgens kommentators op hierdie webblad – as een van die gunstelinge beskou om vanjaar met “Die Grote” bekroon te word.

Volgens die beoordelaars is Roth reeds vir die afgelope vyf dekades een van die reuse van wêreldliteratuur. Alhoewel hy deurgaans die tragedie van die menslike bestaan met sy romans belig, geskied dit dikwels ook met humor en patos, het die jurie gesê.

Die paneel beoordelaars het bestaan uit Lord George Weidenfeld (Britse uitgewer), Bernard Schlink, bekende skrywer van The reader,  asook drs.  Rachel Salamander en Tilman Krause, Literatuur-redakteur van WELT. Die prysgeld beloop vanjaar €10,000. Vorige wenners van dié gesogte prys sluit onder andere Daniel Kehlmann (2007), Rüdiger Safranski (2006), Yasmina Reza (2005), Amos Oz (2004), Jeffrey Eugenides (2003), Leon de Winter (2002), Pat Barker (2001), Imre Kertész (2000) en Bernhard Schlink (1999) in.

Mmm, inderdaad lyk dit asof vanjaar die kroonjaar vir Roth gaan wees, of hoe?

***

Met al die bespiegelings rondom die Nobel-prys vir Letterkunde het ons heeltemal vergeet dat die wenner van vanjaar se MAN Booker-prys vanaand tydens ‘n geil geleentheid in London se Guilhall bekend gemaak word. Volgens die beroepswedders Ladbrokes is Hilary Mantel steeds die 8/13-gunsteling met haar roman Wolf Hall. En soos verwag, sal JM Coetzee nie teenwoordig wees nie. Indien hy vanaand geskiedenis maak deur die eerste skrywer te word om dié gesogte prys ‘n derde keer te verower, sal sy redakteur dit namens hom in ontvangs neem. Die volledige berig kan op The Guardian se webblad gelees word. Lees gerus ook die vorige Nuuswekker wat hieroor geskryf is.

***

En ai, hoe heerlik is dit nie om ons bloggers weer terug te verwelkom na hul veelvuldige omswerwinge nie … So het Andries Bezuidenhout ‘n kostelike stuk geplaas oor sy wedervaringe tydens die pasafgelope Aardklop-fees, terwyl Ronél Nel se vertelling van Oopmond  jou omtrent laat hyg van plesier; wat ‘n geleentheid moes dit nie gewees het nie! Sjoe, 600 mense … Welgedaan! Net so is Ilse van Staden se stuk oor poetries wat geskiet (moet) word, skreeusnaaks. En nog is het einde niet: Jan Pollet van De Contrabas se Nuusbrief oor verwikkeling daar bo in die ander halfrond is ook pas geplaas.

Ten slotte, nog ‘n treffende aanhaling uit Yves T’sJoen se stuk waarna ek gister verwys het: “Het streven van de dichter bestaat erin het ik en de ruimte van het volledig leven in taal te vatten, vanuit een grenzeloos geloof in de kracht van het woord dat identiteitsbepalend is. Maar ook, en misschien nog meer, in de overtuiging dat zwijgen uiteindelijk niet verbeterd kan worden.”

Lekker lees en maak maar gerus vandag asof jy ‘n Duracell-hasie is wat net aanhou en aanhou en aanhou …

Mooi bly.

LE

Nobelprys – Wat sê die beroepswedders?

Friday, October 2nd, 2009
Amos Oz

Amos Oz

Na aanleiding van gister se Nuuswekker oor moontlike kandidate vir vanjaar se Nobelprys vir Letterkunde, het ek so ‘n bietjie verder rondgesnuffel op die internet. Ek land toe op Earth Times se webblad waar hulle die Top 10 volgens die beroepswedders, Ladbrokes, aandui.

Hiervolgens is Amos Oz die gunsteling om vanjaar bekroon te word. Weddenskappe ten gunste van dié Israelse skrywer is tans 5 teen 1. Volgens Earth News se kommentator was Oz al meermale ‘n sterk teenwoordigheid op die Sweedse Akademie se kortlys. 

Voorts is Oz se uitgesproke steun vir ‘n twee-staat oplossing vir die probleme in die Midde-Ooste; ‘n standpunt wat die Sweede Akademie dalk sou wou bekragtig deur ‘n goue medalje om die nek van die hoof-agitator te hang …

Op Ladbrokes se voorkeurlys word Oz gevolg deur die Algerynsgebore Franse skryfster, Assia Djebar, met ‘n loting van 6 teen 1, asook die Spanjaard Luis Goytisola met 7 teen 1. Volgens Earth Times is dié twee kandidate in ooreenstemming met Ladbrokes se verwagting dat die wenner vanjaar uit Latyns-Amerikaanse geledere gaan kom …

Die res van die Top 10 bestaan uit die Amerikaanse hoop in die persone van Joyce Carol Oates en Philip Roth (albei met 8 teen 1), die Siriese digter Adonis (Ali Ahmad Said Asbar) op 9 teen 1, gevolg deur die Italiaanse paar Antoni Tabucchi en Claudio Magris, die Japannese reus Haruki Murakami, en nog ‘n gereelde gunsteling: Thomas Pynchon. Al die laasgenoemde kandidate met ‘n loting van 10 teen 1.

Bob Dylan, oor wie ek gister berig het, se kanse is ‘n skamele 26 teen 1, so ook die Kanadese duo, Alice Munro en Margaret Atwood.

Al bogenoemde in ag genome, is ek tog van mening dat dit vanjaar ‘n Amerikaner gaan wees … Wat dink jy? Laat weet ons; hetsy as kommentaar hieronder of in ‘n brief aan die Brieweboks gerig. Ek onderneem om ‘n gratis kopie van die Versindaba 2007 DVD as beloning te gee aan almal wat reg voorspel.

Lekker spekuleer en laat kom daai briewe!

Hieronder is ‘n aanhaling deur Amos Oz wat ek op hierdie webblad gevind het.

***

Vanoggend kan jy jou verlustig in Bernard Odendaal se resensie van Carina Stander se bundel woud van nege en negentig vlerke”. Nog ‘n toevoeging is Charl-Pierre Naudé se nuutste blog waarin hy sy kritici antwoord met ‘n gedig, onder andere.

Lekker lees en hê pret vandag. Die naweek is net ‘n oogknip ver … 

Mooi bly.

LE

 

“Two children of same cruel parent look at one another and see in each other the image of the cruel parent or the image of their past oppressor. This is very much the case between Jew and Arab: It’s a conflict between two victims.” –
  —  Amos Oz

Woordpoort begin vandag

Thursday, September 24th, 2009
Woordpoort

Woordpoort

Van vandag tot Sondag vind die eerste Afrikaanse woordkunsfees in Gauteng plaas. Volgens Linette van der Merwe, hoofdirekteur van Woordpoort, het Afrikaanse kunstefeeste soos Woordfees (Stellenbosch), KKNK (Oudtshoorn), Volksblad (Bloemfontein) en Aardklop (Potchefstroom) die afgelope vyftien jaar getoon dat daar ‘n enorme behoefte aan uitvoerende en skeppende vermaak onder Afrikaanssprekendes bestaan. Uiteraard is al hierdie kunstefeeste streeksgebonde en is dit haas ondenkbaar dat Gauteng met sy 1,2 miljoen Afrikaanssprekendes nie oor ‘n eie Afrikaanse fees beskik nie. Derhalwe het die FAK onderneem om elke jaar van 24 – 27 September ‘n fees genaamd Woordpoort by die Universiteit van Pretoria aan te bied.

“‘n Mens (kan) slegs die hoop uitspreek dat, in die lig van die feit dat die Afrikaanssprekende besig is om sy selfvertroue m.b.t. Afrikaans-wees te herwin, ‘n woordkunsfees, in die hoedanigheid van Woordpoort, die behoefte aan kreatiewe energie kan bevredig en dat dit ook direk ‘n uitvloeisel kan wees van die konkretisering van die herdefiniëring van die Afrikaanssprekende binne ‘n multikulturele samelewing,” het Linette van der Merwe ter afsluiting van haar voorwoord gesê.

Die program kan hier gevind word. En, indien ‘n mens daardeur sif, kan jy nie anders as om beïndruk te wees nie … Die verskeidenheid (en gehalte) is omtrent oorweldigend. Boonop figureer die digkuns in al sy vele vorms darem ook prominent. ‘n Besliste hoogtepunt is waarskynlik die uitvoering van die Afrikaanse kunsliedere Saterdag (om 12:00) en Sondag (om 14:00) in die Musaion. Gedigte is spesiaal geskryf vir hierdie produksie deur Daniel Hugo, Hennie Aucamp, Hennie van Coller en Carina Stander en is getoonset deur Suid-Afrika se leidende komponiste, waaronder Alexander Johnson, Niel van der Watt, Hendrik Hofmeyr en Martin Watt. Hanli Stapela (sopraan), Renette Bouwer (sopraan), Deirdré Blignaut (sopraan), Chris Mostert (tenoor) en Christopher Vale (bariton) is verantwoordelik vir die uitvoering van die liedere.

Inderdaad ‘n geleentheid wat nié misgeloop moet word nie; voorspoed aan al die deelnemers, of soos ons in die Kaap sal sê: Maak’it aan!

***

Intussen is daar vier nuwe blogs sedert gisteroggend geplaas: Andries Bezuidenhout en Ronel Nel vertel van twee interessante produksies op Woordpoort en Aardklop onderskeidelik, terwyl Desmond Painter oor Philip Roth se kanse as potensiële Nobelprys-wenner bespiegel. Charl-Pierre Naudé het dit weer oor die hermetiese digkuns wat hy met gedigte (plus vertalings!) van Alfred Schaffer toelig. Dié verse het deel gevorm van Alfred se optrede tydens die pasafgelope Roots Kultuurfees. (Gaan lees gerus ook weer die onderhoud wat enkele maande gelede met Alfred gevoer is en onder andere tot ‘n hewige debat oor vertaling en vertaalde tekste aanleiding gegee het.)

En dan is dit boonop Erfenisdag vandag; daarom, raak betrokke, neem deel en klap hande … Dis jakarandatyd!

Mooi bly.

LE

Desmond Painter. Die Nobelprys vir Philip Roth?

Wednesday, September 23rd, 2009
Philip Roth

Philip Roth

Dit is weer sulke tyd: die ontvanger van die Nobelprys vir Letterkunde word binnekort aangekondig. Na my mening behoort 2009 Philip Roth se jaar te wees. Die belangrikste rede is natuurlik dat Roth een van die wêreld se briljantste en mees konsekwente romansiers is. Sy Portnoy’s Complaint, die roman wat hom beroemd gemaak het, is vanjaar 40 jaar gelede gepubliseer. Sedertdien het Roth ‘n majestueuse, oorweldigende oeuvre opgebou. 

Boonop het hy die beste vir sy later jare gelos. Roth is al goed op pad 80 toe (hy is in 1933 gebore), maar sy werk het nog geensins ingeboet aan vitaliteit en dringendheid nie. Boeke soos Sabbath’s Theater, American Pastoral, The Human Stain, The Dying Animal, Everyman en Indignation, wat almal sedert 1993 en dus ná sy 60ste jaar verskyn het, tel onder sy beste werk, en onder die beste romans wat die laaste twee dekades wêreldwyd verskyn het. Is daar trouens enigie ander skrywer wat in die laaste 20 jaar méér klassieke romans geskryf het as Philip Roth? Ek glo nie.

By die toekenning van die Nobelprys vir Letterkunde speel buite-literêre oorwegings natuurlik ook altyd ‘n rol. Ook in hierdie opsig is daar ‘n paar dinge wat myns insiens hierdie jaar in Roth se guns mag tel. Eerstens is die Nobelprys in 1993 laas aan ‘n Amerikaanse skrywer toegeken (Toni Morrison). Tweedens het die oorwinning van Barack Obama die VSA vir ‘n wyle verlos van die politieke muishondstatus wat die land onder George W. Bush se bewind verkry het. Obamanie kan dalk net die ding doen! 

Goed, Roth is sekerlik nie die enigste ernstige Amerikaanse aanspraakmaker op die Nobelprys nie. Die VSA het nog nooit ‘n tekort aan briljante skrywers gehad nie. Die Sweedse Akademie het nou wel die kans om John Updike te vereer deur die vingers laat glip, maar Thomas Pynchon, Cormac McCarthy en Don DeLillo, om dan maar net die romansiers te noem, leef en skryf nog almal, en sou elk ook waardige ontvangers wees.

Tog dink ek Roth, veral oor wat hy die laaste twee dekades vermag het, behoort tans heel voor in die ry te staan.

Die beste van die bestes

Thursday, July 30th, 2009
Goodbye, Columbus (Philip Roth)

Goodbye, Columbus (Philip Roth)

Op 7 Julie het die National Book Foundation (VSA) hul veldtog om die beste van die afgelope 60 jaar se National Book Awards (fiksie) aan te wys, van stapel gestuur. Vir die eerste keer sal die leserspubliek by dié proses betrokke wees, aangesien hulle van 21 September tot 21 Oktober die geleentheid gegun sal word om vir hul gunsteling roman te stem nadat lede van die NBF die 77 kandidate na ‘n kortlys van 6 verminder het. Waarom die prys vanjaar uitsluitlik tot fiksie beperk? Volgens die NBF se webblad is dit omrede daar die afgelope 59 jaar elke jaar nog ‘n toekenning aan ‘n roman gemaak is; verdermeer is 74 van die 77 titels tans nog in druk en bevat dié lys van die mees vername skrywers wat binne die Amerikaanse letterkunde werksaam is. (Die volledige berig kan hier gelees word.)

Ook word beoog om elke dag ‘n volledige bloginskrywing oor een van die kandidate op die NBF se webblad te plaas. (Dié inskrywings sal hier te lese wees.) Op 18 November word die wenner aangekondig.

Met ‘n vinnige deurkyk van die kandidatelys, val dit op dat Saul Bellow besonder sterk verteenwoordig is met nie minder nie as drie titels, te wete The adventures of Augie March, Hertzog en Mr. Sammler’s planet. Beide William Faulkner en Philip Roth het twee titels op dié lys. Philip Roth (76) is natuurlik iemand wat die afgelope paar jaar telkens met gróót entoesiasme beskinder word as ‘n kandidaat vir die Nobelprys. Boonop is hy besonder aktief: sedert 2006 handhaaf hy byvoorbeeld die verbysterende tempo van ‘n roman per jaar. Nog ‘n roman, Nemesis, is reeds geskeduleer vir 2010. Is hierdie eg-Amerikaanse snelskrywer dalk die kandidaat wat einde vanjaar gaan kan pronk met die etiket van “Die beste van die bestes” om sy nek?

Net die tyd sal leer.

‘n Lekker dag verder vir jou.

LE

  •